Gravamen aan die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk 2016

Die volgende gravamen is geskryf deur Chris van Wyk aan die buitengewone algemene sinode van die NG Kerk nadat die algemene sinode van 2015 ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings.

*************

Gravamen aan die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk 2016

Deur Chris van Wyk

September 2016

Die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Gereformeerde tradisie en die Skrif

1. Motivering

Die Algemene Sinode het in 2015 selfdegeslagverhoudings aanvaar op grond van ’n onvolledige verslag waaraan doelbewus geen aanbevelings gekoppel was nie. Daar was vier verslae voor die vorige ASM maar net die een onvolledige verslag is aan die Algemene Sinode deurgegee, op grond van die veronderstelling dat die ander drie verslae in die volgende rondte hanteer sal word.

Die vorige ASM se voorstel aan die Algemene Sinode, dat daar eerder verder oor die saak gedink moet word, omdat die opdrag nie volledig nagekom is om selfdegeslagverhoudings te beoordeel in die lig van die Gereformeerde leer en die Skrif nie, is egter deur die Algemene Sinode geïgnoreer, en verder nooit as sodanig hanteer en aan die Algemene Sinode gestel vir oorweging nie.

Dit het daartoe gelei dat daar tot besluitneming oorgegaan is ten spyte van die vorige ASM se leiding en dit met twee teenoorgestelde voorstelle waaruit een as die substantiewe voorstel van die vergadering aangewys is deur stemming. Dit is nie net prosedureel verkeerd nie – daar kan net een voorstel op ‘n keer voor die vergadering dien wat wel geamendeer kan word – maar het ’n verslag goedgekeur wat nie die opdrag uitgevoer het nie. Daar was bv. geen aandag aan die Gereformeerde tradisie gegee nie, hoewel die opdrag in 2013 dit eksplisiet gevra het.

Gegewe dat daar ander voorleggings aan die Algemene Sinode gaan wees wat hierdie sake aanspreek, brei ek nie verder daaroor uit nie, hoewel ek met meer detail daarop sou kon reageer. Die verslag wat voor die Algemene Sinode 2015 gedien het, het egter ooglopend mank gegaan aan ‘n deeglike verantwoording in die lig van die Gereformeerde tradisie sowel as aan ‘n deeglike verantwoording in die lig van die Skrif.

Dit het die gevolg gehad dat die besluite van 2015 in direkte teenspraak van kerkorde artikel 1 gemaak is wat as volg bely:

“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.”

Die besluit van 2015 is in stryd met die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Dit is ook in stryd met leringe spesifiek in die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Heidelbergse Kategismus, onder andere waar die sewende gebod bespreek word.

Ecclesia semper reformanda est. Die kerk moet altyd seker maak dat sy leer en lewe in ooreenstemming is met die Skrif en sy belydenisskrifte. Die 2015 besluit het die Skrifverstaan soos beliggaam in ons belydenisskrifte omvergegooi. Dit kan nie so gelaat word nie. Vandaar hierdie gravamen.

2. Werkswyse

Ek lê hierdie bydrae aan die Algemene Sinode voor om standpunt oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Gereformeerde tradisie en die Skrif te kan inneem. Ek oordeel dat ons by ‘n punt staan dat ons belydenis só in gedrang is dat ons standpunt sal moet inneem en ons gehegtheid aan die Skrif en ons belydenistradisie moet herbevestig.

1. Ek het in die eerste plek ‘n eksegeties-hermeneutiese beoordeling probeer gee van die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif. Dit word hierna gehanteer by punt 3.

2. Ek het besluit om in die tweede plek na ons belydenisskrifte te kyk en die plekke te ondersoek waar Bybeltekste wat verband hou met die onderwerp as bewysplase gebruik word.  Hierdie belydenisskrifte vorm immers die hart van ons Gereformeerde tradisie. Dit word by punt 4 gevind.

Die aanbeveling aan die Algemene Sinode by punt 6 is op hierdie navorsing gebaseer.

3. Selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif

Ek maak eers ‘n paar algemene opmerkings oor die saak van selfdegeslagverhoudings voor ek die onderskeie tekste binne die raamwerk van ‘n verstaan van die Bybel as Geskrewe Woord van God uitlê, soos ons belydenisskrifte en artikel 1 van die kerkorde dit bely.

3.1 Algemene opmerkings oor selfdegeslagverhoudings

Daar word soms ten onregte beweer dat 7-10% mense homoseksueel is. Die bron wat dikwels aangehaal word, is die 1940-verslag van Alfred Kinsey. Sy navorsing word egter nie vandag sonder meer aanvaar nie, onder andere omdat hy van ’n skeefgetrekte steekproef gebruik gemaak het deurdat sy vrywilligers nie ewekansig gekies is nie, en veral uit tronke en via gay-vriendelike organisasies en tydskrifte gewerf is, en daar baie verontrustende data oor eksperimente met kinders in sy navorsing ingesluit is wat op kindermolestering neerkom. Maar, sy geskatte syfer vir mans wat oorwegend lewenslank homoseksuele verhoudings gehandhaaf het, was slegs 4%, anders as wat hy baie keer aangehaal word (J.A. Branch, Born this way? Homosexuality, Science and the Scriptures. 2016).

Dit word gestaaf deur resente studies , bv. deur Edward Laumann by wyse van ’n steekproef van 5000 persone in die Verenigde State van Amerika. Volgens hierdie studie is bevind dat slegs 2% mans en 0.9% vroue hulself as homoseksueel beskryf, terwyl ’n addisionele 0.8% mans en 0.5% dames hulself as biseksueel beskryf. Die homoseksuele sosioloog, Joseph Harry, se navorsing lewer dieselfde resultate. Volgens sy navorsing het 2.4% mans ’n homoseksuele oriëntasie.

Dit stem ook ooreen met ons onlangse verslag oor die Jeug wat by die Algemene Sinode 2015 in ontvangs geneem sal word – Skokkend Positief. Hoewel dit net ‘n klein onderafdeling van die navorsing was, beskou net 4% uit die steekproef van die betrokke jeug van die NG Kerk hulleself as homoseksueel. Dit is in lyn met die internasionale syfer.

3.1.1 Selfdegeslagverhoudings is van vroeg af in die geskiedenis bekend

Anders as wat dit soms voorgestel word, is homoseksualiteit ‘n tipe seksuele aantrekkingskrag of seksuele verhouding tussen dieselfde geslagte wat van vroeg af bekend was en vandag as homoseksualiteit bekend is.

Hoewel homoseksualiteit dus ‘n moderne beskrywende begrip is vir mense wat in selfdegeslagverhoudings is of wil wees, veral soos beskryf deur Freud en Foucault, is dit ‘n woord wat vir ‘n werklikheid gebruik word van iets wat van vroeg af met ons is. Daar is baie voorbeelde, soos die sogenaamde “Twee-gees individue” in die vroeë Amerikas wat as sodanig erken en toegelaat is om selfdegeslag seksualiteit te beoefen. Hulle was baie keer die sjamaans van hulle gemeenskappe.

Selfdegeslag seksualiteit was bekend in Griekeland (bv. in die werke van Plato), China, Japan, Persië, die Suidsee-eilande ensomeer. Vergelyk hiervoor veral die werk van John Boswell wat die Europese geskiedenis van dié tipe verhoudings ondersoek het (Same-Sex Unions in Premodern Europe).

Soms onderskei mense tussen homofilie – die seksualiteit – en homoseksualiteit – die gedrag. Vir ons doel is dit egter nie so belangrik hoe dit gedefinieer word nie. Dit gaan oor die werklikheid van selfdegeslagverhoudings, iets wat eintlik van altyd af met ons is, en hoe ons vandag daaroor moet oordeel in die lig van die Skrif en die Gereformeerde tradisie.

Die historiese werklikheid is egter helder en duidelik. Homoseksuele of selfdegeslagverhoudings was wettig, algemeen en normaal, ook in die Grieks-Romeinse wêreld. En dit is in dié wêreld waarin die evangelie gekom het, en in dié wêreld waarin Paulus sy bediening uitgevoer het, en dit is vir dié wêreld wat hy sy beskouing oor selfdegeslagverhoudings deurgee.

3.1.2 Selfdegeslagverhoudings word deur die drie Monoteïstiese godsdienste afgewys

Dit is ‘n bewese feit dat selfdegeslag seksualiteit deurgaans in die Joods-Christelike tradisie, sowel as die latere Moslem tradisie sterk afgewys word, maak nie saak hoe ‘n mens dit wil definieer nie. Josephus, Philo, die rabbi’s, die kerkvaders, Chrysostomus, Augustinus, Luther, Calvyn, Ursinus, ensomeer, spreek hulle sterk daarteen uit (vgl. vir verwysings Hays, The Moral Vision of the New Testament, Fortson, S.D. & R.G. Grams, Unchanging Witness: The Consistent Christian Teaching on Homosexuality in ­Scripture and Tradition, en ook die 2007 verslag voor die Algemene Sinode).

Hierdie drie godsdienste onderskei ook nie tussen verskillende soorte selfdegeslag seksualiteite nie, maar keur enige seksuele verkeer tussen dieselfde geslag af, meesal in baie sterk terme.

Dit sien ons veral by die vroeë kerkvaders. Die kerkvaders verwerp homoseksuele verhoudings deurgaans. Hul reaksie was hoofsaaklik gemotiveer op grond van dié Bybel met verwysing na die tekste daaroor in OT en NT. In die vorige verslag aan die Algemene Sinode 2007 kan die standpunte van agt van dié kerkvaders nagegaan word wat almal negatief was oor selfdegeslag seksuele gedrag.

Vir ‘n dieper delf in die getuienis van daardie tyd, kan Fortson en Grams se nuutste boek hieroor nagegaan word. Dit is ‘n uitstekende bron van verwysings hierna met uitvoerige aanhalings uit al die vroeë Christelike bronne, soos die Didage (100 n.C.), die brief van Barnabas (100 n.C.), die Apologie van Aristides (125 n.C.), die Openbaring van Petrus (150 n.C.), die Brief aan Filippi van Polikarpus (155 n.C. waarin 1 Kor. 6:10 spesifiek aangehaal word in verband met selfdegeslag seksuele gedrag), die Apologie van Athenagoras (177 n.C.), die Eerste Apologie van Justinus (155 n.C.), Theophilus aan Autolycus (190 n.C.), die Rede aan die Grieke van Tatianus (160 n.C.), Die Instrukteur van Klement van Alexandrië (200 n.C.), die Apologie van Tertullianus (197 n.C.), Oor afgodery deur Tertullianus (200 n.C.), Teen die Valentyne van Tertullianus (200 n.C.) … en nog 14 ander!

Dan het ons nog nie eers begin om te verwys na die talle kerklike konsilies wat deur die eeue selfdegeslag seksuele gedrag afgewys het nie, bv. die Konsilie van Elvira (306 n.C.), die Konsilie van Ankara in Klein-Asië (314 n.C.) en die talle boeke wat in die loop van die Christelike kerk se verdere ontwikkeling van die 4de eeu af gepubliseer is, bv. die Konstitusies van die Heilige Apostels (375 n.C.).

Die konsensus van die vroeë kerk, met géén teenstemme, was téén selfdegeslag seksuele gedrag.

3.1.3 Selfdefamilieverhoudings word ook afgewys

Wat ook vir die gesprek belangrik is, is dat seksuele verhoudinge met familielede ook in die Bybel konsekwent afgewys is.  Trouens in die gedeeltes in Levitikus waar selfdegeslagverhoudings afgewys word, word daar eintlik meer aandag aan selfdefamilieverhoudings gegee.  Paulus vestig in die NT die aandag in 1 Korintiërs 5 op een só ‘n verhouding en is vlymskerp in sy veroordeling daarvan, hoewel hy ook werk met vergifnis en bemoediging teenoor die partye en die gemeente in sy volgende brief so inlig, solank hulle die sondige leefwyse versaak, hoewel hy dit in hoop doen (2 Kor. 2:7-11), ‘n hoop wat egter ook beskaam sou kon word (2 Kor. 12:21).

Paulus se afwysing van selfdefamilieverhoudings laat ‘n mens besef dat jy nie met hom kan saamgaan in sy afwysing van selfdefamilieverhoudings – gebaseer op die uitsprake van die wet in Levitikus hieroor – en dan selfdegeslagverhoudings aanvaar, wat eweneens op die uitsprake van die wet in Levitikus gebaseer is nie. Dit sou inkonsekwent wees.

Ons moet ook kennis neem dat daar vandag al reeds in tientalle lande wetgewing is wat selfdefamilieverhoudings toelaat, solank dit tussen volwassenes is, en dit konsensueel is, d.w.s. met toestemming. Wanneer selfdegeslagverhoudings toegelaat word, maak dit die deur oop na allerlei ander verhoudings wat teen ons belydenis en die Bybel is. Daarby kom nog lande wat in hulle hantering van bestialiteit ‘n sagter benadering begin inneem, en ander wat oorweeg om sekere grade van pedofilie te wettig. Maar, bogenoemde is genoeg om die punt te maak.

3.1.4 Selfdegeslag seksualiteit is ‘n komplekse interaksie van genetiese en omgewingsfaktore

Baie mense fokus op die vraag of gays so gebore word al dan nie. Die kort antwoord daarop is: daar is nie ‘n wetenskaplike konsensus oor die oorsake van homoseksualiteit, behalwe om dit as ‘n komplekse interaksie van genetiese en omgewingsfaktore te beskryf nie

“While there are some genetic or biological factors that correlate with a higher incidence of same-sex attraction and homosexual behavior, as of yet there is no proof of genetic or biological causation for homosexuality.” (J.A. Branch, Born this way?, 2016:2).

Dit beteken dat dit baie moeilik is om ‘n argument vanuit die biologie, sielkunde of sosiologie hieroor te formuleer omdat daar nie ‘n vaste basis is om vanaf te redeneer nie. Die prentjie oor die oorsprong van homoseksualiteit is glad nie eenvoudig nie. Dit is ‘n uiters komplekse proses waarin die natuur (genetika, onder andere die Xq28 en 8q12 genetiese sekwensie, maar veral DNS, die XX en XY chromosome, sowel as hormone) en die omgewing (gesin, verhoudings) sowel as lewenstyl keuses ’n rol speel. Vergelyk maar net die navorsing rondom identiese tweelinge wat apart groot geword het.

Aan die een kant wys die navorsing dat daar ‘n verhoogde insidensie van homoseksualiteit by hulle aanwesig is, tot so veel as 20% meer as normaal volgens sommige studies, wat op ‘n natuurlike oorsprong kan dui.

Maar, aan die ander kant sou ‘n mens verwag dat daar nie net ‘n verhoogde insidensie sou wees nie, maar ‘n absolute 100% voorkoms van homoseksualiteit by identiese tweelinge – as homoseksualiteit geneties of natuurlik, sonder enige omgewingsfaktore of lewenstyl keuse-uitoefening, sou wees. Dit is egter nie die geval nie.

Die Kendler studie in die jaar 2000 in die VSA wat met 4000 mense onderneem is, het bv. bevind dat ’n mens glad nie kan sê dat gene seksuele oriëntasie bepaal nie, alhoewel dit een of ander rol speel, hoe weet hulle nie: “By no means is sexual orientation genetically determined but clearly genes are playing some role by interacting with a range of environmental factors.” (Academy of Science of South Africa [ASSAf], bl. 29).

Die Australiaanse tweeling studie (Bailey) van dieselfde jaar het beter resultate opgelewer, maar kon steeds nie enigsins ’n genetiese basis vir seksuele oriëntasie bewys nie. Dit is net te moeilik om vas te stel, sê hulle: “It was difficult, in general, to disentangle genetic and shared environmental contributions to the familial variance.” (ASSAf, bl. 29).

Dieselfde geld die Sweedse studie in 2010 (Långström) wat sê dat die data ’n genetiese komponent kan suggereer in sowat ’n derde van die gevalle (ASSAf, bl. 29). Wat ’n mens laat wonder hoekom hulle nie die vanselfsprekende gevolgtrekking laat maak dat dit in twee derdes van die gevalle geen rol speel nie!

Dit is duidelik dat die navorsing oor selfdegeslag aangetrokkenheid doodgewoon nie die resultate oplewer wat die navorsers wil hê nie, en daarom taal gebruik soos “suggereer”, “kan”, “moontlik” ensomeer. Die genetiese komponent kan nie van die omgewingsfaktore geïsoleer word nie, en dít net in dié gevalle wat een of ander verband wys. In die meeste gevalle is daar geen verband aan te toon nie!

Die meeste wat ASSAf kan sê, selfs met die nuutste navorsing, is dat daar aanduidings is van ’n assosiasie van genetiese faktore met seksuele oriëntasie: “While none of the studies ‘proves’ that areas of the chromosomes identified as patterned actually influence sexual orientation, nor suggest biological pathways for the ‘translation’ of this genetic influence into behaviour, the results are suggestive of a strong association.” (ASSAf, bl. 30).

Let op die keuse van woorde: “None of the studies ‘proves’ that areas of the chromosomes … ACTUALLY INFLUENCE SEXUAL ORIENTATION.” (my hoofletters). Suggesties en assosiasies is onvaste wetenskap op sy beste en misleidende wetenskap op sy slegste.

Soos die nuutste studie van Sanders in 2014 met 409 gay broers sê: “genetic contributions are far from determinant but instead represent a part of the trait’s multifactorial causation, both genetic and environmental.” (ASSAf, bl. 30).

Die APA (American Psychological Association) se erkenning reeds in 2008 dat daar geen konsensus is oor die presies redes waarom mense verskillende seksuele oriëntasies ontwikkel, is dus steeds geldig:

“There is no consensus among scientists about the exact reasons that an individual develops a heterosexual, bisexual, gay or lesbian orientation. Although much research has examined the possible genetic, hormonal, developmental, social and cultural influences on sexual orientation, no findings have emerged that permit scientists to conclude that sexual orientation is determined by any particular factor or factors. Many think that nature and nurture both play complex roles; most people experience little or no sense of choice about their sexual orientation.” American Psychological Association. (2008). Answers to your questions: For a better understanding of sexual orientation and homosexuality. Washington, DC: Author. [Retrieved from www.apa.org/topics/lgbt/orientation.pdf.]

Soos Dr. Francis Collins, die hoof van die Menslike Genoom Projek reeds in 2006 die navorsing oor homoseksualiteit opgesom het: “…sexual orientation is genetically influenced but not hardwired by DNA, and that whatever genes are involved represent predispositions, not pre-determinations.”

Dit word geëggo deur die nuutste navorsing van Mayer en McHugh wat in 2016 ‘n oorsig van die afgelope dertig jaar se meer as 200 biologiese, sielkundige en sosiale portuur-geëvalueerde studies gegee het en tot dieselfde tipe breë gevolgtrekkings gekom het, soos die volgende paar aanhalings aantoon:

* “The understanding of sexual orientation as an innate, biologically fixed property of human beings — the idea that people are “born that way” — is not supported by scientific evidence.”

* “While there is evidence that biological factors such as genes and hormones are associated with sexual behaviors and attractions, there are no compelling causal biological explanations for human sexual orientation.”

* “Longitudinal studies of adolescents suggest that sexual orientation may be quite fluid over the life course for some people, with one study estimating that as many as 80% of male adolescents who report same-sex attractions no longer do so as adults.”

* “Compared to heterosexuals, non-heterosexuals are about two to three times as likely to have experienced childhood sexual abuse.”

* “The hypothesis that gender identity is an innate, fixed property of human beings that is independent of biological sex — that a person might be “a man trapped in a woman’s body” or “a woman trapped in a man’s body” — is not supported by scientific evidence.”

Nuwe epigenetiese navorsing oor gene wys ook al hoe meer dat gene nie bloudrukke is nie, maar skakelaars. Gene word aangesit of afgesit deur ervarings en omgewingsfaktore en dit lyk asof dit baie vloeibaar in interaksie met die omgewing gebeur. Vgl. bv. Ard Louis, Professor van Biofisika (Oxford), in sy praatjie: “Randomness and Other Metaphors in the Theory of Evolution.” Hy help mens verstaan dat biologiese prosesse nie lukraak is nie, maar stogasties, d.w.s. daar is keuses betrokke in die ontwikkeling van ‘n geen se potensiaal, of dit nou buite die individu se wilsbesluit is al dan nie (https://www.youtube.com/watch?v=KPaICAFgS04&feature=youtu.be).

Anders sou daar immers geen voortplanting moontlik gewees het, indien mense suiwer homoseksueel op grond van die genetika gewees het. Die homoseksuele geen sou doodgewoon uitgesterf het.

Navorsing wys al hoe meer hoe vloeibaar gender identifikasie is, en hoe verskillend mense wat homoseksueel identifiseer daarby uitgekom het om só te identifiseer. Daar is nie een spesifieke kenmerk wat algemeen is aan alle homoseksuele persone nie, en daarom as fundamenteel of oorsaaklik beskryf kan word nie. Dit geld alle brein navorsing sowel as alle voorgeboorte hormonale navorsing (J.A. Branch, Born this way?, 2016:143). Dieselfde geld enigeen van die ander gender identifikasies.

Sommige mense kan ‘n predisposie vertoon vir homoseksuele seksuele gedrag, maar dit beteken nie dat iemand predestineerd is daartoe en daarom onveranderbaar só is nie. Ons het altyd keuses om op ons begeertes te reageer en daaraan uiting te gee, of nie.

As kerk sal ons verder in ag moet neem dat iets wat in die kultuur normatief geldig is – maak nie saak wat dit is nie – is nie noodwendig normatief in terme van die Skrif se beoordeling daarvan nie en gevolglik in ons besinning daaroor nie.

Ons sal dus nooit ons vertrekpunt slegs in die resultate van die biologie, sielkunde of sosiale wetenskappe kan neem nie of selfs daaraan ‘n skeidsregter funksie kan gee nie. Omdat daar vanuit dié dissiplines aanvaar word dat seksualiteit nie binêr is nie, maar op ‘n kontinuum geleë is, kan ons nie maar net van daar af redeneer dat enige teologiese standpunt oor selfdegeslagverhoudings dié insigte móét inkorporeer nie. Dit verteenwoordig ‘n eensydige natuurlike teologiese standpunt en nie ‘n Skriftuurlike – solo Scriptura – of openbaringsmatige teologie nie, soos die Gereformeerde teologie meermale gedefinieer word.

3.1.5 Die Bybel se selfdegeslag beskouing hou geen interne kritiek in soos met ander sake nie

Daar is in die literatuur ‘n poging om selfdegeslag seksualiteit te herkategoriseer om dit op dieselfde vlak as slawerny, die bevryding van vroue en selfs apartheid te plaas. Sóós slawe vrygestel is, vroue toegelaat is as volwaardige en gelyke deelnemers op alle vlakke, en apartheid na sy wetlike voorkoms afgeskaf is (en ons nog hard daaraan werk om dit in die praktyk ook te doen), só moet selfdegeslag seksualiteit ook van die verbod daarop in die Bybel bevry word.

Só ‘n interpretasie sal egter nooit deug nie. In die geval van slawerny was dit nooit ‘n algemene Bybelse gebod nie. Paulus raai bv. slawe aan om die geleentheid om vry te word, aan te gryp (1 Kor. 7:21). Hy verkondig dat daar geen Christelike onderskeid is tussen dié wat vry is en dié wat in slawerny is nie (Gal. 3:29). En die OT vertel vir ons van twee groot tradisies wat hulle selfverstaan gestruktureer het, die Eksodus uit die slawehuis van Egipte, en die Terugkeer uit die slawehuis van die die ballingskap. Dit is juis onder andere hierdie twee teologiese konstrukte wat die kerk uiteindelik oortuig het om slawerny af te skaf in die 18de eeu n.C.

Dieselfde geld vroue. Daar is hoeveel andersoortige uitkomste in die Bybel anders as die normale patriargale status quo. Daar is net te veel vroue in leierskap in die Bybel, OT en NT, dat ‘n mens sou kon vra, hoe het die kerk dit deur die eeue gemis – Miriam, Debora, Gulda, Dorkas, Priscilla, Phoebe, Junia, Euodia, Sintige, te veel om op te noem!

Dieselfde geld apartheid. Dit was in al sy segregasionele gestaltes daarvan altyd bestry en die Bybelse begronding daarvan deur die meeste in die wêreldkerk as eensydig uitgewys. Soos ons kerk ook tot sy beskaming uiteindelik moes erken dat apartheid sonde was.

Dit is ook interessant dat die Christendom, soos ook die Jode en Islam, altyd konsensus gehad het oor homoseksualiteit, maar nooit oor slawerny, vroue en apartheid nie.

Daar is ook ander pogings in die literatuur wat probeer om die skuiwe in die interpretasie en hantering van egskeiding en hertrou en ander etiese sake as ‘n voorbeeld te gebruik om ‘n verandering in die houding van die kerk rondom homoseksualiteit aan te voer.

Dit is ook nie regtig paslik nie. Selfdegeslagverhoudings val eerstens in ‘n ander kategorie as egskeiding en hertrou. Maar, in die tweede plek kan ‘n verkeerde praktyk rondom egskeiding en hertrou nie die beginsels van die Skrif daaroor verander nie. Ons sal saamwoon, egskeiding, en hertrou met dieselfde etiese beginsels moet hanteer. Dit is ook met dié verstaan dat hierdie standpunt aan die sinode gestel word en van toepassing gemaak kan word op dié etiese vraagstukke.

3.1.6 Die gesag van die Geskrewe Woord van God

Voordat die Skrifgedeeltes in die Bybel aan die orde kom, moet ‘n mens eers oor die gesag van die geskrewe Woord van God konsensus hê. Vandaar dié gedeelte as raamwerk vir wat volg in die eksegese van die onderskeie tekste.

3.1.6.1 Ons lees die Bybel nie in isolasie van ander nie

Die kerk kan nooit die Bybel in isolasie van ander lesers lees nie. Nie net lees verskillende geloofsgemeenskappe die Bybel vanuit verskillende perspektiewe en daarom met verskillende resultate nie. Dit gebeur met alle gemeenskappe wat die Bybel lees, selfs al is die Bybel nie vir hulle die Woord van God nie en lees hulle dit nie vanuit ‘n geloofstandpunt nie. Ons sal dus nooit die Bybel kan lees in isolasie van ander lesers nie.

Hierdie lesers van die Bybel kom vanuit ‘n ryke verskeidenheid van kulture agtergronde, politieke affiliasies, filosofiese vertrekpunte, teologiese raamwerke en etiese waardestelsels. Dit sluit gelowiges en ongelowiges in, kerkmense en ateïste, joernaliste en politici, letterkundiges en wetenskaplikes. Hulle almal lees die Bybel op verskillende wyses en met verskillende perspektiewe daarop en neem almal ook op verskillende wyses deel aan die gesprek oor wat die Bybel se boodskap inhou.

Dit is dus geen wonder nie dat hierdie verskillende maniere van lees baie keer in direkte konflik met mekaar staan en van tyd tot tyd ‘n beduidende invloed wedersyds op mekaar kan uitoefen. Die invloed is soms van só ‘n kontensieuse aard dat ‘n spesifieke manier van lees nie net as vanselfsprekend aanvaar kan word, sonder om in gesprek te tree met mekaar om dié konflik te besleg nie. Trouens, van enigiemand wat die Bybel lees, of dit vanuit ‘n geloofstandpunt gedoen word of nie, kan met reg gevra word om hulle lees van die Bybel te motiveer en in gesprek te tree met ander lesers wat met ander vertrekpunte dieselfde teks lees.

Só ‘n verantwoording is noodsaaklik nie net omdat verskillende lesers verskillende vrae aan die teks vra nie, met die besliste moontlikheid van verskillende antwoorde uit dieselfde teks. ‘n Mens sou egter uiters naïef wees as ‘n mens in dié proses van die lees van die Bybel nie ook telkens ‘n moontlike magspel raaksien nie, want elke aanspraak op ‘n waarheid wat in die teks raakgesien word, het ook ‘n moontlike resultaat van ‘n uitoefening van daardie mag, die mag wat kom van ‘n spesifieke lees van die Bybel.

Dit kan iets so enkelvoudig wees soos die klem op die viering van die Sabbat op ‘n Saterdag, soos die Sewendedagadventiste die Bybel lees, wat in hulle konteks ‘n afdwingbare riglyn vir hulle geloofsgemeenskap word. Dit kan egter ook iets so kompleks wees soos die uitsluiting van gelowiges op grond van ras, soos die Bybel in die apartheidsera gelees is, of die uitsluiting van vroue van die predikantsamp, soos in sommige kerke selfs vandag nog gedoen word, op grond van ‘n spesifieke lees van die Bybel. En in terme van selfdegeslagverhoudings die insluiting van mense op grond van ‘n sekere lees van die Bybel.

Die gevaar van hierdie tipe konflik tussen verskillende lesers van die Bybel moet ‘n mens natuurlik egter nie afskrik om die teks van die Bybel te lees nie. Dit moet ‘n mens eintlik aanspoor om met nog meer moeite met die Bybel te bly worstel in terme van die eksegese en hermeneuse van die teks, en dit weer en weer en weer te doen. En in gesprek te bly met mense wat die teks op ander wyses lees, want só kom verskillende kante van die waarheid van die teks op die tafel en kan ‘n mens beter onderskei wat die gesag van die teks in ‘n spesifieke situasie is.

En dit is nie net die Bybelse eksegete wat met die eksegese en interpretasie van die Bybel moet worstel nie. Almal moet dit doen, dogmatici en praktiese teoloë, letterkundiges en wetenskaplikes, geleerdes en gewone gelowiges.

Daarmee saam moet lesers van die Bybel ook nie onbewus wees van die debatte wat in die samelewing woed oor sake van die dag nie. Die vrae wat vandag oor gender en seksualiteit gevra word en wat gegroei het uit die kulturele, politiese, filosofiese, en teologiese kontekste waarin ons leef, het ‘n beduidende invloed op ons lees van die Bybel. Dit het ‘n invloed op hoe ons dink oor identiteit en gedrag en die wyse waarop ons dink oor die wedersydse interaksie van ons aangebore kenmerke met die konteks van ons lewensomstandighede, veral as ons dit in verband probeer bring met ons lees van die Bybel.

Ons sal nie net eenvoudige verbande tussen die sake van die dag en die tekste in die Bybel kan lê sonder om ook die onderliggende vrae oor die gesag van die tekste in die Bybel te beantwoord nie. Dit is vrae soos:

* Hoe weet ons dat die Bybel gesag het in ‘n spesifieke situasie?

* Hoe kan ons verseker dat die Bybel in ‘n spesifieke situasie toepaslik geïnterpreteer word?

* Hoe kan die Bybel se gesag toegepas word in die kerk sowel as in die wêreld?

3.1.6.2 God oefen sy gesag uit deur die Bybel

Om die vraag na die Bybel se gesag in ‘n spesifieke situasie te beantwoord, is dit nodig om eers in die algemeen die vraag na die Bybel se gesag te beantwoord, veral in die mate wat dit verband hou met ander maniere waarop ons met God kan kennis maak in hierdie lewe, en hoe God sy gesag uitoefen deur die Bybel.

N. T. Wright (Scripture and the authority of God) maak hierdie belangrike sleutelopmerking oor Skrifgesag in ‘n Christelike konteks:

“the phrase ‘authority of scripture’ can only make Christian sense if it is a shorthand for ‘the authority of the triune God, exercised somehow through scripture’.”

3.1.6.3 Die Bybel se gesag lê in God opgesluit

Die eerste ding wat ons moet beklemtoon is dat die Bybel se gesag in God self opgesluit lê. Dit is die eerste ding wat ons van Skrifgesag moet weet. Die Bybel se gesag is vir Christene nie ‘n onafhanklike gesag wat in die teks daarvan op een of ander manier opgesluit lê nie. Die Bybel het net vir ons gesag omdat God daardeur gesag oor die lewe en die wêreld uitoefen. Die Bybel se gesag lê dus in God, nie in die teks as sodanig nie. Die Bybel se gesag lê daarom ook nie in die kerk nie, selfs al sou die kerk as betroubare uitleggers daarvan optree. Die Bybel het net gesag omdat God daardeur aan die woord kom deur sy Gees in ons lewe.

Dit is wat die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) in artikel 5 ook bely:

“Ons aanvaar al hierdie boeke, en hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is. Hulle het ook die bewys daarvan in hulleself, aangesien selfs die blindes kan tas dat die dinge wat daarin voorspel is, plaasvind.”

3.1.6.4 God kom aan die woord deur die Bybel

Dit beteken in die tweede plek nie dat die gesag van die Bybel daarmee gerelativeer word nie. Die gesag van die Bybel bo enige ander openbaring, van watter aard ook al, word verhoog juis omdat God daardeur aan die woord kom, soos NGB artikel 7 dit stel:

“Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4: 1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. 10).”

Die Bybel het dus ‘n primêre plek in die verwoording van God se gesag in ons lewe. Dit is die besondere openbaring van God. Die Bybel is die verkose kanaal vir God se handelinge in en deur ons lewe. Deur die Bybel bewerk God se wil vir ons en die lewe op só ‘n wyse dat sy koninkryk daardeur kan kom.

Nie dat God nie op ander maniere as deur die Bybel praat nie – die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld – soos NGB artikel 1 bely van die algemene openbaring. Maar die Bybel bly die primêre middel waardeur God ons aan Homself bekendstel:

“Ten tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel so veel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.”

Ek onderstreep hier “nog duideliker” en “meer volkome”. Dit wil sê die besondere openbaring is nie in stryd met die algemene openbaring nie, maar is wel duideliker en meer volkome.

3.1.6.5 Die Bybel is die geskrewe Woord van God

Ten derde moet ons verstaan dat die Bybel die konkrete skrifstelling is van “die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys” (1 Tes. 2:13). Die Bybel is die kanoniese nalatenskap van die mondelingse “waarheid, die evangelie wat aan julle verkondig is” (Kol. 1:5).

Soos dié mondelingse woord van Jesus en die apostels die geloofsgemeenskap van die NT tyd gevorm en gestuur het, só doen die geskrewe woord in die Bybel dit vandag nog. Die NT is na alles die storie van Jesus, wat as die vervulling van die OT verkondig word, soos in Jesus se lewe, dood, opstanding, hemelvaart gesien kon word, en wat daardeur die koninkryk van God ingelei het en met sy wederkoms die koninkryk in sy volle konsekwensies sal openbaar.

Elkeen van die evangelies van die NT verkondig dié waarheid aangaande die Here Jesus. Die Handelinge van Lukas verhaal die uitkringende impak van hierdie Jesus se voortgaande teenwoordigheid in die kerk ná Pinkster. Elkeen van die briewe van die NT bevestig dié waarheid aangaande die koninkryk wat in Hom naby gekom het en vir alle mense bedoel is. Ook die Openbaring aan Johannes bevestig die toekoms waarheen Jesus besig is om die hele wêreld te begelei aan die hand van die wêreldagenda wat Hy van God in die hemelse liturgie gekry het (Openb. 5), ‘n toekoms wat verlossing en oordeel sal insluit.

Die Bybel wat ons dus in ons hand hou, is die skriftelike konkretisering van God se Woord wat steeds die mag het om mense se gedagtes, harte en lewens te verander, want dit is die evangelie van Jesus Christus: “’n krag van God tot redding van elkeen wat glo” (Rom. 1:16). Dit is hierdie Woord wat ons aan mense moet bring sodat hulle kan hoor, in God kan glo en Hom kan gehoorsaam (Rom. 10:9-10).

3.1.6.6 God vestig sy koninkryk met die boodskap van die Bybel

Die gesag van die Bybel lê in die vierde plek in God wat sy koninkryk wil vestig met die boodskap van Jesus Christus en die verlossing wat Hy bring deur die krag van die Gees wat die geloofsgemeenskap as getuies van Jesus inspan (Hand. 1:8). God maak daardeur van die geloofsgemeenskap: “’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is” (Ef. 2:20).

En die Bybel speel hierin ‘n belangrike en beslissende rol. Elkeen van die skrywers van die NT het as gesagvolle leraars van die Woord van God opgetree en kon aanspraak maak daarop dat hulle woorde inderdaad die woorde van God was, woorde wat nagevolg en uitgevoer moes word. Trouens, hulle woorde was nie net oor God en sy koninkryk nie. Dit het inderdaad God aan die woord gebring in mense se lewens en sy koninkryk laat kom (1 Tes. 2:13).

Soos Paulus aan Titus skrywe: “Ek het die opdrag ontvang om die uitverkorenes van God te lei tot die geloof en tot kennis van die waarheid, dié waarheid wat lei tot die diens van God en wat hoop gee op die ewige lewe. God wat sy woord hou, het die ewige lewe lank gelede aan ons belowe. Nou het Hy op die bestemde tyd sy woord bekend gemaak deur die prediking wat as opdrag aan my toevertrou is deur God ons Verlosser.” (Tit. 1:1-3).

En dit is hierdie apostels se woorde – in prediking en publikasie – wat deur die kerk as gesagvol, en daarom kanoniek erken is en uiteindelik ingesluit is in die volle getal boeke van die Bybel.

3.1.6.7 Die verhouding tussen OT en NT

Ons moet onthou dat die enigste geskrewe Woord van God wat die eerste gelowiges gehad het, was die OT – die Joodse Tenak – in terme van die wet, profete, psalms en die wysheidsliteratuur. As Paulus skryf dat die hele Skrif deur God geïnspireer is en nuttig is vir onderrig, weerlegging, teregwysing, en opvoeding om God se wil te gehoorsaam, dan praat hy van die OT (2 Tim. 3:16).

Ons kan egter sien dat die verhouding tussen die OT en die NT een van kontinuïteit en diskontinuïteit is, veral in die manier waarop die NT skrywers die boodskap van die OT aan die een kant gehandhaaf het, sowel as aan die ander kant in ‘n nuwe konteks geplaas het aan die hand van die openbaring in Jesus Christus. Dit beteken dat die OT steeds vir die kerk in die eerste eeu die Woord van God gebly het, maar ook aangevul en uitgebrei is met die boodskap van die evangelies van Markus, Matteus, Lukas en Johannes, die onderskeie briewe van Paulus, die twee dissipels, Petrus en Johannes, die twee broers van Jesus, Jakobus en Judas, die skrywer-leier van die gemeente in Italië (moontlik Rome) wat Hebreërs geskrywe het, en uiteindelik die Openbaring van Johannes, die geliefde dissipel.

Die kontinuïteit word gesien in die eerste Christene se beklemtoning van die aarde as God se goeie skepping; van God se soewereine hantering van die probleem van die sonde en boosheid; van die verbond met Abraham wat steeds die raamwerk bly waarbinne God die hele mensdom met die versoening in Christus bereik; van die onontwykbare roeping tot heiligheid waarbinne ons egte en nuutgemaakte mense raak, teenoor die effek wat die wêreld van afgodery en onsedelikheid op mense gehad het, wat hulle menswaardigheid aangetas het, soos die Handelinge 15 “sinode” uitgespel het vir alle Christene. Die geloofsvormende belang van die Psalms (Kol. 3; Ef. 5) en die etiek van die Dekaloog (Matt. 5-7; Rom. 13; 1 Tim. 1) word ook steeds hoog aangeslaan in die NT. Die OT bly dus steeds die Woord van God.

Die diskontinuïteit lê veral in die Joodse reinheidswette wat nie langer as relevant gesien is in ‘n gemeenskap wat saamgestel is deur gelowiges uit die heidene en die Jode en waarin hulle as gelykwaardige vennote in die koninkryk gesien is (Mark. 7; Hand. 15; Gal. 2). Die middelmuur van skeiding tussen heidene en Jode is deur die Here Jesus Christus afgebreek en in die plek daarvan het Hy een nuwe mensheid geskep (Ef. 2). Die primêre plek van die tempel in Jerusalem het deurslaggewend geskuif na die huise van die gelowiges en hulle huiskerke waar die teenwoordigheid van die Here beleef kon word (vgl. die skuif in Lukas na Handelinge), en die hele offerkultus is vervang met die volkome versoening wat Jesus as Hoëpriester vir ons bewerk het (Hebreërs). In die nuwe Jerusalem, sê Johannes, sal daar nie meer ‘n tempel wees nie, want God self kom by sy mense bly (Openb. 21-22). Die sabbat en ander feeste was nie langer verpligtend nie (Rom. 14:5-6; Kol. 2) en die belofte van die Beloofde Land is uitgebrei dat dit nou die hele aarde insluit, trouens die hele skepping (Rom. 8; Openb. 19).

3.1.6.8 Die Bybel self word gebruik om te onderskei tussen verskillende interpretasies

Dit is duidelik uit die geskiedenis van die kerk dat alle uitdagings wat hermeneute aan die kerk se tradisionele verstaan van sleuteldogmas gestel het, op ‘n vars appèl op die Skrif self begrond was. Dit sien ons in die uitdaging van Marcion en die Gnostici waarin hulle gepoog het om aan te toon dat die kerk dit nog altyd só verstaan het, soos hulle dit interpreteer. Die aanspraak op wat die Skrif sê, was die kern van die hermeneutiek, al was die interpretasies uiteenlopend van aard. Alle teologie was gebaseer op Skrifverstaan en Skrifuitleg, die verklaring van die teks en die verstaan van wat die Skrif beteken. Die kerk was ‘n Skrifgetroue gemeenskap en het telkens hulleself georiënteer aan wat die Skrif sê. Die Skrif self is gebruik om te onderskei tussen interpretasies.

Die Hervormers se aandrang op sola scriptura was ‘n protes teen die heersende waninterpretasies van die Rooms-Katolieke kerk. Hulle oproep was, ad fontes, terug na die Bronne, want daarin sou ‘n mens die eens-en-vir-altyd versoenende dood van die Here Jesus beskrywe sien, nie die voortdurende versoeningsdood van die Roomse mis nie. Regverdiging kom deur die geloof alleen, nie deur die aflaatstelsel en die vagevuur nie. Die krag van God se woord lê nie in die pous nie, maar in die geskrewe Woord wat aan ons oorgelewer is.

Daarmee het hulle uiteraard nie gesê dat ‘n mens elke jota en tittel van die geskrewe Woord moet aanvaar om gered te word nie, maar wel duidelik gemaak dat daar niks anders as die Skrif is wat vir ons geloof en lewe nodig is nie. Die groot dinge wat in die Skrif geleer word, is inderdaad die dinge wat die weg van saligheid vorm en niemand in die kerk kan of mag enigiets daarby voeg of daarteen leer nie. Die Skrif is die norma normans non normata. Dit is die norm van die norme, wat self nie genormeer kan word nie.

3.1.6.9 Die rol van ervaring

Ons leef egter vandag in ‘n tyd wat wesenlik beïnvloed is deur die Verligting van die 17de eeu wat dié aandrang op sola scriptura wesenlik aangevat het, veral omdat die Verligting en sy eksponente in wese ‘n anti-Christelike beweging was. Baie denkers uit dié tyd het geneig tot ‘n ateïstiese en geslote wêreldbeeld. Dié wat wel bereid was om die bestaan van ‘n god te aanvaar, het geneig na ‘n tipe agnostiese teïsme of deïsme waarin die bestaan van ‘n afsydige veraf god aanvaar is, maar nie die persoonlike Trinitariese Godsbeeld van die Christelike geloof nie.

Die beoordeling van die gesag van die Bybel het dus geskuif na ‘n beoordeling vanuit die perspektief van die redelike mens. In plaas daarvan om die Bybel te lees om daarin God se Woord te hoor vir leer en lewe, is die Bybel self aan die vraagstelling van die rede onderwerp en is die gesag daarvan afhanklik gemaak van die perspektief van die leser.

Die afgelope paar dekades het hierdie lesersperspektief verder ontwikkel en is die gesag van die Bybel nie net aan die perspektief van die rede onderwerp nie, maar aan die perspektief van die ervaring. En omdat die konteks van die menslike ervaring so vloeibaar en verwarrend kan wees, bring só ‘n lees van die Bybel die gesag daarvan in ernstige gedrang. Waar die altyd veranderende konteks van die menslike ervaring die maatstaf word vir watter gesag die Bybel in ‘n mens se lewe kan speel of juis nie kan speel nie, kan die Bybel nie meer as God se stem by iemand aankom nie. Want waar ons ervarings ‘n gesagsbron word, beweeg ons op dryfsand. Jeremia het reeds al gekla daaroor dat die hart van die mens bedriegliker is as enigiets anders: “hy is ongeneeslik; wie kan hom verstaan?” (Jer. 17:9). En die hart van die mens is vandag nog net so bedrieglik as in sy tyd.

Soos N. T. Wright sê: “If ‘experience’ is itself a source of authority, we can no longer be addressed by a word which comes from beyond ourselves.”

Die ervaring van mense is weliswaar ‘n noodsaaklike konteks waarbinne ons luister na die Skrif. Ervaring is die noodsaaklike subjektiewe pool van alle kennis. Dit is die plek vanwaar ons God se Woord hoor, sy liefde leer ken, en sy wysheid kan begryp. Dit is lewensnoodsaaklik dat ons die krag en liefde van God in ons eie lewens beleef.

Maar, omdat ons só maklik dié boodskap van God verkeerd kan verklaar of verstaan, so maklik in afgodery kan verval, waar ons eie gedagtes en gedrag ons van God se pad af laat afdwaal, móét die Skrif self die gesag bly behou in ons lewe as die objektiewe pool van interpretasie. Ons ervaring moet altyd weer getoets word aan die Skrif. Die Skrif bly die instrument waardeur God sy verlossende gesag in ons gemeenskappe en individuele lewens uitoefen.

3.1.6.10 ‘n Mens kan dus onderskei tussen voorkeur interpretasies

‘n Mens kan dus onderskei tussen interpretasies wat ‘n voorkeur geniet bo ander interpretasies van die Skrif. Alle interpretasies dra nie dieselfde gewig nie. ‘n Ordentlike grammaties-historiese lees van die Bybel met alle moontlike hulpmiddels bly die gepaste manier om agter te kom wat die skrywers van die Bybel inderdaad bedoel het om te sê. Dit is moontlik om te sê, op grond van goeie navorsing, dat sommige interpretasies van die Bybel beter is as ander interpretasies.

Die geldigheid van ons eie interpretasies lê ingebed in die aantoonbare verband met die Skrif self, al dan nie. Ons eie interpretasies kan en moet aan die bron self, die Skrif, getoets word, om vas te stel of dit beter of swakker is as ander, veral natuurlik ook die tradisionele interpretasie van die geloofsgemeenskap oor die eeue. Waar dit verskil, moet ons baie seker maak dat die nuwere interpretasie beter pas by wat die Skrif self sê, as wat die kerk deur die eeue van ‘n spesifieke gedeelte gesê het.

Ons moet dus sorgvuldig luister na wat die kerk deur die eeue oor ‘n bepaalde Skrifgedeelte gesê het. Ons mag krities daarna luister, uitwys waar daar beter interpretasies moontlik is, maar ons nuwere interpretasie moet duidelik beter wees, voor die kerk dit as die voorkeur interpretasie kan kies.

Daarmee wy ons ons toe aan ‘n totale kontekstuele lees van die Skrif. Elke woord moet gelees word in die konteks van sy vers, elke vers in die konteks van sy hoofstuk, elke hoofstuk in die konteks van sy eie boek, en elke boek in sy eie historiese, kulturele en kanoniese konteks. Alleen só kan ons die teks verantwoord verklaar en verstaan en die gesag daarvan vir ons lewens aanvaar en omhels.

3.2 Wat sê die Bybel oor selfdegeslagverhoudings?

Die standpunte oor die oorsake van homoseksuele gedrag, soos vroeër genoem, is dus net een aspek van die gesprek in die kerk. Die belangrikste aspek of ten minste normatiewe pool van die gesprek, is hoe ons Bybels-teologies daaroor moet oordeel vanuit ‘n regte verstaan van Skrifgesag.

Wat sê die Bybel dus oor homoseksualiteit en selfdegeslagverhoudings? Wel, die kort antwoord is waarskynlik dat die Bybel min daaroor sê.

Die langer antwoord is dat die Bybel baie sê oor ‘n positiewe heteroseksuele antropologie wat onder andere in huwelike en ouerskap uitgeleef word. Anders moet mense selibaat bly, soos ook ons belydenisskrifte getuig. Om selibaat te leef, d.w.s. om nie te trou nie, is ‘n spesifieke NT ontwikkeling soos ons sien in die uitsprake van Jesus en Paulus, want die OT het nie só oor die huwelik en menswees gedink nie. Hoe dit ook al sy, dit is duidelik dat die Bybel in sy keuse vir ‘n heteroseksuele antropologie konsekwent negatief is oor selfdegeslagverhoudings, of jy getroud is of nie. Daar is geen uitsonderings nie.

Ons moet ook onthou dat die Bybel geestelike uitsprake maak oor verhoudings, nie net algemene moreel-etiese uitsprake en natuurlik ook nie wetenskaplike uitsprake daaroor nie. Dit gaan oor die openbaring van God in die Skrif wat ‘n normatiewe invloed in gelowiges se lewe uitoefen, al dan nie. Die Skrif is die norma normata non normata – “die norm van die norme wat self nie genormeer kan word nie.”

Die fundamentele vraag wat voorstanders van selfdegeslag seksuele gedrag moet beantwoord, en daarmee word nie enige negatiwiteit bedoel nie, is hoekom moet selfdegeslag seks anders beoordeel word as owerspel, prostitusie, bloedskande en bestialiteit?  Want owerspel, prostitusie, bloedskande en bestialiteit word deur dieselfde gedeeltes in die Bybel afgekeur waarin selfdegeslag seksuele gedrag ook afgekeur word (Lev. 18-20; Rom. 1; 1 Kor. 5-7; 1 Tim. 1; Gal. 5; Kol. 3; Ef. 4-5).  Die beginsel regdeur die Bybel is dat God seks vir die huwelik tussen ’n man en ’n vrou bedoel het, en dat enige verhoudings wat dít in gevaar stel, nie sy goedkeuring wegdra nie.

Telkens wanneer gelowiges in die OT en NT van hierdie reël afgewyk het, het die profete en uiteindelik Jesus en die apostels die gelowiges terug gebring na die wil van God wat reeds in Genesis 2 neergelê is vir die verhouding tussen een man en een vrou (Gen. 2:24; Spr. 5:15,18; Mal. 2:14-15; Matt. 19:4-6; 1 Kor. 7:2).  Die huwelik moet deur almal in eer gehou word (1 Tess. 4:1-8; Hebr. 13:4). Hierin het leiers ’n selfs groter verantwoordelikheid as lidmate (1 Tim. 3:2,12; Tit. 1:6).

3.2.1 Die Bybel verwoord net ‘n heteroseksuele geslagtelike antropologie

Die vraag wat die kerk vra, is dus nie in die eerste plek of die wetenskaplike beoordeling van selfdegeslag seksuele aangetrokkenheid en/of gender oriëntering reg of verkeerd is nie. Die vraag is of selfdegeslagverhoudings Bybels verantwoord kan word of nie. Dieselfde in terme van ons Gereformeerde teologie. Pas ‘n selfdegeslag verhouding in die Bybelse teologiese visie op verhoudings in, of nie?

Ons moet hierdie vraag na homoseksuele verbintenisse se aanvaarding al dan nie dus Bybels-teologies deurdink.

En laat ek dit kortom stel:

Hoe ‘n mens ook al probeer om dié Bybelse perspektief op selfdegeslag seksuele aktiwiteit sagter te probeer stel, dit is deurgaans negatief. Selfdegeslagverhoudings kan nie uit die Bybel regverdig word nie.

Die Bybel se heteroseksuele geslagtelike antropologie begin reeds in Genesis. Genesis 1 sê dat mans EN vrouens in hulle geslagtelikheid beelddraers van God is nie, ‘n wonderlike korreksie op die heersende antropologie van die omringende nasies van daardie tyd. Dit is ook dat hulle SAAM, as mans en vroue, die beeld van God verteenwoordig. Daar is ‘n komplementariteit en binêre karakter in hulle geslagtelikheid opgesluit (NT Wright).

Die mens word in Genesis 2 die opdrag gegee om die aarde te bewoon, bewerk en bewaar, en spesifiek om dit as maats vir mekaar te doen, as gelyke vennote, heteroseksuele vennote. Dit is die prentjie wat ‘n mens kry in die boek wat handel oor hoe alles begin het. En dit is die prentjie wat regdeur die Bybel gehandhaaf word.

Daarom is daar net ‘n paar gedeeltes in die Bybel wat oor selfdegeslag seks handel. Selfdegeslag seksualiteit is van mindere belang in die geheel van die Bybelse boodskap. Maar, elkeen van die gedeeltes wat daaroor handel, is negatief daaroor. “The few biblical texts that do address the topic of homosexual behavior, however, are unambiguosly and unremittingly negative in their judgment.” (Hays).

Dit is dus glashelder dat die Bybel kies vir ‘n heteroseksuele geslagtelike antropologie. Selfs iemand soos William Loader – wat positief is oor selfdegeslagverhoudings vandag – sê dat ons mekaar nie moet mislei nie. Die Bybel is negatief oor selfdegeslag seksuele gedrag.

Loader verwys bv. na die boek van Dan Via en Robert Gagnon in 2003 (Homosexuality and the Bible: Two Views – luister ook gerus na Robert se uitstekende oorsig oor die onderwerp by https://www.youtube.com/watch?v=MqK9LkqAgw0&feature=youtu.be – dit is 23 min. lank en dek al die belangrikste argumente) wat by twee verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudings uitkom, maar saamstem dat die: “biblical texts that deal specifically with homosexual practice condemn it unconditionally.”

Hulle verskil dus nie oor wat die tekste in die Bybel oor selfdegeslag seksualiteit sê nie, maar oor hoe dit toegepas moet word vandag. In Calvyn se eksegetiese metodiek, hulle stem saam oor die grammaties-historiese simplex sensus betekenis, maar verskil oor die usus, die gebruik of toepassing daarvan.

3.2.1.1 Geslag versus gender

In ‘n sekere sin stem die grammaties-historiese simplex sensus betekenis van die tekste oor geslagtelikheid in die Bybel natuurlik ooreen met die biologiese wetmatigheid van die geslagtelikheid van die mens wat met die X en Y chromosome te make het wat van ons manlik en vroulik maak. Daar is weliswaar hoë uitsonderings, dubbelslagtige mense, maar die klein voorkoms daarvan bevestig eintlik net die wetmatigheid van die X en Y chromosoom geslagtelikheid van die mens.

Die punt is egter nie dat die Bybelse heteroseksuele geslagtelike antropologie uit die wetenskap afgelei word nie. Die punt is net dat die feitelikheid van manlikheid en vroulikheid deel is van die Bybelse beskrywing van die identiteit van menswees, soos ‘n mens dit onder andere in Genesis 1 sien waar van die mens as beeld van God gepraat word.

Die argument word egter telkemale op grond van Genesis 1 gevoer dat alle mense na die beeld van God geskape is, ongeag hulle seksuele oriëntasie. Daarom, indien jou gender homoseksueel is, en dít jou kern-oriëntasie is, is dit ‘n gawe van God en kan en mag jy dit uitleef. Trouens, dit sou “teen-natuurlik” wees om dan heteroseksueel te leef.

Die argument word verder geneem dat soos Genesis 2 God se passie beskryf om ‘n maat vir die mens te gee wat by hom pas, dieselfde vir homoseksuele mense gegee word (bv. soos Brownson argumenteer).

Dieselfde geld natuurlik die hele spektrum van gender seksualiteit, uitgedruk met die akroniem LBTGI – Lesbies, Bi-seksueel, Trans-seksueel, Gay, en Interseks. Soms word ‘n Q vir Queer ook bygevoeg. Facebook het ook nie op hom laat wag nie, en gee jou reeds ‘n keuse tussen 71 gender identiteite waarmee jy jou kan identifiseer. Daar word ook gesoek vir ‘n nuwe Engelse voornaamwoord wat “he” en “she” kan komplimenteer. Die huidige voorstel is “ze”.

Die probleem hiermee is dat die wyse waarop die mens in die Bybel as die beeld van God uitgespel word, nie ‘n neutrale beskrywing van geslagtelike seksualiteit op ‘n kontinuum is nie. Daar is ‘n duidelike binêre geslagtelike en komplementêre beskrywing van menswees: manlik en vroulik, nie ‘n duidelike gender beskrywing nie.

God het vir ons ons geslag gegee, en dit is onveranderbaar en heilig. Dieselfde geld nie van ons gender nie, want dit is vloeibaar en veranderbaar. Geslag is ‘n biologiese wetmatigheid. Gender is ‘n selfaanvaarde identiteit wat jy op grond van ander faktore aanneem.

Die prentjie van die mens as God se verteenwoordiger is dus ‘n tweegeslagtelike perspektief wat natuurlik in wese deur die werklikheid van die XY chromosome bevestig word. Behalwe vir die uitsonderings van mense wat bv. tweeslagtig gebore word, met kenmerke van albei geslagte, word alle mans en vroue as mans en vroue gebore. ‘n Mens moenie die uitsonderings só hanteer dat jy daaruit ‘n reël vir alle mense fabriseer nie. Dit is onvanpas.

In die ontwerp van die mens staan geslagtelikheid dus voorop, nie gender nie. ‘n Mens se liggaam se biologiese samestelling wys vir jou wie jy is. Geslag word deur gene en hormone bepaal en daar is net twee geslagte wat medies en biologies verifieerbaar, behalwe vir die 0,07 % mutasies wat anders is.

Gender daarenteen is ’n sosiale en kulturele konstruk wat nie met biologiese geslag verband hou nie en deur die mens self as ‘n persoonlike identiteit gekies word. Gender is ’n selfaanvaarde en – verklaarde identiteit. Daar is nie ’n mediese of wetenskaplike toets daarvoor nie, want gender is totaal subjektief.

Die hele gesprek oor seksuele oriëntasie is dus nie ’n geslagtelike gesprek nie, maar ’n gender gesprek. Om te identifiseer as “gay” is ’n selfaanvaarde identiteit en iets waaroor ’n mens ’n keuse het, ongeag jou biologiese geslag. Dit is waarom gender ook ‘n vloeibare konsep is wat duidelik deur die loop van ‘n persoon se lewe kan verander, soos talle studies al uitgewys het.

3.2.1.2 Geen geslagtelike onderskeid in die nuwe bedeling?

Soms word aan die hand van dieselfde lyn van argumentasie na Gal. 3:29 verwys waar Paulus die opmerking maak dat voor God daar geen geslagtelike onderskeid meer is van manlik en vroulik en dat almal gelykwaardig is voor Hom. Maar dié vers het volledig te make met ons gelyk- en menswaardigheid voor Hom en nie met die wyse waarop ons as mans of vroue teenoor mekaar leef nie. Dit maak ook geen gender uitsprake nie. Daarom gaan ek nie verder hierop in nie.

3.2.2 Die Bybel beskryf net heteroseksuele huwelike

As die Bybel werk met ‘n heteroseksuele antropologie, is dit geen wonder dat die Bybel kies vir heteroseksuele huwelike nie. Dat daar baie vorme van die huwelik was in beide OT en NT is eenvoudig so. Maar wat mense geneig is om te vergeet, is dat dit regdeur die hele Bybel waar is van AL hierdie vorme van die huwelik, dat dit heteroseksueel is.

‘n Sentrale argument teen selfdegeslagverhoudings is dus dat God die huwelik ingestel het as ruimte waarbinne ’n man en ’n vrou hul seksualiteit kan uitleef en dat die Bybel geen ander ruimte vir seksualiteit toelaat nie.

Die Ou Testament ken daarom ook geen ander norm vir die huwelik nie, maak nie saak watter vorm dit aangeneem het nie. Dié lyn loop reg deur na die Nuwe Testament toe. Jesus beroep hom bv. in ’n gesprek met die Fariseërs oor egskeiding op dié siening van die huwelik (Matt. 19). Paulus wyk ook nie hiervan af in sy briewe nie (1 Kor. 7).

Só skryf Paulus bv. in Kol. 3-4 en Ef. 5-6 in die huistafels dat die huwelik iets is wat tussen die twee geslagte plaasvind, tussen man en vrou. Mans trou nie met mans nie, en vrouens nie met vrouens nie, maak nie saak uit watter agtergrond of lewensituasie hulle deel van die geloofsgemeenskap geword het nie.

Die Bybelse visie op die huwelik is dus eenvoudig. Seksualiteit behoort binne die eng grense van die familie, op so ’n wyse dat die familie daardeur gedien word, dat seksuele vervulling in die veilige konteks van die familie kan gebeur, daar kinders gebore kan word, as die Here hulle daarmee seën en dat die huwelik nie deur enige ander verhouding bedreig word nie. Vandaar die negatiewe verbod op bloedskandelike verhoudings, en die positiewe gebod om ‘n leviraatshuwelik aan te gaan, en weereens die negatiewe verbod op owerspel en homoseksuele seksuele gedrag.

Dit is ook waarom die Bybel nie veel aandag wy aan die kwessie van selfdegeslagverhoudings nie, want dit is as uitgemaakte saak beskou. Die Bybel laat daarom nie agterdeure oop oor dié kwessie nie. As ’n mens ’n ander standpunt wil inneem, sal jy die Bybel moet los, ten minste oor hierdie saak, soos trouens al hoe meer gebeur onder teoloë wat positief oor selfdegeslagverhoudings is.

Maar dit is in stryd met die Bybel en met die interpretasie daarvan deur 19 en ‘n half eeue, trouens oor die afgelope drie millenia, as ‘n mens die ontstaan van die OT in ag neem. Die huisreëls van die vroeë Christelike kloosters het daarom homoseksuele praktyke uitdruklik verbied wat ‘n ander perspektief gee op John Boswell se idee dat dit wel toegelaat is.

NT Wright sê daaroor: “There are no surprises on this in the Bible. For Jews, homosexual behaviour wasn’t an issue, except as part of a larger whole to which Jesus refers in traditional biblical terms. For non-Jews, such as those addressed by Paul, it was an obvious issue, since every possible kind of sexual expression was well known in cities like Corinth and Rome (there is a popular belief just now that the ancients didn’t know about lifelong same-sex relationships, but this is easily refuted by the evidence both literary and archaeological). (Tom Wright on Homosexuality by http://thinktheology.co.uk/blog/article/tom_wright_on_homosexuality)

Die prentjie van die Bybel is duidelik: God het die mens manlik en vroulik gemaak om in ’n huwelik tussen een man en een vrou geluk as metgeselle vir mekaar te vind. Interafhanklikheid en eksklusiwiteit is belangrike waardes van hierdie liefdeseenheid. Dit verklaar ook hoekom monogamiteit uiteindelik geseëvier het in die teologiese begronding van die NT visie op die huwelik (Jesus en Paulus).

Terwyl perversiteit en promiskuïteit altyd regdeur sterk afgewys word, heteroseksueel en homoseksueel, word daar egter geen uitsprake gemaak oor ’n positiewe beoefening van selfdegeslag seks nie, selfs nie al sou hulle metgeselle in ’n liefdeseenheid wees nie.

3.2.3 Die Bybel beskryf net heteroseksuele ouerskap

Indien dit só is dat die Bybel heteroseksueel dink oor die huwelik, is dit vanselfsprekend dat die Bybel ook heteroseksueel dink oor ouerskap. Die voortbestaan van die mensheid is afhanklik van manlike en vroulike heteroseksuele geslagtelike komplementariteit (selfs in surrogaat moederskap en surrogaat selfdegeslag gesinne).

Elke kind het ‘n ma en pa nodig om te bestaan. Dit is hoe menswees gekonseptualiseer is, en dit is, Bybels gesproke, hoe dit in stand gehou word. Die nuwe bedeling in Christus het daaraan geen verandering gebring nie.

“The only couple capable of being a father and a mother of their own biological children is a man and a woman. Adoption only makes a person a surrogate father or mother at best. And if one person is the biological parent of the child, whereas his or her partner is not, then in fact one has deprived the child of either their birth mother or their birth father.” (Ben Witherington by http://www.patheos.com/blogs/bibleandculture/2015/08/12/on-further-review-why-gay-marriage-cant-be-christian-marriage/)

Dieselfde heteroseksuele geslagtelikheid geld dus wanneer ‘n mens vanuit die hoek van ouerskap dink oor selfdegeslagverhoudings. Kinders het ‘n pa en ‘n ma se insette nodig, want dit is hoe hulle in die wêreld gekom het, al is dit in ‘n proefbuis. Daarsonder is die ontwikkeling van ‘n gesonde selfbeeld en ‘n gesonde identiteit uitdagend. Dit beteken uiteraard nie dat dit onmoontlik is om só groot te word nie – daar is immers baie enkelouer gesinne – maar kinderontwikkeling baat by ‘n omgewing waar albei ouers – heteroseksueel – teenwoordig en betrokke is.

“Any relationship which involves two mothers (one of whom is not the real mother) or two fathers (one of whom is not the biological father) does not provide the modeling of what a husband and wife/mother and father relationship should look like under any sort of normal circumstances.” (Witherington)

3.2.4 Die Bybel beskryf selfdegeslag seksuele gedrag konsekwent negatief

Ons kom by die eksegeties-hermeneutiese hantering van wat die Bybel oor selfdegeslag seksuele gedrag te sê het, en die kort samevatting daarvan is, die Bybel skets selfdegeslag seksuele gedrag konsekwent negatief. Dit maak nie saak of dit tussen volwassenes met gelykwaardige instemming is en of dit gedwonge is nie. Dit maak nie saak of dit met geweld of sonder geweld gebeur nie. Dit maak nie saak of dit binne of buite ‘n verhouding gebeur nie. Dit maak nie saak of dit kulties of teen betaling gebeur het nie. Die OT en NT is negatief oor selfdegeslag seksuele verhoudings.

Die historiese navorsing wat gemik word daarop om aan te toon dat ons vandag oor iets anders praat as wat in die Bybel die geval was, en dat die Bybel eintlik uitbuiting verbied en nie uitlewing nie, is ‘n teruglees in die Bybelse wêreld in waarmee die tekste baie keer gedwing word om iets anders te sê as wat dit inderdaad sê.

Dié navorsing is slegs ‘n baie resente ontwikkeling, ingelei deur John Boswell en Robin Scroggs laat in die vorige eeu. Hulle navorsing word deur baie ander navorsers in twyfel getrek en selfs verwerp, waarvan William Loader ‘n belangrike een is, veral omdat Loader wel positief is oor selfdegeslag seksualiteit, maar eksplisiet nie sy standpunt grond op kontensieuse historiese argumentasie in ‘n Bybelse gewaad nie.

3.3 Uitleg en interpretasie van die Bybeltekste oor selfdegeslag seksuele gedrag

3.3.1 Die Bybel praat nie oor selfdegeslag oriëntasie nie, wel oor selfdegeslag seksuele gedrag

Die Bybel praat nêrens direk oor seksuele oriëntasie nie. Dit Bybel praat egter baie en baie direk oor seksuele gedrag. En dit is op dié vlak wat dit besonder opvallend is, soos hierbo aangetoon, dat heteroseksuele gedrag aanvaarbaar is, maar nie selfdegeslag seksuele gedrag nie. Selfdegeslag seksuele gedrag word kanonies konsekwent afgewys. Seksuele oriëntasie speel daarin geen rol nie.

Wanneer ons dus na enige van die tekste kyk wat selfdegeslag seksuele verkeer afkeur, bv. Levitikus, is dit duidelik dat die skrywers nie van homoseksualiteit as sodanig praat nie, wel van die selfdegeslag seksuele verkeer. Dit is ook duidelik dat alle selfdegeslag seksuele gedrag konsekwent afgewys word, of dit nou in ‘n kultiese of familie konteks gebeur, of dit met toestemming of daarsonder gebeur, of dit mans met mans is, of vroue met vroue. Dieselfde geld die verwysings in die NT.

3.3.2 Die Bybel beskryf selfdegeslag seksuele gedrag as onsedelik

Die brief waarmee Paulus die “sinodale” besluit van Jerusalem na die gemeentes regdeur die wêreld geneem het, het nie net die evangelie ingesluit dat alle gelowiges welkom is in die kerk nie – Jode sowel as heidene wat in Jesus Christus glo – maar ook dat daar twee lewensreëls is waaraan hulle almal hulle moes hou. Alle gelowiges moes hulle weerhou van (Hand. 15:20,29):

1) Betrokkenheid by afgodery wat bv. beteken het dat hulle afgodsoffers moes vermy, sowel as die heidense manier om diere te slag deurdat hulle hulleself weerhou: “van wat verwurg is, en van bloed.” D.w.s. diere moes volgens Gen. 9 en Lev. 17 se voorskrifte doodgemaak word – diere moes uitbloei met die slagtery – en al was die vleis self nie noodwendig taboe vir hulle nie, moes hulle enige sweem van goedkeuring van heidense praktyke probeer vermy (vgl. 1 Kor. 8 en Rom. 14:13-22);

2) Onsedelikheid (porneias) wat op verskillende maniere in die res van die NT uitgespel word en ‘n term is wat gebruik kan word vir seksuele losbandigheid in selfdefamilie (1 Kor. 5:1), heteroseksuele (1 Kor. 6:18; 1 Tes. 4:3; Kol. 3:5 ens.) en selfdegeslag (1 Kor. 6:9 – vgl. ook Judas 7) kontekste.

Die rede daarvoor was aan die een kant die belangrike goeie nuus dat almal welkom is in die geloofsgemeenskap op grond van die uitnodiging van God waarheen hulle nou in geloof teruggekeer het (Hand. 15:19).

Aan die ander kant was daar ook lewensreëls nodig, net ‘n minimum, omdat dit in elk geval bekend was vir die nasies uit die wydverspreide verkondiging van die wet van Moses. Die wet van Moses het immers sedert die vroegste geslagte in elke stad diegene wat hom verkondig en elke Sabbatdag word dit nog in die sinagoges voorgelees (Hand. 15:21).

* Dit was vreemd vir die Jode – hulle het immers baie meer verwag vanuit hulle getrouheid aan die wet. Hulle moes dus leer om na die Skrif te kyk deur die oë van die ander, om te luister na die Skrif deur die ore van die ander.

* En dit was vreemd vir die heidene – hulle het immers in ‘n kultuur gelewe waar min of meer geen etiese reëls gegeld het nie. Hulle moes ook leer om na die Skrif te kyk deur die oë van die ander, om te luister na die Skrif deur die ore van die ander.

Maar steeds, selfs al was dit vreemd vir die Jode, en nog vreemder miskien vir die gelowiges uit die Jode, is die wet van Moses deur die vroeë kerk op twee maniere steeds saam met die evangelie voorgehou – as lewensreëls, die voorloper van wat die Heidelbergse Kategismus later as die reël van dankbaarheid sou beskryf spesifiek ook in terme van die sewende gebod – in terme van afgodsdiens en onsedelikheid.

* Vir die gelowiges uit die heidene was dit dinge waaraan hulle hulle nou moes hou, meer as waaraan hulle gewoond was.

* Vir gelowiges uit die Jode was dit soortgelyk dinge waaraan hulle hulle moes hou, maar minder as waaraan hulle gewoond was.

Oral waar dié boodskap – die goeie nuus en die lewensreëls – egter aan die gelowiges uit die heidene verkondig is, was almal bemoedig, sê Lukas. Trouens hulle was verheug oor die bemoediging (Hand. 15:30). Ons lees nie veel oor die gelowiges uit die Jode se reaksie nie, maar ‘n mens sou tog kon aanvaar dat hulle sou inval by dié reëling omdat dit die geloofsonderskeidende insig was wat hulle gesamentlik gekry het, hoewel daar uiteraard ook teenstand was van sommige soos ‘n mens later in Handelinge 21 en verder lees .

Paulus het ook besluit om in sy eie briewe telkens aan dié sake aandag te gee, aan die een kant om die genade van die geloof in Jesus Christus in sy volle konsekwensies bekend te maak, maar ook telkens aan die ander kant te skryf oor die problematiek van afgodery en onsedelikheid, saam met ‘n hele paar ander sake wat konsekwensies was van hulle geloof in Christus. Dié briewe was só gesagvol dat die kerk baie vroeg al kanoniese gesag aan hulle verleen het wat uiteindelik tot die kanon gelei het wat ons vandag in ons hand kan hou.

Dit is daarom ook van groot belang dat Jesus in sy brief aan Tiatira in Openbaring 2:18-29 die gemeente se gehoorsaamheid aan dieselfde twee lewensreëls meet, afgodery en onsedelikheid!

20Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. 21Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie.”

Jesus veroordeel die gemeente vir hulle laksheid aan die twee sake wat in Handelinge vir die hele kerk as riglyne gegee is en spel dit as volg uit:

22Kyk, Ek gee haar aan ’n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding—as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. 23Haar volgelinge sal Ek deur ’n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late.”

As agtergrond en begronding hiervan was dus die kerk se eie geloofsonderskeiding onder leiding van die Heilige Gees in Handelinge 15 aan die hand van die Skrifte! Die geloofsonderskeiding was nie uit die lug gegryp nie, maar gebaseer op die Skrifte. Die onderskeiding was ook nie van verbygaande aard nie. Jesus meet self die gemeente van Tiatira aan die geloofsonderskeidende besluit van Handelinge 15.

Hier volg nou ‘n hermeneuties-eksegetiese beoordeling van die verwysings na selfdegeslag seksuele gedrag in die OT en NT.

3.3.3 Genesis 19 – Losbandige en gewelddadige ongasvryheid

Die eerste verwysing in die Bybel na selfdegeslag seksuele gedrag is in Genesis 19. Dit is duidelik uit die verhaal dat die toorn van God wat gelei het tot die verwoesting van Sodom nie direk verband hou met die pogings tot gemeenskap tussen mense van dieselfde geslag nie. Hy het immers sy besluit al vroeër bekend gemaak aan Abraham (Gen. 18).

Dit is ook duidelik dat daar in die verhaal van Genesis 19 nie sprake is van homoseksualiteit as sodanig nie, dit is immers ‘n moderne gender begrip, maar eerder van ’n poging tot selfdegeslag verkragting deur ‘n manlike (waarskynlik oorwegend heteroseksuele) deel van die bevolking van die stad Sodom.

Die feit dat ‘n deel van die manlike bevolking van die stad seksuele omgang met die twee engele wat by Lot aan huis was, wou hê, kan dus nie beskou word as die een enkele gruweldaad wat aanleiding gegee het tot die Here se besluit om die stad te vernietig nie. Die teks laat ons nie toe om dít te sê nie.

Die rede vir die stad se verwoesting lê onder andere ook in verskeie ander negatiewe beoordelings soos die res van die Bybel dit verwoord.

* Jesaja wyt dit aan die stad se sosiale onreg (Jes. 1:10-17).

* Esegiël wyt dit aan hulle hoogmoed en sorgelose materialisme waarin hulle geen deernis met armes gehad het nie (Eseg. 16:49-50).

* Jesus wyt dit aan hulle ongasvryheid (Luk. 10:10-13).

* Judas wyt dit aan hulle begeerte om omgang te hê met hemelse wesens, wat waarskynlik wel met selfdegeslag seksuele gedrag verbind kan word (vers 6).

* Petrus verwys weer in die algemeen na die sonde van Sodom as: “die losbandige lewenswyse van sedelose mense” (2 Pet. 2:7).

Maar, ‘n mens moet erken dat Genesis 19 tog heel duidelik negatief is oor die selfdegeslag aard van die gepoogde gewelddadige verkragting. Dit word geëggo in die tradisie hieroor by Philo en Josephus en die latere interpretasies van Genesis 19 deur die kerkvaders. Dat Genesis 19 dus negatief is oor die selfdegeslag aard van die seksuele gedrag staan vas, selfs al was daar ook ander oorwegings vir die oordeel oor Sodom en Gomorra.

3.3.4 Rigters 19 – Losbandige en gewelddadige verkragting

Bogenoemde standpunt oor Genesis 19 word bevestig deur die verwante verhaal in Rigters 19 waar ’n groep mans dit nie regkry om selfdegeslag seksuele verkeer met ’n manlike Leviet te hê nie en dan sy gasheer se byvrou op so erge wyse verkrag dat sy daarvan beswyk. ‘n Gruwelike verhaal!

Soos met Genesis 19 wys die verhaal ook eerder op die gruwelike skending van die oud-Oosterse gasvryheidsgebruike wat vereis het dat vreemdelinge met die uiterste gasvryheid ontvang moes word, iets wat ook weerklink in Jesus se beoordeling van Sodom, soos hierbo na verwys.

Dit is dus nie nodig om regtig veel meer hieroor te sê nie. Dit gaan hier nie soseer oor selfdegeslag seks in Rigters 19 nie, hoewel dit uiteraard ook nie positief daaroor is nie. Soos met Genesis 19 kan vorige eksegese in die verslae voor die sinode geraadpleeg word vir Rigters 19.

3.3.5 Levitikus 18:22 en 20:13 – Ongeoorloofde selfdegeslag seksuele gedrag

Levitikus 18:22 en 20:13 is twee sentrale tekste in die OT beskouing van selfdegeslag seksuele gedrag. Levitikus wys selfdegeslag seksuele gedrag af in veral nie-kultiese sekulêre familie kontekste. Dit vorm die agtergrond vir Paulus se beskouing oor arsenokoitai in sy briewe aan die Korintiërs en Timoteus. Levitikus praat van gewone mans (zâgâr) in ‘n konsensuele (d.w.s. met instemming) volwasse selfdegeslag seksuele verhouding. Nes selfdefamilieverhoudings word selfdegeslagverhoudings afgewys. Die eerste verbod is ‘n apodiktiese, d.w.s. ‘n “absolute” verbod, en die tweede ‘n kasuïstiese, d.w.s. ‘n “gevallestudie” verbod.

3.3.5.1 Levitikus binne die Pentateug

‘n Bietjie agtergrond. Levitikus fokus op verhoudings. Dis ‘n soort “godsdienstige handboek” vir die kultus en die persoonlike en sosiale lewe. Dit is opgebou uit twee hoofdele:

1) Die eerste deel is die Levitiese Kode, ‘n reeks opdragte van God uit die tabernakel aan Moses (vgl. die Hebreeuse titel van die boek: “ En Hy het geroep” ), en later ook aan Aaron. Dit handel veral oor offers, die priesterlike orde en rituele reinheid, met die verhaal van die oordeel oor twee van Aaron se seuns wat die erns van reinheid illustreer, en uiteindelik uitmond en afsluit met riglyne vir die Groot Versoeningsdag (hfst. 1-16) in.

2) Die tweede deel is die Heiligheid Kode, wat fokus op die volk se verhouding met God en met mekaar. Dit handel veral oor persoonlike en sosiale reinheid wat onder andere uitbrei oor seksuele verhoudings gefundeer in hulle verhouding met God en sluit af met riglyne vir die priesters, feeste, die sabbatsjaar en hersteljaar, verbondseëninge en –vervloekinge en ‘n bylae oor geloftes en tiendes (hfst. 17-27).

Hierdie fokus op reinheid en heiligheid het regdeur alles te make met verhoudinge, die verhouding met God en die verhoudings met mekaar.

Dit is binne dié konteks wat die riglyne oor seksuele verhoudings in hfst. 18 en 20 gegee word.

Waar daar in hfst. 11-16 aan rituele reinheid aandag gegee word, word daar in hierdie twee hoofstukke op verskillende maniere gekyk na die tipe seksuele verhoudings wat hulle persoonlike en sosiale reinheid in die daaglikse lewe in die gevaar kan stel, onder andere selfdefamilie- en selfdegeslagverhoudings.

3.3.5.2 Levitikus 18:22

Die verbod op sekere seksuele verhoudings sluit in Levitikus 18 verskillende dinge in. ‘n Mens sou dit in twee kategorieë kon opdeel. Aan die een kant gaan dit oor die verbod op bloedskande binne familieverband wat in groot detail uitgespel word (18:6-19). Aan die ander kant gaan dit oor verskillende ander ongeoorloofde verhoudings in die gemeenskap wat ontug, kinders gewy aan Molek, selfdegeslag seks en bestialiteit insluit (18:20-23).

Die teks lui in die OAV:

22Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.”

Wat belangrik is om hier in gedagte te hou, is dat Levitikus die doodgewone woord vir manlike persoon – zâgâr – gebruik en nie die woord vir ‘n manlike tempel prostituut – kadesj (of kelev) – soos in Deut. 23 nie. Die tipe selfdegeslag seks wat hier dus ter sprake is, is dié van ‘n manlike persoon met ‘n ander manlike persoon soos ‘n mens met ‘n vrou (‘isjâh) het.

Die seksuele verhouding word ook doodgewoon as ‘n volwasse en konsensuele seksuele verhouding beskryf, nie as iets soos pederastie (ouer man met ‘n jonger seun) of verkragting nie. Trouens: “Die verbod kom hier in die tipiese apodiktiese vorm voor, dit wil sê as ’n absolute verbod waarin daar nie verskillende gevalle of toestande ter oorweging aangebied word nie.” (Jonker, L. 2006. “Ou-Testamentiese tekste in die gesprek oor homoseksualiteit.” Scriptura 93). Dit word in die algemeen van toepassing gemaak op selfdegeslag seksuele gedrag.

Wat hierdie riglyne vir seksuele verhoudings in die gemeenskap dus sê, is dat enige tipe seksualiteit wat mense van buite die familiekonteks betrek, ongeoorloof is. Dit sluit mense van ander families in, “jou naaste se vrou”, sowel as gevalle waar kinders, dieselfde geslag of diere betrek word, onder andere waar dit op afgodediens dui. God se riglyne vir seksualiteit moet binne familieverband uitgelewe word. Enigiets buite dit is nie net ongeoorloof nie. Dit was eintlik per se afgodediens.

Die Israeliete mag dus nie dié tipe gebruike van die Egiptenaars en Kanaäniete navolg nie, maar moet gehoorsaam wees aan die Here. Hulle moet die familieverhoudings rein hou, en hulle moet die gemeenskapsverhoudings rein hou. Trouens geen seks buite die beskermende ruimte van die familie mag toegelaat word nie. Die sluit afgodediens, selfdegeslag seks en bestialiteit in.

Anders sal hulle reinheid as Godsvolk in gedrang kom in hulle verhouding met God en sal die land hulle ook uitspoeg soos dit met die Kanaäniete gebeur het, sê die Here.

Die verwysing na Molek in vers 21 word deur sommige met die vrugbaarheidskultus verbind, soos die geval ook in die Egiptiese kultus van Mendes was. Bestialiteit was deel daarvan en moontlik ook selfdegeslag seks en kleur moontlik die interpretasie van watter tipe selfdegeslag seks en bestialiteit bedoel word in Levitikus.

Maar, die interpretasies kan nie aanvaar word nie, omdat Molek in die OT eerder eksplisiet met kinderoffers geassosieer word (2 Kon. 23:10; Jer. 32:35), soos trouens ook in Lev. 20:2-5. Die seksuele interpretasie berus verder op die onsekere interpretasie dat Molek ook met die naam van die ander god Milkom in die OT genoem word (1 Kon. 11:5) en daarom met die godin Astarte, wat met die vrugbaarheidskultus geïndentifiseer kan word, verbind kan word (vgl. 1 Sam. 7:3-4; 12:10 waar sy met Baäl verbind word, en nie met Molek of Milkom nie). Dit is ook duidelik in Lev. 20 dat Molek net met kinderoffers verbind word, omdat in die nouer konteks daar geen verwysing na seksuele oortredings gemaak word nie. Die oortreding is weliswaar steeds kulties van aard – d.w.s. dit gebeur by ‘n heiligdom – maar dit is die afgodediens wat afgewys word, nie seksuele oortredings nie.

3.3.5.3 Levitikus 20:13

Levitikus 19 brei verder uit oor die gevaar van afgodediens wat in die “hele gemeente Israel” kan posvat as hulle nie aan die wet van die Here hou nie, veral met die aanvang daarvan uitgespel aan die hand van die riglyne van die Dekaloog. Interessant genoeg word hulle eers daaraan herinner dat hulle eerbied vir hulle ma’s en pa’s moet hê vóór die gebooie oor die sabbat en afgodsbeelde in spel gebring word (19:1-4). Daarna kom die riglyne vir offers, oeste, armes en vreemdelinge, ook weereens gekoppel aan die Dekaloog se riglyne oor diefstal en bedrog, aan die beurt. Ook die regspraak en sosiale verhoudinge word aangespreek, alles vanuit die hoek van die feit dat die “naaste” nie enige kwaad aangedoen mag word nie.

Die liefde vir die naaste (Lev. 19:18), wat deur Jesus as gelykwaardig aan die liefde vir God in die NT uitgelê is (Mark. 12:31; Matt. 22:39; Luk. 10:27), word duidelik beskrywe aan die hand van ‘n wye reeks aspekte:

* “Jy mag nie jou naaste (reac) uitbuit of hom beroof nie” (19:13),

* “Oordeel regverdig oor jou naaste (camît)” (19:15),

* “Jy mag nie jou medemens (reac) se lewe in gevaar stel nie”(19:16),

* “Jy mag nie haatdraend wees teenoor jou volksgenoot (cach) nie” (19:17),

* “Jy mag nie wraak neem of ‘n grief koester teenoor jou volksgenoot (benê amêga – kinders van jou volk) nie, jy moet jou naaste (reac) liefhê soos jouself.” (Lev. 19:18).

Die liefde vir die naaste vorm dus deel van ‘n hele reeks van ander etiese standaarde waaraan elkeen wat deel was van die volk van God hulle moes hou. Regverdigheid en billikheid is net so belangrik as die liefde vir jou naaste.

Dit is verder duidelik dat familiewees en die huwelik baie hoog aangeskryf word. Die voorskrifte oor seksuele verhoudings wat in hoofstuk 20 volg, word dus steeds gemaak vanuit die geweldige premie wat op families in die gemeenskap van Israel geplaas is.

Dit is belangrik vir ons interpretasie oor die konteks van selfdegeslag seksuele verhoudings om raak te sien dat die verbod op die wyding van kinders aan Molek in hoofstuk 20 apart gelys word van die seksuele oortredings. Dit is dus onwaarskynlik dat dit enigsins seksueel van aard is, of só hier bedoel word.

Dit beteken egter dat die verskillende seksuele oortredings in hoofstuk 20 nie soseer in ‘n kultiese konteks geplaas word nie, maar doodgewoon as deel van die gewone volks- en familielewe gelys word, d.w.s. nie-kulties. In die lig van hoofstuk 19 is dit hoe dit lyk as ons regverdig en billik teenoor ons naaste optree. Dit is hoe die liefde vir die naaste lyk.

Levitikus 20:10-21 spel dan die riglyne uit ten opsigte van seksuele verhoudings. Daar word begin met egbreuk binne die gemeenskap, “met die vrou van ‘n medeburger/naaste (reac)” (20:10), en vervolgens gekonsentreer op verskillende bloedskandelike verhoudings (20:11-12) waarna die verbod op selfdegeslag seksuele verhoudings gemeld word (20:13).

13En as ’n man met ’n manspersoon gemeenskap het soos ’n mens met ’n vrou het, het hulle altwee iets gruweliks gedoen.”

Dit word op sy beurt opgevolg deur nóg ‘n bloedskandelike verbod (20:14) waarna bestialiteit verbied word (20:15-16). Weereens word teruggekeer na bloedskandelike verhoudings (20:17) en seks tydens menstruasie (20:18), voordat nóg bloedskandelike verhoudings genoem word (20:19-21).

Regdeur is die fokus op die feit dat die grense binne familieverband nie oortree mag word nie, in die breë hier as bloedskande beskryf. Dit is ook belangrik om raak te sien dat die ander seksuele verhoudings – soos selfdegeslag seksuele dade en bestialiteit – hier in die konteks van familieverhoudinge en die liefde vir die naaste (reac) op die tafel geplaas word. Die selfdegeslag seksualiteit wat hier beskryf word, is dus nie kulties van aard nie.

Weereens word dié tipe seksuele verhoudings as ‘n gruwel in die oë van die Here uitgespel, omdat hulle nie met die regte onderskeiding optree van wat hulle in die oë van die Here onrein maak nie: “Julle moet heilig lewe, want Ek die Here is heilig.” (20:26). “Hierdie verbod word anders aangebied as die een in Levitikus 18:22. Hier is dit nie ’n apodiktiese verbod nie, maar as ’n geval te midde van ander soorte gedrag – dus in kasuïstiese formaat.” (Jonker, L. 2006. “Ou-Testamentiese tekste in die gesprek oor homoseksualiteit.” Scriptura 93).

Só het die Joodse Pseudo-Phocylides in verwysing na dié gedeelte geskryf: ‘Go not beyond natural sexual unions for illicit passion; unions between males are not pleasing even to beasts. And let women not mimic the sexual role of men at all’. Ook Philo eggo dit, soos ek vroeër aangehaal het, sowel as Josephus: “the law recognizes only sex between a man and his wife for procreation as legitimate.”

Levitikus se verbod is dus gemik op enige selfdegeslag seksuele verhouding, spesifiek uitgespel in terme van familiekontekste en as deel van die regte wyse van optrede teenoor die naaste, regverdig, billik en in liefde (hfst. 19).

Daar is geen sprake van enigiets in die konteks wat op kultiese prostitusie sou dui nie. Selfs die gebruik van die Hebreeuse woord tô’abâ (gruwel of taboe) daarmee saam is nie genoegsame aanduiding dat dit om ‘n kultiese onreinheid gaan nie.

Sommige beweer ten onregte dat die woord altyd gebruik word om kultiese oortredinge uit te wys in Levitikus. Dit is egter duidelik uit ‘n leksikografiese ontleding van die woord dat dit in Levitikus ook gebruik word as ‘n algemene aanduiding van ‘n oortreding van enige van God se voorskrifte en bepalings, nie net vir kultiese oortredings nie. Kyk bv. na die gebruik van die woord in Lev. 18:26 wat spesifiek terugverwys na die hele lysie van “eties-morele oortredings” sowel as “kultiese oortredings” in die voorafgaande verse. Dit sluit die gevalle in van bloedskande, en dinge wat nie kulties van aard is nie (vgl. ook Lev. 18:27,29). Die woord word ook op baie ander plekke in die OT eties-moreel gebruik (vgl. Deut. 25:16; Jer. 6:15; Eseg. 22:11 en 33:16 wat spesifiek na ongeoorloofde seksuele verhoudings verwys; Spr. 8:7; 16:12; 26:25).

Ek trek vervolgens ‘n paar gevolgtrekkings uit Levitikus 18-20 se perspektiewe op selfdegeslagverhoudings.

3.3.5.4 Levitikus se verbod is gerig aan mans in die algemeen

Soos reeds duidelik gemaak is, word die term zākār (man) in Lev. 18:22 en 20:13 bloot as ‘n aanduiding gebruik van die feit dat dit ‘n persoon uit die manlike geslag is. Dit gaan dus nie oor ‘n getroude man wat nie met ‘n ander getroude man ‘n seksuele verhouding mag aanknoop nie. Dit gaan oor mans in die algemeen. Vroue word nie hierby betrek nie, wel by bestialiteit.

Dit gaan wel nie spesifiek oor homoseksualiteit as oriëntasie nie, wat dit was waarskynlik onbekend, maar wel oor die seksuele gedrag tussen twee mans. “Weliswaar word seksuele omgang met ’n ander man konsekwent afgewys,” soos Johann Cook aantoon in sy navorsing ook in al die Griekse en Siriese vertalings wat van hierdie Hebreeuse tekste in Levitikus gemaak is, sowel as die interpretasies daarvan in bv. die Talmoed (“Homoseksualiteit: ’n Tekstuele Perspektief.” Scriptura 93 (2006), bl. 411-418).

3.3.5.5 Levitikus se verbod is nie net van toepassing op pederastie nie

Dit is verder duidelik dat beide persone in Levitikus 20 aangespreek word, wat beteken dat dié seks konsensueel en ongedwonge beskryf word, en nie op pederastie hoef te dui nie, hoewel dit sekerlik nie iets soos pederastie hoef uit te sluit nie, soos Philo tereg in sy interpretasie van die gedeelte wys nie. Maar, die konsensuele aard van die beskrywing moet ‘n mens versigtig maak om te gou en veral te eng net met ‘n pederastie interpretasie te werk (soos ‘n mens teen die uitleg van Robin Scrogg beswaar sou kon maak).

3.3.5.6 Levitikus se verbod is nie net van toepassing op insidentele gevalle nie

Sommige geleerdes wil in aansluiting hierby iets maak van die feit dat dit voorkom asof Levitikus 18 en 20 in hierdie verband van insidentele gevalle praat, nie van seks binne standvastige verhoudinge nie. Dit staan natuurlik in die teks nie, en is ‘n direkte voorbeeld van ‘n onvanpaste inlees in die teks.

Dit is onteenseglik só dat standvastige selfdegeslag verhouding binne die groter prentjie van die huwelik- en familiebeskouing heeltemal onaanvaarbaar in Joodse geledere sou wees, d.ws. as die selfdegeslag seksuele gedrag ‘n meer permanente karakter tussen twee persone sou aanneem. Die hoeveelheid selfdegeslag seksuele dade was nooit die kwessie nie, net die dade as sodanig, of dit min kere gebeur het of baie kere. Dit was altyd en in alle gevalle onaanvaarbaar.

3.3.5.7 Oor die doodstraf

Waar ons perspektief oor die OT hantering van selfdegeslagverhoudings uiteraard in die eerste plek probeer het om dit in eie konteks te beoordeel, wil ek tog graag iets sê oor die beswaar wat baie keer téén die gebruik van die OT ingebring word. Omdat die doodstraf nie meer toegepas word nie, is die argument dat geen wet in die OT wat aan ‘n doodstraf gekoppel word meer van betekenis kan wees nie.

Dit is natuurlik van alle waarheid ontbloot. ‘n Mens moet Skrif hier met Skrif vergelyk om ‘n verantwoorde interpretasie te kry. Waar Jesus gekonfronteer word met ‘n vrou wat in owerspel betrap is, bevestig hy die feit dat dit sonde is deur die vrou opdrag te gee om nie meer te sondig nie, terwyl hy die toepassing van die doodstraf afwys (Joh. 8). Dieselfde geld sy hantering van Saggeus en Matteus – die twee tollenaars wat hy intrek in sy genade – en vele ander wette, soos die wette rondom die sabbat.

Daarom is die doodstraf nie meer van toepassing nie, hoewel die etiese en morele inhoud van die wet wel steeds van krag bly.

3.3.5.8 Oor materiale

Dieselfde geld die afskiet van die Levitiese riglyne oor seksuele verhoudings deur te verwys na ander wette oor die plant van sade en die meng van verskillende materiale wat ons vandag nie meer toepas nie. Dit is ‘n oningeligte benadering wat nie veel kommentaar benodig nie, behalwe om te sê dat dit onkundig is. Vgl. as illustrasie net die verbod op die meng van verskillende materiale in Lev. 19:19 met Eks. 26:1 waar linne en wol wel saam gebruik is in die samestelling van die tabernakel.

Die simboliek daarvan is dat dinge wat in die heiligdom geld, nie net so in die publieke terrein gebruik moet word nie. Dit is bedoel om afgesonder te word slegs vir liturgiese en godsdienstige gebruik. Levitikus se verbod op kledingstukke van verskillende materiaal is dus nie ‘n absolute verbod nie, net ‘n verbod vir gewone gebruik.

3.3.5.9 Oor Levitikus in die NT

Weens die toenemende neiging om die uitsprake in Levitikus as van minder belang of selfs as van geen belang in terme van die status van selfdegeslagverhoudings te beskou, herinner ek alle deelnemers aan die volgende sewe betekenisvolle gebruike van Levitikus in die Nuwe Testament. Levitikus was immers deel van die Bybel wat die NT gelowiges gebruik het, in die vorm van die LXX, die Griekse vertaling van die OT:

1. Die inligting oor die offerkultus in Levitikus is onontbeerlik om die plaasvervangende sterwe van Jesus Christus aan die kruis van Golgota te kan verstaan. Die perspektief wat dit gee op sonde en versoening is noodsaaklik om die behoefte aan en betekenis van Jesus se soendood te kan verstaan. Kyk bv. na Romeine 3:21-28.

2. Volgens die NT is Jesus die hoëpriester by uitnemendheid. So spel die skrywer van die Hebreërbrief dit uit in sewe hoofstukke: 3-5 en 7-10. Levitikus gee daarvoor ’n noodsaaklike onderbou.

3. In die verlengde hiervan word elke gelowige in ’n priesterlike rol geteken, beide in dié bedeling (1 Pet. 2:9) as in die toekomstige (Openb. 20:6). Levitikus gee ’n noodsaaklike onderbou vir ons verstaan van wat dit alles behels, veral die opdrag om heilig te lewe in alle verhoudinge.

4. Die riglyne wat Levitikus gee vir die geloofsgemeenskap om te verstaan hoe hulle God kan en behoort te nader en aanbid, is eweneens ’n belangrike onderbou van ons verstaan van die hemelse heiligdom binne die konteks van die Nuwe Verbond, soos Hebreërs dit duidelik maak.

5. Die oproep in Levitikus om heilig te wees soos God heilig is, word eweneens helder verwoord en toegepas in die NT. ’n Mens sien dit by Jesus in die Bergrede (Matt. 5:48), by Petrus in sy eerste brief (1 Pet. 1:15-17), trouens dit is die onderbou van sy hele brief, en in die gereelde beskrywing van gelowiges as “heiliges” (kyk in die Grieks in Hand. 9:13, 32; Rom. 8:27; 12:13; Ef. 2:19). Jesus het wel weggedoen met die wette oor rituele reinheid (Mark. 7:14-23; Matt. 15:10-20), maar daardeur eintlik nog ’n groter appèl gemaak op gelowiges om heilig te lewe in alles wat hulle doen, vanuit ’n hart wat rein is.

6. Gelowiges moet dus steeds in alle verhoudinge heilig optree. Die beginsels wat Levitikus vir ons daaroor leer, bly steeds van krag – in terme van sonde, afgodery, ongeoorloofde seksuele verhoudings, moord, en towery. Paulus gebruik die Levitikus konsepte van rein/onrein om moraliteit in die nuwe bedeling te beskrywe. Hy gebruik veral die woord akatharsia – onreinheid – om die tipe onsedelikheid wat gelowiges moet vermy, te beskrywe: Rom. 1:24-25; 6:19; 2 Kor. 7:1; 12:21; Ef. 4:17-19; 5:3,5; 1 Tess. 4:7. Ook Johannes skryf daaroor: 1 Joh. 1:7,9. Hierdie reiningsproses gebeur deur die woorde van Jesus (Joh. 15:3; Ef. 5:26). Die doel vir elke gelowiges is om ’n rein hart voor God te hê (Matt. 5:8; 1 Tim. 1:5; 2 Tim. 2:22).

7. Die beskrywing van die Heilige Gees in die NT steun ook swaar op die onderbou wat Levitikus gee. In 2 Korintiërs 6 word elke gelowige, en in Efesiërs 2 die hele geloofsgemeenskap, beskrywe as ’n tempel van die Heilige Gees. In Korinte word die inwonende Gees gebruik as motivering waarom enige seksuele losbandigheid vermy moet word. In Efesiërs word die eenheid wat die Gees gee gebruik as motivering vir die kerk om die onderlinge band te koester sodat ons saam ’n heilige tempel vir die Here kan wees. Daarom moedig Paulus die gelowiges in Tessalonika aan om nie die Heilige Gees te weerstaan nie en alles te toets, te behou wat goed is, en weg te bly van alles wat sleg is (1 Tess. 5:19). Hy moedig die gelowiges in Efese aan om onsedelikheid, onreinheid en gierigheid te vermy, omdat dit die Heilige Gees bedroef (Ef. 4-5). Die oproep aan die Romeine om hulleself as ’n heilige offer aan God te gee, word gebaseer op die heilige verhoudingslewe waarvan Levitikus 18 skrywe (Rom. 12:1-2). En daar is meer!

Die OT – en baie spesifiek ook Levitikus – is steeds die Woord van God. Daarsonder kan jy die sleutel uitsprake wat die NT maak oor Jesus, die Heilige Gees, en die geloofsgemeenskap se lewe in hierdie wêreld nie na behore verstaan nie.

3.3.6 Deuteronomium 23:17-18 – Kultiese- en sekulêre prostitusie

Deuteronomium 23 het ‘n verbod op iets wat waarskynlik in vers 17 op kultiese prostitusie (kedesjâh [vrou] en kadesj [man]) dui en in vers 18 op gewone nie-kultiese prostitusie (zônâh [vrou] en kelev [=hond, in verwysing na ‘n man]).

Dit wil voorkom asof dit in die geval van die mans op selfdegeslag seksuele gedrag dui, wat hier vertaal word as skandseun en hond, weens die terme kadesj en kelev (hond in figuurlike sin) wat hier gebruik word. Kadesj dui in die konteks waarskynlik op priesters wat vir kultiese selfdegeslag seks beskikbaar was, nie noodwendig teen betaling nie en kelev op ander doodgewone manlike prostitute teen betaling (nie-kultiese prostitusie).

Die vertaling lui as volg in die OAV:

17Daar mag geen hoer uit die dogters van Israel wees nie; en daar mag geen skandseun uit die seuns van Israel wees nie.

18Jy mag geen hoereloon of hondeprys in die huis van die Here jou God as enige gelofte-offer bring nie; want dié altwee is vir die Here jou God ’n gruwel.”

Dit is dus duidelik dat dié tipe selfdegeslagverhoudings ‘n meer kultiese en prostitusie karakter gehad het as wat Levitikus beskryf. Dit versterk die argument dat die beskrywing van selfdegeslagverhoudings in Levitikus nie kulties of as ‘n beskrywing van seks teen betaling bedoel was nie, maar doodgewoon op gewone selfdegeslagverhoudings gedui het, soos inderdaad die geval was met die ander groot afwysing van selfdefamilieverhoudings in Levitikus.

Die beskrywing van ‘n selfdegeslag manlike prostituut met die term hond (Hebreeus kelev = Griekse kunes) lê waarskynlik agter Johannes se beskrywing in sy Openbaring waarin hy ook van die onsedelikes (pornoi) praat: “Die honde (kunes) bly buite, ook die towenaars en die onsedelikes (pornoi), die moordenaars en die afgodedienaars en ook elkeen wat die leuen liefhet en beoefen.” (Openb. 22:15).

3.3.7 Markus 10:1-12; Matteus 19:1-9 – Lojale dissipels is lojale lewensmaats

Dit is welbekend dat Jesus nie Homself duidelik uitlaat oor selfdegeslagverhoudings nie. Dit is egter wel duidelik dat alles wat Hy oor seksualiteit gesê het binne ‘n heteroseksuele huweliksverband bedoel is, ook waar hy van eunugs praat, mense wat onbekwaam is om te trou. Daarby is dit duidelik dat die tipe lojaliteit wat daar binne huweliksverband gehandhaaf moet word, vergelyk word met dieselfde tipe lojaliteit wat sy dissipels aan Hom verskuldig is.

Daarby was Jesus duidelik daaroor dat onreinheid nie meer bestaan in oortredinge van ‘n uiterlike aard nie, maar in dié dinge wat uit die hart van die mens kom. Daarin word owerspel (μοιχειαι – buite-egtelike seksuele gedrag) en onkuisheid (πορνεία – ”to engage in sexual immorality of any kind” – Louw/Nida) spesifiek uitgelig:

18Maar wat by die mond uitkom, kom uit die hart, en dit is die dinge wat die mense onrein maak. 19Uit die hart kom slegte gedagtes: moord, owerspel, onkuisheid, diefstal, vals getuienis, kwaadpratery. 20Dit is die dinge wat ’n mens onrein maak, maar om met ongewaste hande te eet, maak ’n mens nie onrein nie.” (Matt. 15:18-20; vgl. Mark. 7:14-23).

Jesus word egter twee keer direk aangehaal oor die huwelik en verwante sake. Hy bring baie spesifiek die Skeppingsverhaal Genesis 1-2 in spel in sy lering oor verhoudings. Ek gee vervolgens daaraan aandag.

3.3.7.1 Markus 10:1-12

Jesus is in Markus 10 besig met sy lering oor die gevaar van afvalligheid. Jesus roep sy mense op om soos sout te wees, lewe te gee in die wêreld, en met mekaar in vrede te lewe.

Dit is in dié konteks wat Jesus hulle leer oor ‘n verdere gevaar, die gevaar van egskeiding, waar hulle lojaliteit aan mekaar in gedrang kan kom.  Jesus verwys eers na hulle brondokument, Moses se wet in Deut. 24, en verklaar Moses se toegewing rondom ‘n egskeidingsbrief as iets wat God toegelaat het weens die hardheid van hulle harte.  Eintlik het Moses se reëling die vrou beskerm sodat daar nie vanweë allerlei onbelangrike sake tot egskeiding oorgegaan kon word  nie.

Dan vestig Jesus hulle aandag op die skeppingsverhaal waarin dit duidelik is dat die reël vir almal geld dat wie God saamgevoeg het, nie deur ‘n mens geskei mag word nie met verwysing na Gen. 1:27 en 2:24.  Jesus verklaar die kwessie oor egskeiding hiermee as ‘n geestelike saak, en nie net ‘n wetlike soos die Jode daarmee gehandel het nie.  Waar die soeklig in sy vorige uitspraak oor lyding geval het op getrouheid in die vuur van beproewing, val die soeklig hier op lojaliteit in die smeltkroes van die huwelik.  Vrouens mag nie soos ‘n besitting gereken word, wat jy met ‘n transaksie in of uit jou lewe kon reël nie, maar as ‘n lewensmaat.

In opvolg hiervan is daar dan weereens ‘n private gesprek van die dissipels met Jesus in die huis waarin hy nie net egbreuk deur mans  afkeur nie, maar ook egbreuk wat deur vrouens gepleeg word.  Dit was immers in Joodse geledere die geval dat normaalweg net die mans van hulle vrouens kon skei en baie min andersom, hoewel die Grieke en Romeine ander reëlings gehad het.  Maar, omdat dit bekend was dat Herodias, anders as die Joodse gebruik, van haar man geskei het, sluit Jesus vroue ook nou in sy egskeidingsreëling in.

Hierdie kompromielose siening van Jesus moet gesien word in die lig van:

* Die skeppingswil van God wat mense gemaak het om lewensmaats vir mekaar te wees, en

* Die hoë standaard wat Hy van sy dissipels verwag, om net so lojaal aan mekaar te wees in die huwelik as wat hulle aan God self is.

Daarin hoor mens alreeds die opsomming van die wet weerklink, om God en jou naaste soos jouself lief te hê, d.w.s. ook jou maat. Met hierdie uitspraak wys Jesus egter ook dat hy die huwelik as ‘n heteroseksuele gestalte van die verhouding tussen mense sien.

3.3.7.2 Matteus 19:1-9 (vgl. ook Matt. 5:31-32; Luk. 16:18)

In die uitspel van die koninkrykswaardes vir die huwelik, sluit Matteus by Markus 10 se uitsprake aan, maar spel wel ‘n ekstra gevolg van egskeiding uit. Iemand wat met ‘n geskeide vrou trou, pleeg ook egbreuk.  Matteus bly dus by Markus se primêre lojaliteitsmotivering, maar brei dit uit deur te sê dat ook die vrou met wie ‘n man sou skei – behalwe waar sy owerspel gepleeg het – deur die man se aksies as egbreker gereken sal word. Uiteraard is die konteks steeds die heteroseksuele aard van die huweliksverhouding.

Wat in Matteus 19 egter bykom, anders as wat die ideaal in die OT was, is die verduideliking van ‘n lewe van selibaat wat ook ‘n legitieme uitlewing van seksualiteit vir Jesus was, iets wat in die Heidelbergse Kategismus vr. 108 opgevolg is en deur Ursinus as die enigste ander opsie as die huwelik uitgespel is. Daaroor sal ek later verder handel.

Jesus doen dit in antwoord op die dissipels wat teruggedeins het vir die radikale karakter van hierdie tipe huwelikstrou, en wat hulle laat wonder of ’n mens dan enigsins moet trou.  Die risiko van ’n ongelukkige huwelik kan uiteindelik net te groot wees.  Dan liewer glad nie trou nie.

Let op dat Jesus hulle nie direk antwoord op hulle beoordeling van die huweliksituasie nie, maar tog verder praat oor drie tipes eunugs, waarvan die eerste twee gevalle ‘n selibate lewe weens fisiese oorsake inhou, en die laaste ’n geestelike keuse vir selibaat – d.w.s. om nie te trou nie en hulle lewe te wy aan die koninkryk en die koms daarvan.

Daarmee help Jesus die dissipels om die radikaliteit van God se eis tot dissipelskap te verstaan.  Die eise van dissipelskap kan jou lei tot ’n lewe waarin jy slegs aan die koninkryk getrou wil bly en daarom nie kan of wil trou nie.  Indien ’n mens egter wel trou, sê Jesus, moet jy getrou bly aan jou lewensmaat.

Terloops, dit is duidelik dat dié manier van dink die agtergrond gevorm het van Paulus se motivering vir gelowiges om in sekere gevalle nie te trou nie en waaruit sy raad gespruit het aan ander om dieselfde te doen as hy (1 Kor. 7).

Regdeur is die onderliggende aanname egter dat daar van heteroseksualiteit gepraat word en nie van selfdegeslagverhoudings nie.

3.3.8 Romeine 1:18-32 – Oorgegee aan onsedelikheid, skandelike drange, en onbetaamlikheid

Romeine 1:18-32 is die hoofteks oor die saak volgens die meeste kommentators en verdien daarom ook die meeste aandag.

3.3.8.1 Die Grieks-Romeinse konteks waarbinne Paulus dié brief skrywe

Dit is duidelik uit die brief aan die Romeine dat die stryd rondom die inskakeling van Christene uit die heidense nasies nog hewig woed, hoewel hulle in die meerderheid was in die Romeinse huisgemeentes (vgl. 16:5,14,15). Die vraag is steeds krities: moet gelowiges uit die heidennasies die wet nakom of nie? Daarom verset Paulus hom steeds teen die klem wat sekere Joodse gelowiges plaas op die besnydenis (2:25-3:1; 4:9-12 – vgl. Gal. 5:2-12) en die voedsel wette (Rom. 14:1-23) – uiteraard, uit hulle perspektief, as ’n manier om hulle Joodse identiteit in die vreemde te bewaar, maar waarmee, uit Paulus se perspektief, hulle Christelike identiteit in gedrang kom. Dit sluit natuurlik ook die onderhouding van die Sabbat in, hoewel Paulus dit nie hier eksplisiet noem nie (vgl. egter Kol. 2:16).

Daarom skryf Paulus hierdie brief om die eenheid van alle gelowiges te beklemtoon, gebaseer op die krag van God, deur die geloof in Jesus Christus en die lewe deur die Gees. God spreek alle mense vry: “enkel en alleen omdat hulle glo” (Rom. 1:17) en nie omdat hulle die wet nakom nie – ’n boodskap wat regdeur die eeue gelowiges aangegryp het: die wonder van God se genade aan sondaars.

Maar dié gemeente is in Rome en die impak van die wêreld waarin hulle gelowiges moes wees, was steeds enorm. Keiser Nero was toe al 3 jaar aan die bewind in Rome en sou tot in 68 n.C. aan bewind bly. Dit was bekend dat Nero twee keer getroud was met mans in sy termyn, wat beteken dat dit nie net deel was van die manier van doen in die Romeinse samelewing nie, maar iets wat op die hoogste vlak gebeur het. Trouens, dit was nog meer bekend in die Griekse samelewing van dié tyd. Paulus sou dus met oogklappe moes gelewe het om nie daarvan te geweet het nie.

Paulus was waarskynlik ook bekend met die idees van die Griekse filosowe, soos duidelik uit sy taalgebruik en aanhalings blyk. Hy sou waarskynlik geweet het van Plato wat in sy Symposium die kulturele houdings van sy tyd teenoor homoseksualiteit vertolk in die woorde van Phaedrus dat elke soldaat in die weermag eintlik selfdegeslag minnaars vir mekaar moes wees.

Hy sou ook waarskynlik geweet het dat dit nie noodwendig Plato se absolute houding daaroor was nie, want op ander plekke skryf hy negatief daaroor, soos ook Aristoteles, wat veral oor die passiewe partner in homoseksuele gedrag negatief is. Maar dit is hoe Plato die houding van ‘n deel van die Ateense samelewing opsom en hy reageer nie negatief daarop nie.

Onthou ook dat Korinte in Griekeland is, die plek vanwaar Paulus skryf. Alles om maar net te sê, Paulus was goed bekend met die konteks van sy tyd. Daarom haal hy hulle digters aan (o.a Aratus, Epimenides, en Kleantes in Hand. 17), en praat hy met die Epikureërs en Stoïsyne.

3.3.8.2 Die Joodse konteks waarbinne Paulus dié brief skrywe

Dit is natuurlik ook nog net een deel van die konteks. Want, maak geen fout nie, Paulus het ook die OT en die Joodse konteks geken, hy was ‘n Jood sonder weerga. En dié wêreld is deur die wet van Moses in elke faset daarvan gestruktureer en bepaal: dieet, feeste, offers, seksualiteit, familie ensomeer. Dié wette is uitgebrei op ‘n verskeidenheid maniere deur die rabbi’s en Fariseërs en histories verklaar deur die Talmoed en die Mishna tot in die fynste voorskriftelike detail.

‘n Mens kan ‘n sterk saak uitmaak daarvoor dat sy “sondelysies” in die briewe aan Korinte en Timoteus ‘n uitleg van die wet is, in die vorm van die Tien Gebooie. Ook waar hy oor homoseksuele gedrag in dié lysies praat, is dit waarskynlik meer spesifiek gegrond op Levitikus 18 en 20 se verbod op seksuele gemeenskap tussen mans. Daaroor egter later in die briewe aan Korinte en Timoteus.

‘n Mens kan dus nie vir jou twee meer verskillende wêrelde voorstel as die Romeins-Griekse en die Joodse een nie. Waar die een wêreld onbeperkte seksualiteit beoefen het, was die ander gekenmerk deur baie eng seksuele beperkings.

Daarom dat Paulus soveel moeite doen om die evangelie van Jesus Christus as in wese nie net kontra-kultureel vir gelowiges uit die Romeins-Griekse wêreld te beskryf nie, maar ook kontra-geestelik. Die gelowiges wat uit dié agtergrond kom, moes op ‘n ander manier leer lewe. Hy wou nie hê, soos die kerk besluit het by die Handelinge 15 vergadering, dat hulle die seremoniële dele van die wet rondom dinge soos dieet, besnydenis en die sabbat nakom nie. Maar hulle lewens moes ‘n onberispelike sedelike peil illustreer uitgedruk in die liefdesgebod (Rom. 13) en die Handelinge 15 besluite (i.t.v. porneia).

Soos Paulus in hfst. 13 skryf:

12Die nag is byna verby; dit is amper dag. Laat ons dan ophou met die werke van die duisternis; laat ons die wapens van die lig opneem. 13Ons moet welvoeglik lewe soos dit in die daglig hoort. Daar moet geen drinkery en uitspattigheid, geen ontug en onsedelikheid, geen rusie en jaloesie wees nie. 14Nee, julle moet lewe soos volgelinge van die Here Jesus Christus en nie voortdurend daarop uit wees om julle sondige begeertes te bevredig nie.”

Die gevolge van ‘n lewe in ontug en onsedelikheid is te verskriklik om nie gelowiges ernstig daaroor te waarsku nie. Soos hy later aan die Efesiërs sou skryf (hfst. 5):

3Soos dit gelowiges betaam, moet daar van ontug, onsedelikheid in enige vorm, of gierigheid onder julle selfs geen sprake wees nie. 4Growwe, ligsinnige of vuil praatjies pas nie by julle nie; nee, dank aan God pas by julle. 5Dit moet julle goed besef: iemand wat ontug pleeg, onsedelik lewe of ’n gierigaard is—want gierigheid is afgodery—het nie deel aan die koninkryk van Christus en van God nie.” Jy kan die koninkryk mis!

3.3.8.3 Vertrekpunte in die lees van Romeine 1

1. Dit is belangrik om Romeine 1 in die lig van die res van die brief te lees.

Rom. 1-3 se hantering van onreinheid, losbandigheid, ontering van liggame, teen-natuurlike selfde geslag omgang, en onbetaamlike gedrag kan nie in isolasie van die res van die brief gelees word nie.

* Dit moet ook gelees word in die lig van wat Paulus in Rom. 6:19 sê: “soos julle julle ledemate (melê) in diens van onsedelikheid en losbandigheid gestel het om losbandig te lewe, so moet julle nou julle ledemate in diens stel van geregtigheid om heilig te lewe.”

* Dit moet ook gelees word in die lig van Rom. 12:1 se opdrag om ons: “liggame (sômata) as ‘n lewende, heilige en aanneemlike offer vir God aan te bied.”

* Dieselfde geld Rom. 13:14 se waarskuwing dat ons nie voorsiening moet maak vir ons “sondige natuur (sarkos) om sy drange te bevredig nie”. Dit vorm deel van die argument wat Paulus in Rom. 1-3 op die tafel sit rondom die probleem van die sonde.

2. Dit is belangrik om die inhoud van Romeine 1 as Paulus se eie gedagtes te verstaan.

Daar is sommige geleerdes wat reken dat Rom. 1:18-32 ‘n “interpolation” is wat nie Paulus se gedagtes bevat nie weens die verskille in taal, konteks en teologiese inhoud met sy ander briewe (J. C. O’Neill, Paul’s Letter to the Romans, en W.O. Walker, “Romans 1.18-2.29: A Non-Pauline Interpolation?, NTS 44). Sulke argumente is egter moeilik volhoubaar omdat taal altyd verbind is aan die onderwerp waaroor jy skryf, en dit heel logies is dat Paulus se taal hier gekleur word deur die onderwerp waaroor hy skryf. Hy skryf immers nêrens anders hieroor nie. ‘n Mens kan ook sonder moeite sy teologiese gedagtes kan verbind met nie net die OT tekste oor selfdegeslagverhoudings nie, maar ook die Joodse geskrifte hieroor, bv. Philo en Josephus, soos hierbo al aangedui

Daar is nóg geleerdes wat op ander gronde Rom. 1:18-32 as ‘n “interpolation” beskou, onder andere Calvin Porter (Romans 1.18-32: Its Role in the Developing Argument). Hy argumenteer dat hierdie gedeelte sentimente bevat wat met ‘n Joodse diskoers teen die Grieke verbind kan word, en dat Paulus juis hulle gedagtes wil besweer omdat dit ‘n hindernis is in die evangelieverkondiging aan die heidene. Hy gebruik dus ‘n Joodse polemiek wat gereeld teen die heidene gebruik is, om te wys dat dit teenproduktief is. Rom. 2:1 se uitroep: “O, mens,” is dan ‘n teregwysing dat ‘n mens nie só kan dink nie.

Dit is egter ‘n onhoudbare siening, nie net omdat só ‘n siening nie enige tekstuele bron kan aantoon wat Paulus se aanhaling kan verklaar nie, maar omdat dit baie moeilik is om te aanvaar dat Paulus hier so ‘n lang “aanhaling” maak – 15 verse! – sonder om dit van ‘n inleidende opmerking te voorsien. Paulus het immers juis in Rom. 1:17 ‘n aanhaling gemaak uit Habakuk 2:4 en dit eksplisiet aangedui met die frase: “soos daar geskryf staan”. Daarby het hy in Rom. 1:16-17 die sentrale opmerking gemaak dat die evangelie van verlossing ‘n openbaring van God is, wat in Rom. 1:18-32 opgevolg word met ‘n soortgelyke stelling dat God se toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense ‘n openbaring van God uit die hemel is. Die oplossing van dié twee openbarings van God word dan in Rom. 3 gegee in die belangrike uitspraak oor die vryspraak wat God vir Jode en heidene gegee het, die vryspraak wat daar in Christus Jesus gegee word. Die twee gedeeltes is dus intrinsiek en inhoudelik verbind en kan net aan Paulus toegeskryf word.

Daar is verder in die onmiddellike konteks van Romeine 1 regtig niks wat ‘n mens sou laat dink dat Paulus hier ‘n klomp Jode probeer aanvat wat die heidene wil uitsluit oor hulle verkeerde selfdegeslagverhoudings nie. Hy wil eerder in die retoriese trant van Rom. 2:1-5 en 17-24 sy gehoor in die gemeente van Rome oortuig van die waarheid van die evangelie vir beide Jode en Grieke (1:16-18) deur die lyn rondom die sondigheid van die wêreld (2:18-32), die skuld ook van die Jode (2:1-3:8) trouens van alle mense (3:9-20) te volg om die boodskap van die vryspraak deur geloof (3:21-31) en die nuwe lewe deur die Gees te kan verkondig.

Hy gebruik, soos die meerderheid geleerdes dit uitspel, die tegniek van die sogenaamde diatribe in 2:1-5, ‘n gesprek met ‘n verbeelde Joodse gelowige, om enige selfverheffing op grond van die Joodse afkoms, in die kiem te smoor. Dié tegniek word ook elders in die brief gebruik, bv. 11:13-24 waar Paulus in ‘n verbeelde dialoog met ‘n “heidense” gelowige in gesprek tree (vgl. ook 3:1-9; 3:27-4:25; 9:19-21; 10:14-21; 14:10-11). Dit is ‘n bekende tegniek wat leraars van daardie tyd gebruik het, ’n soort vraag-en-antwoord metodiek geplaas in ’n verbeelde dialoog (vgl. C Kruse, Paul’s Letter to the Romans vir ‘n verdere bespreking hiervan – so ook J Dunn, Romans 1-8; NT Wright, Paul for Everyone, Romans Part One: Chapters 1-8).

Die meeste Nuwe Testamentici, mense soos NT Wright, Scott McKnight, Andrie du Toit, Jan van der Watt, Robert Cagnon, en William Loader, en selfs Dan Via, sowel as die nuwere kommentare op Romeine van Frank Matera 2010, Hultgren 2011, en die nuutste een van Michael Wolter 2015 beskou dus dié teks in Romeine as Paulus se eie woorde.

Soot NT Wright sê:

“We are not at liberty, though, to say that Paul did not mean what he said, or that he was quoting somebody else with whom he was then going to disagree (see below). That is the exegetical equivalent of the marathon runner who jumps on a bus in the middle of the race to get out of the hard slog and go straight to the finish.” (Paul and the Faithfulness of God, 2013).

3. Paulus gebruik die algemene byvoeglike woorde vir “manlik” en “vroulik” in sy beskrywing van homoseksuele gedrag in Romeine 1.

Paulus gebruik die algemene Griekse woord arsen vir manlik en thelus, die algemene Griekse woord vir vroulik (Louw & Nida, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains).

Dit is betekenisvol, want hy sou ander woorde kon gebruik het wat duidelik sou maak dat hy bv. van pederastie praat. Hy sou ook van die ander Griekse woorde vir getroude mans (bv. upandros) en getroude vroue (bv. gune) – soos hy doen in Rom. 7:2! – kon gebruik het, as hy van homoseksuele gedrag wat deur (getroude) heteroseksueles uitgevoer word, gepraat het.

Die wyse waarop hy die Griekse woorde arsen en thelus dus inspan, dui in die konteks duidelik op ‘n algemene beskrywing van “mans” en “vrouens”, nie soseer op getroude mans en hulle getroude vrouens nie (vs. König). Dit gaan ook oor die selfdegeslag seksuele gedrag as sodanig, nie enige ander beskrywing van die mense wat daarby betrokke is nie. Dit pas ook in by sy meer algemene beskrywing van die mensdom in Rom. 1:18 waar hy die algemene woord anthropôn vir mensdom gebruik om dié gedeelte mee in te lei.

Dit beteken ook dat die tipe homoseksuele verkeer wat hier ter sprake is, nie met pederastie alleenlik verbind kan word nie, veral omdat dit as iets konsensueel en wederkerig en nie as ‘n uitbuiting of mishandeling geteken word nie (vs. Scrogg). Jan du Randt het ook al gewys daarop dat die verbod op homoseksualiteit in Rom. 1 nie net oor pederastie kán gaan nie, omdat dié teks ook spesifiek oor vroue praat, nie net oor mans nie. Pederastie was geslag spesifiek en die noem van lesbiese verhoudinge skiet die interpretasie in die voet.

4. Dieselfde geld die gebruik van “natuurlik” (phusin) en “teen-natuurlik” (para fusin) om selfdegeslag seksuele gedrag in hierdie gedeelte te beskryf.

Louw en Nida dui dit aan as: “the nature of something as the result of its natural development or condition—‘nature.’” Soos William Loader sê: “With a fair degree of probability Paul would have had much in common with Philo and Josephus and other Jewish writers of his time, who, in addition to such common values, also equated the way things ought to be, nature (including what we might sometimes call convention), with how God made things to be, creation, and rejected excess.” (Sexuality in the New Testament).

Deur Paulus se gebruik van die Griekse woord phusin te probeer interpreteer asof dit ‘n heteroseksuele persoon is wat selfdegeslag seks beoefen en daarom as teen-natuurlik vir heteroseksueles gesien kan word, doen die teks geweld aan. Dit is verseker nie wat Paulus gedink het nie, hoewel daar natuurlik baie mense is wat vandag so dink. Sulke tipe interpretasies maak egter ‘n moderne idee op anakronistiese wyse van toepassing op die gedagtewêreld van Paulus en oorspan die betekenis van die teks.

Dieselfde geld die poging van sommige om “teen-natuurlik” as iets wat met kultuur te make het, te interpreteer. Paulus sou dan daarvolgens eintlik bedoel het dat selfdegeslag seksuele verhoudings nie deel van die Joodse kultuur was nie, en daarom “anti-kultureel”.

5. Dit gaan oor ‘n geestelike beoordeling van wat aan die gang is in die wêreld rondom dinge soos onder andere selfdegeslag seksuele verkeer, nie oor spesifieke gevalle van bv. selfdegeslag seksuele gedrag nie.

Paulus wyt dit aan die feit dat mense – in die algemeen, nie heidene nie! – die waarheid oor God onderdruk het, waarop God se reaksie was om hulle aan verskillende drange en sedelike onreinheid en ander onbetaamlike gedrag oor te gee. Dit sluit dus ook die lysie van sondes in wat aan die einde van die hoofstuk genoem word. Mense is “oorgegee” of “uitgelewer” aan ‘n verskeidenheid van sondige begeertes weens hulle weiering om God as God te erken.

James Dunn wys in sy kommentaar op Romeine 1:18-32 uit hoe die afgryse van homoseksualiteit in die vroeë Judaïsme nie net gemik was teen die Griekse kulturele moraliteit nie, maar veral gebore is vanuit hulle eie verstaan van die sondeval, afgodediens en die seksuele perversie wat onder andere daaruit voortgevloei het in die mensdom. Hy skryf: “In other words, antipathy to homosexuality remains a consistent and distinctive feature of Jewish understanding of what man’s createdness involves and require`s. That homosexuality is of a piece with idolatry is taken for granted (as several of the same passages show), both understood as a demeaning of the people who indulge in them. The link between man’s fall (Gen 3) and sexual perversion (as here) is also typically Jewish, since Gen 6:1–4 also played a considerable part in Jewish attempts to account for the origin of sin (Jub. 4.22; 5.1–10; 7.21; 1 Enoch 6–11; 86; T. Reub. 5; T. Naph. 3.5; CD 2.18–21; etc.).

Dit gaan dus nie oor spesifieke mense wat hulleself aan afgodediens blootgestel het, en nou die noodwendige gevolge daarvan in terme van selfdegeslag seksualiteit dra nie. Dit gaan oor die hele mensdom wat God nie erken nie, Jode en heidene ingesluit, en daarom deur Hom oorgegee is aan allerlei sondes, onder andere aan heteroseksuele losbandigheid, onder andere aan teen-natuurlike omgang, en onder andere aan ‘n wye reeks ander onbetaamlike gedrag.

Daar word nie eers ‘n oordeel gevel oor watter hiervan nou meer sondig is as die ander nie. Enigeen van dié dinge dui op ‘n radikale fout wat daar in die mensdom ingesluip het, en wat reggestel moet word. Trouens, Rom. 2 sal uitbrei op die problematiek van die Jode wat met wet en al ook gesondig het, en Rom. 3:23 sal dit opsom deur te sê: “almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie”.

Terselfdertyd sal Paulus die oplossing en voorsiening van God aankondig in Rom. 3:24: “maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoenig bewerk het vir dié wat glo.” Dit sluit onsedelikes, perverses en onbetaamlikes in – almal van ons.

Dit gaan hier ook nie in die eerste plek om bv. ‘n etiese beoordeling van selfdegeslagverhoudings –wat gepas en wat nie gepas sou wees nie – volgens die standaarde van die Romeins-Griekse kultuur waarbinne die mense geleef het nie. Dit gaan oor ‘n geestelike beoordeling in die lig van God se algemene openbaring van Homself in die skeppingswerklikheid, dinge wat mense moes kon sien, maar geweier het om aan aandag te gee.

3.3.8.4 Eksegeties-hermeneutiese lees van Romeine 1:18-32

Paulus het so pas in Rom. 1:1-17 homself op uitvoerige manier bekendgestel aan die gemeente. Hoewel hy baie van hulle ken (vgl. hfst. 16), was daar talle wat hom nie geken het nie.

Anders as in sy brief aan die Galasiërs het hy die gemeente in Rome geprys vir hulle geloof, en wil hy hulle juis besoek om wedersyds in die geloof versterk te word en soos op ander plekke sy roeping om mense vir Christus te wen, na te kom (vgl. 1 Kor. 9). Hierdie roeping sluit die Grieke en die nie-Grieke (barbare of onbeskaafdes soos die Grieke ander genoem het), die ontwikkeldes (wyses) en die ongeleerdes (ongeletterd) in.

Sy opgewondenheid in hfst. 1 oor die ingeboude krag van God in die evangelie van Jesus Christus wat mense vryspreek, is aansteeklik. En dit is bedoel vir Jode sowel as Grieke (Hellene of heidene): “enkel en alleen omdat hulle glo” (1:16-17; vgl. Hab. 2:4). Sola fide – die hoofboodskap van dié brief.

Trouens, dit is juis God se geregtigheid wat in die evangelie openbaar is. God se geregtigheid berus volledig, geheel en al, op geloof. Dit is die boodskap wat Jode en Grieke moet hoor en waardeur hulle in die regte verhouding met God kan kom.

Met hierdie inleiding roer hy sy eerste onderwerp aan wat tot aan die einde van hoofstuk 4 behandel sal word: God se voorsiening vir die probleem van die sonde geïllustreer in die voorbeeld van Abraham, waardeur aan die een kant die oneffektiwiteit van die wet en die besnydenis uitgewys gaan word, en aan die ander kant die krag van geloof in Jesus Christus wat mense vryspreek.

Ter wille van die voordeel van ‘n meer direkte vertaling word die weergawe van die Bybel Direkte Vertaling (BDV) hier gebruik:

18 God se toorn word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te onderdruk, 19 aangesien dit wat van God geweet kan word, onder hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. 20 Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; 21 want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. 22 Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. 23 Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir ’n afbeelding soos dié van ’n sterflike mens en van voëls en diere en kruipende diere.

24 Daarom het God hulle deur middel van die begeertes van hulle harte oorgegee aan onsedelikheid, naamlik om hulle liggame onder mekaar te onteer 25 —hulle wat die waarheid van God vir die leuen verruil het en geskape wesens aanbid en gedien het in plaas van die Skepper, wat tot in ewigheid lofwaardig is. Amen. 26 Daarom het God hulle oorgegee aan skandelike drange: Hulle vroue het die natuurlike seksuele omgang verruil vir omgang wat teen die natuur is. 27 Net so het ook die mans, terwyl hulle die natuurlike seksuele omgang met die vrou laat vaar het, vurig begin brand van begeerte na mekaar; mans het met mans skandelikheid bedryf en in hulleself die verdiende loon vir hulle afwyking ontvang.

28 En omdat hulle dit as verwerplik beskou het om aan God erkenning te gee, het God hulle oorgegee aan ’n verwerplike denkwyse, sodat hulle onbetaamlik optree. 29 Hulle is vol van elke vorm van onreg, boosheid, hebsug, kwaad; vol afguns, moorddadigheid, twisgierigheid, geslepenheid, kwaadwilligheid; hulle is skindertonge, 30 kwaadstokers, haters van God, brutaal, hooghartig en grootdoenerig, vindingryk om slegte dinge te bedink, ongehoorsaam aan hulle ouers; 31 onverstandig, onbetroubaar, liefdeloos, sonder medelye 32 —dié soort mense wat die voorskrif van God ken, naamlik dat mense wat hierdie dinge doen, die dood verdien. Tog doen hulle dit nie net nie, maar praat dit boonop goed wanneer ander dit doen.”

In die eerste gedeelte, Rom. 1:18-23, teken Paulus ’n goddelose mensdom, vol van ongeregtigheid (adikia) wat ten spyte van God se algemene openbaring in die skepping Hom nie as God erken nie. Niemand kan egter hom- of haarself verontskuldig dat hulle nie geweet het van God nie, want die kennis van God is van altyd af daar, sê Paulus. Hulle wysheid is eintlik dwaasheid, want dit lei tot afgodery. Hulle verruil die Skepper vir die skepping.

In die tweede en derde gedeelte, Rom. 1:24-27 en 28-32 teken Paulus die Goddelike gevolge hiervan vir die mensdom, beide in terme van teen-natuurlike seksuele gedrag as in terme van ‘n verskeidenheid ander tipes onbetaamlike gedrag.

Teenoor die openbaring van God se geregtigheid aan elkeen wat glo (1:16-18), staan die openbaring van sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te onderdruk. ‘n Verkeerde teologie lei immers altyd tot ‘n verdraaiing van menswees en uiteindelik afgodery.

Dit sluit ook ‘n verkeerde beskouing oor seksualiteit in: “Paul’s primary argument is that what led to wrong sex was wrong theology. He employs the common biblical theme of idolatry, even to the extent of listing categories more applicable to the biblical world than to Rome, such as worship of birds, animals and reptiles. His Jewish tradition connected idolatry with descent into sexual wrongdoing, illustrated in Wisdom 13—15.” (William Loader).

Paulus se argument in Romeine 1:24-32 het drie elemente. God het die mensdom (nie net sommiges nie) OORGEGEE aan drie goed weens hulle afvalligheid (goddeloosheid en ongeregtigheid) van Hom. Die drie sake word telkens ingelei met die frase:

“Hy het hulle oorgegee” aan:

1. Sedelike onreinheid wat waarskynlik op die seksuele onreinheid wat onder alle tipes seksualiteite gevind word van toepassing gemaak moet word, heteroseksuele seksualiteit (en homoseksuele seksualiteit) ingesluit, omdat die seksuele ontering net in die algemeen as onrein beskryf word en die seksuele oriëntering nie gespesifiseer word nie.

Hier is die fokus op die disrespek (ontering) vir God en vir mekaar se liggame. Dit word as verdraaiing van die waarheid en Godsonterend geteken (vers 24-25). Paulus beskryf in vers 24 hierdie seksuele gedrag as seksueel onrein (akatharsia). Dit sluit die seksuele ontering van mekaar se liggame buite die huwelik in, of dit nou heteroseksueel of homoseksueel gebeur.

2. Selfdegeslag “skandelike drange”, vrou-vrou en man-man wat in selfdegeslag seksuele gedrag na vore kom. Hier is die fokus ook op disrespek, maar in dié geval die disrespek vir die natuurlike omgang met die teenoorgestelde heteroseksuele geslag.

Dit word as skandelik (disgraceful), teen-natuurlik (d.w.s. nie-heteroseksuele omgang) en pervers uitgebeeld (vers 26-27). Selfdegeslag seksuele gedrag word beskryf as skandelike drifte (pathê atimias). Dit gebeur waar vroue met vroue seks het (1:26), en mans met mans (1:27) – sonder uitsondering.

Hierdie selfdegeslag seks het nie met prostitusie – daar is geen geld of ‘n tempel betrokke nie – of met pederastie te make nie – vroue het immers nie pederastie bedryf nie – maar met wedersyds-instemmende selfdegeslag seks tussen volwassenes van dieselfde geslag.

Die algemene byvoeglike woorde vir vroue en mans word gebruik – arsen en thelus – nie die Griekse woorde vir getroude vroue en mans nie.

Paulus beskryf in vers 26 selfdegeslag seksuele gedrag ook as teen-natuurlik (para fusin – Louw-Nida: natuurlik = “The result of its natural development or condition”). Daarmee bedoel Paulus dat dit teen die skeppingsbedoeling vir die mens is, soos uit sy gebruik van skeppingsterminologie uit Genesis blyk (hemel, mensdom, kosmos, skepsel, Skepper).

Dit gaan hier nie oor ‘n heteroseksuele persoon wat selfdegeslag seks beoefen nie. Dit is ook nie kultureel-bepaald nie, maar word godsdienstig-eties afgewys.

Paulus beskryf in vers 27 selfdegeslag seksuele gedrag ook as seksuele losbandigheid of perversie (planê), wat lei tot onbetaamlike dade wat sy eie verdiende straf dra.

Paulus laat dus nie toe vir óf korttermyn, óf langtermyn selfdegeslag seksuele gedrag nie, selfs nie as dit in liefde en trou gebeur nie. Die enigste ruimte wat hy vir seks erken, is die ruimte van die huwelik tussen man en vrou (1 Kor. 5-7), soos Jesus ook geleer het (Matt. 19).

3. Onbetaamlike gedrag waarin 24 verdere slegte gedragspatrone gelys word (vers 28-31).

Dié dinge is nie onbelangrik nie, en kan selfs op dieselfde vlak as die vorige sondes hanteer word. Vir die doel van hierdie bydrae word egter nie nou daarop ingegaan nie.

Drie keer word daar dus gesê: “Daarom het God hulle oorgegee” (24,26,28). Dit het ’n impak op seksualiteit, beide in terme van waarskynlik algemene seksuele onreinheid (24-25) en homoseksuele losbandigheid (26-27), asook op onbetaamlike gedrag, uitgespel in ’n lysie van 24 ondeugdes (28-31). Paulus wys dus alle heteroseksuele EN homoseksuele losbandigheid as afwykings aan, nie deur na die oriëntasie te verwys nie, maar na die seksuele gedrag. In beide gevalle is dit disrespekvol teenoor God en teenoor mense se liggame.

Drie keer word ook die taal van ‘n “exchange” gebruik, om te beskryf wat met mense gebeur wat God nie erken nie. Hulle verruil die waarheid oor God vir die leuen (vers 25). Hulle verruil die natuurlike (heteroseksuele) omgang vir die teen-natuurlike, selfde geslag seks, beide die vrouens (vers 26) en die mans (vers 27).

Die gevolg is dat hulle hulle liggame onteer (atimazesthai) onder mekaar. Die probleem is ook nie die passie of begeerte as sodanig nie: “The problem is its strength (burning) and misdirection (for one another).” Dit bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit (vers 27) wat deur Jewett met Hippokrates se beskrywing van die pyn van anale omgang verbind word (vgl. Loader).

Soos Loader dit uitspel:

“This notion of denying what is and putting something in its place which is not true or in accord with reality connects 1.18–23, 25 and 1.24, 26–27. It follows the pattern: deny my reality and dishonour me, and I’ll have you deny yours and dishonour yourselves!”

God keer mense dus nie meer van die gevolge van hulle perverse keuse vir die skepping eerder as die Skepper nie, nie in terme van hulle seksualiteit nie, en ook nie in terme van hulle algemene gedrag nie (hoewel Hy ’n alternatief in Jesus Christus geskep het, maar daaroor sal Paulus eers later praat).

Tom Wright som die boodskap van die eerste hoofstuk van Romeine dus as volg op:

“The point of Romans 1 as a whole is that when humans refuse to worship or honour God, the God in whose image they are made, their humanness goes into self-destruct mode; and Paul clearly sees homosexual behaviour as ultimately a form of human deconstruction. He is not saying that everyone who discovers homosexual instincts has chosen to commit idolatry and has chosen homosexual behaviour as a part of that; rather, he is saying that in a world where men and women have refused to honour God this is the kind of thing you will find.” (Communion and Koinonia: Pauline Reflections on Tolerance and Boundaries by http://ntwrightpage.com/Wright_Communion_Koinonia.htm).

Dít is die dinge wat eintlik God se toorn oor die mensdom verbeeld (vers 32). God het die mensdom aan hulle eie gekose lot oorgelaat sodat hulle volgens eie wyse kan opsnork, by wyse van spreke, maar waarvoor elke mens natuurlik ook rekenskap sal moet gee. Waar God hulle “oorgegee” het, het hulle die verering van God “verruil” en die natuurlike omgang “verruil” vir die teen-natuurlike.

Maar soos Loader sê: “Having such dishonourable passions is no excuse for acting them out.”

‘n Mens moet in gedagte hou dat Paulus die “verbeelde” argument hier rondom voortsit in Romeine 2 en daar die Jode herinner daaraan dat hulle nie moet dink hulle kan wegkom met hulle veroordeling van die “ander mense” nie, asof hulle nie deel is van die mensdom nie, want hulle staan almal saam ook onder die oordeel van God. As hulle nou die wet nakom op sekere punte – bv. deur nie dié drie goed te doen nie – maar op ander nalaat – bv. deur te steel nie, en interessant genoeg, word dit nie in die lysie van 24 onbetaamlike dinge genoem nie! – sal hulle steeds ook die oordeel van God ervaar.

Daarna vervolg Paulus met die verdere uitleg van die evangelie, waarvan Romeine 1:1-17 reeds die inleiding was. In Romeine 3-4 verkondig Paulus die uitweg vir die mensdom, Jode ingesluit. In Jesus Christus is daar verlossing, en in die werk van die Heilige Gees heiligmaking moontlik (Rom. 5-8). En in Rom. 12 sal hy uitspel hoe verlossing ook vir onteerde liggame kom, deur dit aan God as heilige en aan Hom welgevallige offer te gee.

Loader sê daarom ’n artikel van hom in die Hervormde tydskrif van 2014 (Same-sex relationships: A 1st-century perspective): “Paul assumes that all people are heterosexual and that the prohibitions of Leviticus should apply also to lesbian relations.” Dit wil sê, Paulus is konsekwent negatief oor enige gedrag wat homoseksueel van aard is, omdat hy ’n kind van sy tyd was en dit die aannames was wat sy standpunt veroorsaak het.

Hy sê daarom: “The temptation to modernise Paul either by explaining away his comments as applicable to only special instances or by transforming his comments on desires into neutral pathology or natural sexual orientation is to be resisted.”

Hy verskil van John Boswell en Walter Wink dat Paulus net vir heteroseksuele skryf wat homoseksuele gedrag openbaar: “it is highly unlikely that Paul would have differed from all other Jews of the time whose writings survive, who rejected such distinctions. Nor does it make sense to argue that Paul is only concerned with same-sex acts in cultic contexts … His focus is not just concerning acts but also attitude and ultimately, mind, which is independent of location.”

Paulus wys dus hier in Romeine 1 alle selfdegeslagverhoudings konsekwent af. Dié besef is skokkend radikaal en absoluut. ‘n Mens wens amper Paulus was verkeerd, óf dat ons vandag dié woorde kan ignoreer. Vir ‘n kerk wat die Bybel as die Woord van God aanvaar, is dit egter onmoontlik. NGB 7 sê: “Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie.” NGB 13 sê: “Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.”

Wat ons wel kan doen, is om geen gelowige mens wat ‘n selfdegeslag aantrekkingskrag beleef, uit te sluit nie. Vgl. Sam Allberry en ander se insette hieroor by livingout.org. Dieselfde geld mense wat saamwoon, buite-egtelike verhoudings het, skei en selfs hertrou. Niemand word versaak nie, maar so ook nie die boodskap van die Bybel nie.

3.3.9 1 Korintiërs 6:9-11 – So was sommige van julle ook, maar julle is gewas en geheilig

3.3.9.1 Die konteks in Korinte

In hierdie brief raak Paulus ‘n hele aantal groot vraagstukke aan, meesal sake wat oor die Christelike lewenswandel gaan, waaroor Paulus hulle wil onderrig. Dat dit nodig was, spruit onder andere uit die voortslepende impak van die heersende kultuur en godsdiens van die stad Korinte op die nuwe bekeerlinge.

Nie net was daar dus groot rykdom nie, maar ook baie gode en godsdienste, waarvan sommige moreel dekadent was, die vernaamste waarvan die Afrodiete – godin van die liefde – godsdiens was, met die groot altaar op die Akrokorinte berg. Sommige historici bereken dat daar in haar hoogbloei meer as ‘n duisend prostitute in tempeldiens was. Die term “meisies van Korinte” het ‘n idiomatiese uitdrukking in ander stede geraak wanneer mense na prostitute verwys het.

Geen wonder dat een van die roerendste gedeeltes in die Korintiërbrief juis die verheerliking van die liefde was, wat van God kom, in direkte opposisie met die leerstellings van die heersende godin van die liefde van Korinte.

Wat veral opmerklik is, anders as wat die geval was in Tessalonika, is dat hierdie kulture en godsdienste se idees nie net van buite af op die gemeente ‘n impak gehad het nie, maar van binne af, omdat dit deur sommige lidmate van die gemeente aangehang is. En hierdie mense het Paulus direk aangevat omdat hulle nie met hom saamgestem het nie, onder andere ook as gevolg van (doelbewuste?) misverstande wat uit sy eerste brief gespruit het (1 Kor 5:9-11).

Paulus kan dus nie hierdie alternatiewe leringe en perspektiewe ongebreideld laat aangaan nie. Vandaar die berispende emosionele toon van sy brief. Hy spreek dinge aan soos: verdeelheid en wysheid (1:10-4:21), bloedskande (5:1-13), hofsake (6:1-11), prostitusie (6:12-20), en die nagmaalviering (11:17-34).

3.3.9.2 1 Korintiërs 6:9-11

Daarom praat Paulus so skerp in hierdie gedeelte oor dié dinge wat nie maar net onvanpas was nie, maar hulle ewige bestemming in gevaar gestel het. Hy sê in 1:9-11 die volgende:

9 Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, 10 of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie. 11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.” (BDV)

Vir Paulus, soos ons reeds kennis geneem het, was seksuele getrouheid tussen man en vrou ononderhandelbaar. Dit was die OT ideaal selfs terwyl daar ook talle OT verhale van gebroke seksualiteit was: ontrouheid, poligamie, onsedelikheid, verkragting ensomeer. “The fact remains that the Bible’s core ideal is sexual fidelity between husband and wife.” (William Loader) Trouens, daar is meer verhale van monogamie in die OT as wat daar verhale van poligamie is (Keen, Sexuality, Critical Issues).

Enige ander tipe seksuele gedrag was “buite orde”. Daarom teken Paulus hier in sy brief aan die Korintiërs ‘n kontra-kultuur, ‘n moraal wat anders is as die onsedelike een waarvandaan hulle kom. Die tipe moraal wat in die Romeins-Griekse wêreld geheers het, ook en veral in Korinte, was besoedelend in sy oë en iets wat hulle aktief moes teëstaan, iets waaraan hulle glad nie moes deelneem nie.

Dit gaan dus nie in hierdie “sondelysie” in Korintiërs soseer oor insluiting en uitsluiting nie, maar as ‘n skets van die tipe kultuur waarvandaan hulle kom en wat hulle met alle mag en mening moet vermy: “11 So was sommige van julle ook, maar julle is gewas, julle is geheilig en julle is vrygespreek …”

Vir ons onderwerp is die volgende twee elemente in die “sondelysie” belangrik: “manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer”. Die twee Griekse woorde wat hier gebruik word is malakoi – wat letterlik “sagtes” beteken – en arsenokoitai – letterlik die meervoud van arsenokoitês, ’n samestelling uit arsen (manlik) en koité (slaap/lê), dus “manneslapers” of soos die BDV dit vertaal: “mans wat met mans intiem verkeer”.

Ons hanteer eers die woord arsenokoitai. Die woord arsenokoitai, wat Paulus ook in sy brief aan Timoteus gebruik, moet heel waarskynlik met Levitikus 18-20 se verbod op selfdegeslag seks verbind word. Die woord is immers nooit voorheen in enige Griekse teks gebruik nie, wat beteken dat Paulus dit heel waarskynlik nuut geskep het.

Die LXX vertaal die relevante Hebreeuse gedeeltes in Levitikus 18-20: “mishkav zakur”, met: “meta arsenos koit n gynaikos”. In Afrikaans lui dit: “met ‘n man lê soos met ‘n vrou”. Die frase “mishkav zakur” word daarna ook in die Talmoed gebruik vir homoseksuele omgang – tussen volwassenes sowel as tussen volwassenes en jongmense – aan die hand van dié teks (Scroggs, Gagnon).

Daar kan dus min twyfel wees dat arsenokoitai ’n ondubbelsinnige manier was om van selfdegeslag seks te praat. Die woord is letterlik ‘n transkripsie van die Griekse vertaling van die Hebreeuse “mishkav zakur”.

Die tweede woord malakoi dui in die konteks op die passiewe volwasse party in selfdegeslag seksuele gedrag, soos dit die geval is in ‘n hele paar ander tale, waar die aktiewe en passiewe party met verskillende woorde aangedui word. Dit is omdat die twee woorde, malakoi en arsenkoitai, waar dit saam gebruik word, semanties as passiewe en aktiewe selfdegeslag partye geïnterpreteer kan word: “It is possible that ἀρσενοκοίτης in certain contexts refers to the active male partner in homosexual intercourse in contrast with μαλακός, the passive male partner.” (Louw & Nida, Greek-English lexicon of the New Testament: based on semantic domains).

William Loader stem saam daarmee en sê: “…the words are best understood as referring to the active and passive partners in same-sex intercourse, ‘male-bedders’ and ‘softies’, a term used also more widely of effeminacy”.

Die vertaling van die BDV malakoi is daarom net ‘n interpretasie dat dit oor prostitusie gaan en sal waarskynlik beter vertaal kan word soos die geval is in die Lexham English Bible (LEB): “nor passive homosexual partners, nor dominant homosexual partners”. Selfdegeslag prostitusie sou uiteraard ook deur dié uitspraak van Paulus ondervang geword het, maar is nie beperk daartoe nie.

Dit word geëggo deur ‘n redelike breë konsensus onder die meeste Nuwe Testamentici dat malakoi en arsenokoitai verwys na mans wat selfdegeslag seks beoefen. Selfs Andrie du Toit wat pleit vir monogame standvastige homoseksuele verhoudings sê die volgende (aangehaal uit die 2007 verslag): “Nevertheless it was also used for males, often youths, occupying the passive role in a homosexual relationship. Already Plato used malakia with this connotation. Because arsenokoitai is most probably a coinage from Lev. 18:22 and 20:13, it can hardly indicate something other than the active male participants in a homosexual relationship. The co-occurrence of arsenokoitai in 1 Cor 6:9 would therefore denote the passive and active partners in such a relationship (2002:94, 106)”.

Dit is daarom ook direk in kontras met Brownson se idee dat min of meer alle literatuur uit daardie tyd net van selfdegeslagverhoudings in die betekenis van pederastie gepraat het. Hy skryf “Most scholars recognize that the presence of these two words reflects widespread assumptions throughout the ancient world about male-male homosexual activity: almost all the documents discussing male same-sex eroticism assume a distinction between active older men (commonly referred to in Greek as erastai ) and passive younger males (commonly referred to as er ō menoi ) in other words, the practice of pederasty. The malakoi (“softies”) are the younger, passive er ō menoi, and the arsenokoitai (“man-bedders”) are the older, active erastai.” (Brownson, J.W. Bible, gender, sexuality. Reframing the Church’s Debate on Same-Sex Relationships)

Daar is egter vier probleme met sy interpretasie:

1. Die NT woorde (malakoi en arsenokoitai) word nêrens in die Griekse literatuur eksplisiet verbind met die pederastie woorde (erastai en erômenoi) nie. Dit is nou benewens die feit dat pederastie eintlik met die Griekse term paiderastia weergegee is en erastai eintlik net minnaar beteken. Dié interpretasie van Brownson berus op Dover se werk (Greek Homosexuality) wat ’n tegniese term van die woorde probeer maak het, maar dit eintlik anakronisties teruglees in die teks. Erastai word immers in die Griekse literatuur ook in heteroseksuele kontekste gebruik.

2. Malakoi word semanties in die Griekse literatuur genoegsaam met die passiewe vennoot in selfdegeslagverhoudings verbind, dat dit nie noodwendig met erômenoi gelykgestel hoef te word nie. Dit is nou weereens benewens die feit dat erômenoi ook in heteroseksuele kontekste gebruik is, anders as wat Dover beweer.

3. Arsenokoitai kan eintlik net uit Levitikus se mishtav zakur verklaar word, omdat dit ’n neologisme deur ’n Jood is. Die Griekse gebruik van dié woord is net te min om dit enigsins anders te verstaan.

4. Pederastie is ook nie die enigste vorm van selfdegeslagverhouding wat in die tyd van die NT bekend was nie, soos John Boswell duidelik aantoon.  Daar was permanente selfdegeslag verhoudings bekend wat net soseer deur hierdie teks aangedui word. Dit kan nie langer ontken word nie.

3.3.10 1 Timoteus 1:3-11 – Geloofslewe moet pas by Geloofsleer

In 1 Timoteus 1:3-11 spel Paulus die regte gebruik van die wet en evangelie uit om onsedelikheid te vermy, onder andere deur na arsenokoitai te verwys. Hy verwys ook hier na pornoi wat in die konteks op manlike prostitute sou kon dui (BDV).

Die 2 briewe aan Timoteus, sowel as die brief aan Titus, staan bekend as die pastorale briewe. Sommige voeg Filemon ook daarby. Dit is briewe wat aan hulle as pastors gerig is en handel oor hoe hulle die pastorale bediening van hulle onderskeie gemeentes moet behartig. Daarom word sterk aandag gegee aan hulle persoonlike roepingsbewussyn, gefokus op hoe om die regte leer en lewe te handhaaf in ‘n situasie waar daar toenemend valse leerstellings die kop uitgesteek het, en aandag gegee aan die funksionering van die gemeente in terme van ouderlinge, diakens en ander geestelike werkers.

Hoewel daar baie verskil van mening is onder geleerdes wanneer die briewe geskrywe is, en of dit hoegenaamd deur Paulus geskrywe is, lyk dit uit die briewe se eie interne gegewens asof die eerste brief aan Timoteus van ‘n tyd net na die gevangeniskap van Paulus in Rome praat, want dit word aangebied as komende uit Masedonië (1 Tim. 1:3) in 62-63 nC. Die brief word in elk geval laat gedateer.

Timoteus was afkomstig van Listra en het heel moontlik tot bekering gekom met Paulus se eerste besoek daar tydens sy eerste sendingreis. Dit is die plek waar Paulus gestenig is en as’t ware uit die dood opgestaan het (Hand. 14:19-20). Sy pa was ‘n Griek, en sy ma, Eunice, ‘n Joodse Christen – soos trouens sy ouma Loïs ook was (Hand. 16:1; 2 Tim. 1:5). Met Paulus se tweede besoek aan Listra het Timoteus by Paulus aangesluit nadat hy besny is, waarskynlik omdat sy ma ‘n Jodin was. In Timoteus het Paulus ‘n jong gelowige gevind wat met oorgawe hom aan die bediening gegee het.

Timoteus is met die skrywe van die brief die pastor van Efese, die plek waar Paulus ook vroeër lank gewerk het (Hand 18-20).

Let op hoe doelgerig hierdie brief geskryf is. In hierdie eerste hoofstuk word Timoteus gegroet (1:1-3), om onmiddellik te beweeg na ‘n bespreking van die uitdaging van die mense in Efese wat valse leerstellings versprei (1:4-7), en gee die skrywer vir Timoteus twee teologiese argumente as skietgoed (regte gebruik van die wet; regte begrip van die evangelie – 1:8-17) vir sy konflik met valse leringe en eindig met ‘n oproep aan hom om die goeie stryd van die geloof te stry (1:18-20), d.w.s. ‘n lewe in geloof wat pas by die gesonde leer.

Die sleutel tot ‘n begrip van hierdie valse leraars se beheptheid met mitiese verdigsels, eindelose geslagsregisters en ‘n verkeerde fokus op die wet, lê waarskynlik in die feit dat hierdie kennis ‘n skyn van diepte en misterie gehad het, iets wat net vir die ingewydes bedoel is, en net deur hulle verstaan kan word.

Die evangelie van Jesus Christus is daarenteen ‘n baie publieke geloof, iets wat aan ‘n kind verduidelik kan word, en wat om ‘n rein hart en goeie gewete, en opregte geloof en liefde gaan. Kennis is goed, maar net nuttig, as dit die doel dien dat ‘n mens in jou geloof in God gevorm word.

Daarom moet die dwaalleraars teëgegaan word, nie om hulle net te verneder of aan die kaak te stel nie, maar met die doel om hulle in liefde reg te help. Dit is soos die tug altyd moet werk, om mense in liefde te help om weer van binne af te herstel om die gesonde leer aan te hang.

Paulus fokus dan op die regte verstaan en gebruik van die wet, en lê dit uit as iets wat eintlik vir die ongehoorsames bedoel is – en hy gee sommer ‘n lysie van die mense vir wie dit bedoel is. Hy ignoreer nie die wet omdat daar verkeerde uitlegte daarvan gemaak is nie, maar wys op die impak daarvan in die gesonde leer en lewe van die gemeente. Daarmee help sy fokus op die evangelie wat insig gee in die heerlikheid van die “goeie God” sodat Hy gedien kan word.

Later sal Paulus verder hieroor skrywe en vir Timoteus waarsku teen mense wat die wet op ‘n beperkende wyse gebruik (in terme van die huwelik en dieet), teenoor die evangelie wat juis vryheid bring (1 Tim 4:1-5). Hy hanteer dus die wet op ‘n baie genuanseerde wyse, maar probeer op geen manier dit net reduseer tot ‘n vervloë era van die OT bedeling nie.

Dit is met hierdie woorde in gedagte – 1) die regte begrip en gebruik van die wet; 2) die regte begrip en verstaan van die evangelie; 3) Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk – dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou.

Hy moet ook onthou dat daar ander is wat juis nie dít reggekry het nie (Himeneus [ook 2 Tim 2:17]en Aleksander [ons weet nie wie dit presies was nie – kyk self na die volgende verwysings van ‘n Aleksander: Hand 4:6; Mark 15:21; Hand 19:33; 2 Tim 4:14]), sodat sy geloof nie ook soos hulle s’n skipbreuk ly nie.

Die verwysing na “aan die Satan oorgegee” beteken waarskynlik dat hulle lidmaatskap van die gemeenskap van gelowiges opgesê is. Hulle was dus nie meer geag as deel van die koninkryk van die lig nie, maar as deel van die koninkryk van Satan.

3.3.10.1 1 Timoteus 1:3-11

Só vertaal die BDV dit:

3 Soos ek by jou aangedring het toe ek na Masedoniëa vertrek het, moet jy in Efese bly, sodat jy sekere mense kan beveel om nie vreemde leringe te versprei 4 en aan versinsels en eindelose geslagsregisters vas te klou nie. Hierdie dinge bevorder eerder sinlose argumente as God se plan wat Hy deur die geloof ten uitvoer bring. 5 Die doel van die opdrag is liefde uit ’n rein hart, ’n skoon gewete en ’n ongeveinsde geloof. 6 Sommige het hiervan afgedwaal en in ’n niksseggende gepraat verval. 7 Hulle wil leermeesters van die wet wees, maar hulle verstaan nie wat hulle sê of waarop hulle aandring nie.  8 Maar ons weet dat die wet goed is wanneer iemand dit op die regte manier gebruik, 9 omdat hy besef dat die wet nie bedoel is vir die regverdige nie, maar juis vir die wetteloses en ongehoorsames, vir die goddeloses en sondaars, vir die onheiliges en wêreldlinge, vir diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak en mense vermoor, 10 vir manlike prostitute, vir mans wat met mans intiem verkeer, vir diegene wat mense ontvoer, leuens vertel, meineed pleeg of enigiets anders doen wat teen die gesonde leer indruis. 11 Dit stem ooreen met die evangelie van die heerlikheid van die lofwaardige God, wat aan my toevertrou is.”

Paulus fokus op die regte verstaan en gebruik van die wet. Dit is uiters belangrik om raak te sien dat hy moeite doen om die wet as in ooreenstemming met die evangelie (vers 11) te koppel! Die fokus van die evangelie is om vir dié sonde te kan nee-sê weens insig wat gelowiges in die heerlikheid van die “goeie God” verkry sodat hulle Hom kan dien.

Dit is met hierdie woorde in gedagte – die regte begrip en gebruik van die wet; die regte begrip en verstaan van die evangelie – en daarby ook vir Paulus as voorbeeld van hoe God se genade werk, dat Timoteus die goeie stryd moet stry, aan die geloof moet vashou en ‘n goeie gewete moet behou.

Let ook op dat die volle OT wet volgens Paulus geldig bly vir almal wat die Here nie dien nie. Daarom kan ‘n mens die afleiding maak dat dit juis die wet se verbod is op sondes wat die huwelik bedreig – die sewende gebod op egbreuk – wat waarskynlik die agtergrond is vir die twee woorde wat hier met onsedelike (pornois) en selfdegeslag (arsenokoitai) gedrag verbind word.

Die ander Griekse woord in die konteks, ontvoerders (andrapodistês), het ook die moontlikheid van ‘n seksuele konnotasie, maar is myns insiens nie soseer op die onderwerp van toepassing nie (vgl. egter kommentare wat hieroor verskil as jy meer daaroor wil lees).

In terme van die fokus hier op die uitleg van die wet, sou ‘n mens die uitsprake van Paulus met die tweede tafel van die wet as volg kon verbind:

* “diegene wat hulle vaders en moeders doodmaak” kan uitgelê word as in ooreenstemming met die vyfde gebod: “Eer jou vader en jou moeder”;

* die wat “mense vermoor” kan verbind word met die sesde gebod: “Jy mag nie moord pleeg nie”;

* die “manlike prostitute” en “mans wat met mans intiem verkeer” met die sewende gebod: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie”;

* die “ontvoerders” kan verbind word met die agtste gebod: “Jy mag nie steel nie”;

* die “leuens vertel” en die “meineed pleeg” kan verbind word met die negende gebod: “Jy mag nie vals getuienis teen ’n ander gee nie”.

Dat daar ‘n sterk moontlikheid is dat die Tien Gebooie hier as agtergrond dien vir Paulus se gedagtegang kan nie ontken word nie.

Die woord pornois – wat wat met immorele seksuele gedrag, manlik of vroulik in verband gebring kan word – word deur die BDV interpreteer as dat dit in kombinasie met arsenokoitai op “manlike prostitusie” dui, op voetspoor van die wyse waarop malakoi in verbintenis met arsenokoitai in 1 Kor. 6 as selfdegeslag gedrag geïnterpreteer word. Dit is ‘n interessante perspektief op die wye reeks betekenisse wat aan pornois geheg kan word.

Die ander woord wat in die “sondelysie” belangrik is, is: “mans wat met mans intiem verkeer”, ‘n woord wat ons alreeds hanteer het by 1 Korintiërs 6. Dit is die woord arsenokoitai – wat ons ook reeds uitgelê het in die betekenis van die aktiewe selfdegeslag seksuele party.

Ons volstaan dus met hierdie interpretasie, behalwe om te beklemtoon dat dit in die konteks van die uitleg van die Tien Gebooie duidelik ‘n ononderhandelbare onderwerp vir Paulus was. Hy is konsekwent negatief in sy hantering nie net van enige tipe seksuele dade wat die familie en die huwelik bedreig nie, maar ook van enige selfdegeslag seksuele gedrag, of dit nou teen betaling/weens ontvoering was of nie. Dit pas nie in by sy prentjie van die huwelik en die gesonde uitlewing van seksualiteit nie.

3.3.11 Ander tekste

Daar is ook ander tekste wat op die onderwerp betrek kan word. Scot McKnight en William Loader maak ‘n saak uit vir ‘n paar ander tekste uit die evangelies wat met die onderwerp verbind kan word – vgl. die moontlike verwysing na pederastie in Mark 9:42-48, die verwysing na malakoi in verband met Johannes die Doper se klere in Matt. 11:7, en die moontlike betekenisse van porneia in Matt. 5:32; 15:19; 19:9 (soos moontlik natuurlik ook in 1 Tim. 1). Ek dink die uitleg van dié tekste het nog nie genoeg aanklank gevind dat dit in die gesprek hoef ingetrek te word nie. Die ander tekste in die Bybel is immers duidelik genoeg oor ons onderwerp.

Soms word Judas 7 ook betrek waar dit duidelik gaan oor ‘n dubbele grensoorskryding wat op die oog af op selfdegeslag seksuele gedrag dui, maar in wese die grens tussen mens en engel sou oorsteek (soos dit in bestialiteit ook oor die oorskryding van die grens tussen mens en dier gaan): “En dink ook aan die mense van Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle. Net soos daardie engele het hulle onsedelike dade gepleeg en omgang gesoek met vreemde wesens. As waarskuwing vir almal word hulle nou gestraf met die vuur wat ewig brand.” Die woord wat daar gebruik word vir onsedelike dade is ekporneusasai.

1 Tessalonissense 4:5 is ook in die algemeen van toepassing. Dit gaan daar oor heiligheid en eerbaarheid in alle verhoudings in die geloofsgemeenskap gaan. In die konteks van die tipe gemeenskap waar Christene in Griekeland lewe, word hulle deur Paulus opgeroep om hulle van onsedelikheid (porneia) te onthou. Hulle moet heilig lewe en trouens al hoe meer só lewe.

Dit het ‘n impak op die wyse waarop gelowiges met die teenoorgestelde geslag optree. “Elkeen van julle moet weet hoe om sy eie vrou te gekom, op ‘n heilige en eerbare wyse, en nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie.” Dié wellustige begeerte is ‘n vertaling van die Griekse woord pathos.

Dit het ook ‘n impak op die wyse waarop gelowiges teenoor hulle eie geslag optree. In die eerste plek mag hulle mekaar nie in die proses van heteroseksuele liefde bedrieg nie: “Niemand van julle moet in hierdie opsig oortree en sy broer bedrieg nie want soos tevore vir julle gesê het en nadruklik bevestig het, die Here vergeld al hierdie dinge.”

Die leidende moraal is die etiese riglyn: “God het ons immers nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie ‘n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.” (4:2-8).

In die tweede plek mag moet hulle mekaar liefhê, maar nie op ‘n seksuele wyse nie, maar op ‘n “broederlike” wyse. Dit sluit in dat hulle kalm bly teenoor mekaar, hulle met hulle eie sake bemoei, en met hulle eie hande die werk doen waarvoor hulle geroep is.

Die leidende moraal hier is die etiese riglyn: “Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie.” (4:12).

4. Selfdegeslagverhoudings in die lig van die Belydenisskrifte

4.1 Inleiding

Ek het besluit om ook na ons belydenisskrifte te kyk en die plekke te ondersoek waar Bybeltekste wat verband hou met die onderwerp as bewysplase gebruik word.  Hierdie belydenisskrifte vorm die hart van ons Gereformeerde tradisie.

Dié perspektiewe sal dus binne ons verstaan van die belydenisskrifte as in ooreenstemming met die Woord van God meer gewig dra as die standpunte van die Gereformeerde tradisie deur die eeue, hoewel só ‘n studie uiteraard steeds baie waardevol vir ons standpuntinname sal wees.

Ek het wel ook gekyk na wat twee van ons groot Hervormers, Johannes Calvyn en Martin Luther, oor die onderwerp gesê het, maar my verder by die belydenisskrifte self bepaal.

Johannes Calvyn het min geskryf oor selfdegeslag seksuele gedrag behalwe waar dit in die loop van sy kommentare oor die Bybel aan die orde gekom het nie. In sy hantering van 1 Kor. 6:9-11 vertaal hy die terme wat met selfdegeslag seksuele gedrag verbind word met “effiminate” (malakoi – passiewe selfdegeslag seksuele party) en “abusers of themselves with mankind” (arsenokoitai – aktiewe selfdegeslag seksuele party: “mans wat intiem verkeer met mans”). Sy kommentaar daaroor is:

“By effeminate persons I understand those who, although they do not openly abandon themselves to impurity, discover, nevertheless, their unchastity by blandishments of speech, by lightness of gesture and apparel, and other allurements. The fourth description of crime is the most abominable of all — that monstrous pollution which was but too prevalent in Greece.”

Hy was dus baie duidelik daaroor dat hy selfdegeslag seksuele gedrag as “abominable” beskou het, trouens as “the most abominable of all – that monstrous pollution”. En hy het dit verbind met die historiese voorkoms daarvan in die Griekse wêreld.

Martin Luther se perspektief op selfdegeslag seksuele gedrag, in sy woorde “sodomie”, was as volg:

“The vice of the Sodomites is an unparalleled enormity. It departs from the natural passion and desire, planted into nature by God, according to which the male has a passionate desire for the female. Sodomy craves what is entirely contrary to nature. Whence comes this perversion? Without a doubt it comes from the devil. After a man has once turned aside from the fear of God, the devil puts such great pressure upon his nature that he extinguishes the fire of natural desire and stirs up another, which is contrary to nature.” (Plass, Ewald Martin. What Luther Says: An Anthology, Volume 1, 1959. p. 134.)

Hy was dus eweneens baie duidelik daaroor dat selfdegeslag seksuele gedrag teen-natuurlik is, ‘n perversie van normale seksuele gedrag.

Die belangrikste bydrae van die Hervormers kom egter van die skrywer van die Heidelbergse Kategismus, Zacharias Ursinus. In sy kommentaar op die Heidelbergse Kategismus Sondag 41, vraag 108, wat hy saam met Casper Olivianus in opdrag van Frederik III geskryf het, en aanvaar is in 1563, beskryf hy selfdegeslag seksuele gedrag helder as ‘n oortreding van die sewende gebod.

Ursinus het enige seks buite die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as onkuis en onsedelik beskou en moeite gedoen om baie spesifiek ook selfdegeslag seksuele gedrag af te wys as teen-natuurlik en korrup en daarom onsedelik en onkuis, veral met verwysing na Romeine 1. Selfdegeslag seksuele gedrag het volgens hom ‘n verwarring van geslagte behels in die geval van mans en ‘n misbruik van vroulike seksualiteit in die geval van vroue. Daarom is daar net twee weë vir alle gelowiges: ‘n lewe van kuisheid (chastity) of die huwelik (man en vrou).

Dit sien ‘n mens duidelik in Zacharias Ursinus se eie kommentaar op vraag 108 (The Commentary of Dr. Zacharaias Ursinus on the Heidelberg Catechism translated from the original Latin by Rev. G. W. Williard, A. M. Electronic Version Edited by Eric D. Bristley, Th. M. for the Synod of the Reformed Church in the United States 2004 – http://www.rcus.org/wp-content/uploads/2013/09/UrsinusZ_HC-Commentary-17-NEW-HC.pdf):

“God in this commandment enjoins and sanctions the preservation of chastity and marriage, and hence authorises marriage itself; for whenever God forbids any thing, he at the same time commands and authorises the observance of that which is opposite thereto. God, now, in this commandment forbids adultery, which is a violation of conjugal fidelity. When God singles out adultery as the most shocking and debasing vice of all the sins which are repugnant to chastity, he at the same time prohibits and condemns all wandering and wanton lusts, whether they be found in married or unmarried persons, and prohibits all other sins and vices contrary to chastity, together with their causes, occasions, effects, antecedents, consequents, &c.”

Dit is dus duidelik dat Ursinus enige seks buite die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as onkuis en onsedelik beskou het. Trouens, die enigste twee weë wat gelowiges mag bewandel in terme van hulle seksualiteit is “chastity” (kuisheid, selibaat) en die huwelik. Dit is wat God deur die sewende gebod in die lewe van gelowiges sanksioneer.

Ursinus gaan verder om dan baie spesifiek ook selfdegeslag seksuele gedrag af te wys as teen-natuurlik en korrup en daarom onsedelik en onkuis:

“The first class or kind are those which are contrary to nature, and from the devil such as are even contrary to this our corrupt nature, not only because they corrupt and spoil it of conformity with God, but also because this our corrupt nature shrinks from them and abhors them. The lusts of which the apostle Paul speaks in the first chapter of his Epistle to the Romans, are of this class, as the confounding of sexes, also abuses of the female sex.”

Ursinus is dus duidelik daaroor, spesifiek met verwysing na Romeine 1, dat selfdegeslag seksuele gedrag in die geval van mans ‘n verwarring van geslagte behels en in die geval van vroue vroulike seksualiteit misbruik. Buite die huwelik moet alle mense kuis – d.w.s. sonder seks – lewe.

‘n Mens kan dus nie anders as om die belydenisskrifte, spesifiek die Heidelbergse Kategismus, in die lig van Ursinus se eie interpretasie te lees nie. Op grond van Ursinus se interpretasie van die Heidelbergse Kategismus sowel as op grond van Calvyn se uitleg van 1 Korintiërs 6 is dit duidelik dat die besluit van die Algemene Sinode van 2015 oor selfdegeslagverhoudings in direkte teenspraak nienet met die Hervormers is nie, maar ook in direkte teenspraak van kerkorde artikel 1 van die NG Kerk is wat as volg bely:

“Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.”

Ek sal dit verder beredeneer aan die hand van die uitsprake hieroor in ons belydenisskrifte en hanteer die volgende verwysings in die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) en die Heidelbergse Kategismus (HK): Levitikus 18:28; Romeine 1:18,20-21,28, 1 Korintiërs 6:9-11, 1 Timoteus 1:15. Die Dordtse Leerreëls en die drie ekumeniese belydenisse verwys nie na selfdegeslag seksuele gedrag nie.

4.2 Opsomming

Die tekste word gebruik om die Nederlandse Geloofsbelydenis se belydenisse te begrond oor:

1. die Middele waardeur ons God ken (art. 2);

2. die Voorsienigheid van God (art. 13);

3. die Skepping van die mens, die sondeval en die gevolge daarvan (art. 14);

4. die Versoening deur Christus (art. 21);

5. die Heilige Doop (art. 34).

Die tekste onderstreep:

1. die oortuigingskrag van die Algemene Openbaring om die skuld vir die sonde vierkantig voor die deur van die mens te plaas (Rom. 1:20);

2. die belydenis dat mense nie God vir die onbetaamlike dinge kan verwyt wat hulle doen weens hulle verdraaide opvattings nie, onder andere in terme van selfdegeslag seksuele gedrag (Rom. 1:28);

3. die belydenis dat al die sondes wat in Romeine 1 uitgespel word die gevolg is van die sondeval wat selfdegeslag seksuele gedrag insluit (Rom. 1:20-21);

4. die betroubaarheid van die boodskap van versoening vir sondaars wat in die konteks selfdegeslag seksuele gedrag insluit (1 Tim. 1:15).

5. die waarheid van die afwassing van die sonde wat selfdegeslag seksuele gedrag insluit (1 Kor. 6:11).

Die tekste word gebruik om die Heidelbergse Kategismus se leringe in al drie sy dele (ellende, verlossing, dankbaarheid) te begrond oor:

1. God se straf oor die ellende van die erfsonde sowel as oor die sonde wat ons self doen (vraag 10);

2. die verlossing in terme van die vernuwing van die Heilige Gees om godvresend en onbesproke te kan lewe (vraag 70);

3. die afwassing van sondes deur die sakrament van die doop (vraag 72);

4. die feit dat ons nie kan salig word as ons in ’n goddelose ondankbare lewe volhard nie (vraag 87);

5. die sewende gebod oor egbreuk (vraag 108).

Die tekste onderstreep:

1. God se toorn oor die ellende van die erfsonde sowel as oor die sonde wat ons doen, selfdegeslag seksuele sondes ingesluit (Rom. 1:18);

2. die verlossing van onder andere die sondes van malakoi en arsenokoitai – die woorde vir passiewe en aktiewe selfdegeslag seksuele partye – sowel as pornoi (onsedelikheid in die algemeen) en moichoi (egbreuk) in die vorige twee verse (1 Kor. 6:11);

3. die verlossing van die afwassing van sondes, selfdegeslag seksuele gedrag ingesluit (1 Kor. 6:11);

4. die afwysing van selfdegeslag seksuele gedrag nie net in terme van die lewe vóór Christus nie, maar ook in die nuwe lewe van dankbaarheid ná die bekering tot Christus vir diegene wat sy verlossing ervaar het (1 Kor. 6:9-10);

5. die tipe onkuisheid wat deur God vervloek is en wat selfs in die lewe van dankbaarheid selfdegeslag seksuele gedrag uitsluit (Lev. 18:28).

4.3 Nederlandse Geloofsbelydenis

In die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) word dié tekste in vyf sleutel belydenisse gebruik.

4.3.1 Die belydenis in NGB 2 oor die Middele waardeur ons God ken.

Die artikel bely dat die Algemene Openbaring eintlik al genoeg is om mense te oortuig om God te ken en van enige verontskuldiging te ontneem in terme van wat vir ons in hierdie lewe nodig is om tot God se eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort, te lewe.  Die Besondere Openbaring spel dit daarby nog meer duidelik en meer volkome uit as die Algemene Openbaring.

Romeine 1:20 word hier gebruik om die oortuigingskrag van die Algemene Openbaring te onderstreep en die skuld vir die sonde vierkantig voor die deur van die mens te plaas.

Die teks lui so: “Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie.”

Die Algemene Openbaring is dus nie in stryd met die Besondere Openbaring nie en kan nie iets anders vir ons sê as wat die Besondere Openbaring doen nie. Inteendeel, die Algemene Openbaring kan nie gebruik word om mense te verontskuldig van sondes wat deur die Besondere Openbaring voor die deur van mense gelê word nie, soos vandag baie keer in die debat oor selfdegeslagverhoudings gedoen word.

4.3.2 Die belydenis in NGB 13 oor Die Voorsienigheid van God.

Die artikel bely dat God in sy voorsienigheid nie verantwoordelik is vir die sonde nie.  Hy is nie die bewerker van die sonde nie en dra ook nie die skuld daarvoor nie.

Romeine 1:28 word hier gebruik om te bevestig dat mense nie God vir die onbetaamlike dinge kan verwyt wat hulle doen weens hulle verdraaide opvattings nie, onder andere in terme van selfdegeslag seksuele gedrag soos dit in die konteks van vers 24-27 uitgespel is.

Die teks lui so: “En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”

4.3.3 Die belydenis in NGB 14 oor Die Skepping van die mens, die sondeval en die gevolge daarvan.

Die artikel bely dat alle sonde die gevolg is van die sondeval waaraan die mens hom willens en wetens onderwerp het.

Romeine 1:20-21 word gebruik as bewysplaas om te bevestig dat die 26 sondes wat in die res van Romeine 1 uitgespel word die gevolg is van die sondeval wat selfdegeslag seksuele gedrag insluit.

Die teks lui so: “Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat ’n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister.”

4.3.4 Die belydenis in NGB 21 oor Die versoening deur Christus.

Die artikel bely dat Christus ons aan die kruis van ons sondes verlos het waarmee Hy ons met God versoen het.

1 Timoteus 1:15 word hier gebruik om die betroubaarheid van dié boodskap van versoening vir sondaars te onderstreep wat in die konteks selfdegeslag seksuele gedrag insluit.

Dit lui as volg: “Dit is ’n betroubare woord en kan sonder voorbehoud aanvaar word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te verlos. Van hulle is ek die grootste.”  Die sondaars waarna hier verwys word, het Paulus in die vorige perikoop beskryf in die sondelysie in vers 9-10, wat onder andere pornois (ontugtige mense) en arsenokoitais (mans wat met mans intiem verkeer) insluit.

4.3.5 Die belydenis in NGB 34 oor Die Heilige Doop.

Die artikel bely dat ons deur die doop in die kerk van God opgeneem word en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra. Die doop besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke.

1 Korintiërs 6:11 word hier gebruik om die waarheid van die afwassing van die sonde te onderstreep wat selfdegeslag seksuele gedrag insluit.

Dit lui as volg: “En so was party van julle juis ook. Maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van ons God.”  Hierdie sondes word in die sondelysie van vers 9-10 uitgespel waar onder andere verwys word na malakoi en arsenokoitai – die passiewe en aktiewe partye in ’n selfdegeslag seksuele verhouding.  Dit is onder andere dié dinge wat die doop in mense se lewens afwas.

4.4 Heidelbergse Kategismus

In die Heidelbergse Kategismus (HK) word dié tekste in vyf sleutel leringe gebruik regdeur die drie hoofdele daarvan, nl. 1) Die ellende van die mens, 2) Die verlossing van die mens, en 3) Die dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is.

4.4.1 Die lering oor die Ellende van die mens in Sondag 4, vraag 10, sluit God se straf oor die erfsonde in sowel as oor die sonde wat ons self doen, selfdegeslag seksuele sondes ingesluit.

Die HK vra in vraag 9 of God dan nie: “die mens onreg aandoen as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie?”  Die antwoord daarop is, nee, “want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen.”  Die ongemaklike waarheid, sê die HK, is dat: “die mens homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof het.” Die verwysings is Ef. 4:24; Gen. 3:13; 1 Tim. 2:13, 14; Gen. 3:6; Rom. 5:12.

Dit roep onmiddellik vraag 10 na vore: “Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?”  Die antwoord is, nee, glad nie.  Die HK sê: “Inteendeel, sy toorn is verskriklik (a) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ’n regverdige oordeel straf (b)”.  Dit sluit die hele lys van 26 sonde in Romeine 1 in wat  selfdegeslag seksuele gedrag inkorporeer. Die HK sê verder: “God het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (c)”.  Die verwysings hiervoor is as volg: (a) Gen. 2:17; Rom. 5:12. (b) Ps. 50:21; 5:6; Nah. 1:2; Eks. 20:5; 34:7; Rom. 1:18; Ef. 5:6. (c) Deut. 27:26; Gal. 3:10.

Romeine 1:18 word dus hier gebruik om God se toorn te bevestig oor die erfsonde sowel as oor die sonde wat ons doen, selfdegeslag seksuele sondes ingesluit.

Die teks lui as volg: “God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk.”

Dit is dus duidelik dat die wet van God steeds van krag bly in die gestalte van ’n tugmeester na God toe vir diegene wat hulle skuldig maak aan die sondes wat in Romeine 1 genoem word, onder andere die seksuele onreinheid van die skandelike drifte, teen-natuurlike, en perverse selfdegeslag seksuele gedrag soos Romeine 1 dit uitspel.

Dié gestalte van die wet as tugmeester sal wel in die derde deel van die Heidelbergse Kategismus verander na die gestalte van die wet as reël van dankbaarheid.  Maar, die oordeel van die wet sal steeds van krag bly op mense wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie, soos vraag 87 dit duidelik maak.  Die saligheid word vir sulke mense toegesluit.

4.4.2 Die lering oor die Verlosing van die mens in Sondag 26, vraag 70, spel verlossing uit in terme van die vernuwing van die Heilige Gees wat insluit dat ons die sonde van onder andere selfdegeslag seksuele gedrag afsterwe om godvresend en onbesproke te kan lewe.

Die HK vra  in vraag 70: “Wat beteken dit om met die bloed en Gees van Christus gewas te wees?”  Die antwoord is: “Dit beteken om van God vergewing van sonde uit genade te ontvang ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (a).”  Vir alle kinders van die Here is dit die vertrekpunt in verlossing, om vergifnis van sonde uit genade te ontvang. Dit is waarom daar ’n kruis was om deur die bloed van Christus vir ons vryspraak te koop.  Die verwysings hiervoor is: (a) Hebr. 12:24; 1 Petr 1:2; Openb. 1:5; 7:14; Sag. 13:1; Eseg. 36:25.

Die Kategismus vervolg in vraag 70: “Verder, om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (b).”   Die verwysings hiervoor is (b) Joh. 1:33; 3:5; 1 Kor. 6:11; 12:13; Rom. 6:4; Kol. 2:12.

1 Kor. 6:11 verwys in dié geval na onder andere die sondes van malakoi en arsenokoitai – die woorde vir passiewe en aktiewe selfdegeslag seksuele partye – sowel as pornoi (onsedelikheid in die algemeen) en moichoi (egbreuk) in die vorige twee verse.

Hieroor verklaar die teks: “so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sondes laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”

Die verlossing van sonde is dus duidelik ook van die seksuele gedrag wat met malakoi en arsenokoitai geassosieer word, sodat die vernuwing van die Heilige Gees gelowiges kan help om onder andere selfdegeslag seksuele gedrag af te sterwe om godvresend en onbesproke te kan lewe.

4.4.3 Die verdere lering oor die Verlossing van die Mens in Sondag 27, vraag 72, koppel die afwassing van sondes, onder andere van selfdegeslag seksuele gedrag, aan die sakrament van die doop.

In Sondag 27 word op die verlossing deur die Gees van Christus uitgebrei en die verlossing ook aan die doop gekoppel, hoewel die doop duidelik ’n teken is van die innerlike werklikheid van die werk van die Gees van Christus.  Vraag 72 lui: “Is die uitwendige, waterbad self dan die afwassing van die sonde?” Dit antwoord is: “Nee (a), want alleen die bloed van Jesus Christus en die Heilige Gees reinig ons van alle sondes (b).”  Die verwysings is (a) Matt 3:11; 1 Pet 3:21; Ef 5:26. (b) 1 Joh 1:7; 1 Kor 6:11.

Soos met die koppeling van verlossing aan die werk van die Gees, koppel die HK hier die verlossing aan die afwassing van sondes deur die sakrament van die doop.

1 Korintiërs 6:11 word dus hier weereens gebruik om die afwassing van sondes te beklemtoon, selfdegeslag seksuele gedrag ingesluit.

Die teks lui as volg: “so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sondes laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”

Selfdegeslag seksuele gedrag word dus beskou as iets waarvan ’n mens gereinig moet word.

4.4.4 Die lering oor die Dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is in Sondag 32, vraag 87, spel duidelik uit dat ons nie kan salig word as ons in ’n goddelose ondankbare lewe volhard nie, onder andere wanneer ons in selfdegeslag seksuele gedrag volhard.

Hierdie lering brei uit op die goeie werke wat ons in dankbaarheid aan die Here doen.  In vraag 86 word duidelik uitgespel dat die werke nie gedoen word om iets te verdien nie, maar om: “met ons hele lewe bewys (a) dat ons God dankbaar is vir sy weldade en Hy deur ons geprys (b) word: Verder, sodat ons vir onsself uit die vrugte van ons geloof sekerheid kan kry. (c), en ons deur ons godvresende lewe ons naaste ook vir Christus kan wen (d).”  Die verwysings hiervoor is: (a) Rom. 6:13; 12:1, 2; 1 Pet. 2:5, 9; 1 Kor. 6:20. (b) Matt. 5:16; 1 Pet. 2:12. (c) 2 Pet. 1:10; Matt. 7:17 Gal. 5:6,22. (d) 1 Pet. 3:1, 2; Rom. 14:19.

Hierop word uitgebrei met vraag 87: “Kan die mense dan nie salig word wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie?” Hierop antwoord die Kategismus: “Nee, glad nie.” Hoekom?  Die antwoord van die Kategismus is dat die Skrif só sê: “Want die Skrif sê dat geen onkuise, afgodedienaar, egbreker, dief, gierigaard, dronkaard, lasteraar, rower en sulkes die koninkryk van God sal beërwe nie (a).” Die bewysplase is: (a) 1 Kor 6:9, 10; Ef 5:5, 6;1 Joh 3:14.

Die HK haal dus direk uit 1 Korintiërs 6:9-10 aan om ’n lewe wat volhard in sonde af te wys.  Getrou aan die aard van die Kategismus as ‘n boek wat ook vir kinders bedoel was, word die verwysings na seksuele sondes uit dié aanhaling van die Bybel onder die noemer “en sulkes” geplaas. In die lysie van sondes in die Bybel word malakoi en arsenokoitai natuurlik ingesluit as deel van die reeks sondes. Dié twee terme kan semanties as passiewe en aktiewe selfdegeslag seksuele partye geïnterpreteer word.

1 Korintiërs 6:9-10 word dus gebruik om selfdegeslag seksuele gedrag af te wys nie net in terme van die lewe vóór Christus nie, maar ook in die nuwe lewe van dankbaarheid ná die bekering tot Christus vir diegene wat sy verlossing ervaar het, al word die terme uitgelaat ter wille van kinders.

Die volle teks lui as volg: “Weet julle nie dat onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërf nie? Laat julle nie mislei nie: geen onsedelikes of afgodedienaars of egbrekers of manlike prostitute of mans wat met mans intiem verkeer, of diewe, geldgieriges, dronkaards, kwaadpraters of rowers, sal die koninkryk van God as erfdeel ontvang nie.” (Bybel Direkte Vertaling).

Die Heidelbergse Kategismus wys dus hier selfdegeslag seksuele gedrag implisiet af ook in die nuwe lewe van dankbaarheid ná die bekering tot Christus. Dié feit word nog duideliker in die volgende verwysing na Levitikus 18:28 in vraag 108 onderstreep.

4.4.5 Die lering oor die Dankbaarheid wat ons aan God vir die verlossing verskuldig is in Sondag 41, vraag 108, wys selfdegeslag seksuele gedrag af as ’n oortreding van die sewende gebod oor egbreuk.

Die HK brei uit oor die dankbaarheid met verwysing na die nakoming van die sewende gebod wat steeds op gelowiges van krag bly.  Die antwoord op vraag 108: “Wat leer die sewende gebod ons?” is: “Alle onkuisheid is deur God vervloek (a), en daarom moet ons dit hartgrondig haat (b).  Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (c) sowel binne as buite die huwelik (d).”  Die verwysings wat aangegee word is (a) Lev. 18:28. (b) Jud. 1:23. (c) 1 Tess. 4:3-5. (d) Hebr. 13:4; 1 Kor. 7:7.

As Skrifverwysing vir die tipe onkuisheid wat deur God vervloek is, word Lev. 18:28 gebruik, wat selfdegeslag seksuele gedrag saam met alle ander seksuele gedrag buite die huwelik in die lewe van dankbaarheid uitsluit.

Dit lui so: “As julle die land verontreinig, sal hy júlle ook uitspoeg soos hy die heidene vóór julle uitgespoeg het.”  Daarmee word ’n opsommende kommentaar gelewer op die hele reeks van seksuele sondes wat in Levitikus 18 genoem word en wat in vers 22 eksplisiet selfdegeslag seksuele gedrag ingesluit het: “Met ’n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos ’n mens met ’n vrou het nie. Dit is ’n gruwel.” (OAV).

Dit is duidelik dat selfdegeslag seksuele gedrag vir die Heidelbergse Kategismus ook val onder die oortredings van die sewende gebod.  Om die waarheid te sê, die antwoord op vraag 109 spel dit duidelik uit dat God nie net egbreuk en sulke skandes met dié gebod verbied nie.  Die HK leer hier dat God ons reinheid en heiligheid in die oog het: “Omdat beide, ons liggaam en siel, ’n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar.  Daarom verbied hy alle onkuise dade, gebare, woorde (a), gedagtes, luste (b) en alles wat ’n mens daartoe kan verlei (c).”  Die verwysings daarvoor is (a) Ef. 5:3, 4; 1 Kor. 6:18, 19. (b) Matt. 5:27, 28. (c) Ef. 5:18; 1 Kor. 15:33.”

Hierdie uitleg word bevestig deur Zacharias Ursinus se eie kommentaar op vraag 108 (The Commentary of Dr. Zacharaias Ursinus on the Heidelberg), soos vroeër aangehaal

Ursinus het enige seks buite die huwelik tussen ‘n man en ‘n vrou as onkuis en onsedelik beskou. Trouens, die enigste twee weë wat gelowiges mag bewandel in terme van hulle seksualiteit is “chastity” (kuisheid, selibaat) en die huwelik. Dit is wat God deur die sewende gebod in die lewe van gelowiges sanksioneer.

Ursinus het baie spesifiek ook selfdegeslag seksuele gedrag afgewys as teen-natuurlik en korrup en daarom onsedelik en onkuis, soos vroeër aangehaal:

“The first class or kind are those which are contrary to nature, and from the devil such as are even contrary to this our corrupt nature, not only because they corrupt and spoil it of conformity with God, but also because this our corrupt nature shrinks from them and abhors them. The lusts of which the apostle Paul speaks in the first chapter of his Epistle to the Romans, are of this class, as the confounding of sexes, also abuses of the female sex.”

Ursinus is dus duidelik daaroor, spesifiek met verwysing na Romeine 1, dat selfdegeslag seksuele gedrag in die geval van mans ‘n verwarring van geslagte behels en in die geval van vroue vroulike seksualiteit misbruik. Buite die huwelik moet alle mense kuis – d.w.s. sonder seks – lewe.

Die Gereformeerde tradisie is dus konsekwent afwysend teenoor enige moontlikheid van selfdegeslag seksuele gedrag. Só vind ‘n mens dit by Luther en Calvyn, sowel as in ons belydenisskrifte, soos Ursinus se eie kommentaar op die Heidelbergse Kategismus onder andere uitwys. Dié oordeel geld alle selfdegeslag seksuele gedrag óók langtermyn selfdegeslagverhoudings, al word dit ook in liefde en trou gesluit.

5. Verwysings

Anderson, R.T. 2015. Truth overruled: The future of marriage and religious freedom. Regnery Publishing: Washington.

Andreades, S.A. 2015. enGendered: God’s Gift of Gender Difference in Relationship. Weaver Books: Wooster, Ohio.

Beal, M., 2016. Sexuality J. D. Barry et al., reds. The Lexham Bible Dictionary.

Boswell, J. 1994. Same-Sex Unions in Premodern Europe. Vintage Books: New York.

Botha, P. 2014. The Bible and Homosex. Sexual Truths for a modern society. New Living Way Ministry: Smashwords.

Branch, J.A. 2016. Born this way? Homosexuality, Science and the Scriptures. Weaver Books: Wooster, Ohio.

Budin, S. L. 2008. The Myth of Sacred Prostitution in Antiquity (Cambridge University Press: Cambridge)

Butterfield, R.C. 2014. The Secret Thoughts of an Unlikely Convert: an English professor’s journey into christian faith. Crown & Covenant: Pittsburg.

Butterfield, R.C. 2015. Openness Unhindered. Further thoughts of an Unlikely Convert on Sexual Identity and Union with Christ. Crown & Covenant: Pittsburgh.

Brownson, J.V. 2013. Bible Gender Sexuality. Reframing the Church’s Debat on Same-sex relationships. Eerdmans: Grand Rapids.

Cagnon, R.A,J. 2011. “Understanding and Responding to a Pro-Homosexual Interpretation of Scripture.” Artikel by http://enrichmentjournal.ag.org/201103/201103_092_hom_understnd.cfm.

Codrington, G. 2015. “The Biblical case for Christians affirming same sex marriage.” Future Church Now by http://www.futurechurchnow.com/2015/07/23/the-biblical-case-for-christians-affirming-same-sex-marriage-part-1-the-arguments-against/#index.

Cook, J. 2006. “Homoseksualiteit: ’n Tekstuele Perspektief.” Scriptura 93 (2006), bl. 411-418.

Countryman, L.W. 2007. Dirt, Greed & Sex. Sexual Ethics in the New Testament and their implications for today. Fortress Press: Minneapolis.

DeYoung, K. 2015. What does the Bible really teach about Homosexuality? Crossway: Wheaton.

Dreyer, Y. 2004. “Homoseksualiteit: Die kerk, die tradisie en die Bybel – homofobie en sarkofobie en die evangelie.” HTS 60(1&2), bl. 175-205.

Dunn, J.D.G. 1988. Romans. Word: Dallas.

Fortson, S.D. & R.G. Grams, 2016.  Unchanging Witness: The Consistent Christian Teaching on Homosexuality in ­Scripture and Tradition.  B&H Academic Nashville, Tennessee.

Gray, G & J Coovadia. 2015. Diversity in Human Sexuality: Implications for Policy in Africa. Academy of Science of South Africa (ASSAf)

Hartley, J.E. 1992. Leviticus. Word: Dallas.

Hauerwas, S.M. 2000. “Resisting Capitalism: On Marriage and Homosexuality.” QUARTERLY REVIEW – A Journal of Theological Resources for Ministry /FALL.

Hays, R. 1996. The Moral Vision of the New Testament: Community, Cross, New Creation. HarperOne: New York.

Jonker, L. 2011. “Lewend en kragtig”? Die hermeneutiese dinamika en implikasies van (her)interpretasie in die Ou Testament. (’n Verkorte weergawe van hierdie artikel is op 31 Maart 2011 deur die outeur as professorale intreerede gelewer.) NGTT Deel 52 Nommer 1 & 2 Maart en Junie 2011, bl. 128-47.

Jonker, L. 2006. “Ou-Testamentiese tekste in die gesprek oor homoseksualiteit.” Scriptura 93, bl. 401-410.

Kaltenbach, C. 2015. Messy Grace: How a Pastor with Gay Parents Learned to Love Others Without Sacrificing Conviction. Waterbrook: New York.

Keen, K.R., 2016. Sexuality, Critical Issues J. D. Barry et al., reds. The Lexham Bible Dictionary.

Keller, T. 2015. “The Bible and same sex relationships: A review article.” Redeemer Report. By http://www.redeemer.com/redeemer-report/article/the_bible_and_same_sex_relationships_a_review_article.

Kinnaman, D. & G. Lyons 2007. Unchristian. What a new generation really thinks about Christianity … an why it matters. Groundbreaking research from the Barna Group. Bakerbooks: Grand Rapids.

Kruis, J.G., 1994. Quick scripture reference for counseling electronic ed., Grand Rapids, MI: Baker Book House.

Loader, W. R. G. 2010. Sexuality in the New Testament: understanding the key texts. Westminster John Knox: Louisville, Kentucky.

Loader, W.R.G. 2014. “Same-sex relationships: A 1st-century perspective.” HTS Teologiese Studies/Theological Studies 70(1).

Malina, B. J. 2002. “The New Testament and Homosexuality? Part 1: The Social System behind Romans 1.” VERBUM ET ECCLESIA JRG 23 (1).

Malina, B. J. 2002. “The New Testament and Homosexuality? Part 2: The Traditions Influencing Paul’s Thinking in Romans 1.” VERBUM ET ECCLESIA JRG 23 (2).

Mayer, L.S. & P.R. McHugh, 2016. Sexuality and Gender. Findings from the Biological, Psychological, and Social Sciences. The New Atlantis. A Journal of Technology and Society. Special Report. Number 50, Fall 2016.

McKnight, S. 2014. Fellowship of Differents: showing the world God’s design for life together.  Zondervan: Michigan, Grand Rapids.

McNight, S. 2015. “Adam and the Scientists.” Evolution and Christian Faith Conference by https://www.youtube.com/watch?v=FaSH27HsmQ4.

Mounce, W.D. 2000. Pastoral Epistles. Word: Dallas.

Pirenne-Delforge, V. 2009. “Stephanie Budin, The Myth of Sacred Prostitution in Antiquity.” – a Review by http://bmcr.brynmawr.edu/2009/2009-04-28.html.

Punt, J. 2007. “Romans 1:18-32 amidst the gay-debate: Interpretative options.” HTS 63(3), bl. 965-82.

Scrogg, R. 1983. The New Testament and Homosexuality: Contextual Background for contemporay debate. Fortress Press: Philadelphia.

Seitz, C.R. 2011. The Character of Christian Scripture. The Significance of a Two-Testament Bible. Baker: Grand Rapids.

Shaw, E. 2015. Same-sex attraction and the Church: The surprising plausibility of the Celibate life.  Intervarsity Press: Downers Grove.

Smit, D.J. 2006. Neem, lees! Hoe ons die Bybel hoor en verstaan. Lux Verbi: Paarl.

Snyman, G. 2006. “Homoseksualiteit en tydgerigtheid: ’n etiek van Bybellees?” In die Skriflig 40(4) 715-744.

Steyn, G. 2007. “Riglyne vir ‘n verantwoordelike Nuwe Testamentiese verstaan in die homoseksualiteitsdebat. Deel 1: ’n Komplekse Saak.” VERBUM ET ECCLESIA JRG 28(1).

Steyn, G.J. 2007. “Riglyne vir ‘n verantwoordelike Nuwe-Testamentiese verstaan in die homoseksualiteitsdebat. Deel 2: Nuwe Testamentiese tekste.” VERBUM ET ECCLESIA JRG 28(2).

Strauss, M.L. 2011. How to Read the Bible in Changing Times: Understanding and Applying God’s Word Today. BakerBooks: Grand Rapids, Michigan.

Strauss, P.J., 2011. “Homoseksualiteit: Die standpunte van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika in 2007.” HTS Teologiese Studies/Theological Studies 67(3).

Thiselton, A. C. 2009. Hermeneutics: An Introduction. Eerdmans: Cambridge.

Van Coller, H. 2013. “Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma.” LitNet Akademies, Jaargang 10, Nommer 3, Desember 2013.

Van Eck, E. & R. Barnard. 2013. “Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?” LitNet Akademies, Jaargang 10, Nommer 3, Desember 2013.

Van Rensburg, F. J. 2006. “Die tydgerigtheid van die Bybel en die etiek van Bybellees: respons op die artikel van Gerrie Snyman.” In die Skriflig 40(4) 745-769.

Via, D.O. & R.A.J Gagnon. 2003. Homosexuality and the Bible: Two Views. Fortress Press: Minneapolis.

Walton. J. 2015. “Investigating What the Bible Claims Concerning Adam and Eve.” Evolution and Christian Faith Conference by https://www.youtube.com/watch?v=NAoZ7wbGur0.

Wenham, G.J. 1979. The Book of Leviticus. Eerdmans: Grand Rapids.

Witherington, B. 2015. “On Further Review– Why Gay Marriage Can’t Be Christian Marriage.” By Patheos by http://www.patheos.com/blogs/bibleandculture/2015/08/12/on-further-review-why-gay-marriage-cant-be-christian-marriage.

Wright, N.T. 2015. Paul and his recent intepreters. Fortress Press: Minneapolis.

Wright, N.T. 2014. “Tom Wright on Homosexuality” by http://thinktheology.co.uk/blog/article/tom_wright_on_homosexuality.

Wright, N.T. 2013. Paul and the Faithfulness of God. Fortress Press: Minneapolis.

Wright, N.T. 2005.  Scripture and the authority of God. Society for Promoting Christian Knowledge: London. (Logos)

Wright, N.T. 2002. “Communion and Koinonia: Pauline Reflections on Tolerance and Boundaries.” A paper given at the Future of Anglicanism Conference, Oxford by http://ntwrightpage.com/Wright_Communion_Koinonia.htm.

Yuan, C. & A Yuan 2011. Out of a Far Country. A gay son’s yourney to God. A broken mother’s search for hope. Waterbrook: Colarado Springs.

6. Gravamen oor selfdegeslagverhoudings

6.1 Aanbeveling:

6.1.1 Die buitengewone Algemene Sinode van 2016 besluit dat die besluite oor selfdegeslagverhoudings van die Algemene Sinode van 2015 in stryd is met artikel 1 van die kerkorde van die NG Kerk wat as volg bely: “Die Nederduitse Gereformeerde Kerk staan gegrond op die Bybel as die heilige en onfeilbare Woord van God. Die leer wat die Kerk in ooreenstemming met die Woord van God bely, staan uitgedruk in die Formuliere van Eenheid soos vasgestel op die Sinode van Dordrecht in 1618-1619, naamlik die sewe en dertig artikels van die Nederlandse Geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus en die vyf Dordtse Leerreëls.”

6.1.2 Die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk 2016 aanvaar die onderstaande standpunt (6.2.1 – 6.2.7) oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Gereformeerde tradisie en die Skrif as in ooreenstemming met artikel 1 van die kerkorde van die NG Kerk.

6.1.3 Hierdie besluit in 6.1.1 en hierdie standpunt in 6.1.2 – soos hieronder verwoord in 6.2.1 – 6.2.7 – herroep enige vorige besluit en standpunt van die NG Kerk oor die status van selfdegeslagverhoudings.

6.2 Standpunt oor selfdegeslagverhoudings

6.2.1 Geskrewe Woord van God

Die Geskrewe Woord van God is ons uitgangspunt in alle sake van leer en lewe.  Ons bely dat hierdie Woord van God nie deur die wil van ’n mens gestuur of voortgebring is nie, maar die heilige mense van God het dit, deur die Heilige Gees gedrywe, gespreek, soos die heilige Petrus sê (Nederlandse Geloofsbelydenis [NGB] artikel 2; 2 Pet. 1:21).  Ons aanvaar die gesag van al die boeke van die Bybel, en beskou hulle alleen, as heilig en kanoniek om ons geloof daarna te rig, daarop te grondves en daarmee te bevestig. Ons glo ook sonder twyfel alles wat daarin vervat is, nie juis omdat die kerk hulle aanvaar en as sodanig beskou nie, maar veral omdat die Heilige Gees in ons hart getuig dat hulle van God is (NGB 5).

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Die Skrif is gesaghebbend vir die lewe van gelowiges, omdat dit betroubaar, helder en genoegsaam is. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie – ja, al was dit ook ’n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal. 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut. 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is.

Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps. 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: ‘…maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is’ (1 Joh. 4:1), en: ‘As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie…’ (2 Joh. 10) – NGB 7.

Die kerk self moet met sy leer, tradisie, belydenis en praktyk in alles aan die Skrif onderworpe bly. Vir die Reformasie is die Skrif alleen die hoogste en finale gesag wat die leer en lewe van die kerk betref, die norm waaraan alles gemeet moet word, die laaste skeidsregter in al die geskille, die bron en norm van die belydenis en verkondiging van die kerk.

Die wyse waarop die inspirasie van die Bybel as die Woord van God plaasgevind het, word getipeer as organiese inspirasie. Dit beteken dat God die skrywers se arbeid só geïnspireer het dat dit wat hulle geskryf het, sy openbaring effektief en voldoende oordra. Hierdie inspirasie het egter nie gebeur met uitsluiting van die skrywers se eie persoonlikhede, agtergrond en ander omstandighede nie; hulle het elkeen geskryf binne die konteks van hulle eie kultuurhistoriese situasie.

Hierdie organiese inspirasie teorie hou dus in dat dit ongeldig is om te stel dat sekere dele van die Bybel menslik is, asof die Bybelleser dan die goddelike dele uit die Bybel moet selekteer. Die hele Bybel is terselfdertyd Goddelik én menslik. Meer noukeurig geformuleer: die Bybel is honderd persent God se Woord en honderd persent deur mense geboekstaaf.

Ons verstaan van die teks (hermeneutiek) moet dus op die verklaring van die teks (eksegese) gebaseer word, omdat dit die geïnspireerde Woord van God is, in sy Goddelike én menslike karakter. In ons nadenke en besluite oor selfdegeslag verhoudings soek ons vanuit dié vertrekpunt eerlik na maniere om die Bybelse gegewens betekenisvol binne die konteks te interpreteer.  Die leer van die belydenisskrifte begelei ons egter in die formulering van ons standpunt.

6.2.2 Sonde

Dit is duidelik dat alle mense geskep is na die beeld van God en daarom menswaardig is voor Hom (Heidelbergse Kategismus [HK] vraag 6).  Dit is egter ook duidelik dat alle mense sondig is weens die erfsonde sowel as hulle eie moedswillige sondes en daarom skuldig en verlore is voor God (HK vr. 7-9).  Dit is die gevolg van die sondeval waaraan die mens hom willens en wetens onderwerp het ( NGB 14; Rom. 1:20-21).  Dit bevestig dat die sondes wat bv. in Romeine 1 uitgespel word die gevolg is van die sondeval wat selfdegeslag seksuele gedrag insluit.

Die Algemene Openbaring is eintlik al genoeg  om mense hiervan te oortuig en van enige verontskuldiging te ontneem in terme van wat vir ons in hierdie lewe nodig is om tot God se eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort, te lewe.  Die Besondere Openbaring van die Geskrewe Woord van God spel dit egter nog meer duidelik en meer volkome uit as die Algemene Openbaring (NGB 2; Rom. 1:20).  Die Algemene Openbaring is dus nie in stryd met die Besondere Openbaring nie en kan nie iets anders vir ons sê as wat die Besondere Openbaring doen nie.  Die Algemene Openbaring kan nie gebruik word om mense te verontskuldig van sondes wat deur die Besondere Openbaring voor die deur van mense gelê word nie.

Dit is egter ook belangrik om te bely dat God in sy voorsienigheid nie verantwoordelik is vir die sonde nie.  Hy is nie die bewerker van die sonde nie en dra ook nie die skuld daarvoor nie. Niemand kan God dus vir die onbetaamlike dinge  verwyt wat hulle doen weens hulle verdraaide opvattings nie, onder andere in terme van selfdegeslag seksuele gedrag soos in Romeine 1 uitgespel word nie (NGB 13; Rom. 1:10).

God doen dus die mens nie ’n onreg aan as Hy in sy wet van hom eis wat hy tog nie kan doen nie, want God het die mens so geskep dat hy dit kon doen.  Die ongemaklike waarheid is dat: “die mens homself en sy hele nageslag as gevolg van die aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid van hierdie gawes beroof het.” (HK vr. 9; Ef. 4:24; Gen. 3:13; 1 Tim. 2:13, 14; Gen. 3:6; Rom. 5:12).

Dit roep onmiddellik die vraag na vore: “Wil God hierdie ongehoorsaamheid en afval ongestraf laat bly?”  Die antwoord is, nee, glad nie.  “Inteendeel, sy toorn is verskriklik (HK vr. 10; Gen. 2:17; Rom. 5:12) sowel oor die erfsonde as oor die sonde wat ons self doen: Hy wil dit in die tyd en in die ewigheid met ’n regverdige oordeel straf (Ps. 50:21; 5:6; Nah. 1:2; Eks. 20:5; 34:7; Rom. 1:18; Ef. 5:6)”.  Dit sluit die hele lys van sondes in Romeine 1 in wat  selfdegeslag seksuele gedrag inkorporeer. “God het immers gesê: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie (Deut. 27:26; Gal. 3:10)”.

Dit is dus duidelik dat die wet van God steeds van krag bly in die gestalte van ’n tugmeester na God toe vir diegene wat hulle skuldig maak aan die sondes wat in Romeine 1 genoem word, onder andere die seksuele onreinheid van die skandelike drifte, teen-natuurlike, en perverse selfdegeslag seksuele gedrag soos Romeine 1 dit uitspel.  Dié gestalte van die wet as tugmeester sal wel in die derde deel van die Heidelbergse Kategismus verander na die gestalte van die wet as reël van dankbaarheid.  Maar, die oordeel van die wet sal steeds van krag bly op mense wat in hulle goddelose, ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie, soos vraag 87 dit duidelik maak.  Die saligheid word vir sulke mense toegesluit.

6.2.3 Verlossing

Ons bely dat Christus ons aan die kruis van ons sondes verlos het waarmee Hy ons met God versoen het (NGB 21; 1 Tim. 1:15).   Dit onderstreep die betroubaarheid van dié boodskap van versoening vir sondaars wat in die konteks van die aanhaling uit Timoteus selfdegeslag seksuele gedrag insluit.  Die sondaars waarna hier verwys word, het Paulus in die vorige perikoop beskryf in die sondelysie in vers 9-10, wat onder andere pornois (ontugtige mense/manlike prostitute) en arsenokoitais (mans wat met mans intiem verkeer) insluit.

Elkeen wat dus sy toevlug onder leiding van die Heilige Gees (HK vr. 65; Ef. 2:8) tot ons Middelaar en Verlosser, Jesus Christus, neem met ’n ware geloof, word deur Hom van hulle sondes verlos (HK vr. 29; ). Hierdie ware geloof beteken om alles te glo wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof, onder andere die Apostoliese Geloofsbelydenis, ons in hoofsaak leer (HK vr. 22; vr. 61; 1 Joh. 5:10).  Dit regverdig ons in Christus voor God en maak ons ’n erfgenaam van die ewige lewe (HK vr. 59; Rom. 1:17).  Hiervan is die doop die teken (HK vr. 72; 1 Joh. 1:7; 1 Kor. 6:11) en die nagmaal die versekering (HK vr. 75; Mark. 26:24-26).

Deur die doop word alle gelowiges in die kerk van God opgeneem en van alle ongelowiges en vreemde godsdienste afgesonder om heeltemal sy eiendom te wees en sy merkteken en vaandel te dra (NGB 34). Die doop besprinkel die siel en reinig dit van sy sondes en laat ons, wat kinders van die toorn is, as kinders van God weergebore word. Hy beklee ons met die nuwe mens en ontklee ons van die ou mens en al sy werke, wat die afwassing van selfdegeslag seksuele gedrag insluit (1 Kor. 6:11).

Nie alle mense ontvang egter hierdie wonderlike evangelie deur ’n ware geloof nie en bly daarom verlore (HK vr. 20).  Niemand kan verder ook salig word wat in hulle goddelose ondankbare lewe volhard en hulle nie tot God bekeer nie (HK vr. 87; 1 Kor. 6:9-10; Ef. 5:5; 6:1; 1 Joh. 3:14).  Maar dié wat met die bloed en Gees van Christus gewas is, ontvang van God vergewing van sonde uit genade ter wille van die bloed van Christus wat Hy in sy offer aan die kruis vir ons gestort het (HK vr. 70; Hebr. 12:24; 1 Petr 1:2; Openb. 1:5; 7:14; Sag. 13:1; Eseg. 36:25).  Vir alle kinders van die Here is dit die vertrekpunt in verlossing, om vergifnis van sonde uit genade te ontvang. Dit is waarom daar ’n kruis was om deur die bloed van Christus vir ons vryspraak te koop.

Dit beteken verder om deur die Heilige Gees vernuwe en as lede van Christus geheilig te wees sodat ons die sonde hoe langer hoe meer afsterwe en godvresend en onbesproke lewe (HK vr. 70; Joh. 1:33; 3:5; 1 Kor. 6:11; 12:13; Rom. 6:4; Kol. 2:12).  1 Kor. 6:11 verwys in dié geval na onder andere die sondes van malakoi en arsenokoitai – die woorde vir passiewe en aktiewe selfdegeslag seksuele partye – sowel as pornoi (onsedelikheid in die algemeen) en moichoi (egbreuk) in die vorige twee verse.

Hieroor verklaar die teks: “so was party van julle juis ook.  Maar julle het julle sondes laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”  Vraag 72 eggo dit deur weereens 1 Kor. 6:11 te koppel aan die reiniging van alles sondes.  Selfdegeslag seksuele gedrag word dus deur die HK beskou as iets waarvan ’n mens gereinig moet word.

Die verlossing van sonde is dus duidelik ook van die seksuele gedrag wat met malakoi en arsenokoitai geassosieer word, sodat die vernuwing van die Heilige Gees gelowiges kan help om onder andere selfdegeslag seksuele gedrag af te sterwe om godvresend en onbesproke te kan lewe.

6.2.4 Dankbaarheid

Ons dankbaarheid bestaan uit twee dele: die afsterwing van die ou mens en die opstanding van die nuwe mens (HK vr. 88; Ef. 4:22-24).  Ons betoon ’n hartlike berou oor ons sondes wat God vertoorn het en vlug daarvan weg (HK  vr 89; Rom. 8:13).  Ons staan op met ’n hartlike vreugde in God deur Christus en leef met ’n lus en liefde volgens die wil van God in alle goeie werke wat Hy vir ons voorberei het (HK vr. 90; Gall. 2:20).  Hierdie goeie werke word uit ’n ware geloof (HK vr. 90; Rom. 14:23), volgens God se wet (Lev. 18:4) tot sy eer (1 Kor. 10:31), en nie op grond van ons goeddunke gedoen nie (Matt. 15:7-9), soos veral die Tien Gebooie dit uitspel (HK vr. 92 vv.).

Hierin volg ons ook die Sewende Gebod ná wat ons leer dat alle onkuisheid deur God vervloek is (HK 108; Lev. 18:28), en dat ons dit daarom hartgrondig moet haat (Jud. 1:23).  Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe (1 Tess. 4:3-5) sowel binne as buite die huwelik (Hebr. 13:4; 1 Kor. 7:7).  God verbied met hierdie gebod nie net egbreuk en sulke skandes nie, maar alle onkuise dade, gebare, woorde (HK vr. 109; Ef. 5:3,4; 1 Kor. 6:18,19), gedagtes, luste (Matt. 5:27-28) en alles wat ‘n mens daartoe kan verlei (Ef. 5:18; 1 Kor. 15:33).

Dit sluit dus selfdegeslag seksuele gedrag in, soos die opsommende aanhaling van Lev. 18:28 aantoon, en Ursinus in sy Kommentaar op sy Kategismus uitlê.  Hy noem selfdegeslag seksuele gedrag ’n verwarring van geslagte en ’n misbruik van vroulike seksualiteit. Hoekom word dít so sterk afgekeur saam met al die ander sondes wat hiermee verband hou? Die Kategismus antwoord: omdat beide, ons liggaam en siel, ’n tempel van die Heilige Gees is, en God wil hê dat ons altwee rein en heilig sal bewaar.

6.2.5 Geloofsgemeenskap

Ons glo en bely ’n enige katolieke of algemene kerk, ’n heilige vergadering van almal wat waarlik in Christus glo, wat almal hulle volle saligheid in Jesus Christus verwag en in sy bloed gewas is, geheilig en verseël deur die Heilige Gees (NGB 27). Ps. 46:6; Jer. 31:36; Ps. 102:14; Matt. 28:20.

Ons glo dat alle gelowiges verplig is om by hierdie kerk aan te sluit en hulle daarmee te verenig om die eenheid van die kerk te bewaar deur hulle almal – as lede van een en dieselfde liggaam – aan sy leer en tug te onderwerp, die nek onder die juk van Jesus Christus te buig en volgens die gawes wat God aan elkeen gegee het, die medegelowiges in die opbou van hulle geloof te dien (NGB 28; HK vr. 54). Ps. 5:6; 22:23; Ef. 4:12; Heb. 2:12; Matt. 24:28.

Die kenmerke waaraan ons die ware kerk kan uitken, is die volgende: Wanneer die kerk die evangelie suiwer preek, die sakramente suiwer bedien soos Christus dit ingestel het en die kerklike tug gebruik om die sondes te straf – kortom, wanneer almal hulle ooreenkomstig die suiwere Woord van God gedra, alles wat daarmee in stryd is, verwerp en Jesus Christus as die enigste Hoof erken (NGB 29). Matt. 13; 2 Tim. 2:18-20; Rom. 9:6; Ef. 2:20; Joh. 10:4, 14; Matt. 28:20; Gal. 1:8; 1 Kor. 11:20; Kol. 1:23; Hand. 17:11; Joh. 18:37; Ef. 1; Joh. 8:47; 17:20; 1 Joh. 4:2 (en 3:9); Rom. 6:2; Gal. 5:17, 24; Rom. 7:5; Kol. 1:12; 2:18-19; Ps. 2:3; Op. 2:9; 17:3; Joh. 16:2.

Lidmate van die kerk kan uitgeken word aan die kenmerke van die Christene, naamlik hulle geloof dat hulle die enigste Verlosser Jesus Christus aangeneem het en dat hulle daarna die sonde ontvlug, die geregtigheid najaag, die ware God en hulle naaste liefhet, nie na regs of links afwyk nie en hulle sondige natuur met sy werke kruisig. Hiermee sê ons nie dat daar nie nog groot swakheid in hulle is nie; inteendeel, deur die Gees stry hulle juis al die dae van hulle lewe daarteen, terwyl hulle altyd weer hulle toevlug neem tot die bloed, die dood, die lyding en gehoorsaamheid van die Here Jesus Christus, in wie hulle deur die geloof in Hom vergewing van hulle sondes het (NGB 29).

Ons aanvaar die liefde van Christus as die wesenlike grondhouding waarop alle verhoudinge binne en buite die geloofsgemeenskap gebaseer moet word (HK vr. 32).  In Christus word alle gelowiges verlos om deel van die geloofsgemeenskap te wees, en deur die Gees met die volheid van God vervul.  Alle gelowiges se identiteit word daarom bepaal deur hulle geloof in Christus, nie deur enige ander eienskap nie, ook nie hulle seksualiteit nie. Hand. 11:26; 1 Kor. 6:15; 1 Joh. 2:27; Hand. 2:17. Matt. 10:32; Rom. 10:10; Rom. I2:1; 1 Pet. 2:5, 9; Openb. 1:6; 5:8, 10; 1 Pet. 2:11; Rom. 6:12, 13; Gal. 5:16, 17; Ef. 6:11; 1 Tim. 1:18, 19; 2 Tim. 2:12; Matt. 25:34.

Alle mense, ongeag hulle seksuele aangetrokkenheid en/of oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en behoort op grond van hulle doop en geloof as volwaardige lidmate van die kerk van Christus aanvaar te word.  Onder volwaardige lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.

Persone wat ’n selfdegeslag aangetrokkenheid en/of oriëntasie beleef, mag volledig tot die besondere ampte toegelaat word op voorwaarde dat hulle ‘n selibate lewenstyl beoefen.

6.2.6 Huwelik

Die huwelik tussen een man en een vrou is ‘n belangrike instelling van God.   Dit is gemik op ’n eksklusiewe, vaste verhouding in wedersydse liefde en trou tussen twee persone van die teenoorgestelde geslag.  Enige ander seksuele verhouding is teen die leer van die Skrif en die belydenisskrifte.

Ons vertolk die Skrifgegewens oor selfdegeslag seksuele gedrag nie net as as ’n afwysing van sekere destruktiewe vorme daarvan nie, maar as ’n afwysing van alle selfdegeslag seksuele gedrag, sonder dat die Skrif ’n uitspraak lewer oor homoseksuele of enige ander gender identiteit as sodanig.  Dit beteken dat daar geen ruimte vir selfdegeslagverhoudings is nie, selfs nie as dit in liefde en trou gesluit word nie.

Sowel heteroseksuele as homoseksuele of enige ander promiskuïteit  – d.w.s. enige seksuele gedrag buite die veilige ruimte van die huwelik – word as destruktiewe en sondige gedrag afgekeur. Daar is dus ook geen ruimte vir enige ander seksuele verhouding wat begrond word op die velerlei gender identiteite waarmee mense vandag identifiseer, ook nie bestialiteit of enige ander perverse seksuele gedrag nie.

HK vr. 108-109; Gen. 1:27; 2:24-25; Matt. 19:4-6; Lev. 18:28; Jud. 1:23; 1 Tess. 4:3-5; Hebr. 13:4; 1 Kor. 7:7; Ef. 5:3,4; 1 Kor. 6:18,19; Matt. 5:27,28; Ef. 5:18; 1 Kor. 15:33.

6.2.7 Pastorale ondersteuning

Die geloofsgemeenskap is die primêre ruimte waarin familiebande gesluit en gekoester moet word, ook geestelike familiebande (Matt. 12:48-50; Mark. 10:29-31).  Dit leer die nagmaal ons wat ingestel is om diegene te voed en te onderhou wat God reeds wederbaar en in sy huisgesin, die kerk, ingelyf het. Nou het dié wat weergebore is, tweërlei lewe in hulle: die een liggaamlik en tydelik, wat hulle van hulle eerste geboorte saamgebring het en wat alle mense besit; die ander geestelik en hemels, wat aan hulle gegee word in die tweede geboorte, wat deur die Woord van die evangelie in die gemeenskap van die liggaam van Christus plaasvind (NGB 35). Matt. 26:26; Mark. 14:17; Luk. 22:19; 1 Kor. 11:24, 28; Joh. 3:6; 10:10.

Die kerk behoort daarom ondersteuningsisteme daar te stel en pastorale sorg waar nodig te verskaf aan gelowiges wat op die een of ander wyse die werklikheid van selfdegeslag aangetrokkenheid en/of oriëntasie beleef en/of enige ander seksuele aangetrokkenheid.  Gelowiges wat sulke aangetrokkenhede beleef, moet begelei word tot die verwesenliking van God se skeppingsdoel met man en vrou deur óf die huwelik óf die beoefening van ‘n selibate lewenstyl binne die geestelike familiebande wat ons in die geloofsgemeenskap aan mekaar verbind.

Chris van Wyk

SEPTEMBER 2016

1 thought on “Gravamen aan die buitengewone Algemene Sinode van die NG Kerk 2016”

  1. Die Talmoed keur nie homoseksualiteit af nie, dis maar net dubbelsinnig. Dit leer Jode om altyd ‘n draai om die wet te kan vind. Ek vermoed Martin Luther het ook sy hande op afskrifte daarvan gekry en dis hoekom hy so kwaad vir die Jode geword het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui