Godsdiensvryheid verkeerd verstaan

Die volgende brief is geskryf op grond van Gelowiges moet lig loop vir dié wet (12 Nov 2023, Johan Janse van Rensburg)

Kyk ook Klein groepering? Nee, Christene getuig wêreldwyd (3 Des 2023) waarin Johan Janse van Rensburg hierop reageer.

*******

BRIEF | Godsdiensvryheid verkeerd verstaan | Rapport

Rapport, Sondag 26 November 2023

Amos van der Westhuizen, Bloemfontein, skryf:

Prof. Johan Janse van Rensburg se brief (12.11) illustreer pragtig hoe godsdiensvryheid dikwels (moedswillig?) verkeerd verstaan word. Ten opsigte van sy eie regte wend hy hom tot die Grondwet en spesifiek die Handves van Menseregte se godsdiensvryheid.

Begin hy worstel oor waar, teenoor wie en onder watter omstandighede godsdienstige sienings gepropageer mag word voordat dit haatspraak word, verlaat hy hom op die “gesag van die Skrif” en “meerdere vergaderings”. Dit geld die eng geloofsgroepering of nog enger splintergroep en nie die breë bevolking nie. Dit is juis dan nodig om te dink aan die hand van die Grondwet wat om “jou naaste lief te hê soos jouself” as etiese beginsel stel bo enige dogmatiese opdrag in een of ander skrif. Dit staan bekend as gelyke regte.

As voorbeeld is dit tog duidelik dat ’n Moslem wat by ’n vol kerk instap en sê “Allahu akbar” of ’n Christen wat by ’n vol moskee instap en sê “Sonder Jesus verdien jy om vir ewig te brand” albei ’n daad van aggressie of haat pleeg. As ’n byeenkoms, forum, radioprogram of meningsblad nie religieus gefundeer is nie en dus bestaan om ’n sekulêre rede en daar geen redelike aanduiding is dat alle teenwoordiges tot ’n spesifieke geloofsgroepering behoort nie, sou enige van die tipe uitsprake hierbo ook moontlike haatspraak beteken. Het ons hoegenaamd wetgewing oor haatspraak nodig of beperk dit vryheid van spraak onnodig?

Vryheid van spraak word tog sekerlik beperk deur laster. Soos ek dit verstaan, is haatspraak wanneer mense veralgemenend (dis gewoonlik onwaar) op grond van ras, geslag, geloof ens. (die wet lys 16 kriteria) belaster word. Soos met gewone laster behoort wetstoepassing te kyk na die individu wat die uitspraak maak, asook na die persoon in beheer van die publikasie, naamlik die administrateur van die Facebook- of WhatsApp-groep of die redakteur van die TV- of radioprogram of die koerant.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui