Kyk ook:
*******
Goudland se leraars veilig | Netwerk24
Outeur onbekend
12 November 2019
Die moontlikheid wat genoem is dat Goudland-dominees dalk hul bevoegdheid sal verloor sou hul sinode uit die algemene sinodale verband tree, is niks minder as gruwelike intimidasie nie, skryf dr. G.J. Duursema, dr. J.H. Ernst, ds. H.M. Janse van Rensburg en ds. T. Danzfuss.
Op die voorblad van Beeld (08.11) is berig dat adv. Dewyk Ungerer, aktuarius van die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NGK) se algemene sinode, sê as die sinode Goudland uit die algemene sinodale verband tree, regsekerheid oor ’n paar “kernkwessies” gekry sal moet word.
En eerste wat hy noem, is dat dominees dalk hul bevoegdheid kan verloor.
Dit is niks anders as gruwelike intimidasie nie en is geheel en al onwaar.
Die berig lui tereg dat Goudland oorweeg om uit die algemene sinodale verband te tree op grond van art. 37 van die kerkorde.
Dié artikel lui: “Dit staan die samestellende kerke vry om met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts, uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.”
Klaarblyklik beteken “alle regte” vir Ungerer nie alle regte nie.
Helaas is dit nie moontlik om aan iemand te verduidelik dat alle regte in Afrikaans nie maar net sekere regte beteken nie, maar inderdaad alle, maar dan álle regte beteken.
Neem konteks in ag
Ungerer, wat luidens die berig ’n “kerkregkenner” is, moet tog wéét dat die eerste reël van kerkregtelike eksegese is dat die konteks in ag geneem moet word.
Dan moet ’n mens eerstens die agtergrond en ontstaansgeskiedenis van dié vreemde artikel ken. Dit word vreemd genoem omdat die NGK die enigste gereformeerde kerk is wat so ’n artikel in sy kerkorde opgeneem het.
Art. 37 spruit uit die wantroue tussen die destydse vyf selfstandige/onafhanklike sinodes of kerke wat uiteindelik die algemene sinode gevorm het: die drie selfstandige kerke van die twee Boererepublieke en Natal aan die een kant, die Kaapse Kerk (die kerk in die “kolonie”) aan die ander kant, met Suidwes-Afrika (wat van die Kaapse Kerk afgestig het) min of meer op die kantlyn.
Dié kerke wou nie hul selfstandigheid (onafhanklikheid) heeltemal inboet nie. Met die Anglo-Boereoorlog nog vars in die geheue, die weiering van die Kaapse Kerk om die Voortrekkers pastoraal te versorg en hul vrees – gewaan of nie – vir die Engelse invloed, kon die eenheidstrewe in die NGK by Uniewording nie momentum kry nie. Dit het meer as 50 jaar geduur totdat die algemene sinode in Oktober 1962 tot stand gekom het.
Die destydse Federale Raad van Nederduitse Gereformeerde Kerke en die Kommissie van Aktuarii wat hy aangewys het om die eerste kerkorde van die algemene sinode te finaliseer, het dié kerkorde die “akte van vereniging” van die samestellende sinodes genoem.
Om bogenoemde vrese te besweer, is nie net art. 37 nie, maar ook art. 36 en art. 44 vir hierdie akte van vereniging geformuleer.
Met name is art. 44 geformuleer omdat die kerke in die eertydse Boererepublieke gevrees het dat die Kaapse Kerk hulle op teologiese dwaalweë kon voer. Vandaar dat art. 44 bepaal dat die wysiging van die belydenis alleen kan geskied nadat elke sinode afsonderlik met ’n tweederdemeerderheid ten gunste daarvan besluit het.
Genoemde drie artikels verskans die selfstandigheid van die samestellende sinodes.
En art. 36 lui: “Die samestellende kerke of sinodes behou volle seggenskap oor hul eiendomme, finansies, werksaamhede, ensovoorts, wat hulle voor toetreding tot die algemene sinodale verband gehad het of daarna verwerf, behalwe dié wat volgens die Kerkorde aan die Algemene Sinode oorgedra is of sal word, of deur die Algemene Sinode in trust gehou word.”
Kundige kerkregtelike uitleg van dié artikel sal wéét dat die “werksaamhede” waarvan gepraat word in die konteks van die kerkorde duidelik omskryf word, byvoorbeeld in art. 3. Dáár word bepaal dat die kerkorde “ ’n aantal bepalings gee vir die lewe en werk van die Kerk” en art. 3.2 lui: “Hierdie bepalings handel oor die ampte in die Kerk, die vergaderings van die Kerk, die werksaamhede van die Kerk, regering en tug van die Kerk en die betrekkinge van die Kerk na buite.”
Enigiemand wat ter sake kundig is, wéét dat art. 3.2 inderwaarheid die “opskrifte” van die vyf hoofstukke van die kerkorde is.
Hoofstuk 4 (art. 48-58) handel dus oor genoemde werksaamhede of die “arbeid” van die kerk. Die eerste (vernaamste) werksaamheid is die openbare erediens. Art. 48.3 bepaal: “Die leiding van eredienste berus by een van die volgende persone: 48.3.1 die predikant van die plaaslike gemeente.”
Sinodes behou volle seggenskap
Art. 36 bepaal onomwonde dat die samestellende sinodes volle seggenskap oor hul werksaamhede behou. Hoe kan Ungerer dan vra: “Waar sal Goudland dominees kry wat gelegitimeer is as hulle uit die verband tree?”
Goudland se gemeentes – trouens enige gemeente – sal self besluit wie hulle wil beroep, dankie! En die beroepe dominee sal ook sonder enige inmenging vry wees om ’n beroep te aanvaar of te bedank.
Net so onsinnig is sy volgende vraag: “En sal hulle dan ’n dominee van binne die NGK kan beroep?”
Ungerer is ook bestuurder: predikantesake. Weet hy dan nie dat alle dominees binne die NGK-familie en selfs ook dominees uit ander gereformeerde kerkgenootskappe (met inagneming van spesifieke vereistes wat ’n kerk kan stel) byvoorbeeld die Hervormde Kerk, die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika, ensovoorts beroepbaar is na enige NG gemeente nie?
Wat meer is: Ungerer wéét dat die enigste manier waarop enige predikant van sy/haar bevoegdheid ontneem kan word, ’n skuldigbevinding in ’n tugverhoor deur ’n ring is of indien die predikant self bedank.
Hoe kan hy dan dreig dat dominees dalk hul bevoegdheid kan verloor as Goudland met behoud van alle regte uit die algemene sinode tree?
Art. 36 en art. 37 saamgelees maak dat die “met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam, ensovoorts” ’n ondeurdringbare vesting teen enige oorheersing deur ’n algemene sinode is.
‘Skeuring’ nie ter sprake
’n Noodsaaklike regstelling moet ook gedoen word. Dit is nie korrek om die handelinge van Goudland “kerkskeuring” te noem nie. Art. 37 praat alleen van uittrede uit die algemene sinodale verband.
Toe die algemene sinode in 1962 tot stand gekom het, is daarvan afgesien om van die algemene sinode – soos dit destyds gebruiklik was – as ’n “daadwerklik organiese eenheid” te praat, maar is daarna bloot ’n “organisatoriese” eenheid genoem.
Dáárom het wyle prof. Willie Jonker (in ’n artikel in die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif) geskryf dat die algemene sinode “eintlik alleen maar ’n soort koördinerende vergadering ( . . .) weinig meer as die Federale Raad van Kerke” is.
- Die vier ondertekenaars van hierdie artikel [Johann Ernst, Theo Danzfuss, Gert Duursema en Helgard Janse van Rensburg] was lede van die algemene taakspan regte van die algemene sinode en aktuarii van hul onderskeie sinodes. Dr. Ernst was die vorige aktuarius van die algemene sinode.