Kyk ook:
*******
Groot werke wen vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse | Netwerk24
19 April 2024
Die wenners van vanjaar se Andrew Murray-Desmond Tutu-pryse is pas aangekondig.
Die Andrew Murray-prys vir Christelike publikasies in Afrikaans
Die wenner is Daniël J. Louw vir sy groot werk, Daar is méér: Mymeringe oor die spiritualiteit van skoonheid, sin, siel en sterflikheid. Die boek word as ’n “outobiografiese reisverhaal deur Amper Stamperland en Metaversum” bestempel en is deur Naledi uitgegee.
Die beoordelaars meen die skrywer waag om moeilike terreine te verken, insluitend die konsep van God se teenwoordigheid in die kuberruimte (metaversum), God in lyding, die lewe ná die dood, asook ’n unieke en sagter Godsbeeld wat ontwikkel deur gesprekke met Ou-Testamentiese wysheid en selfs Egiptiese godsbeelde.
“Hierdie werk is uniek en magistraal in sy omvang. In ’n tyd waar mense al hoe meer soek na sin en betekenis en dit soms op vreemde plekke kry, word hier ’n ryk verstaan en heelwat moontlikhede om sin en betekenis te vind, aan die leser gebied.
“Dit impliseer egter nie dat alles net goed en reg moet loop nie, maar dat die mooie en skone ook in die chaos van die lewe raakgesien moet word.
“Die skrywer praat uit die hart, maar vertoef deurentyd op die snelweë en ook agterpaaie van die denke, die menslike brein. Die uitgebreide navorsing vir die boek is duidelik. Die resultaat is 699 bladsye pure bederf vir die leser.”
Die beoordelaars is Nelus Niemandt, Maartje van der Westhuizen en Julian Jansen.
Die Andrew Murray-Desmond Tutuprys vir teologiese publikasies in ’n amptelike taal van Suid-Afrika behalwe Afrikaans
Tributes to Albert Nolan: Reluctant Prophet onder redaksie van Mike Deeb, Philippe Denis en Mark James en uitgegee deur University of Johannesburg Press, is die wenner. Die beoordelaars skryf dat hierdie indrukwekkende boek met 72 artikels deur verskillende skrywers die lig werp op die lewe, geloof en skryfwerk van Albert Nolan “as pastor, priester, profeet en politieke aktivis”.
Die verskillende perspektiewe van die skrywers bied uiteindelik ’n samehangende beeld van ’n lewensreis vir ons tyd en dui op die bevrydende boodskap van Christus om regverdig op te tree in die wêreld van vandag.
Dit is die verbintenis van teologiese insig met konkrete kwessies van geregtigheid in die gemeenskap, met ’n oproep tot aksie, wat hierdie boek en die lewe van Albert Nolan relevant vir elke konteks maak. Hierdie werk het die potensiaal om gesprekke te inisieer oor die beeld van God wat Christene het – nie net in Suid-Afrika nie, gegewe die wêreldwye ‘inwaartse’ beweging na vorms van nasionalisme.”
Die beoordelaars is Miranda Pillay, Nontando Hadebe en Fanie Snyman.
Die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk
Sandy Schoeman se Rooiletterkind (Naledi) is die wenner van die debuutprys. Die boek bied ’n blik op die proses en gevolge van aanneming en werp lig op die dinamika van ma-wees en gesinsverhoudinge.
“Die skrywer kry dit reg om deernis en empatie by die leser te wek, jou saam met haar op ’n reis te neem wat begin by haar hunkering om haar eie kinders te hê, haar gebedsversoek en haar geloof wat uiteindelik gelei het tot vervulling, maar nie op die wyse wat sy aanvanklik gehoop het nie. Hier vind ons ’n eerlike, deernisvolle vertelling sonder tierlantyntjies en sonder pretensie.”
Die beoordelaars is Anzel Kulsen, Lizelle de Bruin en Lisel Joubert.
Die CLF-Elise Tempelhoff-prys vir omgewingsbewaring en -geregtigheid
Hierdie prys, geborg deur die Christelike Lektuurfonds, word vanjaar aan Lizelle de Bruin gemaak. In die motivering vir die toekenning, word gesê dat sy as ervare radioregisseur, omroeper en direkteur van Wordwise Media al jare lank ’n uitsonderlike toewyding toon om omgewingsbewustheid te bevorder. Een van haar merkwaardige bydraes is haar rol as aanbieder van die program ‘Binnekamer’ op RSG, ’n Christen-leefstylprogram wat aktuele temas ondersoek, insluitend groen-teologie, praktiese herwinningswenke, groentetuine en staproetes, asook die balans van die natuur en plante in die Bybel.
“Die afgelope dekade het sy deurgaans ekologiese temas in haar onderhoude ingesluit om sodoende te verseker dat ekologie en omgewingsensitiwiteit aan die voorpunt van die publiek se bewussyn bly.”
Die Jaap Durand-Denise Ackermann-prys vir Eenheid, Versoening en Geregtigheid
Dié prys gaan aan die organisasie Betereinders. Die Betereinders beveg enersyds armoede, veral onder swart mense, en andersyds wil hulle Afrikaners help om deel te wees van die groter, inklusiewe Suid-Afrika. Betereinders is ’n onafhanklike organisasie sonder winsbejag en dit staan “langs” die Fontainebleau-gemeenskapskerk, maar handhaaf duidelike grense.
Dit help met dissipelskap, reis in Suid-Afrika om te dien en probeer ook mense betrek wat “moeg” is vir die kerk. Die voorsitter van Betereinders, Schalk van Heerden, se boek Betereinder (Lux Verbi), wat by die rol van die organisasie aansluit, is vanjaar deur die beoordelaars van die Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys vir debuutwerk met groot waardering op die kortlys vir die prys geplaas.
Die Staat is gekaap.
AI (en “robotics”) in proses om die wêreld oor te neem, met 100+ miljoene (+) ( konserwatief) werkverlies vir gewone man in die toekoms- behalwe politikus, staatswerker, IT werker, “leuen billjoenërs, en “Gesalfde en Geroepe” leraar, apostel, profeet.
Midde -Ooste in konflik.
Ekstreme en militante moordenaars neem Afrika oor in die naam van “Allah”.
Rusland op moordtog om sy ideologie na te streef, en China en Suid-Afrika stap met hul saam.
33 TRILJOEN + dollar skuld in VSA. En in SA?
SA se paaie het verval. EVKOM en Transnet en SOE’s en Nkandla en Wapenskandale en Regeringsdepartemente met baie ouditpunte (en hoeveel word nie jaarliks ge-oudit, en hoeveel is swak ge-oudit?).
Covid veroorsaak enorme ekonomiese skade vir baie mense….behalwe vir staatswerkers, want hul broers en susters in privaatsektor sal hul bly finansier vir altyd.
Soveel bedrog en korrupsie en verval.
Dan lees mens van bogenoemde skrywes: is hul denke gemotiveer deur die Hemel…of die Hel? Sien hul ooit die nood en honger en 😭?