Kyk ook: |
Die volgende artikel het oorspronklik in Kerkbode verskyn. Dit is interessant dat Braam Hanekom die geleentheid kry om ’n opinie oor die opstanding uit te spreek, maar dit nie doen nie.
**********
Gelowiges krap kop oor die opstandingsmetafoor
Om Jesus se opstanding in metaforiese taal te verduidelik het vir verskillende mense verskillende betekenisse. Baie gelowiges krap kop oor hoe hulle dit moet verstaan.
Dit blyk duidelik uit die reaksies op ’n lesing wat die sistematiese-teoloog, prof Dirkie Smit, tydens die teologiese dag by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch gehou het (kyk Maties praat oor die opstanding). Dr Braam Hanekom, moderator van die Wes-en-Suid-Kaaplandse Sinode, sê ’n mens hoor soms dat mense baie maak van die sogenaamde “metaforiese” opstanding van Christus.
Hy sê die probleem is dat daar binne die teologie erken word dat daar velerlei interpretasies aan die woord (“metafoor”) geheg word. “Kom ons hou dit egter eenvoudig,” vra dr Hanekom. Hy sê daar is veral twee interpretasies wat na vore tree. Die eerste is dat die opstanding steeds as werklik aanvaar word, maar dat ons vanweë die ondeurgrondelike en in menslike terme, “onverklaarlike” daarvan, woorde wat dit beskryf “metafore” noem. Volgens dié interpretasie bly die opstanding egter ’n werklike gebeure. Oor die presiese “hoe” weet ons nie, maar oor die “dat” (dat Hy opgestaan het) twyfel ons nie, sê dr Hanekom.
Die tweede interpretasie is dat “metafories” verstaan word as figuurlik. Dr Hanekom sê dan is die Evangelies se verwysing na hierdie gebeure bloot mites wat ons moet inspireer, soos ook ander verhale en mites uit ander geloofstradisies dit wil doen. Hy sê die eenvoudige vraag aan elke gelowige is: Waar staan jy in hierdie verband?
Vir iemand soos emeritusleraar Almero Cloete van die Strand is die vraag egter nie so eenvoudig nie. Cloete sê vir die minder teologies-gesofistikeerde lidmaat is dit seker so dat die meerderheid die letterlike interpretasie van die opstanding aanvaar en so betekenis tot hulle lewe toevoeg. “Vir ’n klein minderheid, waarvan ek deel is, is dit so dat die metaforiese interpretasie daarvan net so lewegewend is en die ‘geestelike liggaam’ van Jesus daarom ’n daaglikse reisgenoot is.”
Mnr Philip du Toit van Stellenbosch, wat ook die bespreking bygewoon het, vra op sy beurt wat van diegene wat alle geloofsinhoude nie as bloot metafore verstaan nie, en glo in die onsterflikheid van die siel? “Is dit nie ook ’n ander kant van die gesprek wat gevoer moet word in hierdie gesprek oor die opstanding nie?” Mnr Du Toit sê net soos die opstanding, is die ewige lewe ’n noodsaaklike komponent van die evangelie. Hy meen die fisiese aard van Christus se opstanding is die grond waarop ons geloof bou.” – jean@tydskrifte.co.za
Kommentaar
Die “opstanding”
2011/02/18
Tradisionele geloof bevind hom duidelik in tamatiestraat.
Die dilemma strek verder as bloot net die opstanding. Dit begin in Genesis met die skeppingsverhale en loop dwarsdeur die Ou Testament (toring van Babel, Noag, Jona ensovoorts) tot by Jesus se bonatuurlike konsepsie, maagdelike geboorte, “wonderwerke”, opstanding en hemelvaart.
Alles metafore? – Skeptikus