God vergeef, maar eis ook dat ons sonde staak

Kyk ook:

*******

BRIEF | God vergeef, maar eis ook dat ons sonde staak | Netwerk24

Sondag, 18 September 2022

Prof. Dries du Plooy, Jeffreysbaai, skryf:

My artikel (Gay mense verwoes? Nee, dis net wat Evangelie sê”, 28.08) het heelwat reaksie ontlok. Ek wil veral op Neels Jackson en Frits Gaum se antwoorde konsentreer.

Hul algemene standpunt is dat daar nou volledige uitsluitsel oor die saak van homoseksualiteit gekom het nadat die NG Kerk besluite daaroor geneem het.

Volgens hulle is dit liefdeloos en verkeerd om slegs monogame huwelike tussen ’n man en ’n vrou as die enigste geoorloofde huwelik te aanvaar.

Hulle beroep hulle tereg op kerklike sinodale gesag, asook owerheidsgesag in die vorm van wetgewing.

Maar hoewel kerkgesag en owerheidsgesag ongetwyfeld belangrik is, is dit nie onfeilbaar nie. Dit moet altyd weer onder leiding van die Gees getoets word aan die onfeilbare gesag van die Woord van God (Hand 5:29).

Omdat een kerkgemeenskap nie alle wysheid in pag het nie, moet die insigte van ander kerke ook verreken word – veral dié wat deel van dieselfde breë kerkfamilie is. Talle gesaghebbende kerke verskil van die NGK oor selfdegeslag- huwelike. Ek verwys hier veral na die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA), die Christian Reformed Church in North America and Canada, die Christelijke Gereformeerde Kerk in Nederland, die Protestantse Kerken in Nederland en die Gereformeerde Kerken in Nederland.

Ek is allermins liefdeloos teenoor homoseksuele mense. Dit is wel nodig om in liefde – maar krities – te kyk na sekere van Jackson en Gaum se stellings.

Tereg verwys Jackson na Jesus Christus as voorbeeld oor hoe ons teenoor medegelowiges behoort op te tree – uit liefde! Die tekste waarna hy verwys, is ter sake, maar daar is ’n belangrike aspek in Jesus se hantering van sondige mense wat Jackson nie noem nie: In Johannes 5:14, wat handel oor die genesing van die man by die bad van Betesda, het Jesus aan hom gesê: “Kyk, jy is nou gesond, moenie langer sondig nie.”

Mense wat God liefhet, sal sy gebooie onderhou, uit dankbaarheid en liefde.

Die grondliggende probleem en verskil lê by die beginsels van Skrifinterpretasie. Dr. Job Ubbink (04.09) meen eintlik Paulus was oningelig; hy weet nie waaroor dit gaan nie, en Gaum en Jackson meen dat Paulus wel geweet het, maar dat hy net verwys na losbandige seks. Dit staan nêrens so in die Bybel nie. Die klem val in die relevante tekste nie op losbandigheid alleen nie, maar op teennatuurlike seksuele verhoudings (veral Romeine 1:25-26).

Ek veroordeel niemand nie, maar probeer weergee wat die Skrif ons leer. God vergewe mense op grond van sy liefde, maar roep ons ook op tot gehoorsaamheid en bekering.

So, asseblief, moet my nie vergelyk met fariseërs en wetgeleerdes wat met klippe wil gooi nie. Ek glo God steek sy hande sag maar ferm oor ons uit, nie om aan te hou sondig nie, maar om uit liefde na Hom te luister.

1 thought on “God vergeef, maar eis ook dat ons sonde staak”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui