Kyk ook:
- Hermeneutiek
- Skrifgesag en skrifinterpretasie (Jan Louw)
Kyk KOMMENTAAR onderaan.
*******
Gideon van der Watt: Kruis is die bril om Bybel te lees | Netwerk24
Gideon van der Watt
01 November 2022
Ons het pas Hervormingsondag gevier – die herontdekking dat elkeen die Bybel self kan lees en verstaan. Want deur die Bybel praat God met ons, daarin hoor ons die evangelie van Jesus Christus. Die vraag is egter: Léés ons nog Bybel? Hóé lees ons die Bybel?
Vir baie, selfs kerklidmate, is die Bybel nie meer belangrik nie – dit sê nie veel vir ons tyd nie. Daarom groei die stroom mense wat uit die kerk loop. So ook mense wat openlik sê: Ons kan nie meer in die God van die Bybel glo nie, of dan die prentjie wat die kerk oor jare heen vir ons van die Bybel en van God geteken het nie.
Miskien het dit te doen met die bril waarmee ons, as kinders van die Verligting, die Bybel probeer lees. Moderne mense wil graag die Bybel met ’n rasionele bril lees. Hulle vind dan tekste wat mekaar weerspreek, nie logies is nie.
In Deut. 21:18-21 staan byvoorbeeld dat ’n opstandige seun, wat nie sy ouers gehoorsaam nie, met klippe doodgegooi moet word. Maar in Lukas 15 vertel Jesus van die vader wat sy verlore seun met soveel liefde terugontvang – geen sprake van klippe nie!
Net so probeer mense die Bybel met ’n wetenskaplike bril lees: Net wat bewys kan word, is waar. Dan laat Bybeltekste soos byvoorbeeld die twee skeppingsverhale hulle twyfel.
Die vraag is: Is dit hoe ons die Bybel behoort te lees? Was dit die bedoeling?
Hoe behoort ons dan wel Bybeltekste te lees? Klaus Nürnberger gee die volgende praktiese raad: Jy kan die teks van voor, van agter, van binne of van bo lees. Maar verkieslik moet jy dit van onder lees.
Jy kan die teks lees soos dit “voor” jou lê, op die oog af. Die teks praat dan met jou op ’n onmiddellike, naïewe, intuïtiewe manier. Baie mense lees die Bybel so. Dis egter ook gevaarlik; vooraf-idees word dan maklik in die teks ingelees.
Daarom moet ons liewer ook “agter” die teks lees. Teen watter agtergrond is dit geskryf? Deur wie? Vir wie? Hoe?
Waar pas dit in die Bybelverhaal?
Ons moet egter oppas om nie so vas te val in die vrae oor wat agter die teks lê dat ons nie meer hoor wat die teks self sê nie.
Jy kan die teks ook van “bo” lees.
Die teologiese- en kerklike tradisie – die belydenisskrifte – word bo-op die teks geplaas, as maatband. Ook dit is goed, want dan lees jy die teks saam met ander, luister jy na hoe die kerk dit oor eeue gelees het. Maar ook dit hou gevaar in, want die tradisie word soms belangriker as die Skrif self, mense se lees van 500 jaar gelede word net so op die konteks vandag toegepas.
Party mense lees die teks van “binne”; binne die boks, letterlik, nes dit daar staan, sonder verdere vrae. Só het God dit immers woordeliks gegee, onfeilbaar! Ons noem dit biblisisme of fundamentalisme. Natuurlik het die Skrif gesag. Maar as jy Skrifgesag só verstaan, dan moet jy die seun maar met klippe doodgooi.
Miskien moet ons meer van “onder” leer lees. Die Bybel was nooit bedoel om ’n logiese, wetenskaplike boek te wees nie. Dis ook nie net so uit die hemel dikteer nie. Dis eerder die ontluikende verhaal van God se verhouding met mense, hoe God deur die heilsgeskiedenis al hoe duideliker openbaar word, totdat ons God se vaderhart vol liefde die helderste sien wanneer sy Seun aan die kruis hang. Hierdie goue draad van die evangelie, wat onder al die tekste deurloop, is die beste bril om die Bybel mee te lees.
- Die Heilige Gees help lesers om dié goue draad goeie nuus raak te sien – ook in dié sin is die Skrif geïnspireer, en het dit gesag. Dr. Van der Watt is pastoor van die Lutherse gemeente St. Paulus in Bloemfontein.
Kommentaar
Daniel Louw
‘n Mens is nie seker wat Gideon se boodskap is nie, maar dit lyk tog of hy ’n lansie wil breek vir homoseksualiteit wat tans ’n baie aktuele onderwerp is.
Hy haak by Klaus Nürnberger aan oor wat hy geskryf het in Nürnberger – Evolutionary Hermeneutics – A position paper 2006.
Kyk ook wat Nurnberger van homself skryf in bylaag A hieronder.
Dit laat reeds ’n paar rooi ligte flikker.
Daar is egter ook ’n hele paar denkfoute in hierdie artikel:
Gideon beweer dat Deut. 21:18-21 en Lukas 15 teenstrydig is:
Deut 21: (18)“Wanneer ’n man ’n opstandige en ongehoorsame seun het wat nie na sy pa en ma wil luister nie, selfs al straf hulle hom, (19)moet hulle hom na die leiers van die stad toe vat by die stadspoort. (20)Hulle moet vir die leiers van die stad sê: ‘Hierdie seun van ons is opstandig en ongehoorsaam. Hy luister nie na ons nie. Hy is ’n vraat en ’n suiplap.’ (21)Dan moet al die mans van die stad hom met klippe doodgooi. So moet jy hierdie soort kwaad tussen julle uitroei, en die hele Israel sal daarvan hoor en bang wees.”
Luk 15: (11)Verder het Jesus gesê: “Daar was ’n man wat twee seuns gehad het. (12)Die jongste het vir sy pa gesê: ‘Pa, gee my die deel van die besittings wat my toekom.’ Hy het toe die goed tussen hulle verdeel.
Sonder om in te veel bespreking te gaan: Dit is baie duidelik dat die seun in Lukas nie opstandig was nie.
Gideon praat van twee verskillende skeppingsverhale. Daar is nie so iets nie – kyk Is Genesis 1 en Genesis 2 verskillende, teenstrydige skeppingsverhale?
Gideon praat van biblisisme of fundamentalisme. Hy is waarskynlik hier besig met ’n strooipopargument. Ek wonder of hy ’n voorbeeld hiervan sou kon gee. Sy definisie van fundamentalisme is ook baie hoogs waarskynlik anders as my definisie – kyk Fundamentalisme.
Gideon sê dat die Bybel nie uit die hemel gedikteer is nie. Hy verwys na meganiese inspirasie. Weereens besig met ’n strooipop. Die mense wat aan meganiese inspirasie glo, is ’n baie klein minderheid in die wêreld.
Gideon noem ook dat die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie. My ervaring is dat hierdie argument gewoonlik gebruik word om die Bybel te versoen met een of ander hedendaagse kulturele siening wat teenstrydig is met die Bybel, soos evolusie en homoseksualiteit. Kyk Die Bybel is nie ’n geskiedenis of wetenskapshandboek nie.
Bylaag A: Oor Klaus Nurnberger
Op sy webblad skryf hy die volgende oor homself:
“I sometimes think of myself as a “residual colonialist” – a Westerner dropped in Africa by birth and entangled with Africa without his consent. What am I doing here? Well, this is my home and I love it.
I am a Christian. A Lutheran. A committed ecumenist. I believe that there is only one church of Christ, but there are various gifts to serve each other, and various insights to correct and enrich each other.
I am a theologian. But I also have a natural sciences and economics background. My passion has been to translate the biblical message into thought patterns of today. I work on an interdisciplinary basis.
I have been called to serve a predominantly black church in South Africa. African traditional spirituality, its interaction with modernity and the social consequences have fascinated and challenged me.
As a privileged person I am afflicted by the discrepancies in income and life chances between economic centres and peripheries. I devoted a considerable part of my career on causes and possible remedies.
With many of my generation I have witnessed the agonies and conflicts produced by nationalism, colonialism and apartheid. I cannot shake off the burden of my belonging to the perpetrators.
On the website you will find a list of my publications, abstracts of my major books, some ad hoc ‘position papers’ on selected themes, chapters from recent books, and a few recent sermons and songs.