‘God se humorsin’ sorg vir NGK se eerste swart vrouedominee

************

‘God se humorsin’ sorg vir NGK se eerste swart vrouedominee | Netwerk24

05 Mei 2023

Sy sien God deur die mense wat Hy oor haar pad stuur, sê Charlotte Sibanyoni. Sy het nooit eens oor ’n toekoms gedroom nie, wat nog te sê van dominee word en om vir ’n doktorsgraad te studeer. Erika de Beer het met haar gesels.

“Ek wil doen wat jý doen.”

Toe Charlotte Sibanyoni dié woorde as 17-jarige vir ’n NG predikant gesê het, het sy dit nie eens self ernstig opgeneem nie.

Nou is sy as 29-jarige nie net die eerste en enigste swart vrouedominee in die NG Kerk nie, maar ook fluks op pad om voor haar 30ste verjaarsdag ’n doktorsgraad in Hebreeus te behaal. Tog was sukses baie lank nie in Sibanyoni se woordeskat nie – nie in enige taal nie.

‘ ’n Baie moeilike kind’

Klein Charlotte het in die jaar 2000 saam met haar enkelma, Maria Mahlangu, van die Siyabuswa-omgewing in Mpumalanga in Pretoria aangekom.

“My ma is ’n huishulp, so ons het in ‘n bediendekamer gebly hier in die Moot.”

Die Laerskool Pierneef was die naaste een en sy is daar ingeskryf.

Nadat Mahlangu se werkgewers weggetrek het, is hulle Mamelodi toe. “Terwyl ons daar gebly het, het my punte begin val.”

Die skool en ’n maatskaplike werker het pleegsorg voorgestel. So beland sy vir ’n paar maande in gr. 7 in Oeboentoe-huis, ’n plek van veiligheid vir kinders, en later in die Louis Botha-kinderhuis.

“As kind sien jy dit nie, maar jou gedrag verander. Ek het ’n baie moeilike kind geraak wat baie kwaad was vir die wêreld, vir hoekom dinge so moet wees.”

Ná sowat drie jaar is sy weens swak gedrag uit die kinderhuis.

Terugtrek na Mamelodi was eintlik al opsie, “maar toe reël ek met my ma dat ek nader aan die skool bly. Toe vra ek vir my klasmaats wie van hulle se ouers het ’n agterkamer sodat ek daar kan bly, en dan sal ek naweke na my ma toe gaan.”

Sy kry so ’n kamer gerieflik langs die Hoërskool Hendrik Verwoerd (nou Rietondale) om te huur. “Toe’t ek sommer daar naby die skool by ’n pizza­winkeltjie gewerk vir ’n ekstra geldjie, ek het in die bib gewerk vir ekstra geldjie, en toe bly ek op my eie.”

’n Dominee se werk

Sibanyoni onthou die Sondag toe sy by ’n vriendin gekuier het en dié se ouers aandring hulle moet saamkom na die oggendkerkdiens. “Usually gaan ons aanddiens toe, jy weet, want jong mense en bands … ons soek al daai.”

Min het sy geweet dié diens in die NG kerk Concordia in Capital Park sou haar lewe verander.

“Ek stap daar in en daar is regtig óú mense in daai kerk.”

Vooraf het die dominee haar verwelkom. “En ná die diens kom hy en sê: ‘Hoor hier, jy moet weer kom.’

“Ek kyk die man so en ek dink by myself: ‘Daar’s nie ’n manier dat ek weer kom nie, maar you know what, sure.’

“Maar jy weet mos dis ’n dominee se werk – ek doen dit ook vandag, arme mensietjies,” lag ds. Sibanyoni lekker.

“En ek dog toe ‘hm-mm, we’re not doing this’, maar ek smile soos ‘ja, sure’.”

Twee weke later nooi die dominee, Johan van Niekerk, en sy vrou, Rina, haar na hul huis.

“Ek drink koffie by hulle en hulle sê: ‘Jy moet by ons kom bly, jy kan nie alleen op jou eie bly nie.’

“Ek sê toe vir my ma en ek trek toe in by hulle.

“They took me in like their own child. Dis een van daai dinge. Hulle was lief vir my from the get-go. Dit was nie ’n verhouding van hulle moes eers toets watse tipe kind is ek nie, even with a background van ek’s ’n kinderhuiskind. They did not see that. They just saw a child that they took in.”

Hulle het haar oueraande en haar netbalwedstryde bygewoon. “Johan het Beeld gesit en lees langs die netbalbaan. Hy het altyd sy Beeld-koerant gelees, hy was mal oor sy koerant.

“Hulle was rêrig soos my ouers. Ek’s baie lief vir hulle.”

Engele en ’n proffie

Op ’n dag vra Johan haar: “Charlotte, so wat wil jy doen ná skool?”

“En ek’s soos: ‘Nee, ek weet nie, ek wil doen wat jý doen.’

“Die arme man, hy verstik amper aan sy pyp, en hy’s net so: ‘Charlotte, ek’s ’n NG dominee.’

“Maar in my 17-jarige brein het dit nie gekliek wat dit beteken nie.”

Dít sou sy eers later alte goed agterkom.

Die Van Niekerks het nie geld gehad om haar universiteit toe te stuur nie, maar het voorgestel sy gebruik haar netbaltalent en studeer deur die weermag.

“Netbal is die een ding, it kept me sane, I still play netball now, vir ’n klub. Dit is my relaxing dingetjie.”

Maar eers moes sy net deur matriek kom.

’n Paar maande later bel mense van Jacaranda FM se Good Morning Angels-program en sê: “Charlotte, hier’s ’n proffie wat jou R80 000 wil gee om te gaan swot.’

“En ek lag, soos, nee, dit kan nie waar wees nie.”

Dit het geblyk ’n vriendin het vir die radiostasie ’n brief met haar storie gestuur.

“En toe die proffie dit lees, toe sê haar hart vir haar die Here sê dís die persoon wat sy moet help.

“Ons het so gehuil daai dag – ek, Rina, Johan.

“Universiteit het, ja, dit het net nie vir my sin gemaak nie. I don’t think I dreamt about becoming something. Met my omstandighede, ek dink ek het vasgekyk teen waarvandaan ek kom en alles.”

God se humorsin

Ná matriek het sy by die Universiteit van Pretoria (UP) ingeskryf.

“Ek onthou my eerste jaar, 2013, toe ek daar sit in die teologiefakulteit, in die klas, I just felt: ‘God, you have a sense of humour.’ I don’t think it kicked in. Selfs nou, want ek gee nog klas in daai klasse waar ek gesit het en dis net soos, néé.

“Ek het gesukkel in my eerste jaar. Dit was ’n kopskuifsukkel, ek het nie gedink ek hoort hier of deserve om hier te wees nie.

“Ek het Grieks en Hebreeus gesleep, ek het nog ’n vak gesleep.”

Hierdie is genáde, overflowing grace om my hier te hê.

Ná 12 jaar van skoolgaan in Afrikaans was dit ’n groot aanpassing om in Engels te studeer.

My Engels het nie sin vir my gemaak nie – ek het vir 12 jaar in Afrikaans geswot. En jy het roommate wat jy weet, hulle’s hier want hulle weet dis wat hulle wil doen en hulle doen dit so natuurlik, en ek leer dag en nag en hierdie goed maak net nie sin nie. Grieks maak net nie sin nie. Dis Grieks! Ek het gedink daar’s elf tale: Waar kom Hebreeus en Grieks vandaan. Why? Waar gaan dit my help? So in my eerste jaar het ek baie gesukkel.“Maar toe die beursmense vir my sê ‘ons gaan vir nog ’n jaar betaal’, ek het gevoel ‘Here, I can’t mess this up’. Hierdie voorreg kom een keer in ’n mens se lewe.”

Die tweede jaar het baie beter gegaan en sy het begin onderskeidings kry. “Ek was soos in ek het actually brains! OK, so we can actually do this!”

Ek dink ek moes adjust and learn how to study en ook die vind myself in hierdie spasie van NG predikant, want meeste van die studente saam met wie jy swot kom óf pa is dominee, hulle is lank in die kerk, especially in die NG Kerk, en hier kom jy, ek wil sê jy het toevallig, somehow, in God se humor hier geval, en jy weet, hier is jy. So ek moes iewers vind how is my journey supposed to look like.Dis ook toe sy prof. Gert Prinsloo ontmoet.

“Daai man het my lewe verander. Hy het vir my gesê: ‘Daar’s soveel potensiaal in jou.’

“Ek het die man so gekyk en gesê: ‘Ja, sure. As jy so dink, jy sien ek druip jou vak en jy sien die feit dat ek hier is, is klaar genade. Hierdie is nie iets van brains en hard werk nie, hierdie is genáde, overflowing grace om my hier te hê, maar sure.”

Dominee Charlotte

In haar derde jaar sorg haar onderskeidings vir ’n aanstelling as tutor in Hebreeus “en ek love dit”.

En in haar finale jaar kry sy ’n aanbod om haar praktiese jaar by die NG kerk Lux Mundi in die ooste van Pretoria te gaan doen terwyl sy met ’n NG beurs vir ’n meestersgraad studeer.

“Ek besef toe ek het ’n passie vir jong mense! Hierdie jong mensies gee my rêrig baie energie en ’n rede om op te staan.”

Sy het sowel haar ThB- as meestersgraad met lof geslaag en daarna vir ’n doktorsgraad in Hebreeus ingeskryf.

So die Here het al hierdie mense in my lewe gebring om my te help met hierdie journey.

Toe Prinsloo se kollega prof. Henk Potgieter aftree, word sy gevra om van 2018 in sy plek by die UP te kom Hebreeus gee.

En die NG kerk Universiteitsoord bel en vra: “Charlotte, wil jy nie by ons kom aansluit nie?”

Later in 2018 is sy gelegitimeer.

Prinsloo is nou ook haar promotor vir haar doktorsgraad, maar véél meer.

“Prof. Gert het nou afgetree, maar hoe ek klasgee, hoe ek dominee is, dis rêrig te danke aan daai prof se passie.

“Toe ek wou opgee, het ek altyd by hom en sy vrou, prof. Reineth Prinsloo, se kombuistafel gaan sit, soos: ‘Hierdie NG loopbaan is nogals moeilik.’

“So die Here het al hierdie mense in my lewe gebring om my te help met hierdie journey.”

Die Nguni-kerk

Nou is sý die een wat jong mense aan die begin van húl lewensreis as volwassenes help.

Sibanyoni preek – in Afrikaans en Engels met ’n skeutjie Ndebele tussenin – in Universiteitsoord en die Andrew Murray-gemeente in Johannesburg, maar is hoofsaaklik aangestel vir die Greenleaf-bediening.

Dit is aanvanklik op die UP se Groenkloof-kampus gemik, maar nou word ook ander studente by die kerk in Hatfield betrek.

“Omdat dit nou eintlik NG Universiteitsoord is, en we call it NG Uni, nè, lees baie van die swart studente ‘Nguni’. So ons het nou bekend geword as die Nguni Church.”

Hulle omarm dit.

Ons het nie ’n varkie gehad waarin ons vyftigsente gegooi het nie.

Sibanyoni kon self besluit hoe Greenleaf se dienste verloop. “Toe dink ek: ‘Wat is dit wat ék nodig gehad het toe ek gekom het as ’n eerstejaartjie?’ ”

Sondagmiddae vyfuur kom hulle bymekaar vir wat die studente eintlik meer as terapiesessies beskou. “Dis rêrig net soos ‘kom, chill, kom ons eet iets en gesels oor die lewe’.” Hulle kan ontlaai en saambid.

Kenners kom praat oor verskillende onderwerpe, soos finansies.

“Baie van ons swart studente bevind onsself in baie skuld baie vinnig ná ons universiteit klaargemaak het, want ons het nooit finansiële beplanning geleer nie. Ons het nie ’n varkie gehad waarin ons vyftigsente gegooi het nie. Ons ma’s lewe van maand tot maand, want dis die tipe salaris wat hulle het.”

Baie studente daag met net ’n swartsak op die kampus op, sê Sibanyoni. Dié met NSFAS-beurse wag tot in April vir uitbetalings, wat beteken hulle het tot dan nie geld vir kos nie.

Jong mense is haar passie en die rede hoekom sy opstaan. Foto: Deaan Vivier

Hoe bid jy vir ’n Vader?

Die studente word ook bewus gemaak van die belangrikheid van terapie. “In ons swart community is dit nie ’n bekende ding nie, jy gaan praat nie oor jou probleme nie. Ek weet dis ook baie so in die Afrikaanse community.”

Soos baie van die studente het Sibanyoni nie haar pa in haar lewe nie.

“Ek het jare lank gesukkel met die konsep dat God ’n Vader is en ek is net soos: ‘As jy verstaan watse image ek het van ’n pa – ’n pa gaan koop brood en kom nie terug nie.’ ”

Jy bid vir die Vader om jou gebede te beantwoord, maar iemand met ’n afwesige pa wéét hul gebede gaan nie beantwoord word nie.

Ná jare besef jy jý is nie die probleem nie.

Sy het haar pa in matriek gaan sien, maar hy het haar verwerp. “En daai reject het geëindig met Charlotte wat net alle verkeerde besluite met mans neem.

“Toe gaan ek weer laas jaar en gaan sien hom – nou nie eers meer uit woede of iets nie.”

Sy wou verstaan hoekom. “Want ná jare besef jy jý is nie die probleem nie.

“Ek het teruggekom met ’n sense of peace. Jy kom op ’n plek in jou lewe ná vergifnis waar jy voel: Ek is nie kwaad vir jou nie. You’re not getting any emotion out of me because of who you are and not who I am.”

‘Ek sien God deur mense’

Sy tel haar seëninge in die vorm van surrogaat-ouers deur haar lewe, onder wie die Van Niekerks (Johan is intussen dood) en Prinsloo…

“Jy kyk vir hul familie, en ook hoe hy my as sy kind hanteer, en you’re like: ‘God, thank you for these other men who played the father role for other kids in the community.’ ”

Selfs nadat Sibanyoni op haar eie begin woon het, het Quinzelle Kunz, wat saam met haar man, Wilko, aflosouers in die kinderhuis was, by haar selgroep sakgeld vir die meisie ingesamel.

“All these people that God brings into your life. En dis wat ek weer na Greenleaf wil laat oorspoel.”

Sy vra swart mans wat getroud is en in gesonde verhoudings is om hul wysheid met die jong studente te kom deel.

Wanneer daar geld vir kampe nodig is, of kospakkies, of ’n internskap vir ’n afgestudeerde, sorg Universiteitsoord se lidmate daarvoor.

Ek sien God deur mense verby ras, verby kleur, verby ouderdom.

Sóveel mense het al ’n verskil in haar lewe gemaak, en dis hoekom sy is wie sy vandag is, sê Sibanyoni.

“Ek sou nie hier gewees het as mense my nie uit hulle eie wil gehelp het, vir my plek gegee het om te bly nie.

“Mense het in my lewe ingekom en iets gedoen vir my om hier te wees. En nie as ’n white saviour of iets nie, nee, glad nie, uit hul eie harte uit.”

Sy is al gevra hoe sy God sien, sê Sibanyoni.

“Ek sien God deur mense. Ek sien God deur mense verby ras, verby kleur, verby ouderdom.”

God wys Homself vir haar deur die mense wat Hy nog regdeur haar lewe stuur.

“They’ve been carrying me, in elke liewe seisoen in my lewe, die mense wat nog altyd daar is, maar ook die nuwe mense wat die Here net in jou lewe bring.”

• De Beer is ’n redaksielid van Netwerk24.

’n Balling in jou kop

Sibanyoni se doktorale proefskrif gaan oor Psalm 137 – die een wat Boney M as “By the rivers of Babylon” sing.

“Hierdie psalm is geskryf ná exile, maar as jy hom lees, sal jy dink die mense is nog in exile.”

Sy bekyk die konsep van om in jou kop nog in ballingskap, soos in apartheid, te wees.

Baie mense, ongeag hul velkleur, is nog in apartheid, sê sy.

“Hulle redeneer en dink asof hulle nog in apartheid is.”

Sy skryf oor die rol van musiek, geweld en land in die psalm.

Terwyl “land” vir die terugkerende ballinge in die psalm Jerusalem beteken het, sukkel Suid-Afrikaners ook met vrae soos: Hoort ek as ’n Suid-Afrikaner hier? Waar’s my tuiste hier?

Sibanyoni hoop om met haar studie mense in gesprek te bring oor dié temas.

“Ek wil mense kry om te praat oor hierdie issues, veral dié van om te voel of mens nog in ballingskap is, want mense sukkel in die kerk om vorentoe te beweeg met ons geskiedenis.

“Mense sukkel om hul emosies uit te druk.

“Mense sukkel om met mekaar te praat oor land, oor Suid-Afrika, oor hoe ons saam die Here kan aanbid, actually, en saam lééf, eintlik in mekaar se spasies in.

“Ek dink nie ons praat eintlik genoeg nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui