Kyk ook: |
’n Mens moet seker nie ’n duiwel agter elke klip wil uitskop nie, maar die kruis voor by die NG Kerk 2011 sinode is tog interessant. Iemand wys my daarop dat dit die teken vir sonaanbidders is.
Kyk onder andere:
- PAGAN SUN WORSHIP AND CATHOLICISM LA VERITA – THE TRUTH
- Evolution of Christianity and Other Religions
- Syncretism – Part 5 – The Persistent Fallacy
’n Mens sal ook nooit weet of dit met opset gedoen is nie – hoop maar nie so nie.
*************************
God het NGK op die veld geroep | Beeld
17 Oktober 2011
Foto regs: Ds. Norma Rossouw van die gemeente Vaalrivier tydens ’n dagopening van die pas afgelope algemene sinode. Agter haar is ’n kruis met ’n simbool wat die oop graf voorstel. Links staan ’n Christuskers. Dit is tekenend van die manier waarop geloofsbelew
Ná ’n kwarteeu waarin dit dikwels gelyk het of die NG Kerk sukkel om sy identiteit in ’n veranderende Suid-Afrika te kry, lyk dit of die kerk nou weer op die been kom. Neels Jackson berig.
In 1986 het die NG Kerk op die drumpel gestaan van koersveranderinge wat dié denominasie in ’n heel nuwe koers sou stuur.
Tot in daardie stadium was die NG Kerk in baie se oë niks minder nie as die Nasionale Party in gebed. Dié noue band tussen kerk en politiek was nêrens duideliker sigbaar nie as toe twee broers – dr. Koot en mnr. John Vorster – terselfdertyd onderskeidelik moderator van die algemene sinode en eerste minister van Suid-Afrika was.
Kerkleiers soos Koot Vorster het met ’n ysterhand geregeer. By verlede week se algemene sinode is daar weer verwys na “oom Koot wat sy wange skud” sodat almal uit vrees vir hom stilbly.
Onder sulke leiding het die NG Kerk op die terreine van godsdiens, politiek en kultuur ’n sterk rol in die samelewing gespeel.
Een van die eerste groot krake in dié mondering van die kerk het in Oktober 1986 op die sinode van Kaapstad gekom toe kort en kragtig besluit is: “Die NG Kerk is oop.”
Dit was een van die eerste duidelike tekens dat die NG Kerk wou begin wegbreek uit sy ou rol.
Dr. Coenie Burger, latere moderator van die algemene sinode, het al meermale vertel hoe die sosioloog Peter Berger vir hom gesê het die geleidelike onttrekking van morele steun vir apartheid deur veral die NG Kerk was een van die redes waarom verandering in die land onvermydelik geword het.
In die volgende kwarteeu het ’n rits uiteenlopende besluite daartoe bygedra dat die NG Kerk ’n nuwe oriëntasie in ’n nuwe samelewing gevind het.
Sommige daarvan was simbolies, soos die afskaffing van ampsdrag.
In die vroeë 1990’s was daar nog vurige debatte op sommige sinodes oor swart pakke en wit dasse vir ouderlinge, diakens en dominees, maar die strenge “uniforms” moes plek maak vir gemakliker drag.
Deesdae kan ’n mens ten minste soms dominees sonder dasse en selfs in denim sien preek sonder dat die gemeente ’n oog knip daaroor.
Ook die swaar sinodale strukture met talle predikante in sinodale diens het, onder meer weens geldelike druk, plek gemaak vir kleiner, soepeler sinodale strukture met baie meer ruimte vir gemeentes om inisiatief te neem.
Die manier van sinode hou het verander. Vroeër was dit bloot debatte in parlementêre styl waarin sterk sprekers die vloer kon vee met opponente.
Later is rondetafelgesprekke ingevoer. Sterk sprekers het die sinodes nie meer so oorheers nie. Selfs die stil ouderlinge se stemme is om die tafels gehoor.
Waar die mikpunt vroeër was om die debat te wen, het die soeke na konsensus al hoe sterker geword.
Die jongste ontwikkeling is die doelbewuste pogings om tyd in te ruim om stil te word en te luister na wat die Here sê. Oop Bybels het deel geword van sinodesittings soos nooit tevore nie.
Eers nadat afgevaardigdes om die tafels en vanuit hul Bybels besin het oor God se wil oor ’n saak, is daar geluister na ander oorwegings: Wat sê die konteks en wat sê die kerk? Daarna is daar eers besluite geneem.
Dié nuwe benadering was waarskynlik een van die uitvloeisels van die seisoen van luister in die NG Kerk. In dié seisoen het die kerk ’n nederiger houding ingeneem en doelbewus na die stemme van God en ander mense geluister voordat besluite geneem is.
Te midde van dit alles is daar by herhaling besin oor die kerk se gereformeerde identiteit. Wat beteken dit in hierdie omstandighede, is telkens gevra.
Verlede maand, op die Lentekonferensie in Pretoria, het dr. James Kirkpatrick van die gemeente Suidoos-Pretoria gesê in die breë gereformeerde tradisie is daar verskillende benaderings. Hy het dit getipeer as ’n dam- of ’n stroom-benadering.
In enger gereformeerde kringe word daar vasgehaak by die kerklike uitsprake van die 16de eeu, asof die teologiese denke daar opgedam is.
’n Ruimer gereformeerde benadering is dat die stroom steeds voortvloei en terwyl dit dieselfde stroom bly, pas dit telkens aan by die stroomversnellings of poele waardeur dit vloei.
Die NG Kerk, het hy gesê, het die stroom eerder as die dam gekies.
By die pas afgelope algemene sinode moes daar meermale beslis word hoe om as gereformeerdes oor ’n saak, soos die doop of die huwelik en saambly, te dink. Die benadering wat deur Kirk-patrick verduidelik is en telkens deur die sinode gevolg is, is om aan die een kant ’n duidelike gereformeerde standpunt in te neem, maar sag te werk met mense wat verskil.
Só het die sinode duidelik standpunt ingeneem ten gunste van die verbondsdoop, maar begrip getoon en ruimte geskep vir lidmate wat baie ernstig is oor hul geloof, maar anders dink oor die doop.
Die sinode het die huwelik duidelik gekies, maar sag gewerk met mense in verhoudings wat Christelike waardes soos liefde, trou, respek en lojaliteit vertoon, maar wat nie wetlik voltrek is nie.
Pleks daarvan om, soos in die verlede, sulke mense eenvoudig te straf, is die benadering nou om hulle aan te moedig om hul verhouding verder te versterk deur te trou.
Maar dis nie net op sinodes dat die NG Kerk die afgelope kwarteeu nuut besin het oor kerkwees nie.
Talle gemeentes het dieselfde probeer doen.
Een voorbeeld daarvan is die vennootskap vir gestuurde gemeentes.
In hierdie soort herbesinning is een woord al hoe meer in die kerk gehoor is: “missionaal”. ’n Verslag voor die pas afgelope algemene sinode praat selfs van ’n “missionale renaissance”. Die woord “missionaal” is nie maar bloot ’n akademiese ekwivalent vir “sending” nie. Dit dui op ’n sending-benadering wat baie meer behels as om maar net mense te stuur om namens die kerk of gemeente te gaan sendingwerk doen.
Volgens missionale denke ís die gemeente en die lidmate die sending. Dit plaas die onus op lidmate om in hul daaglikse lewe op ’n omgee-manier te leef wat die getuienis van God se genade vir ’n gebroke wêreld op ’n tasbare manier sal uitdra.
Dit skuif die fokus weg van die blote instandhouding van kerklike strukture, geboue en bedrywighede, na mense met al hul nood, of dit nou fisieke gebrek, emosionele krisisse of geestelike nood is.
Teologies verteenwoordig dít ’n belangrike ontwikkeling, want in die verlede is die evangelie dikwels bloot verstaan as die herstel van die vertikale verhouding tussen God en mens.
Missionale teologie het die oë help oopmaak daarvoor dat die evangelie, op grond van die herstelde verhouding met God, ook gaan oor die herstel van verhoudings tussen mense.
’n Afgevaardigde het byvoorbeeld op die afgelope sinode verwys na die teks waarin Jesus mense aanraai om eers ’n verhouding met ’n broer te gaan herstel voordat hulle hul offer na die altaar bring.
So ’n beskouing oor ander mense lê aan die hart van die belydenis van Belhar. Daarom dat die groen lig wat die sinode vir Belhar gegee het vir baie afgevaardigdes ’n teken was dat die kritiese massa in die NG Kerk geskuif het, dat die kerk nou weer op die been kom.
Dr. Hancke van Blerk van Piet Retief het by die afsluiting van die sinode gesê hy het dikwels die laaste paar jaar oor die NG Kerk gewonder soos oor Bismarck du Plessis: Hoekom sit hy op die bank?
Nou voel hy God het die NG Kerk weer op die veld geroep.
’n Namibiese ouderling wat vir die eerste keer ’n algemene sinode bygewoon het, het opgemerk: “Dit was toe nie ’n riller nie, maar ’n dans met die Here.”
En iemand anders was dankbaar dat sy kinders ’n kerk gaan hê wat na God se stem luister en nie na mense nie.
Ds. Arnold Smit van die Wes-Transvaalse sinode het gesê in die vennootskap van gestuurde gemeentes het hulle dikwels alleen gevoel. Nou voel dit asof die hele kerk rigting gekry het.