Geweeg en te lig bevind

Kyk ook:

*******

Geweeg en te lig bevind | Beeld

‘Moenie dat sekularisasie al eerbare uitweg vir denkendes wees’

Beeld, 12 Maart 2002

Neels Jackson

Die huidige debat oor die gesag en relevansie van Die Bybel wek wyd belangstelling. Op ’n konferensie oor die vraag of die kerk nog Die Bybel kan preek, het ’n bekende teoloog gewaarsku wanneer hedendaagse mense vanuit ’n verouderde wêreldbeeld bepreek en bepraat word, hulle n diepgaande gevoel van vervreemding ontwikkel. Neels Jackson berig.

Deur die eeue het gemeenskappe verskillende wêreldbeelde gebruik om die wêreld om hulle te verstaan en te beleef, sé prof. Julian Müller, hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.

Hy het dit op die konferensie só verduidelik:

* Die antieke wêreldbeeld is die een wat in Die Bybel voorkom.

Daarvolgens het elke ding op aarde ’n hemelse ekwivalent, en andersom. As daar ’n stryd op aarde is, moet daar op die een of ander manier ‘n soortgelyke stryd in die hemel wees tussen magte van goed en kwaad. Net so word hemelse gebeure in aardse gebeure weerspieël.

Dié wêreldbeeld is nie spesifiek Bybels nie. Dit was die wêreldbeeld wat destyds algemeen gegeld het en wat die prentjie voorsien het waaruit die Bybel-skrywers hul prentjie van die werklikheid geskryf het.

* In die tweede eeu na Christus het die geestelike wêreldbeeld ontstaan.

Dit het die Joods-Christelike wêreldbeeld verander van een waarin die skepping basies goed is, na een waarin die gevallenheid van die materiële wêreld voorop staan. Die spirituele is daarvolgens goed en die materiële sleg.

Die wêreld word beskou as ‘n gevangenis waarin dit wat in die hemel goed is, op aarde vervalle geraak het. Die geestelike het vervorm geraak binne die materiële van die liggaamlike.

Die gevolg was dat seks, die liggaam en die aardse lewe in die algemeen as boos beskou is en die geestelike taak was om jou gees uit dié gevangenis bevry te kry.

Dié wêreldbeeld het steeds ‘n sterk invloed. ’n Mens sien dit onder meer in spiritualisme, seksuele obsessies, eetversteurings, negatiewe selfbeelde en verskeie vorme van verwerping van die eie liggaam. Dit kom ook na vore in dié weergawes van die Christelike godsdiens wat al die klem eensydig op die hemelse heerlikheid plaas.

* In die tyd van die Verligting het die materialistiese wêreldbeeld sterk na vore getree.

Hiervolgens word die spirituele ontken en beskou as’n illusie. Mense is slegs ’n samestelling van chemiese stowwe en atome en as iemand sterf, is dit al wat oorbly.

Daar is ook ’n sogenaamde “sagte materialisme” wat nie so negatief staan teenoor die geestelike nie, maar wat die grondslag vorm van die verbruikersmentaliteit, selfverwesenliking en ‘n afwesigheid van spirituele waardes. Dis die dominante etos van die meeste universiteite, die media en die Westerse kultuur as geheel.

* In reaksie hierop het die teologiese wêreldbeeld ontwikkel.

Dit behels enersyds ’n erkenning dat die “hoër werklikheid” nie deur menslike sintuie geken kan word nie, en andersyds ‘n poging om daardie werklikheid eenkant te hou vir godsdiens en teologie. Die geestelike wêreld word immuun verklaar vir die eise van die wetenskap.

Die materialiste is maar te gelukkig om hiermee saam te werk, omdat hulle in elk geval nie glo aan ‘n hoër werklikheid nie.

Só ontwikkel ‘n ekisofreniese teologie wat die aardse en hemelse uitmekaar hou. Dis ’n teologie wat die ontdekkings en teorieë van wetenskaplikes met gelatenheid aanhoor en doodgewoon voortgaan om Sondae en op jeugbyeenkomste die teendeel te verkondig.

Die wetenskaplikes het byvoorbeeld allerlei teorieë oor evolusie, maar Sondae word die “waarheid” van Genesis 1 en 2 gepreek en daar is geen ernstige poging om op dié uiteenlopende gevolgtrekkings te reageer nie.

Hoe onheilspellender die koerant word, hoe meesleurender word die liturgie. Hoe meer die alledaagse werklikheid geontmitologiseer word, hoe meer mities die aanbidding.

* Die jongste ontwikkeling kan beskryf word as ’n integrale wêreldbeeld — wat onder meer gevoed word deur die nuwefisika, nuwere ontwikkelings in die teologie, proses-filosowe en Oosterse en Afrika- wêreldbeelde.

Hiervolgens word hemel en aarde beskou as deel van dieselfde werklikheid. Die geestelike word nie ontken nie, maar beskou as ’n kerndeel van die totale werklikheid. Begrippe soos “bo” om na die goddelike of hemelse te verwys en “onder” om na die bose te verwys, word nie letterlik verstaan nie.

God word beskou as binne-in alles. Dis nie dieselfde as panteisme, waar alles God is nie, maar eerder panenteisme waarvolgens alles in God is en God in alles.

Dié ontwikkeling maak dit noodsaaklik dat godsdienstige kategorieë herdink en herformuleer word. Tans is al die konsepte van werklikbeid en waarheid in die Christelike godsdiens verwoord op grond van die teologiese wêreldbeeld. Vir hedendaagse Christene wat dink en doen op grond van ’n integrale wêreldbeeld, skep dit ’n identiteits- en geloofskrisis.

Die nuwe wêreldbeeld werk ook nie meer met ‘n klaar geformuleerde waarheid wat van bo af oorgedra word nie. Die klem verskuif na’n voortdurende ontdekking van die waarheid. Die etiese en morele word binne die integrale wêreldbeeld nuut bedink en onderhandel.

Daar is talle voorbeelde van die vervreemding wat ontwikkel as mense wat binne die nuwe wêreldbeeld leef deur die kerk vanuit ’n ou teologiese of selfs antieke wêreldbeeld bepraat en bepreek word. Dit gebeur byvoorbeeld as die kerk oor duiwels, engele en magte praat asof dit verpersoonlikte magte is wat uit ‘n ander wêreld op mense inwerk. Nog ’n voorbeeld is as die kerk se verlossingsprediking op byna letterlike wyse ’n voorstelling maak van God wat uit die hemelse ruimtes neergedaal het en ’n offer op aarde kom bring het om homself en sy woede oor sonde te bevredig. Of as die opstanding só gepreek word dat Jesus ’n soort ruimtereisiger na verre ruimtes word.

Daar is ’n dringende behoefte om in taal, metafore en kategorieë te praat en te preek om hedendaagse mense by te staan in die verstaan van die Evangelie binne hierdie nuwe wêreldbeeld. Slaag die kerk en die teologie nie daarin nie, bly daar vir die soekende Christen net twee opsies oor:

* Die eerste is ’n nog meer fundamentele versterking van die teologiese wêreldbeeld.

Mense is geneig om bedreig te voel deur die tendense van die postmodernisme en. dan terug te gryp na ou sekerhede.

Daarom: hoe onheilspellender die koerant word, hoe meesleurender word die liturgie. Hoe meer die alledaagse werklikheid geontmitologiseer word, hoe meer mities die aanbidding. Hoe meer onsekerheid aan die deur klop, hoe meer fundamenteel word evangeliese sekerhede verkondig. Die kloof raak al dieper.

* Die tweede opsie is om die kerk en teologie nie meer ernstig te bejeën nie. As die kerk nie intelligent kan saampraat binne die kategorieë van die integrale wêreldbeeld nie, word hy nie langer as ’n waardige gespreksgenoot beskou nie.

Met dié twee groeiende reaksies op die ervaring van vervreemding by Christene, is die skrif volgens Müller aan die muur. Die kerk kan dit nie langer bekostig om Die Bybel te preek asof die wêreldbeeld van Die Bybel en die dualistiese teologiese wéreldbeeld die enigste aanvaarbare maniere is vir Christene om hul geloof uit te leef nie.

As die prediking impliseer dat die kerk en die teoloë hulself sien as die beskermers van vervloë wêreldbeelde, is die tafel gedek vir grootskaalse sekularisasie. Dit word dan die enigste eerbare “oplossing” vir denkende mense.

Müller waarsku dan ook: “Ons sien dit gebeur. Kerk en teologie sal nie die hande in onskuld kan was nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui