Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
Gesprek met kardinaal Stephen Brislin | ‘Trotse Vrystater’ gesels oor die Eucharistie, die Pous se manier van doen en Katolieke Christene se waardering vir die NG Kerk – Kerkbode
07 Oktober 2023
Riaan de Villiers
In sy nuwe posisie as kardinaal sal Stephen Brislin nou dien in die hoogste gesagstruktuur in die Katolieke kerk en ook betrokke wees by enige volgende verkiesings van ’n pous, ’n posisie waarvoor hy self dan ook in aanmerking sal kom. Riaan de Villiers het met hom gesels.
Ek wag in die ontvangslokaal van die aartsbisdom van Kaapstad se kantore agter die Heilige Maria Katedraal in Roelandstraat. Die aartsbiskop van Kaapstad, Stephen Brislin, se seël met sy persoonlike leuse, Veritas In Caritate, hang teen die muur.
Vader Manuel het sopas my Rooibostee gebring en is nog besig om te verduidelik dat daar steeds ’n priester by die nuut aangewysde kardinaal in die kantoor is toe aartsbiskop Brislin self ook by ons aansluit. Hy groet vriendelik en terwyl hy vooroor buig om die skinkbord met tee by my te neem en my na sy kantoor te lei, maak hy verskoning dat hy weens ’n besige skedule nie vanoggend kon oorstap na die Groote Kerk vir ons ontmoeting nie.
Stephen Brislin, wat deur Pous Franciskus aangewys is as kardinaal in die Katolieke Kerk, is slegs die derde Suid-Afrikaner wat hierdie hoë posisie binne die hiërargiese kerkstruktuur sal beklee en volg in die voetspore van Owen McCann van Kaapstad (1965) en Wilfred Napier van Durban (2001).
“Ek is ’n trotse Vrystater,” sê die gerespekteerde kerkleier wat in die week voor sy bevestiging as kardinaal sy 67ste verjaarsdag vier. Brislin is van Skotse en Ierse herkoms en ’n boorling van Welkom in die Vrystaat waar hy sy skoling aan die Christian Brothers College voltooi het.
“My Afrikaans was baie beter in daardie dae as vandag,” sê Brislin wat as Katoliek grootgeword het in ’n oorwegend Afrikaanse en Calvinistiese omgewing, asook ’n era waarbinne suspisie teenoor die sogenaamde Roomse gevaar vanuit NG Kerkgeledere steeds hoogty gevier het.
Die eerste indikasie wat hy ontvang het dat daar iets groots gebeur het was ’n WhatsApp-boodskap van gelukwensing uit Suid-Amerika nadat Pous Franciskus hom vroeër die oggend tydens sy weeklikse boodskap op die Heilige Petrusplein as kardinaal aangewys het. Brislin sê glimlaggend: “Franciskus hou daarvan om dinge anders te doen” en vertel dan van sy kantoor se pogings om bevestiging van die nuus by die Vatikaan te kry.
Brislin wat in Junie in Rome saam met ander biskoppe byeengekom het vir ’n Ad Limina vertel dat die Pous hulle direk nadat dié uit die hospitaal ontslaan is, ontmoet het. Hy deel Franciskus se persoonlike boodskap aan hulle met my: “Wees naby God, wees naby mekaar as biskoppe, selfs wanneer julle by tye van mekaar verskil en wees baie naby die mense.”
In sy nuwe posisie as kardinaal sal Brislin nou dien in die hoogste gesagstruktuur in die Katolieke kerk en ook betrokke wees by enige volgende verkiesings van ’n pous, ’n posisie waarvoor hy self dan ook in aanmerking sal kom. Hy ondersteun Pous Franciskus se benadering en verduidelik: “Franciskus wil hê dat die kerk naby mense moet wees en mense se swaarkry verstaan. Wanneer mense deur worstelinge gaan, moet die kerk poog om daar saam met hulle en langs hulle te wees. Mense moenie veroordeel, verwerp of verlaat word nie, die kerk behoort mense te begelei en ondersteun in die kompleksiteit en uitdagings wat die lewe bied.”
Brislin het ’n pastorale hart en beskou die pastoraat ook as sy grootste liefde en gawe in diens van die kerk en gemeenskap. Te midde van verskeie vreugdes om as aartsbiskop van Kaapstad die afgelope 12 jaar te dien praat hy ook eerlik oor sy grootste uitdaging in die posisie: “Ek het so baie jare as priester in gemeenskappe gewerk met mense jonk en oud, maar wanneer jy ’n biskop word, word jy in ’n mate afgesny daarvan en dit was in besonder moeilik vir my.”
Op ’n sonnige middag in Kaapstad terwyl ’n afstammeling van die Hugenote en ’n Katolieke kardinaal langs die afgebrande parlement van Suid-Afrika sit en tee drink, ontbreek 500 jaar se stormagtige kerkgeskiedenis tussen ons my nie. Ek vra my buurman of hy dink dat ons na hierdie halwe millennium nader aan mekaar beweeg het of steeds verder weg van mekaar, waarop hy antwoord: “Die Reformasie was ’n groot skeur en daar was baie apartheid vir baie jare, maar ek dink dit het baie verander en is moontlik dalk selfs aangehelp deur sekularisme. Ek glo ons het meer tot die besef gekom dat gelowiges moet saamwerk, want alhoewel ons verskille mag hê in dogma en belydenis, is die basiese beginsels dieselfde vir Christene wat glo in Christus as verlosser en glo dat lewe kom van God wat ons geskep het. Ek dink ons kan meer begin werk met dit wat ons in gemeen het en besef dat ons kan saamwerk vir ’n gemeenskaplike doel en dat ons verskille kan respekteer, en selfs aanvaar, vanuit die vertrekpunt dat ons almal goeie mense is wat probeer om dieselfde doel te bereik.”
Brislin onthou hoe sy eerste ekumeniese blootstelling reeds op 9-jarige ouderdom plaasgevind het en dat dit te danke aan die NG Kerk op Welkom was: “Ons het op daardie stadium priesters van Nederlandse afkoms gehad en hulle het ’n besondere belangstelling in die NG Kerk getoon. My ma was deel van ’n groep vroue wat saam met hulle by die NG Kerke op die dorp gaan besoek aflê het en ek kan onthou hoe my ma vertel het van die gasvryheid waarmee hulle daar ontvang is,” vertel hy.
Brislin, wat ook by geleentheid vir dr Beyers Naudé ontmoet het, noem dat hy enorme respek vir die NG Kerk het. “In Suid-Afrika is ons almal geroer deur die verskoning wat die NG Kerk vir apartheid aangebied het en die manier hoe julle die oorgang hanteer het en dat dit uit julle hart gekom het, want dit het baie moed geneem om dit te kon doen en om te sê ons was verkeerd en dit sal nooit weer gebeur nie.” Hy vertel ook dat hy verbaas, beïndruk en soort van nuuskierig is oor die toenemede belangstelling van die NG Kerk in die monastiese beweging en spiritualiteit van die Katolieke Kerk.
Die nuwe kardinaal sluit ons gesprek af met ’n laaste wens: “Wat ek graag sal wil sien tussen die NG Kerk en Katolieke Kerk is ’n groter gesprek of ondersoek tussen teoloë van beide kerke oor hoe die nagmaal en eucharistie onderskeidelik verstaan word en om te bepaal of daar nie raakpunte is nie.” Hy voeg by dat vir Katolieke die Eucharistie die sentrum van hulle godsdiensbeoefening is en dat daar ’n toenemende verstaan is dat dit miskien nie altyd so verskillend is soos wat ons dalk dink nie en dat dit selfs onlangs onder bespreking gekom het by die plaaslike biskoppekonferensie.
- Ds Riaan de Villiers is leraar by Groote Kerk in Kaapstad.
Kommentaar
Daniel Louw
Let op dat die skrywer van hierdie artikel, Riaan de Villiers, dieselfde predikant is wat die Moslems “broers en susters” genoem het.
Verder, die Eucharistie (nagmaal) is maar een van baie dinge waarmee protestante baie skerp verskil met katolieke (kyk Rooms-Katolieke Kerk). Sedert Luther se reformasie het die Rooms-Katolieke Kerk nie hulle teologiese sieninge verander nie. Daarom, om nou hande te vat met die RKK is om die reformasie tot niet te maak.
Daniel met verwysing na jou kommentaar oor Riaan wat sê Moslems is broers en susters, en nou praat hy met die kardinaal, so asof jy nie daarmee saamstem nie? Of is ek verkeerd? Mense wat in dieselfde God glo is verseker tog Broers en Susters. Of wat noem mens sulke mense?
Dink jy Luther sou na die Rooms-Katolieke verwys het as “broers en susters”? Ek dink nie so nie. Die verskille was te wesenlik. In die Bybel kry jy dieselfde ding: Daar was mense wat voorgegee het om Christene te wees, maar teologies so gedwaal het dat hulle in wese nie dieselfde God aanbid nie. Kyk Onttrek jou van goddeloses en dwaalleraars en Die Bybel oor dwaling, spesifiek: 2 Korintiërs 11:2-4 en Galasiërs 1:6-10.
Daniel dan wat is “hulle” dan? as ons dieselfde God aanbid en in dieselfde hemel gaan aanland? As ons nie eers met mede gelowiges van dieselfde God oor die weg kan kom nie hoe sal ons dan ooit kan droom om die Bybel se vermaning dat ons, ons vyande in Jesus Christus moet liefhê nakom? Dit kan mos nie reg wees nie? Rooms Katolieke is verseker ons Broers en Suster . Jou redenasie maak nie Bysels sin nie.