Kyk Oor ds. Maartje se ‘parkeer’-versoek (5 Nov 2023) waarin Amos van der Westhuizen op hierdie artikel reageer.
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
*******
KYK | Hanlie gesels met die NG Kerk se nuwe mevrou dominee | Netwerk24
21 Oktober 2023
“Gee die NG Kerk net ’n kans.
“Jong dominees soos ek is gefrustreerd en moeg van die gestoei en dwarstrekkery in die Kerk. Ons kan nie meer so voortgaan nie. Die nydigheid onder mekaar moet nou ophou.”
Maartje van der Westhuizen (39) is pas verkies tot assessor (ondervoorsitter) van die NG Kerk.
Sy is die jongste assessor ooit, maar jy hoor in dieselfde asem dat dit allesbehalwe ’n verrassing was, sy is in die wieg gelê vir ’n leiersrol.
Dr. André Bartlett, onmiskenbaar in sy Afrika- en kreatiewe T-hemde op die sinodevloer, sê Maartje was ’n jeugwerker by die Aasvoëlkop-gemeente toe hy dominee daar was.
“Ek het daai tyd al gesê sy gaan die eerste vrouemoderator word. Sy snap waaroor kerk behoort te gaan. Sy het toe al in kerkstrukture belang gestel, was toe al ’n kollega eerder as ’n student wat prakties doen. Sy is ’n kombinasie van dinamika en openheid om werklik ander te hoor.”
Toe Maartje met haar verkiesing daar in die konferensiesaal in Boksburg van tafel 4 af opstaan en tussen die dominees verhoog toe drafstap, was daar in haar net een emosie: opgewondenheid.
“As ek in my termyn mense kan oortuig om net ’n bietjie die verskille onder mekaar eenkant te parkeer . . . Die verskille oor selfdegeslagverhoudings sal nie weggaan nie, nie in ’n honderd jaar nie, maar kom ons kyk asseblief net ’n bietjie na alles wat ons saambind, kom ons haak nie net vas by alles wat ons van mekaar wegtrek nie.
“As ek dit kan regkry, sal ek tevrede wees.”
Op ’n vreemde manier is dit juis die gestoei in die Kerk wat Maartje so gebonde hou, so lief maak vir hierdie gemeenskap van wederstrewige gelowiges, sê sy Donderdag terwyl ons onder ’n boom buite die saal sit.
“Ek dink dis wat ons Kerk onderskei van sovele ander. Die huidige debat oor selfdegeslagverhoudings wys iets van ons Kerk se diepte. Daar is diep teologiese besinning, werklike gesprek hieroor.
“Wêreldwyd worstel gelowiges oor selfdegeslagverhoudings. Mense kom baie kere by eenvoudige antwoorde uit. Maar dis nie eenvoudig nie.
“Ons is nie ’n Kerk vir quick fixes nie. Dit gaan vir ons nie net oor maklike antwoorde nie. Ons práát met mekaar oor hierdie kwessies, en die praat is aanhoudend en partykeer woes, maar dit is ook in liefde en omgee.
“Ek het dit gisteraand weer beleef, ons was tien, 12 mense om ’n tafel wat nie saamstem nie, maar almal praat rustig en met respek en ons probeer en probeer en probeer. En dis wat vir my positief is, dis nie een ou wat hier van bo af sê dié is reg en dié verkeerd nie. Die lewe is tog soveel meer kompleks.”
Dr. Louis van der Riet, ’n gay predikant van Kraaifontein, het egter nie respek óf warmte ervaar toe Gert van Rensburg, ’n afgevaardigde kerkraadslid, hom die afgelope week van die vloer af oor sy gaywees gekasty het nie.
Daar is kwetsende dinge gesê wat onnodig was, sê Maartje ferm. “Ons het agterna vir hierdie mense in private gesprekke gesê ons verwag ’n verskoning.”
Wat vir haar positief is van hierdie sinodesitting, is die duidelike teenkanting wat sy ervaar het teen dié soort onverbiddelikheid. Die sinode het ’n streep in die sand getrek teen bitsigheid, ook op sosiale media.
“Die debat op sigself is nie sleg nie, wat sleg is, is dat ’n klein groepie mense dit aanvuur. As jy kyk wie elke keer op sosiale media daaroor skryf, kom jy agter dis omtrent tien persone aan die pro-gay-kant en tien aan die, kom ons sê, ‘behoudende’ kant. Dis net hul stemme wat gehoor word, en al die kommentare daarop.
“Die narratief word geskep deur hierdie groepe en van hulle het nie eens meer ’n gemeente nie, hulle is, kan mens amper sê, op vrye voet. Hulle maak dikwels hul afleidings gebaseer op verkeerde inligting en dít maak mense seer.”
Sy en die nuwe moderator, Jan Lubbe, het in 2013 aan dieselfde tafel in die sinodesitting gesit, weer in 2019 “en hier sit ons wraggies vanjaar langs mekaar op die verhoog.
“Ons werk goed saam. Hy is ’n baie spesiale mens, ek dink hy is die perfekte moderator vir ons tyd.
“Ons het vanjaar geslaag om by die sinode ons middelgrond te versterk.”
Toe Maartje in haar gr. 11-jaar vir haar ouers gesê het sy wil teologie gaan studeer, het hulle haar aangekyk asof sy gesê het sy wil Mars toe gaan.
Haar pa was jare ’n bestuurder by FNB, haar ma het ook ’n bestuurspos by die bank gehad en haar broer is ’n risikobestuurder by FNB.
Bankmense, almal van hulle.
“My ma-hulle was eintlik so koel, hulle het net geluister en gesê nee dis reg. Ek het later besef hoe dit hulle onthuts het, want dis buite ons konteks.
“Maar dis net wat ek gevoel het ek wil doen, van gr. 11 af. Ek het nou die aand op die sinodevloer gesê ek het as jong meisie geweet ek is lief vir God, dis my passie in die lewe, en ek is lief vir mense en ek was nog altyd lief vir kerkwees en gemeente. Al dié dinge het vir my saamgekom.”
Sy is op Dordrecht gebore, toe trek hulle De Aar toe, toe Port Elizabeth, Cathcart, Patensie, Aliwal-Noord en uiteindelik Pretoria. “Vier laerskole, twee hoërskole. My redding was dat ek maklik kan aanpas. Wat elke keer swaar was, was die afskeid. Ek het nog kontak met van my laerskoolmaatjies.”
Sy het op skool aan alles deelgeneem, tot sagtebal en krieket. Sy onthou die toere en kampe en die CSV-dinge. Én koor, én revue . . .
In haar gr. 11-jaar by die Hoërskool Centurion het haar pad dié van die vrouepredikant dr. Lieze Meiring gekruis.
Meiring het ’n groep leerlinge by die skool opgelei in portuurberading, vertel Maartje.
“Ons het uitgereik na kinders wat swaarkry. Ek was die sameroeper en gereeld by Lieze in haar kantoor. Dis waar ek vir die eerste keer gedink het ek hou van alles in die kerk en hier is actually ook ’n vrouedominee . . .”
Baie spesiaal vir albei, is dat Maartje en Lieze nou kollegas in die Elarduspark-gemeente is. Hul kantore is langs mekaar.
Lieze vertel later Maartje het dadelik uitgestaan met haar sonnige geaardheid.
“Sprankelend, dis die woord vir haar. Wat ek nou van haar as volwassene beleef, is haar leierseienskappe. Meeste sterk leiers mission net voort, hulle is nie goeie luisteraars nie. Maartje is die uitsondering, sy hóór jou.
“Sy kan ook nogal regtig die humor in goed raaksien, jy sien dit in haar oë, sy kyk so onderlangs . . .”
Lieze glimlag ook gereeld vir die tipe ma wat Maartje is.
“As ek weer hoor – ek weet nie waar sy tyd kry vir alles nie – dan’t sy vinnig saam met haar kinders gaan gholfballe slaan op die driving range.”
Maartje is boonop mevrou-dominee. Haar man, Zander, is predikant by die Tygerpoort-gemeente. En hy is meneer-dominee vir die lidmate van Elarduspark. Dit is g’n probleem nie, sê sy.
“Hy gaan werk toe, ek gaan werk toe. Die kinders sien net die voordele van twee gemeentes: twee basaars, twee kerkkampe . . .”
Hy is sewe jaar ouer as sy.
Hulle het op Tukkies ontmoet toe hy ’n mentorskapprogram by die fakulteit gelei het en hulle ’n geselligheid saam moes reël.
“Ek het op hom verlief geraak, want hy is net so anders. Ek raak maklik verveeld, maar met hom is daar altyd ’n nuwe koel idee. Ek kan net kerk, maar hy kan baie meer. Sy band, Vertikaal, het in 2009 ’n Sama-toekenning vir die beste Afrikaanse gospel-album gekry. Hy het ook ’n doktorsgraad in praktiese teologie.”
By die sinode is hulle in die unieke posisie om as afgevaardigdes ’n bed te kan deel, glimlag sy.
Maartje is ’n familienaam, dis haar ma en ouma se naam en haar dogter se tweede naam.
Hul seun, Alex, is 13 en gaan volgende jaar Affies toe. Inge is tien en in gr. 4. Hul skool is oorkant Zander se kerkgebou.
Haar ouers het spesiaal van Jeffreysbaai gekom om na die kleinkinders te kyk tydens die sinodevergadering. “My ouers is ’n bietjie benoud oor my nuwe amp, hulle is nie heeltemal seker wat dit behels nie, maar hulle is baie trots.”
Zander en Maartje het ’n ooreenkoms om nie heeltyd oor kerkdinge te praat nie. Tien minute, en dan’s dit verby, lag sy.
Hulle is albei lief vir sport soos fietsry en muurbal. Sy draf minstens drie keer ’n week saam met vriendinne, met ’n “verpligte koffiedrink” agterna.
“Ons hou baie van kuier met vriende, en dan braai ons en speel bordspeletjies soos Sequence.”
In st. 7 het ’n vriendin op Aliwal-Noord na ’n ander kerk begin gaan en vir Maartje vertel van al “hierdie weird goeters” wat daardie kerk predik. Op hoërskool is sy saam met ’n vriend na ’n charismatiese kerk waar sy eerstehands “die deurmekaargeit” beleef het, die duidelike voorwaardes en riglyne oor hoe om te glo of nie te glo nie.
“Dit het my gepla, want ek het gedink die Here is lief vir my, ek hoef nie hierdie of daardie ding te doen nie. Moet my nie verkeerd verstaan nie, ek dink charismatiese kerke doen wonderlike werk, ek was dalk net te gewoond aan die NG Kerk.
“As ek nou na die debatte kyk, ook in ander kerke, is ek net nog meer oortuig van die waarde van hoe die NG Kerk dinge doen.”
Maartje is so geroepe om groepe wat in hul hoeke vasgeverf is, bymekaar uit te bring, sy het ’n Enneagram-kursus gedoen. Enneagram is ’n narratiewe manier om verskillende persoonlikheidstipes te bepaal, en die waarde daarvan vir haar is dat dit ’n mens help om ander te verstaan en te benader.
“Dit plaas nie mense in boksies nie, maar help jou om raak te sien wat jouself en ander mense motiveer.”
Sy is self onverbiddelik oor die skep van ruimtes vir almal.
“Om ruimte te maak vir ander wat nie soos ek oor dinge voel nie.
“Ek wil so ver gaan om te sê dis vir my belangriker dat jy ruimte maak vir ’n ander persoon wat óók ernstig is oor sy of haar roeping, wat óók lief is vir die Here, as wat dit is of jy pro- of anti-gay is.”
Sy het haar eie mening daaroor, en almal weet waarskynlik wat dit is, maar vir haar gaan dit oor die ruimte.
“Ek is baie krities as iemand nie kan ruimte maak nie.”
Maartje het onlangs te hore gekom van twee gay vroue wie se gemeente geweier het om hul baba te doop.
Sy het hulle gebel en genooi om hul baba by haar gemeente te kom doop. “Gelukkig het ek daarvan te hore gekom, gelukkig kon ek uitreik.”
Gay mense het al soveel pyn hierdeur beleef, sê sy. “Ek wens ek kan elkeen van hulle nooi vir ’n koppie koffie. Dis wat my moedeloos maak, mense kry seer aan albei kante van die debat.”
Só het Maartje, nadat sy op Facebook iets gelees het van ’n man “aan die behoudende kant”, hom vir ’n gesprek genooi.
“Ek ken hom glad nie, maar hy het ingestem en ons het lank gesels. Dit het nie noodwendig gewerk nie, maar ek het ten minste probeer. Dit gaan oor kommunikasie.”
Die wins vir die land lê juis in die samewerking ten spyte van die verskille. En dís hoekom die rakleeftyd van die algemene sinode nie verby is nie, sê sy.
In die sinodesitting is die NG Kerk se rol in soveel ander belangrike terreine soos hulp tydens ramptoestande bespreek. “Gemeentes kan op hul eie byvoorbeeld by die vloede in KwaZulu-Natal betrokke raak, maar dink net die impak as daar meer koördinering tussen sinodes is?
“Handevat hoef nie altyd net elke vier jaar op die sinodevloer te gebeur nie.”
Sy lag vrolik. Uitbundig.
“Ek weet ek is aartspositief, ek weet ek moet partykeer ’n bietjie sak Sarel, maar ek is báie opgewonde oor die toekoms van ons Kerk.”
Kommentaar
Daniel Louw
Maartje sê: “As ek in my termyn mense kan oortuig om net ’n bietjie die verskille onder mekaar eenkant te parkeer . . . Die verskille oor selfdegeslagverhoudings sal nie weggaan nie, nie in ’n honderd jaar nie, maar kom ons kyk asseblief net ’n bietjie na alles wat ons saambind, kom ons haak nie net vas by alles wat ons van mekaar wegtrek nie. As ek dit kan regkry, sal ek tevrede wees.”
Die vraag is of eenheid ook vir Jesus so belangrik was? Sou Jesus ook gesê het: “Ag, kom ons vergeet eers oor wie ek regtig is. Kom ons fokus op die dinge waarmee ons saamstem. Ons aanbid immers dieselfde God.”
Daar is geen manier nie. Jesus het self gesê dat hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard – kyk Matteus 10:34-39 (Jesus bring nie vrede nie maar die swaard).
Ja, tragies, Maartje was saam met my een dogter in Centurion hoërskool. Sy is duidelik nie ernstig oor wat die Bybel leer oor selfdegeslagverbintenisse nie.
Die Bybel sê dat die liefde; ‘…is saam bly oor die waarheid'(1kor. 13:6). Dit wil voorkom of die ‘waarheid’ nie meer saakmaak nie. Lidmate kan nou glo wat hulle mee gemaklik voel, solank die ‘Hollywood liefde’ net daar is.