Die volgende artikel is van Beeld gekopieer.
*****************
Ghoeroe van wondbaarheid
8 Februarie 2013
Destyds, toe die kerkvaders die rug op Laurie Gaum gekeer het, het hy gevoel hy stap in sy eie waarheid in. Dié keer is daar ook nie ’n reisgids vir die kanker waarmee hy gediagnoseer is nie. Willemien Brümmer het met hom gepraat oor gebrokenheid en opstanding.
Agt jaar gelede moes Laurie Gaum ’n geliefde aan die dood afstaan. Nou, op 41, het sy “teologie van weerloosheid” vlees geword: Vir die eerste keer moet hy sy eie eindigheid bepeins.
Die wonde aan sy linkerpols, toegewikkel in ’n wit verband, sou maklik vir stigmata aangesien kon word. Tog sou hy nie soos Paulus sê hy dra die littekens van die Here Jesus in sy liggaam nie. Sy are is gebrand weens die chemoterapie wat hy eenmaal per week ontvang by ’n hospitaal in Pinelands, vernoem na die heilige Vincent Pallotti.
Op hierdie Vrydagmiddag het hy pas teruggekeer van sy daaglikse bestralingsessie by ’n mediese sentrum in Rondebosch nadat kanker in Desember aan sy regteronderkantste long en aan kliere om sy lugpyp gediagnoseer is.
Ons ontmoet by die bekende Panama Jacks-restaurant in die werkende deel van die Kaapstadse hawe. Buite word houers in en uit skepe gelaai – ’n plek van afskeid en vertrek. Binne versier seevaartskaarte die tafels.
Sy mooi, gebeitelde gesig lyk maerder as gewoonlik. Hy praat aarselend, asof hy die toestand van veranderlikheid waarin hy gedompel is, nog nie mooi kan verwoord nie. Tog spreek sy oë van verwondering eerder as van pyn.
“Die bestraling is heel interessant, want bokant my in die plafon by die mediese sentrum het die een plaat bo-oor die ander geskuif en dit vorm so ’n uitgesnyde kruis in ’n plusvorm.
“Die kruis as simbool was nog altyd vir my betekenisvol, want dit gaan oor integrasie en oor dinge wat nader aan mekaar kom soos die liggaamlike en die spirituele. Dit is so ’n refleksie op die gebrokenheid van die liggaam en die heling wat kom. In ’n sin reflekteer dit my eie ervaring.”
Van gebrokenheid weet hy immers alles. In 2005 het hy seker die bekendste NG predikant in die land geword toe sy lewensmaat, Douw Wessels, kaal foto’s van hom aan koerante gestuur het en hom van promiskuïteit aangekla het by die sedebewakers van die kerk. Wessels het kort hierna gesterf nadat hy ’n oordosis antidepressante gedrink het.
Die Ring van Kaap die Goeie Hoop beslis Laurie moet sy predikantstatus verloor omdat hy ’n verhouding met ’n man gehad het en die kerk skeur byna in twee weens die felheid van die debat. Eers in 2007 handhaaf die algemene sinode Laurie se appèl teen die besluit en die kerkvaders nooi hom terug na die kansel.
Sedertdien het hy ’n kringloop voltooi – van NG predikant tot aktivis van gay-regte en ghoeroe vir ’n nuwe teologie van weerloosheid. Hy beskryf dié wondbaarheid, ook dié van gay Christene, as ’n geskenk aan die kerk “omdat ons Here ’n gebroke Here aan die kruis is en omdat ons met ons eie gebrokenheid moet kontak hê om Hom te kan ken”.
Destyds het hy gevoel hy stap in sy eie waarheid in. Dié keer het hy nog nie ’n reisgids vir die pad wat voorlê nie.
“Ek put my krag daaruit deur te weet dat ek al deur baie is en tot hier gekom het. Ek glo ek sal die genade kry om ook hierdeur te kom. Ek dink baie aan die hele ding van letsels en hoe om by heling uit te kom; dat dit vir jou ’n kragbron word eerder as iets wat jou terughou.”
Sy stem is rustig, aanvaardend.
“Dit is opnuut ’n uitdaging om my eie eindigheid en gebrokenheid in die gesig te kyk en te besef die lewe is broos en ’n mens kan eerder vanuit daardie plek lewe as uit ’n ander plek. Ook wat my eie liggaam betref.”
Ons deel ’n bord soesjie as voorgereg. As hoofgereg bestel hy tongvis met gestoomde groente. Alles wat sy slukderm kan brand – soos sojasous of wyn – is weeldes van die verlede, tog is hy pragmaties oor die newe-effekte van die behandeling.
“Die hik kom en gaan, en dan is daar die sooibrand. Soms met die etery is dit ’n bietjie moeilik. Jy moet ’n paar goed vermy en ek hoes ’n bietjie meer ná die bestraling.”
Die prognose van die siekte is hoopvol.
“Kyk, dis ernstig, maar die onkoloog sê met die behandeling kan dit hopelik verklein en selfs verdwyn. Omdat sy pro-aktief is daarmee en ek jonger is, kan sy dit aggressief behandel en hopelik kan die beste daarvan kom.”
Maar kanker is nie net ’n stryd van die liggaam nie. Dis ’n stryd van die gees.
Gelukkig is sy deeltydse werk by die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit in Rosebank, Kaapstad (in die lewe geroep deur dr. Desmond Tutu om anti-apartheidspriesters na gebed terug te bring), ’n plek vir kontemplatiewe gebed, meditasie en spirituele leiding.
Soggens, noudat hy weens sy siekte ’n “stiller tydjie het”, kan hy doelbewus dit waarvoor die sentrum staan, toepas deur op sy asemhaling te konsentreer en sy gedagtes skoon te maak. Vir hom is bid “ ’n soeke na rus en vrede in die teenwoordigheid van God”.
Hy praat weifelend, asof hy iets moet verwoord wat hy self nog moet uitpluis.
“My aktivisme is soms geneig om oor te neem en ek het minder tyd om na binne te gaan. Hierdie is dus ’n belangrike proses, obviously nie gemaklik nie, maar ek dink dit kan beslis lei tot verdieping.”
Hy hoes, soos dikwels in ons gesprek.
“Daar is iemand wat gesê het ‘religion is for people who don’t want to go to hell. Spirituality is for people who’ve been there’. Ek dink in daardie sin word jy met die dood gekonfronteer, met die moontlikheid van eindigheid en dit is miskien hoekom kanker nie ’n gewone siekte is nie. Ek sou nie sê ek is bang vir die dood nie, maar miskien wel vir al die goeters wat daarmee saamhang. En om deur hierdie reis te gaan en onseker te wees van hoe dit gaan verloop… Dít het my aanvanklik ’n bietjie oorweldig.”
Sy pa, dr. Frits Gaum, het toe Laurie net vier jaar oud was, sy eie roetekaart uitgewerk vir die siekte. In die boek Praat Verby Grense (Umuzi, 2010), skryf Gaum senior, gewese redakteur van Die Kerkbode en skriba van die algemene sinode van die NG Kerk, in ’n e-pos vir sy seun oor die kanker waarmee hy op 35 gediagnoseer is.
Nou, 37 jaar later, kan hy dáár wees vir sy seun. “Sommige dae kan my pa sien ek kry swaar in my kop, ook geestelik miskien. Hy probeer dus teenwoordig wees, by wees. Dis wonderlik om dit te ervaar. Hy en my ma, Henda, kom elke week saam na die chemo-sessies.”
Sy eie geloofsreis met die siekte is egter anders as dié van sy pa.
“Ek moet myself dikwels afvra presies waar ek met my geloof staan. Dit lei my na daardie konfrontasie met God, waarvan ongeloof dan ’n deel is. Dit is ook vir my ’n troos dat ek weet ander glo vir my part indien ek soms sukkel daarmee.”
Syne is nie meer ’n geloof wat “gemaklik is en in die meeste tradisionele ruimtes tuishoort nie”.
“Daar is verskillende verlossingsmodelle. Die een waaraan ons gewoond is, is die juridiese model wat sê God is die straffende regter en daarom het Jesus nou as die advokaat ingetree om ons te red van die sondeval. Maar dit is maar net één van die verlossingsmodelle en jy moet eerder kyk na van die ander modelle vir ons tyd. Die Franciskane en die Ortodokse tradisies lê byvoorbeeld groter klem op skeppings-spiritualiteit en die kreatiewe energie van God wat skep en seën en sê: ‘Dit is goed.’ ”
Hy dink ’n oomblik diep na.
“Ek kom uit ’n Christelike perspektief en dit is wat ek verstaan en dit is die voorbeeld wat ek gebruik, maar dit sê nie naas dit is daar nie ander gelowe en gelowiges wat ek respekteer nie – ook dié wat nié ’n spesifieke geloof onderskryf nie.”
Hy sukkel om ingesluit te voel in die NG Kerk. Selfs ná sy geslaagde appèl.
“Hulle het nie hul arms oopgegooi en my verwelkom nie.”
Sy blou oë word treurig.
“Dit kan miskien eendag nog gebeur. Daar’s dalk net min gemeentes wat heeltemal… óóp genoeg sal wees.”
Vinniger: “In praktyk is daar steeds uitsluiting uit die predikantsberoep met slegs voorwaardelike aanvaarding. Daar is glass ceilings waardeur jy nie so maklik breek nie. Terwyl daar op amptelike vlak mooi formulerings gebruik word, weet ’n mens mos hoe onvoorwaardelike liefde voel en hoe dit nié voel nie.”
Voel hy steeds bitter daaroor?
Hy knik. “Dis een van die dinge waaroor ek nou baie dink. Dis natuurlik die gevoel van verwerping deur jou moeder in ’n sin. Hoe skuif jy dan nou? Hoe herdefinieer jy jou identiteit?”
Vergifnis was vir hom ’n proses. Teenoor die St. Stephens-gemeente in Kaapstad, waar hy predikant was, wat bande met hom verbreek het toe hulle uitvind dat hy ’n gay verhouding gehad het. Ook teenoor individue in die kerk en die media wat hy gevoel het hom “vervolg” het.
Tot so ’n mate is sy privaatlewe destyds in die poniekoerante oopgevlek dat prof. Lizette Rabe, hoof van die departement joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch, wou weet of dié koerante ’n lisensie het om te moor.
’n Skadu beweeg oor sy gesig.
“Vir my was die moeilikste dat alles skielik so openbaar was.”
En natuurlik dat alles gelyk gebeur het.
“Ek het nie eintlik genoeg tyd gehad om te rou ná Douw se dood nie, hoewel ek dit doelbewus probeer doen het.”
Ja, daar wás woede – ook teenoor Douw. “Soos iemand eenkeer gesê het – ‘as jy jou eie lewe neem, laat jy jou lyk in iemand se kas agter’. Ek moes die gevolge van sy aksies dra. Hy was nie daar om dit te doen nie.”
By die tafel langs ons neem ’n groep Oosterse reisigers borde vol krewe en ander luukse seekosse met ’n video-kamera op. Buite het die suidooster begin tier.
Hoekom sou ’n liefdevolle, almagtige God ná alles wat met hom gebeur het, toesien dat kanker hom op 41 sou tref?
Hy het dit verwag – die teodisee-vraag.
“Die lewe gebeur en jou reaksie daarop met die genade van God is dit waaroor dit gaan. Kan jy sleg omvorm in iets goeds met die bystand van baie mense in die proses?”
Hy vertel van die Joodse teoloë wat ná die Tweede Wêreldoorlog gesê het eerder as om die vraag “hoekom?” vir God te vra oor die verwoesting tydens dié oorlog, moet ’n mens vra “hoe?”.
“Hoe is God wél teenwoordig en waar is hy te midde van die lyding? Ek weet nie of dit heeltemal bevredigende antwoorde bied nie. Ek aanvaar dit eerder as ’n gegewe van iets wat die werklikheid oor my pad bring en ek moet probeer om my reaksie daarop te bepaal.”
Hy giggel, skielik in ligter luim.
“Ek dink nie ek is uitgesonder as een om te zap nie. Ek dink elkeen van ons kry maar ’n pak kaarte en dan is die uitdaging om die beste daarvan te maak. Ek sien dit beslis ook nie as ’n straf nie, want ek glo nie in ’n God wat daarop uit is om te straf nie.”
Ek huiwer: Daar is natuurlik fundamentaliste wat sal verkondig sy siekte is ’n straf vir sy “dwaalleringe”.
Hy antwoord kort en kragtig.
“Ek dink dit is skreiend en ek glo nie in so ’n God nie. Die vraag is natuurlik wié van ons is die dwaalleraar. Dit is tragies dat mense vanuit hul geloofsraamwerk só iets toedig aan God, en hulself, wanneer hulle dit die nodigste het, van die troos beroof wat ’n genadige God gee. Ek kan nie dink dat so ’n godsdiens enigsins hulpvaardig is nie.”
Buite vertrek ’n vragmotor luidrugtig. Hy moet hard praat om homself hoorbaar te maak bo die geroesemoes van toeriste en ander plesiersoekers wat met wyn en bier die begin van die naweek inwy.
Sy eie toekomsplanne is verlede jaar “so ’n bietjie in die wiele gery deur die siekte”.
Al wat hy kan doen is om in die oomblik te lewe. Stap vir stap, voetjie vir voetjie.
“Ek weet nie eens of ek beslis hierdeur gaan kom nie en in hoe ’n mate ek genesing gaan vind nie.”
Hy lig sy kop op, kyk my vierkant in die oë. “Maar ek dink die scenario lyk heel goed en ek is positief en ek gaan dit gebruik om my lewe nog ryker te maak.”
Soos wat hy daar sit, lyk hy tegelyk wondbaar en veerkragtig. Ek dink aan die aanhaling deur Henry Rollins wat ’n gemeenskaplike vriend aangestuur het: “Scar tissue is stronger than regular tissue. Realise the strength, move on.”
Dit laat hom nogal aan Laurie dink, het die vriend geskryf.
Inderdaad.