*******
God omstrede in wêreld wat groei | Beeld
Beeld, 4 Oktober 2004
Julian Müller
Uitdaging is om gehalte met toewyding te integreer
Die godsdienstig-kerklike gesprek vloei deesdae in een van twee strome. Aan die een kant is daar berigte oor die Omstrede God (na aanleiding van Lit-Net). Aan die ander kant lees ons van tyd tot tyd oor ongekende suksesse en groei van kerke. Twee werklikhede van die Christendom in Suid-Afrika. Die een is ’n wêreld van worsteling met die vraagstuk van God en geloof. Die ander ‘n wêreld van triomfantlike groei.
Vir baie gelowiges het God, godsdiens, kerk en geloof inderdaad omstrede geword. Hulle kry nie die kloutjie by die oor nie. Hulle sukkel om hul geloof te verwoord en integriteit te behou in ’n postmoderne tyd.
Terwyl daar aan die ander kant ook ‘n groot deel van die Christelike kerk is wat ongeduldig is met hierdie rasionele gesprek en net geesdriftig die ongekende groei wil vier.
Hoe is dit moontlik dat twee sulke uiteenlopende stromings tegelyk in dieselfde godsdienstige tradisie kan funksioneer?
En waar posisioneer die Afrikaanse kerke hulle te midde van hierdie uiteenlopende kragte?
Dit is duidelik dat baie kerke gekies het om hulself ondubbelsinnig aan die kant van die groeiende geesdrif te posisioneer. In daardie geledere word rasionele bevraagtekening doodgesmoor terwyl toewyding en die charismatiese werking van die Heilige Gees tot emosionele hoogtes gevoer word.
In dieselfde geledere word daar ook persepsies opgebou oor die “sterwende hoofstroomkerke”.
Volgens daardie persepsies bestaan daar net eenvoudig nie enige lewe en groei in enige van die tradisionede kerke nie.
Onlangs nog het ek ’n Amerikaanse kerklike hoor sê: “Presbyterians don’t evangelize”. Dit was in ‘n grap gesê, maar soos ons weet, met sulke grappige opmerkings word persepsies gebou.
Dus, die populêre keuse waarvoor die groot gros gelowiges hul vandag bevind is redelik eenvoudis: Óf jy is deel van ‘n verouderence en selfs terminale Christendom waar daar niks gebeur nie, óf jy is deel van die nuwe dinamiese en groeiende Christendom en sluit aan by een van die geesdriftige kerke of gemeentes.
In sulke gemeentes vind mense ’n kloppende lewe met ‘n fundamentalistiese prediking waar die basiese waarhede van die geloof weer en weer uitgespel word en kritiese bevraagtekening as ongeloof afgemaak word.
Die meeste mense hoef nie lank te dink oor só ’n keuse nie.
Maar is dié óf-ófpersepsie wat geskep word, werklik waar?
Dit strook nie met my ervaring nie.
Ek kan verhale vertel van gemeentes in ons land en in Europe en die VSA waar warmte en geesdrif gekombineer word met ‘n krities-denkende teologie.
In sulke kerke vind ’n mens dat daar op ’n stylvolie wyse vasgehou word aan die liturgiese tradisie van die eeue, terwyl daar in die prediking eerlik met uitdagende en selfs omstrede kwessies omgegaan word.
Dit is kerke wat hulle nie laat meesleur deur ’n opperviakkige teologie waar groei en geesdrif die allesoorheersende waardes is nie.
Dit is kerke waar daar intens geworstel word met die vraag wat die evangelie vir vandag se mense en vandag se samelewing te doen het.
Dit is so dat baie gemeentes van hoofstroomkerke tekens van veroudering en dood vertoon, wat meestal ook waar is van die gemeenskappe wat hulle verteenwoordig.
Dit is egter nie korrek om veralgemenende persepsies op te bou wat sulke gemeentes deur die bank in ‘n slegte lig plaas nie. Die wesenlike bydraes wat op die lang duur gehalte vertoon, kom juis meestal van sulke kerke.
Dit is daardie kerke wat ’n sterk sosiaal-etiese bewussyn vertoon, wat ook ‘n erediens aanbied van estetiese gehalte en diepte.
Onlangs was daar ’n insiggewende berig deur Neels Jackson (Beeld, 1 September 2004) wat vertel van ’n meningspeiling wat in ‘n studentegemeente gedoen is.
Daarvolgens het die groot meerderheid studente orrelmusiek, gekombineer met moderne en klassieke instrumente, verkies. Die moderne orkes met kitare en tromme het die minsie aftrek gekry.
Dit is maklik om op die populêre wa te spring en vanuit ’n oor-geesdriftige godsdienstige belewing die res af te skiet as sukkelend en sterwend. Die uitdaging is egter om gehalte en rasionaliteit in ons godsdiens te integreer met warmte, toewyding en diensbaarheid.
Na my mening bied die hoof stroomkerke nog steeds die beste moontlikhede vir so ‘n integrasie van geloof en rede. En dit is waaraan ons ten diepste behoefte het.
* Prof. Julian Müller is hoof van die departement praktiese teologie aan die Universiteit van Pretoria.