Gespreksgids oor selfdegeslagverhoudings in Wes- en Suidkaap

Kyk ook:

Hierdie gespreksgids oor selfdegeslagverhoudings word versprei in die NG gemeentes van Wes- en Suid-Kaapland. Die verspreiding binne gemeentes gaan soms gepaard met ’n besoekende teoloog wat die NG kerk se Algemene Sinode se besluit van 2015 probeer regverdig en aanvaar kry.

Kommentare word in bruin vetdruk hieronder ingevoeg vanuit die hoek van meer logiese, Bybelsgegronde en objektiewe gronde.

*********

Selfdegeslagverhoudings

‘n Gespreksgids

Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake

Wes-en-Suid-Kaapland

Inleiding

Hierdie Bybelstudies is saamgestel vanuit die 2007-verslag van die Taakspan Homoseksualiteit van die NG Kerk, die 2008-verslag van die Taakspan Homoseksualiteit van die VGK, en die 2015-verslag oor hermeneutiek van die Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake. Vanuit hierdie drie dokumente is ʼn duidelike trajek sigbaar oor die interpretasie van Bybeltekste, ook Bybeltekste wat oënskynlik met homoseksualiteit te make het, wat in hierdie Bybelstudies uiteengesit word.

Ek vind dit bevraagtekenbaar dat hierdie geskrif “Bybelstudies” genoem kan word, want die verdraaiing van wat die aangehaalde Bybelgedeeltes eintlik verklaar, is doodeenvoudig te groot. “Pro-gay Bybelvertolkings” sou ’n beter beskrywing gewees het.

Uiteraard is dit so dat daar lesers gaan wees wat hierdie teksgedeeltes anders verstaan en anders uitlê. Die doel van hierdie Bybelstudies is júis nie om Bybeltekste in ʼn finale interpretasie te giet nie, maar om – vanuit die verslae van taakspanne wat oor baie jare heen hieraan gewerk het – teologiese roetes te karteer wat sou kon help met die gesprek oor selfdegeslagverhoudings binne gemeentes.

Hierdie “taakspanne” was op geen manier objektief in hul taak nie – min of geen mense wat nie progay was nie, was ooit deel van die taakspanne. Ellison Mouton het van die laaste byeenkomste van hierdie taakspanne in 2015 in Stellenbosch gaan bywoon (kyk Ope byeenkoms van die NGK se Taakspan oor Homoseksualiteit in Maart 2015 te Stellenbosch). Nie net was almal wat daar teenwoordig was as deel van die taakspan progay nie, daar was geen poging om eers die Bybel te gebruik in hul gesprekke nie.

Die bydrae wat hierdie Bybelstudies maak, behoort egter as ʼn vertrekpunt verstaan te word, en nie as ʼn eindbestemming nie, aangesien gereformeerde mense die Bybel nie stuk vir stuk, vers vir vers of woord vir woord interpreteer nie, maar binne die geheel van die Bybelse korpus.

Presies, maar dit is juis die punt waar die NG-besluit en hierdie gids faal – die hele Bybel word nie in ag geneem nie. En kyk maar hoe die opstellers van die gids juis woord vir woord na teksgedeeltes kyk, en dan ander betekenisse daaraan probeer gee.

Willie Jonker sou sê gereformeerde gelowiges verstaan die Bybel as ʼn boek wat deur mense in mensetaal geskryf is, en dat God Godself binne die weliswaar beperkte taal en ervarings van mense openbaar – ook in die Bybel.

Dit is Jonker se definisie van gereformeerdheid, maar is strydig met die oorspronklike verstaan van gereformeerdheid wat juis gaan oor terugkeer na wat die Bybel sê en verklaar. “Deur mense in mensetaal geskryf” word juis vir baie teoloë vandag die verskoning om heeltemal onverantwoordelik met die Bybel om te gaan, en selfs die teenoorgetelde te verkondig van wat in die Bybel staan. Dit herinner my aan die NG-teologiese student wat op ’n skoolkamp vir die 13-jariges gesê het dat hoe gouer mens besef jy moet nie alles glo wat in die Bybel staan nie, hoe beter. Ek het baie onlangs gehoor van ’n behoudende teologiese professor (wat deesdae maar skaars is om te vind) dat omtrent al die teologiese studente van die afgelope paar jare aan die Universiteit van die Vrystaat wie se geloof nie verval het nie, die NG kerk verlaat het. Die liberales het predikante in die NG kerk geword.

Dit beteken wanneer die sogenaamde sewe tekste oor homoseksualiteit gelees word, dit nie in afsondering van ander belydenisse in die Bybel oor God en hoe God oor mense dink gelees mag of kan word nie.

100%, maar hierdie gids faal hierdie toets. Kyk maar ondertoe na die waardes wat die gids voorstel toegepas moet word – hoe dit juis God se waardes verskraal en sommige selfs ignoreer.

Geloof is immers altyd op soek na verstaan, sou die kerkvader Anselmus sê. Daarom is die voorlopige antwoorde wat ons op hedendaagse vrae gee – soos hoe ons oor selfdegeslagverhoudings behoort te dink – áltyd ondergeskik aan die belydenis dat God ons verstand en taal en ervarings te bowe gaan.

Met dit alles in gedagte word hierdie Bybelstudies aangebied vanuit die oortuiging – wat diep ingebed is in hoe gereformeerde kerke die Bybel hanteer – dat Jesus Christus die sentrum is van waaruit die geheel (sowel as spesifieke gedeeltes) van die Bybel geïnterpreteer moet word. Etiese beslissings moet telkens deur die bril van hierdie belydenis gestalte kry, juis omdat ons bely dat kennis van God se wil in Christus ontsluit word. Derhalwe staan die persoon en werk, die woorde en optrede van Jesus Christus sentraal tot die kerk se gesprek oor selfdegeslagverhoudings.

Heelwat gereformeerde kerke stem glad nie saam met hierdie soort Skrifgebruik en die gevolglike selfdegeslagbesluit van die NG kerk nie. Dit is dus verregaande om hier te probeer voorgee dat wat hierdie gids verkondig, “diep ingebed is in hoe gereformeerde kerke die Bybel hanteer”.

Drie vrae hoort by hierdie gesprek en kan telkens oor die betrokke teksgedeelte gevra word:

  1. Hoe maak die teksgedeelte sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  2. Wat is die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)

“Kultuur-historiese” inligting in hierdie gids is eensydig, nie noodwendig toepaslik nie, en daarom bevraagtekenbaar en misleidend.

  1. Wat bely of openbaar die teksgedeelte oor God? (sakramentele lees)

Hierdie vrae, of verskillende maniere om Bybeltekste te benader, verg egter dat die vreemdheid van die verhale, ervarings en taal wat in die Bybel gebruik word voortdurend in gedagte gehou sal word. Daarom is ʼn letterlike lees van die Bybeltekste nie dieselfde as ʼn literêre lees nie. Ons moet in die verskillende maniere waarop ons die Bybel lees – literêr, histories en sakramenteel – met die vreemdheid van die teks rekening hou.

Dit is veral duidelik wanneer ons die begrippe “homoseksueel”, “homoseksualiteit” en “gay” gebruik, want hierdie begrippe kom gewoon nie voor in die oorspronklike tale van die Bybel nie. Dit is alleenlik met ʼn diep bewustheid van die vreemdheid van die Bybel dat ons oor die sewe tekste kan nadink.

Hierdie is blatante misleiding – die spesifieke woorde kom nie in die Bybel voor nie, maar die begrippe ongetwyfeld. Die beskrywings in die Bybel is baie duidelik oor wat bedoel word.

Opgestel deur die Sinodale Taakspan vir Leer en Aktuele Sake,

Wes-en-Suid-Kaapland

Oktober 2015

Riglyne vir kleingroepe, selgroepe of Bybelstudiegroepe

ʼn Groep sou die volgende ritme kon gebruik.

  1. Gebed: Vra God om self deur die Woord ons Leermeester te wees.
  2. Eerste lees: Laat iemand die teksgedeelte hardop voorlees.
  3. Oordenking: Laat iemand die verstaansriglyne vir die gedeelte voorlees.
  4. Tweede lees: Gee kans dat elkeen die teksgedeelte weer lees met die riglyne in gedagte.
  5. Eerste reaksie: Laat die groep nadink en praat oor die drie vrae wat ons altyd vir enige teks moet vra.
  6. Verdere gesprek: As daar nog tyd oor is, kan die groep nou nog meer spesifiek gesels oor watter implikasies die teks vir selfdegeslagverhoudings het.
  7. Gebed: Gee kans dat mense in die groep of elkeen afsonderlik in stilte met gebed afsluit.

Hierdie proses, soos toegepas in hierdie gids, kom neer op indoktrinasie met misleidende inligting.

Daar is die volgende probleme met die kultuur-historiese agtergrond wat telkens gegee word:

1. Dit is nie noodwendig waar nie.

2. Dit is nie noodwendig toepaslik nie, want die Bybelskrywer het nie noodwendig die kultuur-historiese probleem probeer aanspreek of alleen probeer aanspreek nie, maar eerder het hy presies dit aangespreek wat hy beskryf het.

Waardes vir die gesprek

Dit is belangrik dat hierdie gesprek binne ʼn veilige en aanvaardende ruimte sal plaasvind. Daarom kom ons ooreen om voortdurend die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid uit te leef.

Laat iemand die volgende waardes voorlees.

Hoekom sal ons die waardes beperk tot onderstaande eerder as om die hele Bybel in ag te neem, en dus eerder God se waardes as riglyne te gebruik? Hierdie mens-georiënteerde waardes neem juis nie die hele Bybel in ag nie – presies dit wat hierdie gids in die begin gepredik het moes gebeur.

Liefde

Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie.

Liefde is baie belangrik, maar wat van God se oordeel en regverdige straf? Werklike liefde sal waarsku waar en wanneer dit moet.

Respek

Re-spek – om weer te kyk. Om weer te sien dat ander my gelyke is, óók na die beeld van God gemaak is, óók opreg en eerlik aan die kyk is na die raaisel in die dowwe spieël.

Die beeld van God kom nie uit in alle vorme van menswees nie! In die konteks van hierdie gids wat sekere homoseksuele dade probeer goedpraat, is hierdie misleiding.

Luister

Om ons aannames en voorveronderstellings te laat vaar sodat ons onbevange kan hoor wat mense sê. Om seker te maak ons hoor reg. Om vir ander met ons woorde en dade te wys ons het geluister.

Wat van luister en doen wat God sê?

Omarm

Ons leef vanuit die omarming van God wat ons toevou soos ʼn hen haar kuikens toevou, ongeag of ons dit verdien of nie. Daarom maak ons ook ons arms en harte vir mekaar oop en hou mekaar vas, al is en dink ons verskillend.

Regtig omgee vir ander gaan beslis geensins daaroor dat ons sondige dade kan akkommodeer en goedpraat nie. Dit is juis nie omgee nie want dit laat mense voortgaan nogal met “kerklike seën” op ’n pad na ewige verlorenheid.

Laat die groep hulle hieraan verbind.

Vir seker nie – die indoktrinasie in hierdie waardebeskrywings is duidelik. Hierdie waardes behoort aangepas en ernstig uitgebrei te word om die Here se waardes in te sluit.

1. Die mens vertoon die beeld van God

Genesis 1:27-28

Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.”

Verstaansriglyne

Baie mense vertolk hierdie teksgedeelte as die totstandkoming van ʼn bepaalde skeppingsordening, oftewel ʼn vaste en onveranderbare orde in God se skepping van die mens as man en vrou (v 27) en die opdrag tot voortplanting wat aan hulle gegee word (v 28). As hierdie gedeelte só geïnterpreteer word, word heteroseksuele verhoudings die norm as uitdrukking van God se ewig geldende wil, en dan bepaal hierdie beskouing hoe menslike seksuele omgang in die samelewing ingerig moet word.

Aangesien homoseksualiteit nie beantwoord aan die voortplantingsdoel waarmee God die mens geskep het nie, word selfdegeslagverhoudings derhalwe as ʼn perverse afwyking van hierdie skeppingsorde beskou. Die moontlikheid om kinders te kan verwek word dan die bewysstuk vir hoe reg en natuurlik hierdie soort verhouding is, en vir hoe verkeerd en onnatuurlik selfdegeslagverhoudings is.

As ons die teks noukeurig ontleed, en dit nie summier word as ʼn antigay-teks vertolk nie, word dit egter duidelik dat dit in die skepping van die mens as man en vrou in vers 27 nie in die eerste plek oor die seksuele oriëntasie van die mens gaan nie. Dit gaan hier eerder daaroor dat sowel man as vrou na die beeld van God geskep is – en dat die vrou dus nie ʼn minderwaardige wese in vergelyking met die man is nie. Man en vrou is gelykwaardig geskep, wil hierdie teksgedeelte beklemtoon, want dit is in gelykwaardige verhoudings dat die beeld van die drie-enige God duidelik word. Die mens-in-verhouding weerspieël die God-van-verhoudings. Met so ʼn verstaan kan vers 28 dan ook nie as ʼn opdrag tot voortplanting en vermeerdering beskou word nie, maar word dit duidelik dat seksualiteit ’n toesegging van seën aan die mensdom, aan mense-in-verhoudings, is. Binne so ʼn beskouing is seksualiteit ʼn gawe en ʼn seën – nie ʼn opdrag nie.

Enige verstaan is duidelik verkeerd as dit ander gedeeltes in die Bybel weerspreek. Met die verstaan wat hierdie gids aan vers 27 probeer gee, kom dit tot die gevolgtrekking dat vers 28 nie die opdrag gee van voortplanting en vermeerdering nie, maar dit is direk wat in vers 28 staan: “Wees vrugbaar, word baie … “! Seksualiteit tussen man en vrou is ’n seën van God wat sterk in ander Skrifgedeeltes voorkom in terme van die huwelik, met ook geen sprake daar van homoseksuele verhoudings nie.

Gestel vers 28 beskryf seksualiteit nié as ʼn seën nie, en wél as ʼn opdrag, sou dit tog die onhoudbare situasie skep dat kinderlose egpare en mense wat nooit trou nie (soos Paulus, en trouens Jesus self) ʼn ewig geldende ordening van God oortree. Dit sou ook beteken die gebruik van voorbehoedmiddels tydens seks, selfs in die huwelik, is teen die wil van God (wat juis die standpunt van die Katolieke Kerk is). As ons hierdie teksgedeelte wil vertolk asof voortplanting die lakmoestoets van ons seksualiteit word, moet ons ter wille van konsekwentheid nie alleen homoseksualiteit nie, maar ook die onvermoë én die onwilligheid om kinders te hê as onnatuurlik beskou.

Dit is onsinnig om te argumenteer dat iemand kinders moet hê wat fisies nie daartoe in staat is of nooit getrou het nie, sou mens vers 28 as ’n opdrag sien. Vers 28 is ’n opdrag aan die mensdom, nie aan elke lid van die mensdom nie. Paulus wys daarop dat dit goed is vir sommige mense om nooit te trou nie (en nie kinders te hê nie by implikasie), maar nooit praat Paulus enige vorm van homoseksualiteit goed nie. Inteendeel, hy veroordeel dit orals waar hy daarvan praat.

Dit kom egter voor asof die teksgedeelte nié dit sê nie, maar hoofsaaklik aantoon dat mense-in-verhoudings, in hulle diversiteit, beelddraers van God is. Feitlik alle argumente vir die waardigheid van mense is in hierdie teksgedeelte gegrond, en in die belydenis dat mense nie geweld aangedoen mag word nie omdat hulle na die gelykenis van God geskep is.

Weereens kom die misleidende bedoeling van die gids hier duidelik uit. Daar is geen sprake in hierdie Skrifgedeelte dat om beelddraer van God te wees, homoseksuele uitlewing insluit nie. Dit is ongeldige inlegkunde (teenoor uitlegkunde) in die ergste vorm.

Omdat die vraagstuk van heteroseksualiteit teenoor homoseksualiteit glad nie in hierdie gedeelte ter sprake kom nie, is dit vreemd en twyfelagtig om dit as bewysmateriaal vir die onnatuurlikheid van homoseksualiteit te gebruik.

Dit is glad nie “vreemd en twyfelagtig” nie, want man en vrou word hier reguit en duidelik gestel as die voorbeeld en norm van God betreffende die huwelik en daarom betreffende seksualiteit gegewe latere inligting in die Bybel oor die huwelik en seksualiteit, byvoorbeeld:

Gen 2:24 Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees.

Mat 19:5 en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;

Mar 10:7 Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef,

Eph 5:31 Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word.

Eerste reaksies

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Watter assosiasies het jy met die verstaan van die mens as beeld van God?
  • Watter implikasies sou die belydenis dat mense die beelddraers van God is, kon hê vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings?
  • Hoe dink jy oor jou seksualiteit?
  • Help die teksgedeelte jou om jou ánders oor jou seksualiteit te laat dink?

2. Die mens is ʼn verhoudingswese

Genesis 2:18-25

Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.”

Die Here God het toe uit grond al die wilde diere en al die voëls gevorm en na die mens toe gebring om vas te stel hoe hy elkeen sou noem; en wat die mens elke lewende wese sou noem, dit sou sy naam wees. Die mens gee toe name vir al die mak diere, die voëls en die wilde diere, maar vir homself het hy nie ʼn helper, ʼn gelyke, gekry nie.

Toe het die Here God ʼn diep slaap oor die mens laat kom, sodat hy vas geslaap het. Die Here God neem toe ʼn ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot ʼn vrou en bring haar na die mens toe.

Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”

Daarom sal ʼn man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word. Hulle twee, die mens en sy vrou, was kaal, maar hulle was nie skaam nie.

Verstaansriglyne

Soortgelyk aan die vertolking van bogenoemde teksgedeelte is daar ʼn siening onder baie mense dat die skepping van man en vrou in hierdie tweede skeppingsverhaal gesien moet word as die totstandkoming van die heteroseksuele man-vrou-verhouding. Weereens dink sommige dat dit op ʼn manier beteken heteroseksuele verhoudings is ʼn universeel geldende skeppingsordening. God het man en vrou as aanvulling vir mekaar geskep, en hierdie skeppingsdoel van God kan slégs verwesenlik word wanneer man en vrou (nie man en man of vrou en vrou nie) in ʼn verhouding van wedersydse aangetrokkenheid saam groei tot een. Hieruit volg die afleiding dat wanneer seks losgemaak word van die verhouding tussen man en vrou, soos in die geval van seks tussen persone van dieselfde geslag, seksuele omgang noodwendig pervers, onnatuurlik of verkeerd moet wees.

Kyk ondertoe na die kwessie om Genesis 2 ’n “tweede skeppingsverhaal” te noem.

Weer berus só ʼn lees van die teksgedeelte op ʼn stel vooropgestelde idees oor die teks wat moeilik verdedigbaar is vanuit die teks self. In hierdie gedeelte gaan dit nogeens nie oor die totstandkoming van die heteroseksuele verhouding tussen man en vrou as algemeen geldende norm nie, maar oor die vraag oor wat die oorsprong van die seksuele aantrekkingskrag tussen man en vrou is. Teenoor die heidense natuurgodsdienste wat seksualiteit beskou as ʼn vitale krag wat uit die natuur opkom en wat gebruik kan word om die gode te manipuleer, word seksualiteit in hierdie gedeelte as ʼn gawe uit die hand van God gesien. Seksualiteit is deel van die geskape werklikheid van menswees en is bedoel om die alleenheid van die mens te besweer deur aan hom of haar die moontlikheid van intieme kameraadskap met ʼn medemens te bied.

Let daarop dat die gids hier probeer redeneer “vanuit die teks self”, maar een van die gids se eie riglyne hierbo gelys was:

Hoe maak die teksgedeelte sin binne die breër samehang van die Bybel?

Is dit verdedigbaar om so selektief met jou eie riglyne om te gaan, en dan nogal hieronder te vra hoe die teksgedeelte nou vir jou sin maak binne die breër samehang van die Bybel?

Hierdie behoefte aan intimiteit en verhouding word nie vervul deur die diereryk nie, lees ons in vers 19-20. Dit is slegs in ʼn ander mens dat die mens uiteindelik ʼn pasmaat (OAV: “hulp”) vind. Die klem in hierdie gedeelte lê dus nie op die onderskeid tussen man en vrou nie, maar eerder op hulle eendersheid. Kameraadskap en wedersydse aangetrokkenheid is moontlik, nie omdat hulle van mekaar verskil nie, maar omdat hulle volgens vers 23 deel het aan ʼn gemeenskaplike menswees (OAV: “been van my gebeente en vlees van my vlees”; NAV: “een uit myself, een soos ek”) waarin geeneen van die ander lewende wesens waarvoor die mens ʼn naam gegee het, deel nie.

Al berus die onderskeid tussen man en vrou in hierdie gedeelte op die veronderstelling dat die verhouding tussen ʼn man en ʼn vrou die algemene grondpatroon van seksuele omgang tussen mense is, word heteroseksualiteit nie voorgehou as die norm vir alle verhoudings nie. Anders gestel, die klem val nie op hoe verskillend die twee mense in ʼn verhouding is nie, maar juis op hoe hulle gedeelde menswees ʼn vervullende verhouding moontlik maak. Die teksgedeelte blyk met die intimiteit van menslike verhoudings besig te wees, eerder as om ʼn ewig geldende patroon vir “die Bybelse model van die huwelik” te wil vestig. Trouens, die monogame verstaan van ʼn huwelik is ʼn redelik onlangse verskynsel in die Bybel aangesien poligamie – ʼn man met meer as een vrou – ʼn algemene verskynsel in die Ou Testament is. Om Genesis 2 as regverdiging vir die huwelik tussen een man en een vrou in gebruik, vereis dus dat ons die teks op ʼn vreemde manier uit sy historiese werklikheid lig.

Ja, heteroseksualiteit word nie voorgehou as die norm vir alle verhoudings nie, maar wel as die norm vir alle seksuele verhoudings.

Monogamie is nie ’n onlangse verskynsel in die Bybel nie. Die heel eerste hoofstukke in die Bybel wys monogamie as die norm! Tensy die onsin geglo word dat Genesis eers in die Babiloniese ballingskaptydperk geskryf is soos in die teologiese fakulteite verkondig word. Moses was die samesteller van die eerste 5 boeke van die Bybel, wat Genesis insluit. Hy is deur God geïnspireer om die samestelling te doen, maar het gewerk vanaf kleitablette wat oorspronklik geskryf is deur Adam en sy nageslag tot by Noag. Genesis 1 en 2 se oorspronklikes is dus nie geskryf om “heidense natuurgodsdienste” teen te staan nie want toe dit oorspronklik geskryf is, was dit soos geopenbaar aan die mens, en beleef deur Adam, voordat mense bestaan het wat ander godsdienste kon bedryf. Tensy die Bybelse gegewens nie geglo word dat alle mense van Adam en Eva afstam nie, wat ook in die teologiese fakulteite verkondig word.

Poligamie is in die Bybel toegelaat, maar nooit aanbeveel nie. Talle voorbeelde in die Bybel wys hoe poligamie gelei het tot moeilikheid.

“Om Genesis 2 as regverdiging vir die huwelik tussen een man en een vrou te gebruik”, is geensins vreemd nie, want Jesus verwys Self na hierdie gedeelte na aanleiding van ’n vraag oor die huwelik:

Mat 19:4-5 En Hy antwoord hulle en sê: Het julle nie gelees dat Hy wat hulle gemaak het, hulle van die begin af man en vrou gemaak het nie, en gesê het: Om hierdie rede sal die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees wees;

In hierdie teksgedeelte verwys Jesus nie net na Genesis 2 nie, maar ook na Genesis 1 (“man en vrou het Hy hulle geskep”), en Hy bevestig dus die eenheid van Genesis 1 en 2 wat eintlik ook die siening en agenda van heelwat moderme teoloë om Genesis 2 as ’n “tweede skeppingsverhaal” voor te stel, weerspreek. Genesis 1 en 2 beskryf een en dieselfde skeppingsgebeure, net uit verskillende hoeke. Soortgelyk beskryf die 4 evangelies dieselfde gebeure, alhoewel daar oppervlakkig gesien, selfs teenstrydighede skyn te wees.

Eerste reaksie

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Hoe help die teksgedeelte jou om sin te maak van mense se behoefte aan verhoudings?
  • Watter implikasies sou die belydenis dat mense verhoudingswesens is, kon hê vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings? En hoe sou sulke menseverhoudings dan kon lyk?

3. Gasvryheid teenoor besoekers is ononderhandelbaar

Om sodomie gelyk te probeer stel aan ongasvryheid teenoor besoekers lyk na die desperate gryp na strooihalms om ander betekenisse aan Skrifgedeeltes te gee.

Genesis 19:1-29

Die twee engele het Sodom teen die aand bereik terwyl Lot juis in die poort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, het hy hulle tegemoet gegaan en diep gebuig en gesê: “Welkom, Menere! Kom tog na my huis toe en oornag daar. Julle kan ook julle voete was. Dan kan julle môre vroeg julle reis voortsit.” Maar hulle sê: “Nee, ons sal sommer op die plein oornag.”

Lot het egter so by hulle aangehou dat hulle by hom ingedraai en in sy huis ingegaan het. Hy het vir hulle ’n maaltyd klaargemaak: hy het ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet. Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel.

Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.”

Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het, het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so ’n verkeerde ding doen nie. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met ’n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.”

Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.” Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek.

Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit, en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie.

Die mans by Lot sê toe vir hom: “Wie van jou mense is nog hier? Skoonseuns of seuns of dogters of wie jy ook al in die stad het, vat hulle uit die plek uit! Ons gaan hierdie plek verdelg.”

Nadat hulle vir Lot-hulle buite die stad gebring het, sê een van die mans vir hom: “Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie! Moenie êrens in die vlakte vertoef nie, vlug berge toe, anders word jy omgebring.”

Toe het die Here swael en vuur van Hom af, uit die hemel uit, laat reën op Sodom en Gomorra.

Verstaansriglyne

Baie mense dink die woede van God wat tot die verwoesting van Sodom gelei het, het direk verband gehou met seks tussen mense van dieselfde geslag. Van daar dan ook die gebruik van die begrip “sodomie” om na homoseks te verwys.

Hierdie verhaal het by talle mense die indruk geskep dat die Ou Testament homoseksualiteit uiters negatief skets en beoordeel. Die feit dat die manlike bevolking van die stad seksuele omgang wou hê met die twee engele wat by Lot aan huis was, word beskou as die een enkele gruweldaad wat aanleiding gegee het tot die Here se besluit om die stad te vernietig. Die verhaal moet op grond hiervan beskou word as ʼn ernstige waarskuwing oor die rampspoedige gevolge wat dié soort dade kan hê, meen diegene wat die teks só lees. Seks tussen mense van dieselfde geslag word volgens hierdie interpretasie negatief, as ʼn ernstige vergryp of oortreding voor die Here, beoordeel.

Dit is egter duidelik dat daar in hierdie verhaal nie sprake is van homoseksualiteit as sodanig nie, maar van ʼn poging tot verkragting deur die manlike (waarskynlik oorwegend heteroseksuele) bevolking van die stad Sodom. Dit word bevestig deur die verwante verhaal in Rigters 19 waar ʼn groep mans dit nie regkry om seks met ʼn Leviet te hê nie en dan sy byvrou so erg verkrag dat sy daarvan sterf. Voorts moet daarop gewys word dat dit in albei verhale klaarblyklik gaan oor die gruwelike skending van die Ou Oosterse gasreg wat vereis het dat vreemdelinge met die uiterste gasvryheid ontvang moes word. Gasvryheid het bowenal beteken dat gaste kon aanspraak maak op beskerming teen hierdie soort geweld.

Hoe die skrywers van hierdie gids kan beweer dat “daar in hierdie verhaal nie sprake is van homoseksualiteit as sodanig nie”, terwyl die mans geëis het om met mans geslagsgemeenskap te hê, is onverstaanbaar. Op een of ander manier dink hulle waarskynlik dat hulle “as sodanig” hul stelling geloofwaardig maak. Genesis 18 wys in elk geval dat homoseksuele dade maar een van die geweldige sondes van die stad was, soveel so dat die Here die stad wou uitwis omdat daar selfs nie 10 regverdiges in was nie.

Dit is opmerklik dat nie één van die verwysings na Sodom in die res van die Bybel melding maak van die vermeende homoseksualiteit van die inwoners van die stad as oorsaak vir die verwoesting daarvan nie. In Esegiël 16:49-50 word die sonde van Sodom byvoorbeeld beskryf as hoogmoed en ʼn sorgelose materialisme waarin daar geen plek was vir barmhartigheid aan die mens in nood en die arme nie. In Jeremia 23:14 sowel as Jesaja 1:10-17 word dit met sosiale onreg in verband gebring. In Lukas 10:10-13 verbind Jesus dit met die ongasvrye ontvangs wat die draers van die evangelieboodskap te beurt kan val. In Judas vers 7 word die aard van die sonde aangedui as die drang van mense om seks te hê met hemelse wesens. En in 2 Petrus 2:7 word daar in die algemeen na die sonde van Sodom verwys as “die losbandige lewenswyse van sedelose mense”.

Die sondes van Sodom was ver meer as net homoseksuele dade, soos reeds boontoe op gewys is. Esegiël wys vir Juda op sommige van die sondes wat in Sodom ook gebeur het, waarin Juda nog erger was. Waarskynlik hoef hy hulle nie oor homoseksualiteit aan te spreek nie, want dit was in daardie tyd onwaarskynlik algemeen onder die Jode. Esegiël probeer dus nie in Esg 16:49-50 definieer wie elders in die Bybel sodomiete genoem word nie.

Dieselfde as vir Esegiël geld vir Jeremia en Jesaja se verwysings na Sodom. Hulle probeer ook nie sodomie definieer nie. Sou dit hulle bedoeling gewees het om sodomie te definieer, het dit in elk geval gegaan oor ver meer as ongasvryheid teenoor besoekers, wat hierdie gids probeer voorgee in die titel van hierdie afdeling 3.

Luk 10:9 En maak die siekes gesond wat daarin is, en sê vir hulle: Die koninkryk van God het naby julle gekom.

Luk 10:10-11 Maar in watter stad julle ook al mag ingaan en hulle jul nie ontvang nie, gaan uit op sy strate en sê: Selfs die stof wat uit julle stad aan ons kleef, vee ons vir julle af; maar tog moet julle dit weet dat die koninkryk van God naby julle gekom het.

Luk 10:12 En Ek sê vir julle: Vir Sodom sal dit verdraagliker wees in dié dag as vir daardie stad.

Luk 10:13 Wee jou, Górasin, wee jou, Betsáida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as gesit en hulle bekeer het.

Lukas 10:10-13 gaan oor die verwerping van die evangelie, nie oor ongasvryheid as sulks nie. Om Christus te verwerp sal erger wees op die oordeelsdag as vir Sodom. Weereens word sodomie nie hier gedefinieer nie.

Jud 1:4 Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën.

Jud 1:5 Maar ek wil julle daaraan herinner, al weet julle dit nou eenmaal, dat die Here, nadat Hy die volk uit Egipteland gered het, daarna die wat ongelowig was, omgebring het.

Jud 1:6 En die engele wat hul eie beginsel nie bewaar het nie, maar hul eie woning verlaat het, het Hy vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie onder die duisternis bewaar;

Jud 1:7 soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aangeloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.

Ek haal hier Judas:4 ook aan, sodat dit duideliker is van watter mense in vers 7 gepraat word. Vers 4 laat mens nogal wonder of die opstellers van hierdie gespreksgids nie self besig is om die genade van God te verander in ongebondenheid nie. Die gids vertaal “vreemde vlees” met “hemelse wesens” wat nie noodwendig is wat hier bedoel word nie. Inteendeel, dit lyk na die verkeerde vertaling want in Genesis 19 staan dat die mans van Sodom gevra het: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het?” Hulle vra nie waar is die hemelse wesens of engele nie. Boonop is die engele van vers 6 nie dieselfde engele as dies waarna, onwetend vir die Sodomiete dat hulle engele was, in vers 7 verwys word nie. Die “vreemde vlees” het dus eerder te doen met homoseksuele dade. Die oorspronklike Griekse woord vir “vlees”, wat in die NAV vertaal is met “wesens”, se betekenis is “vleis” – spesifiek nie “gees” nie. Judas, veral as Jood, sou nie ’n engel beskryf het as “vlees” nie, en daar is geen sprake van engele by die mense van vers 4 en vers 7 nie – so die sonde van die Sodomiete wat hier beskryf word was hulle doel om met manlike mense homoseksuele dade te pleeg.

2Pe 2:4 Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word;

2Pe 2:5 en die ou wêreld nie gespaar het nie, maar Noag, die prediker van geregtigheid, met sewe ander bewaar het toe Hy die sondvloed oor die wêreld van goddelose mense gebring het;

2Pe 2:6 en deur die stede van Sodom en Gomorra tot as te verbrand, hulle tot ondergang veroordeel het en as ’n voorbeeld gestel het vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees;

2Pe 2:7 en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense;

2Pe 2 vers 5 wat tussen vers 4 se verwysing na die engele en Sodom se straf staan, bevestig ook wat ek hierbo oor Judas geskryf het.

Let ook daarop dat die “losbandige lewe van die sedelose mense” in 2Pe 2 uitgelig word, en in Judas gaan dit ook oor seksuele dade – dus gaan dit nie oor die verkeerdheid van ongasvryheid soos wat die gids in hierdie afdeling 3 probeer argumenteer Sodom se groot sonde was nie.

Dit is eers in die ná-Bybelse Joodse en Christelike tradisie dat daar sprake was dat die lot van Sodom die gevolg van die homoseksuele optrede van die bevolking was. In die Joodse tradisie kom die gedagte byvoorbeeld vir die eerste keer by Philo en Josefus voor, en in die Christelike tradisie by die kerkvaders Klemens van Aleksandrië, Johannes Chrysostomos en Augustinus. Die Bybelskrywers sélf bereik egter nog nie hierdie gevolgtrekking nie, soos hierbo aangetoon is. Dit is egter ondenkbaar dat groepverkragtings, soos in die verhale van Genesis 19 en Rigters 19, gelyk gestel kan word aan selfdegeslagverhoudings wat deur liefde en trou gekenmerk word. Nie net misken dit waaroor die tekste self gaan nie, maar dit verwar ook geweld met koestering, haat met liefde, en vergrype met verbondenheid.

Indien enigiets, bevestig die twee Jode Philo en Josefus die Joodse verstaan van die teks dat sodomie wel oor homoseksualiteit gegaan het. Alhoewel die spesifieke gebeure in Sodom beslis oor homoseksuele verkragting gaan, gee dit geensins gronde om te dink dat daar aanvaarbare vorms van homoseksuele uitlewings bestaan nie.

Die volgende gedeeltes beskryf gruwelike dade voor God, alhoewel daar geen sprake van verkragting is nie. Inteendeel, sou verkragting hier geïmpliseer word, sou dit beteken dat ’n man wel ’n vrou mag verkrag wat natuurlik verregaande is:

Lev 18:22 Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.

Lev 20:13 En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen. …

Eerste reaksie

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Hoe laat die teksgedeelte jou oor gasvryheid dink?
  • Watter eise sou die teksgedeelte aan die kerk kon stel ten opsigte van die gebruik van gasvryheid teenoor mense wat uitgesluit en uitgebuit word?
  • Watter implikasies sou die handhawing van die belangrikheid van gasvryheid vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings kon hê?

4. Tempelprostitusie hoort nie by Israel nie

Levitikus 18:1-22

Die Here het vir Moses gesê: “Praat met die Israeliete en sê vir hulle: Ek is die Here julle God. Julle mag nie maak soos die Egiptenaars by wie julle gewoon het, of soos die Kanaäniete na wie se land toe Ek julle bring nie. Julle mag hulle gebruike nie navolg nie.

Julle moet my bepalings nakom en my voorskrifte gehoorsaam deur daarvolgens te lewe. Ek is die Here julle God. Wees gehoorsaam aan my voorskrifte en bepalings. Wie dit doen, sal lewe. Ek is die Here … Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ʼn afstootlike sonde.”

Levitikus 20:1-26

Die Here het vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: Elke Israeliet en vreemdeling in Israel wat sy kind aan Molek wy, moet met die dood gestraf word: die burgers moet hom met klippe doodgooi, anders sal Ek self teen so iemand optree en hom van sy volksgenote afsny omdat die wyding van ʼn kind aan Molek my heiligdom onrein maak en my heilige Naam ontheilig.

“Wy julle aan My. Wees heilig, want Ek is die Here julle God. Gehoorsaam my voorskrifte en leef daarvolgens. Ek is die Here, Ek heilig julle aan My.

“Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ʼn afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.

“Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig. Ek het julle afgesonder uit die volke om aan My te behoort.”

Die woord “tempel” word nie eers in hierdie twee teksgedeeltes genoem nie, maar die opstellers van hierdie gids probeer argumenteer dat dit hier gaan oor tempelprostitusie! Boonop het die tempel nog nie eers bestaan toe Levitikus geskryf is nie. Ja, Moses kon hier verwys na die toekomstige tempel, maar dit word glad nie so uitgespel in hierdie gedeeltes nie. Die opstellers van die gids pleeg dus ook hier inlegkunde.

Verstaansriglyne

Hierdie twee verse word deur sommige beskou as die heel duidelikste aanduiding in die Ou Testament dat seks tussen mans uitdruklik verbied word. Dit word afgelei uit die beskrywing van homoseks as ʼn walglike en haatlike daad (tô’evâ, NAV: “gruwelike sonde”). Die grondslag vir dié skerp veroordeling en streng strafbepaling (volgens Lev 20:13 is dit doodstraf vir albei betrokke partye) het volgens hierdie beskouing te doen met die beskerming van seksualiteit in sy “heteroseksuele bestemmingsfunksie tussen man en vrou” – so lui die argument. Dit is opvallend dat daar egter geen sprake van ʼn letterlike toepassing van hierdie strafbepaling is onder dié wat hierdie twee gedeeltes wél as ʼn letterlike veroordeling van homoseksualiteit beskou nie.

Dit is verstommend dat geleerde mense kan argumenteer dat omdat ’n Ou-Testamentiese strafbepaling nie in die Nuwe-Testamentiese tyd en daarna toegepas is, of verstaan word om nog steeds toegepas te moet word nie, die oortreding daarom nou noodwendig nie meer ’n oortreding is nie. Verstaan hulle nie dat sekere strafbepalings van die Ou Testament na die Nuwe Testament verander het nie, en dat die Here noodwendig sekere strafbepalings in elk geval verander het van die tyd dat die Jode hulself regeer het tot die tyd dat hulle onderdanig moes wees aan ander wat oor hulle regeer het?

Tog is dit sterk te betwyfel of hierdie twee gedeeltes oor homoseksualiteit as sodanig gaan. Dit gaan dalk eerder oor bepaalde soorte homoseksuele dade. Trouens, die vertaling “homoseksualiteit” wat hier gebruik word, is ʼn vrye interpretasie wat nie só in die grondteks staan nie. Dit is méér waarskynlik dat die betrokke twee verse verband hou met kultiese tempelprostitusie wat algemeen in die Kanaänitiese vrugbaarheidsrituele beoefen is. Vergelyk byvoorbeeld hoe die term tô’evâ in Deuteronomium 23:18 gebruik word, waar dit weereens gaan oor die verbod op tempelprostitusie, sowel homoseksueel as heteroseksueel. Hiervolgens is die saak wat in die twee tekste in Levitikus afgewys word nie seks tussen mense van dieselfde geslag as sodanig nie, maar seksuele verkeer in die kultiese samekoms met die uitsluitlike doel om God te manipuleer om vrugbaarheid aan die individu en die gemeenskap te skenk. Súlke seksuele dade, hetsy homoseksueel of heteroseksueel, hoort nie in die erediens van Israel nie.

Ja, dit gaan oor homoseksuele dade in hierdie gedeeltes. Watter soort? Selfs die soort wat in die Ou Afrikaanse Vertaling (en dus nader aan die oorspronklike), beskryf word as:

Lev 18:22 Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.

Lev 20:13 En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen.

Ek het reeds in afdeling 3 gewys dat hierdie beskrywing nie oor verkragting gaan nie.

Kyk na die Engelse vertalings:

Lev 18:22 Thou shalt not lie with mankind, as with womankind: it is abomination.

Lev 20:13 If a man lie with mankind, as he lieth with a woman, both of them have committed an abomination:

Hierdie gedeeltes spel dit onomwonde uit dat alle vorms van homoseksuele dade sondig is – daar bestaan dus nie iets soos homoseksuele dade wat vir God nie ’n gruwel is nie.

Vervolgens span die gids Deut 23:18 in, en noem dat dit nogal “weereens” gaan oor tempelprostitusie:

Deu 23:17 Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie.

Deu 23:18 Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die HERE jou God as enige gelofte offer bring nie; want dié altwee is vir die HERE jou God ’n gruwel.

In die eerste plek is die woord “weereens” misleiding, want Levitikus het nie net oor tempelprostitusie gegaan nie. In die tweede plek gaan selfs Deut 23:17 en 18 nie oor tempelprostitusie nie, maar oor prostitute en sodomiete wat nie hul lone moes probeer aanbied as offer vir die Here nie. Dit maak geen uitspraak oor waar die gruwels gepleeg is nie, met ander woorde om te probeer aflei dat dit hier noodwendig gaan oor tempelprostitusie is ongegrond.

Die kultiese aard van die verbod in hierdie twee gedeeltes word bevestig deur die konteks waarin dit voorkom, naamlik die sogenaamde “Heiligheidsboek” (Lev 17 – 26) waarin ons allerlei rituele reinheidsreëlings aantref. Geeneen van hierdie reëlings word egter as moreel-etiese uitsprake bedoel nie, maar gebruik as maatreëls om die reinheid van die Israelitiese kultus te verseker.

Dit is duidelik wanneer dit vergelyk word met ander bepalings wat ook met rituele reinheid te doen het – die verbod op die eet van bloederige vleis (17:10); die verbod op letterlike kontak met ʼn vrou wat menstrueer (18:19); die verbod op die kruisteling van diere, die plant van verskillende soorte saad in dieselfde akker, en die dra van klere wat van verskillende soort materiaal gemaak is (19:19); die verbod op die knip van die hare voor die ore en die wangbaard en die aanbring van tatoeëermerke (19:28), en die verbod op gestremdes om as ampsdraers in die erediens op te tree (21:17-21).

Wat? Hoe op dees aarde kan beweer word dat: “Geeneen van hierdie reëlings (Lev 17-26) word egter as moreel-etiese uitsprake bedoel nie, maar gebruik as maatreëls om die reinheid van die Israelitiese kultus te verseker”?

Wat van “mag nie aan duiwels offer nie”, “mag nie jou kinders verbrand vir Molog nie”, “geen vleeslike gemeenskap met ’n dier nie”, “begeef julle nie tot die afgode nie”, “julle mag nie steel nie, en julle mag nie lieg nie, en julle mag die een die ander nie bedrieg nie”, “julle mag geen onreg doen in die gereg nie”, “julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie”, ensovoorts?

En die volgende wys dat dit beslis nie net gegaan het oor die Israelietiese kultus te verseker nie:

Lev 18:27 Want die mense van die land, wat voor julle gewees het, het al hierdie gruwels gedoen, en die land het onrein geword.

Probeer die opstellers van die gids nou regtig hier te argumenteer dat omdat Lev 18 en 20 binne Lev 17 tot 26 val, dit eintlik nie meer vandag toepaslik is nie? Kan hulle ernstig wees met so ’n redenasie?

Die twee tekste in Levitikus word soms ook binne die konteks van die uitgebreide familieverband in Ou Israel geïnterpreteer. Soos ander bepalings in Levitikus 18:6-23 en 20:9-21 het dit dan te doen met die regulering van seksuele verhoudings binne die familie. Die bedoeling van al hierdie bepalings is om die behoud van en respek vir familieverhoudings te beklemtoon. Binne hierdie konteks word insidentele homoseksuele dade veroordeel word op grond van die negatiewe uitwerking wat so ʼn daad op die onderlinge verhoudings tussen lede van die uitgebreide familie het. Tog verwys sulke dade steeds nié na durende homoseksuele verhoudings nie, maar na heteroseksuele persone wat op insidentele manier homoseksuele dade met mekaar pleeg – en daardeur skade berokken.

Waar word dit in die Bybel gestel dat dit hier slegs gaan oor “insidentele homoseksuele dade”? Dit is weereens inlegkunde wat hier gepleeg word. Nee, dit gaan oor alle homoseksuele dade – insidenteel en gereeld.

Eerste reaksie

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Hoe maak jy sin van al die kultiese rituele en vereistes in hierdie teksgedeeltes?
  • Watter implikasies sou die teksgedeeltes se klem op opregte aanbidding en die soeke na die Here vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings kon hê?

5. Seksuele losbandigheid is skandelik

Romeine 1:20-27

Van die skepping van die wêreld af kan ʼn mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ʼn mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas.

In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ʼn verganklike mens of soos voëls of diere of slange. Daarom gee God hulle aan die drange van hulle hart oor en aan sedelike onreinheid, sodat hulle hulle liggame onder mekaar onteer.

Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig. Amen.

Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ʼn teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.

Verstaansriglyne

Hierdie verse word deur heelwat mense beskou as die duidelikste bewys dat die Bybel geheel en al téén homoseksuele gedrag gekant is deurdat sulke gedrag oënskynlik beskryf word as die manifestering van “skandelike drifte” en as “teen die natuur” (para fusin). Laasgenoemde uitdrukking word beskou as ʼn verwysing na God se skeppingsorde, met die implikasie dat dit wat para fusin is in stryd met God se skeppingsbedoeling is. Hier blyk dit duidelik dat só ʼn interpretasie deurgaans, reeds vanuit die Genesis-tekste, met die idee van ʼn orde en rangskikking van mense moet werk om stand te hou.

Weereens is dit onwaarskynlik dat Paulus na homoseksualiteit as sodanig verwys, maar eerder na spesifiek uitbuitende en promiskue seksuele dade wat in die Grieks-Romeinse wêreld van destyds algemeen bekend was. Die konteks waarin die verse voorkom, bied ʼn skerp veroordeling van die destydse (nie-Joodse) heidendom wat deur Paulus in terme van goddeloosheid, ongeregtigheid en die verering van afgode getipeer word. Hierdie konteks maak dit duidelik dat dit hier gaan oor mense wat ʼn doelbewuste keuse téén God gemaak het. Ná hierdie veroordeling (v 20-23) volg ʼn beskrywing van algemene seksuele losbandigheid in die heidense wêreld (v 24-25), wat ʼn beskrywing van (spesifiek homoseksuele) losbandigheid insluit (v 26-27) maar nie daartoe beperk word nie. Homoerotiese seksuele dade, wat nie deur sosiale instellings (soos die huwelik) beheer kon word nie, is as tipies van seksuele losbandigheid en ʼn gebrek aan selfbeheersing gesien.

Paulus het hier ʼn beskrywing van losbandigheid in gedagte, wat duidelik blyk uit die terminologie wat hy gebruik: “sedelike onreinheid” en “ontering van die liggaam” met verwysing na seksuele wangedrag in die algemeen, en “skandelike drifte” (pathé atimias) en “brand van begeerte” met verwysing na homoseksuele wangedrag in die besonder. Veral die gebruik van die Griekse term pathé (hier in die meervoud, in die NAV vertaal met “drifte”) is van belang aangesien dit spesifiek na onbeteuelde passie of wellus verwys. Wat pathos/pathé onaanvaarbaar maak, is nie die feit dat dit in ʼn spesifieke geval (soos in v 26) in homoseksuele gedrag tot uitdrukking kom nie, maar dat dit onbeteuelde wellus as sodanig is – wat óók onaanvaarbaar is wanneer dit in heteroseksuele gedrag voorkom. Net soos die skerp oordeel oor seksuele losbandigheid in die algemeen (soos in v 24-25) nie beteken seksualiteit as sodanig word daarmee as sondig afgewys nie, kan die skerp oordeel oor homoseksuele losbandigheid (in v 26-27) nie sondermeer as ʼn veroordeling van selfdegeslagverhoudings as sodanig geïnterpreteer te word nie.

Die verstaan van “natuur” is hier belangrik. Dit is opvallend dat die term wat hiervoor gebruik word (fusis) elders by Paulus nie as ʼn verwysing na die skeppingsorde gebruik word nie, maar as ʼn verwysing na die algemeen aanvaarbare gedrag wat bepaal word deur die sosiale norme en kodes van die samelewing. Dit is byvoorbeeld hoe die term in 1 Korintiërs 11:14 gebruik word, waar gesê word dit is teen “die algemene opvatting” (fusis) vir ʼn man om lang hare te hê – ʼn uitspraak wat tog nie beteken dat lang hare by ʼn man teen God se skeppingsbedoeling is nie. Wat Paulus, volgens hierdie interpretasie, waarskynlik in gedagte het, is dus nie noodwendig dat sekere soorte seksuele gedrag teen God se skeppingsbedoeling is nie, maar bloot dat promiskue seksuele gedrag nie in ooreenstemming met die sosiale kodes en norme van die destydse Joodse samelewing was nie.

Paulus, soos geïnspireer deur God, verklaar hier duidelik dat dit skandelik is om teen-natuurlike omgang te pleeg. Verder definieer hy wat teen-natuurlike omgang is: Vrou met vrou of man met man – pertinent nie man met vrou nie. Lev 18 en 20 het reeds gewys dat alle vorme van homoseksuele dade vir God ’n gruwel is, nie net die wellustige soort nie.

Dit is nie vreemd dat ’n spesifieke woord “fusis” nie in alle kontekste presies dieselfde betekenis het nie.

Eerste reaksie

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Watter implikasies sou die teksgedeelte se skets van hoe seksuele gedrag, hetsy homoseksueel of heteroseksueel, nié moet lyk nie vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings kon hê? Wat impliseer dit dan vir hoe verhoudings móét of kán lyk?

6. Seksuele misbruik van mekaar is nie toelaatbaar nie

1 Korintiërs 6:9-10

Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.

En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.

Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ʼn mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie liggaam. Of besef julle nie dat julle liggaam ʼn tempel van die Heilige Gees is nie? Julle het die Heilige Gees, wat in julle woon, van God ontvang, en julle behoort nie aan julleself nie: julle is gekoop, en die prys is betaal. Julle moet God dus in julle liggaam verheerlik.

1 Timoteus 1:5-11

Maar die doel van die gebod is liefde uit ʼn rein hart en ʼn goeie gewete en ʼn ongeveinsde geloof waarvan sommige mense afgedwaal en hulle afgewend het na onsinnige praatjies; hulle wil leraars van die wet wees, alhoewel hulle wat hulle sê, of die dinge wat hulle beslis beweer, nie verstaan nie. Maar ons weet dat die wet goed is as iemand dit wettiglik gebruik en as hy weet dat die wet nie gegee is vir die regverdige nie, maar vir die wettelose en tugtelose mense, goddelose en sondaars, onheiliges en ongewydes, vadermoorders en moedermoorders, moordenaars, hoereerders, sodomiete, mensediewe, leuenaars, meinediges en wat daar anders met die gesonde leer in stryd is, volgens die evangelie van die heerlikheid van die salige God wat aan my toevertrou is.

Verstaansriglyne

Die spesifieke terminologie hier, wat deur baie Bybelvertalings (verkeerdelik) met “homoseksualiteit” of selfs “sodomie” vertaal word, belangrik om kan te verstaan oor watter sake of kwessies dit vir die Bybelskrywers gaan. Daar was ’n tyd toe die Griekse terme malakoi (“verwyfdes”) en arsenokoitai (“manslapers”), wat in hierdie teksgedeeltes gebruik word, geïnterpreteer is asof dit met homoseksualiteit in die algemeen te doen het en onderskeidelik dui op die passiewe en die aktiewe partye in ʼn homoseksuele verhouding. In die NAV word dit as ʼn algemene verwysing na homoseksualiteit geïnterpreteer en vertaal met “mense wat homoseksualiteit beoefen”, terwyl die OAV van die selfs meer kras beskrywing “sodomiete” gebruik maak.

Daar is vandag al hoe meer verklaarders wat daarop wys dat dié twee terme waarskynlik nié na homoseksuele optrede in die algemeen verwys nie, maar dat dit onderskeidelik betrekking het op mans of seuns wat hulleself seksueel laat misbruik, onder meer as manlike prostitute, en op mense wat jong seuns seksueel misbruik.

Volgens wie is hierdie vertalings verkeerd? Wie is die “al hoe meer verklaarders”? Is dit merendeels die progay propagandiste en verklaarders? “Mense wat homoseksualiteit beoefen” is so algemeen gestel as moontlik in die aangehaalde teks hierbo. Die terme “effeminates” en “abusers” in die Engelse King James weergawe dui op ’n breë spektrum van homoseksuele beoefenaars. Ander Skrifgedeeltes soos Lev 18 en 20 het reeds gewys dat God alle vorms van homoseksuele dade ten sterkste afkeur. ’n Mens sou daarom wel kon aflei dat alle vorms van homoseksuele dade misbruik van seksualiteit in God se oë is.

“Sodomiete” in 1Tim 1 gee geen aanduiding dat dit nie ook alle vorms van homoseksuele dade insluit nie.

Volgens hierdie uitleg moet die verwysings veral verstaan word teen die agtergrond van hierdie praktyke, oftewel “pederastie”, wat destyds redelik algemeen in die Grieks-Romeinse wêreld voorgekom het. Dié praktyk het behels dat ʼn volwasse man – benewens sy huwelik – ʼn verhouding met ʼn minderjarige seun aangeknoop het met die oog op begeleiding tot volwassenheid, maar waarin seksuele bevrediging gewoonlik ook ʼn belangrike rol gespeel het. Weereens is die praktyke wat hierdie teksgedeeltes in gedagte het nie optrede binne ʼn durende selfdegeslagverhouding wat gekenmerk word deur liefde en trou nie, maar insidenteel, uitbuitend en gemotiveer deur seksuele bevrediging. Manlike (soos vroulike) prostitute was meestal slawe, en hulle eienaars het nie alleen hulle arbeid nie, maar ook hulle liggame “besit”.

Dit is nogeens onwaarskynlik dat hierdie terme hoegenaamd énigiets te doen het met homoseksualiteit soos dit vandag verstaan word aangesien dit heel waarskynlik as algemene terme vir seksuele losbandigheid verstaan moet word. Die grondslag wat hiervoor aangevoer word, is dat genoemde terme nooit in die Patristiese of latere kerklike literatuur met verwysing na homoseksuele dade gebruik word nie, maar eers in die 13de eeu deur Thomas van Aquino in dié verband gebruik is. Weer blyk dit dat ʼn interpretasie wat homoseksualiteit in die Bybelteks inlees ʼn latere ontwikkeling was en dat die Bybelskrywers sélf nie seksuele oriëntasie hier in gedagte gehad het nie.

Hierdie teksgedeeltes hanteer nie die kwessie van seksuele oriëntasie as sodanig (wat ʼn moderne idee is wat eers in die 19de eeu ontwikkel het) nie, en spreek sigself dus nie uitdruklik uit oor selfdegeslagverhoudings soos ons dit vandag ken en verstaan nie.

Regtig? Word sommige mense homoseksueel gebore vanaf die 19de eeu? Watter bewyse het die opstellers van hierdie gids hiervoor?

Eerste reaksie

  • Hoe maak hierdie teksgedeelte nou vir jou sin binne die breër samehang van die Bybel? (literêre lees)
  • Wat verstaan jy nou oor die kultuur-historiese agtergrond van die teksgedeelte? (historiese lees)
  • Wat bely of openbaar die teksgedeelte vir jou oor God? (sakramentele lees)

Verdere gesprek

  • Watter voorbeelde van seksuele uitbuiting en losbandigheid is vandag in ons samelewing sigbaar?
  • Hoe help die teksgedeeltes jou om te dink nie net aan hoe seksuele verhoudings nié moet lyk nie, maar ook oor hoe seksuele verhoudings móét en kán lyk?
  • Watter implikasies sou die teksgedeeltes se beeld van hoe seksuele gedrag nié moet lyk nie én hoe dit kán lyk vir die gesprek oor selfdegeslagverhoudings kon hê?

Dit is veral insiggewend dat Paulus, wat algemeen aanvaar word nooit getroud was nie, juis die een is wat deur God gebruik is om die sterkste uitsprake in die Nuwe Testament teen die beoefenaars van homoseksuele dade te maak.

Ten slotte

Dit is opvallend dat, hoe hierdie Bybeltekste ook al geïnterpreteer word, daar geen direkte verwysings na die seksuele oriëntasie is van mense wat tot mense van dieselfde geslag aangetrokke is nie – en dat hierdie klein hoeveelheid teksgedeeltes ʼn baie smaller grondslag vir beoordeling bied as byvoorbeeld die verwysings in die Bybel na die onderhorige posisie van die vrou met betrekking tot die man en na die vanselfsprekendheid waarmee die praktyk van slawerny as normaal aanvaar is.

Die feit dat albei laasgenoemde kwessies deur die kerk beoordeel word as kultuurgebonde en nie as geldend vir alle tye nie, ten spyte van duidelike Bybelse uitsprake daaroor, maan ons ten minste tot versigtigheid in die gebruik van genoemde tekste by die beoordeling van die kwessie van homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings. In die Bybelse tye is die menslike liggaam as eenduidig verstaan, nie tweërlei as man en vrou nie. Die vroulike liggaam is as die inverse of omgekeerde van die manlike gesien, en in seksuele praktyke moes hierdie orde gehandhaaf word. Homoerotiese dade was algemeen in die antieke Griekse en Romeinse samelewings, maar is met agterdog en kritiek bejeën omdat sulke dade manlike heerskappy uitgedaag het.

As mens jou moet wend tot onverwante sake om jou saak te probeer verdedig, soos wat die opstellers van die gids hier doen, bevestig dit sekerlik dat jou saak nie behoorlike gronde het nie. Die onderdanigheid van die vrou ten opsigte van die man is in elk geval nie ’n vereiste in die Bybel wat nou verval het nie – die eintlike betekenis en bedoeling daarvan moet egter bepaal word volgens wat die hele Bybel daaroor sê. Om te beweer dat die kerk beoordeel dat dit slegs kultuurgebonde was is ’n veralgemening wat onwaar is. Heelwat Christelike kerke verskil van die opstellers van die gids se kerk hieroor. Die kwessie van slawerny verg heelwat verduideliking om dit reg te verstaan. Daar bestaan goeie skrywes hieroor wat wys dat ’n simplistiese stelling soos in hierdie gids weergegee is, misleidend is.

Dit is hoogs onwaarskynlik, en sterk te betwyfel, of bogenoemde tekste direk van toepassing is op die beoordeling van homoseksualiteit soos ons dit vandag verstaan. Terwyl die genoemde tekste deur sommige verklaarders as verwysings na die verskynsel van homoseksualiteit as sodanig beskou word en derhalwe geïnterpreteer word as ʼn duidelike aanduiding dat die Bybel ʼn sterk negatiewe oordeel daaroor uitspreek, is daar ʼn ewe sterk oortuiging dat hierdie tekste eerder beskou behoort te word as verwysings na spesifieke, perverse vorme van seksuele dade tussen mense van dieselfde geslag (soos verkragting, tempelprostitusie, afgodery en pederastie), ook omdat homoerotiese seks in die Antieke Tyd met bandeloosheid en ʼn gebrek aan selfbeheersing verbind is, maar dat dit nie as ʼn veroordeling van homoseksualiteit as sodanig beskou kan word nie.

Om seksuele oriëntasie in ʼn leefwêreld van antieke tekste in te lees – ʼn leefwêreld wat homoseksuele dade geken het, maar wat die ontwikkeling van die kategorie van seksuele oriëntasie nie geken het nie – is vreemd en verdag. Dit vra van ons om met respek vir die vreemdheid van die ervarings en taal van die Bybelskrywers om te gaan.

Daar is direkte verwysing na alle vorme van homoseksuele dade in die Bybel, van verkragting tot losbandige sedeloosheid tot die gematige beskrywing van ’n man wat met ’n man gemeenskap hê soos met ’n vrou (“man that lies with a man as with a woman”). Die Here beskou dit alles as ’n gruwel. Daar is geen gronde – Bybels of wetenskaplik – om te glo dat die baie klein persentasie van skynbaar vaste en getroue homoseksuele verhoudings wat onder homoseksueles gevind word, nie in die Bybelse tyd bestaan het nie. Ook hierdie is ’n ongegronde strooihalm waarna die opstellers van hierdie gids gryp. As die opstellers van die gids met “seksuele oriëntasie” probeer voorgee dat mense so gebore kan wees, is hulle ook verkeerd – die wetenskap het dit nog glad nie bewys nie, ondanks baie groot pogings. As sommige mense so gebore word, moet homoseksualiteit geneties wees. Die feit dat betreffende identiese tweelinge (hul gene is presies dieselfde) waarvan die een homoseksueel is, die ander een in slegs omtrent 20% van die gevalle ook homoseksueel is, is ’n sterk wetenskaplike bewys dat homoseksualiteit juis nie geneties is nie.

Met ander woorde (en om prakties te wees): Dit sou teologies onhoudbaar wees om enige van hierdie tekste toe te pas op iemand wat as toegewyde gay Christen tot die besef kom van sy of haar alternatiewe seksuele identiteit en oriëntasie. Hulle besluit tog nie doelbewus om “God nie te eer of te dank nie” (vgl Rom 1:21), of om pervers te leef nie, of om mans te verkrag nie, of om in ʼn onbehoorlike seksuele verhouding met naby bloedfamilie betrokke te wees nie. Die tekste hanteer hoegenaamd nie die vraagstuk van mense van dieselfde geslag wat as gelowiges in liefde en trou in verhouding met mekaar tree nie.

Hierdie hele “Bybelstudie” is teologies onhoudbaar weens al die misleiding wat hoogty vier. Dit is verstommend dat geleerdes na soveel strooihalms kan gryp, en selfs nie agterkom dat hulle in die proses sommige van hul eie argumente kelder nie. So byvoorbeeld kon hulle maar net geargumenteer het dat sodomie gaan oor homoseksuele verkragting, maar nou verswak hulle hul argument deur elders te probeer aantoon dat dit gaan oor ongasvryheid. In plaas daarvan dat hulle maar baklei vir hul swak siening dat Lev 18 en 20 slegs gaan oor tempelprostitusie, sleep hulle later die argument by dat niks in Levitikus hoofstukke 17 tot 26 gaan oor moreel-etiese kwessies nie. Daardeur verklaar hulle eintlik dat selfs tempelprostitusie nie moreel-eties verkeerd is nie. Hierdie hele saak van weersprekings van hul eie argumente bevestig nog verder dat hulle geensins die hele Bybel in ag geneem het in die formulering van hul siening oor homoseksualiteit nie. Dit is asof hulle desperaat net eenvoudig alle moontlike argumente moes lys teenoor wat die Bybel uitdruklik oor homoseksuele dade verklaar, naamlik dat dit sonde is.

Die belangrikste vraag vir ons wat op die oomblik oor selfdegeslagverhoudings nadink, en in biddende afhanklikheid van die Here op reis gaan met die Woord van God gelei deur die Gees van Christus, is hoe ons die héle Bybel – en nie net individuele teksgedeeltes wat ons met homoseksualiteit assosieer nie – toelaat om ons gedagtes en opvattings hieroor te deurdrenk. Dikwels benader ons die Bybel met die alleendoel om ons vooropgestelde idees te bevestig – ons soek dalk selfs dié teksgedeeltes op en uit wat dit vir ons sou kon doen – in plaas daarvan om ons oop te stel en bloot te stel om verras te word deur die Woord en deur die Gees.

Hierdie gespreksgids neem juis in vele opsigte nie die hele Bybel in ag nie. Buiten wat alreeds geskryf is, word dit ook duidelik as hulle die woorde gebruik “vanuit die teks self”. Elders word gedeeltes weer bygehaak wat ontoepaslik is, om ’n bepaalde verdraaiing te probeer regverdig.

Mag hierdie ontdekkingstog vir ons elkeen individueel en vir ons as gemeenskap van heiliges saam ʼn uitdaging en ʼn seën wees.

Die seën wat ek uit hierdie gids gekry het was die teenoorgestelde van wat die opstellers in gedagte gehad het. Dit is nou vir my nog duideliker dat geen vorm van homoseksuele dade uit die Bybel goedgepraat kan word nie – elke vorm daarvan is vir die Here ’n gruwel. Dit is ook duidelik dat die Here van sy kerk verwag om mense te help om daaruit te kom, dat dit moontlik is volgens 1Kor 6:9-10 en bevestig is deur talle mense in die hedendaagse tyd, en dat die grootste geleerdes van vandag, soos in die dae van die Fariseërs en die Skrifgeleerdes, doof en blind gemaak kan word.

Pro-gay prof Adrio König se groot verweer teen die Bybelse gegewens is dat al die gevalle wat in die Bybel beskryf word van homoseksuele dade gaan oor mense wat heteroseksueel was, maar homoseksuele dade gepleeg het. Maar hy kan die stelling nie bevestig vanuit die Bybel of vanuit die wetenskap nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui