Goddelike heerskappy word verruil vir die wêreld se eie god
deur Dr. Gerhardus Venter van Polokwane
2011-09-04 22:02
(Van Beeld gekopieer.)
Ons lewe toenemend op die afgrond van die eskatologie – ’n tydperk waarin totale dekadensie die voertuig tot geestelike vernietiging geword het.
Die “kerk” in totale sinergisme, deur sy afvalligheid as bydraende faktor, skep nou die teelaarde waardeur vreemde geeste van ’n nuwe era lustig kan manifesteer – manifestasies wat met vreemde kragte uitgevoer word binne ’n religieuse raamwerk.
Hierdie totale aanslag word met subtiele omsigtigheid tot binne-in die geordende en gevestigde kerk strukture gemanipuleer.
Die waarheid word die leuen en die leuen word op aanvaarbare wyse tot die waarheid verhef.
Die kenmerke van die Goddelike drie-eenheid word gereduseer tot ’n gesiglose energie wat sy relevansie in die huidige bestel verloor het.
Dit gaan nie meer oor die Christus ter wille van die mens in dekadensie nie, maar oor die verkryging van ’n kosmiese krag wat reeds van die oer-ontstaan van die mens, latent in die siel van die mens vasgevang is.
Goddelike heerskappy word nou meer as ooit as ’n uitgediende en kragtelose kommoditeit op die agtergrond van ’n verbygaande era weggepak, met die wêreld se eie god in sy plek.
Die formele humanistiese kerk het in hierdie moderne wêreld vir homself ’n tuiste gevind, ’n tuiste wat hom in voeling gebring het met die hartklop van hierdie wêreld.
Die uitspraak dat die kerk nie van hierdie wêreld is nie – maar inderdaad van ’n ander wêreld – is nie meer van wesenlike belang nie. Sy het haar houvas op die versoenende krag van die kruis verloor.
Om hierdie rede word die meesleurende krag van nuwe en vreemde manifestasies en ideologieë, die krag van die uur waarin ons lewe, en dit word vanuit ’n manipulerende wêreld tot binne in ’n verwarde kerk gedra.
Gemeentes wat self nie meer die onderskeid kan tref tussen goed of kwaad nie, begryp nie die uur waarin die kerk leef nie, want dit vra na groter toewyding en heiligmaking.
Hierdie pad na heiligmaking loop verby die kruis van versoening en teen die hoogtes van selfverloëning uit, maar in haar meelewing met die wêreld verloor sy hierdie kosbare pad.
Nou word die uur van die tyd ’n gejaagde soeke, ’n soeke na die “Heilige Gees”, ’n soeke na ’n vars aanraking, ’n soeke na ’n nuwe manifestasie, ’n soeke na nuwe wyn, ’n soeke na die kosmiese god binne in die mens.
Dit word die aanvaarbare teken.
Dit word dan ’n dolle gejaag na ’n verslawende kultuur van opwinding, waarin die manifesterende krag van die uur geopenbaar word.
Hierdie krag en wondertekens sal met rasse skrede toeneem, dermate ons die tyd sien nader kom.
Die afval van die kerk is reeds vasgevang in die afwaartse spiraal van uiterlike kragte en dit alles in die Heilige Naam van Christus die Here.