Hanlie Retief gesels met Jean Oosthuizen

Hanlie Retief gesels met Jean Oosthuizen | Rapport

9 Maart 2013

Deur Hanlie Retief

In ’n groen hoek van Stellenbosch se botaniese tuin, met die Woordfees net ’n agtergrond-roesemoes, sit Jean Oosthuizen hande oormekaar.

Sy oë lyk tam. Daar’s ’n glimlag op sy lippe; kommer in sy agterkop. Hy’s 55, wit, ’n Afrikanerman en die kerk het hom pas ge-fire.

Of eerder: Hul “weë het geskei”, soos die NG Kerk se Tydskriftemaatskappy (TM) – Kerkbode se uitgewers – dit stel.

Laas maand het Kerkbode as borg vir godsdiensgesprekke op Stellenbosch se Woordfees onttrek omdat Oosthuizen, Kerkbode se nuusredakteur, glo nie sy bestuur van dié deelname verwittig het nie.

Hulle hét geweet, het Oosthuizen gereageer, maar ná ’n tugverhoor is hy sy pos kwyt.

Steun vir hom stroom van alle oorde in. Sy Facebook-blad “loop oor” van goeie wense. Vroeër die oggend het Nelus Niemandt, moderator van die NG Kerk, hom gebel met “waardering vir my en my werk”.

“Hy sê hy’t nooit getwyfel aan my objektiwiteit in beriggewing nie. Ek waardeer sy oproep verskriklik. Want ná alles is ek nou sonder ’n werk en daar’s absoluut niks vir my op die horison nie.”

Selfs konserwatiewe, plattelandse predikante met wie Jean vroeër kopgestamp het, bel hom en sê: “Hulle’t nie reg gemaak met jou nie.” Manne soos FD Hugo (Kimberley) en die kerkhistorikus Gerdrie van der Merwe.

Tydens die Woordfees se Net een God-gesprek is hy met ’n handeklap begroet.

Oor die skikking met TM mag Jean nie praat nie. Senior kerkmense het wel bedenkinge oor die korrektheid van die amptelike weergawe van gebeure uitgespreek. Daar is aanduidings dat TM die waarheid effens aanpas.

Kortom, soos ’n joernalis opmerk, is dit business as usual: binnegevegte, voorskriftelikheid, vinnige omset van personeel.

“Ek is ontnugter,” het Anton Pienaar, ’n vorige redakteur, destyds aan Rapport gesê ná sy bedanking.

Is daar ’n skroef los by Kerkbode? Of by Bybel-Media, waaronder TM val? Of is dit net ’n simptoom van ’n groter probleem: Die NG Kerk wat sukkel om al sy uiteenlopende stemme in één koor te hou?

Of het Jean Oosthuizen net sy hand oorspeel nadat hy die gereformeerde leeu se snorbaarde al hoeveel keer getrek het?

“Dis wáár dat ek vrae vra wat vir sommige mense ongemaklik is. Maar dis vrae wat in baie mense se gemoed leef.”

Natuurlik moet Kerkbode as NG Kerk-koerant binne ’n bepaalde raamwerk beweeg, sê hy, maar in elke uitgawe staan die leuse: “Vandag se kerkkoerant vir vandag se kerkmense.”

“Hy moet praat met vandag se mense. En, natuurlik, die stemme van álle kante moet gehoor word.”

Het hy alle kante laat hoor?

“Mense dink ek het in Kerk­bode geskryf net wat ek wou.

“Maar dit werk nie so nie; elke berig gaan deur ’n proses, met die hoofredakteur as hekwagter.”

Kerkbode is juis daar om na alle stemme te luister, sê hy.

Van die hardste goed wat gesê is, kom van die fundamentaliste soos Hennie Mouton. “Mense wat hul mes vir my in het, is ook dié wat kerkleiers soos Johann Symington, Ben du Toit en Nelus Niemandt as dwaalleraars aangevat het in die boek Die Trojaanse perd in die NG Kerk.”

Hy wás soms ’n bietjie moedswillig?

Hy gee ’n laggie daar op die tuinbank; noem die gay-debat as voorbeeld. “Ek het met Laurie (Gaum) gepraat oor die onregte wat teenoor hom gepleeg is, toe’s gesê ek dryf ’n gay-agenda.

“Nou as dít moedswillig was, dan ís ek moedswillig. Maar dis brandende vrae wat op die tafel móét kom. Soos Belhar. Selfs as ek die woord ‘Belhar’ in ’n Kerkbode-opskrif wou gebruik, is kapsie gemaak – dat dit konserwatiewe lidmate ongemaklik sou maak.”

Hy het wel begrip daarvoor dat mense nie elke dag net oor brandende vraagstukke in Kerkbode wil lees nie. Maar die gesprekke moet daar wees. “Jy kan mos nie net basaar-basaar in die kerk se koerant nie.”

Selfs Pienaar, met wie Jean soms maar ’n klipperige pad gestap het, het nou vir hom in die bres getree en sy pogings gesteun om godsdiensgesprekke markplein toe te vat (“dis wat Paulus gedoen het”).

“Ek het in die tien jaar nog nooit ’n skriftelike of mondelinge waarskuwing gekry nie.”

Hy is ’n deurwinterde joernalis wat die politiek – van Treurnicht tot Mandela – eers by dagblaaie en toe by die SAUK gedek het. By Kerkbode gekom, was hy pas deur die politieke transformasieproses. “Ek dog toe ek gaan kerkbasaar-stories skryf – maar toe’s daar die interessantste gesprekke hier in die kerk. Toe begin ek kerkjoernalistiek verskriklik geniet.”

As ’n nuushond met ’n neus vir ’n twis, word hy beskryf, en waar daar die afgelope dekade debat of kerktwis was, het Jean se naam opgeduik. Dit was die warm God-debat van 2001 op LitNet wat die saadjie was vir Kletskerk. “Daardie debat het my gefassineer en my destydse redakteur, Johann Symington, het ingestem vir ’n soortgelyke forum waar ouens wyd en oop kan vrae vra.

“So begin ek toe Kletskerk as deel van Kerkbode. Maar gou-gou was daar ateïste op die wa en ouens wat vloek en te kere gaan. Ek het die bydraes so min moontlik gemodereer, die swetse ingehou, want dit was soos ’n pot wat oorkook.” [En hom baie duidelik eerder by daardie vloekendes geskaar as by die behoudendes.]

Toe twee gemeentes protes aanteken, het die kerkvaders hom aanvanklik ondersteun.

Sien die konteks, kyk wáárom vloek hulle, het hy verduidelik.

“En die kerkleiers het dit regtigwaar verstaan.”

Maar hoe later hoe kwater.

Kerkbode het sy bande met Kletskerk verbreek. Toe sit Jean op twee stoele: Kerkbode betaal sy salaris en Kletskerk is sy aweregse nuwe sendingveld. [Dit is lagwekkend dat hy ’n sendingveld gehad het! Jean Oosthuizen het min tot niks gedoen om ateïste tot inkeer te bring. Hoe kan hy as hy self nie glo in meeste wat in die Bybel opgeteken is nie? Ek is nie seker of Jean homself al uitgespreek het oor sy siening oor Jesus se Godheid en fisiese opstanding nie, maar ek twyfel sterk of hy dit glo. Sy sendingveld was eerder om behoudendes af te trek na die vlak van Abel Pienaar en kie.]

Wat was sy intensie by Kerkbode? In Kerkbode-aanlyn reageer ’n leser op die Woordfees-petalje: “Sy (Jean se) jare lange polarisering en onverbiddelike gevegte met meer behoudende Christene hét die NG Kerk gebreek.

“Hy het hoegenaamd nie genuanseerd en versoenend sy standpunte gepropageer nie.”

So, wou Jean Oosthuizen die kerk bykom of dien?

“Dit was nooit om die kerk by te kom nie, net om mense te kry om openlik te gesels. Om gesprek toe te laat.”

Die kerk kan nie geloofsvrae heeltyd in ’n blik toe-deksel nie.

Maak Kerkbode se Facebook-debatblad (ook Jean se inisiatief) toe en die vrae duik elders op, word gesê.

“Ek dink nie die kerk besef die krag van sosiale media nie.

“Kerke krimp wêreldwyd. [Omdat kerke nie standpunt inneem vir die waarheid nie.]

“Mense luister nie net meer na die dominee op die preekstoel nie.

“Denkende mense ­google, blog, vra vrae en verdwyn dan sonder ’n kabaal uit die erediens. Sondae kry jy hulle in winkelsentrums, die natuur, of waar ook.”

Dis dáárdie mense wat Jean goed leer ken het. “Hulle’s moeg vir die geveg oor gays. Hulle wil nie meer oor Belhar praat nie.

“Hulle soek deernis en liefde en hulle wil met vrymoedigheid kan sê: ‘Ons is nie meer seker oor dit of dat nie.’”

Hy bly ’n oomblik stil.

“Wat my bybly van dié tyd wat ek so na aan die kerk geleef het? Ek het die hárde kant gesien, die kerkpolitiek, maar ook die sagte kant…”

Sukkel deur ’n stukkie emosie: “Dis veral wat my sal bybly, die kant van die kerk wat ek graag wíl sien, die omgeekant.”

Waarin glo Jean Oosthuizen?

Hy glimlag. “Baie mense het my al gevra. Op Kletskerk is gesê ek is te bang om te sê waarin ek glo.”

Wie is God?

“Dis die vraag, nè. Mense sê ook my definisie van God is wollerig. Maar hoe kan ek Hom in ’n kassie sit? God is vir my die Groot Misterie. Nie eens die belydenisskrifte gee my al die antwoorde oor God nie. Jy kan net ’n ervaring van God hê. En ek hét ’n Godservaring.”

En die hemel en die hel?

Hy gee ’n laggie. “Ja, die hemel en die hel, verál die hel.

“Joe. As ons glo in ’n God van liefde en genade, hoe sal Hy toelaat dat jy vir net 80 jaar op aarde leef en dan vir die res van die ewigheid in die helse vuur deurbring? Ek kan my nie met so ’n godsdiens vereenselwig nie. En die hemel? Ja… wat wéét ons wat ná die dood gebeur.”

En is daar net een God vir Christene, Moslems en Jode?

“Kyk, party mense dink ons geloof is ál regte een. Maar as ek in ’n Moslemland gebore is, was ek mos ook een.

“En ’n Jood in Israel. Wie gee mý die reg om te sê net my godsdiens is reg? Ek het God leer ken deur ­Jesus van Nasaret wie se volgeling ek is, wat rigting gee aan my lewe. Maar ek kan nie sê ’n Moslem is verkeerd nie, dis arrogant.”

Geloof is vir Jean intens persoonlik. “Dis maklik om te sê wat God nié is nie. Nié die omie met die wit baard wat als daar van bo af sit en reël nie. God is vir my hier op aarde, want as Hy nie tussen mense is nie, waar is Hy dan?”

En God was by hom in dié krisis, knik hy, tussen al die mense op die fees wat hom deur dié drif getrek het. “As iets gebeur, sê my dierbare ateïstiese vriende dis maar hoe die wêreld werk. Maar die manier hoe mense my ondersteun, hoe iemand – toe hulle my rekenaar gevat het – gesê het hier’s my laptop, gebruik hom… dis darem net te toevallig.

“Ek’s mos nou nie so nice dat almal my wil help nie!”

Ons stap terug na die roese- moes. Na al die mense. Jean se mense. God se mense.

Kommentare

Henrietta Klaasing – Maart 10, 2013 om 06:17

Dit lyk my Jean het ’n hou of twee ingekry – – Lees nog ’n mening hier:

hierstaanek.wordpress.com/2013/03/10/wat-glo-jean-oosthuizen

Leendert Van Oostrum – Maart 10, 2013 om 09:18

Ek merk dat Mnr Oosthuizen hier ook die groot vloekwoord van die Nuwe Hervorming aanwend vir mense wat van hom verskil: “fundamentaliste”.

Terwyl ons in hierdie uitgawe van Rapport moet hoor hoe oorverdowend die NG-Kerk (waarvan ek nie lidmaat is nie) geskel word omdat hulle kwansuis nie wil luister na “ander menings” (= menings wat strydig is met hul openlikverklaarde belydenis) nie.

Skynbaar is “fundamentaliste” die enigste mense wat nie godsdiensvryheid geniet nie en wat nie gehoor mag word nie. (As ek reg onthou het die ouer geslag Neo-Marxiste hierdie selektiewe verdraagsaamheid beoefen onder die term “repressive tolerance”. “Repressive”, inderdaad.)

Leon Atterbury – Maart 10, 2013 om 07:22

Henrietta, jy maak telkens groot gewag daarvan as uitsprake van senior kerklui nie ooreenstem met 50 jaar gelede se dogma en denke nie. Dit is werklik glad nie meer deesdae sensasioneel nie. Daar is talle predikante en lidmate wat die afgelope aantal jare nuut dink oor die goddelikke.

As almal uit die NG Kerk moet padgee wat nie meer dink soos jy nie, raai ek dat minder as die helfte van predikante en lidmate sal oorbly.

In ons boek Hier staan ek vertel 24 persone hoe dit gekom het dat ons tans anders dink oor die tradisionele dogmas waarmee ons grootgeword het. Een vd belangrike ervarings met die saamstel vd boek is dat sulke nuwe denke baie meer wyd verspreid voorkom as wat op die oppervlak blyk.

Die “nuwe denke” van persone soos Jean, Nelius en Abel is nie ’n uitsondering nie. Hulle gee ’n stem aan talle wat ook ’n behoefte ervaar om nuut te dink en te praat oor die goddelikke.

Emwee Vorster – Maart 10, 2013 om 07:50

Maar dan moes Oosthuizen uit die Kerk vebindtenis getree het as hy nie meer kon vereenselwig met die dogma nie, soos Pienaar en al die ander. Jy kan nie vloek en skel en soos ’n ateïs optree in die kerk se naam nie, dis belaglik!!

Henrietta Klaasing – Maart 10, 2013 om 08:27

Leon, as mens voor ’n kansel by verskillende geleenthede staan en belowe ( eintlik GE-lowe – voor God lê mens tog ’n GELOFTE af?) om te bly by die leer van die kerk, dan is dit mos oneerlik om op te tree teen daardie eed?

Alwyn van der Merwe – Maart 10, 2013 om 08:58

Ek stem normaalweg met bittermin saam wat Emwee skryf, maar hierdie keer kry dit ’n stewige en groot opduimpie van my af.

Die ergste is dat daar predikante is wat nog erger goed kwytraak as Oosthuizen.

Erika Swart – Maart 10, 2013 om 07:39

Dankie Hanlie – ek wou so graag hoor wat Jean se standpunte is. Ek vermoed baie, baie gelowiges voel soos hy. Dit kan selfs wees dat ons die stille meerderheid is!

Margie Rensburg – Maart 10, 2013 om 08:17

Maybe maak soos die pous laat die hele boksemdice bedank, wie is opreg en wie is vals?

Daniel Louw – Maart 10, 2013 om 09:33

Jean moet net vir geen oomblik homself as martelaar verklaar nie. Ek dink hy het baie meer uitgedeel as wat hy ontvang het van sogenaamde fundamentaliste. Ek ken Hennie Mouton en hy speel nooit die man nie, maar die bal. Interessant dat Jean juis hom noem. Kyk www.glodiebybel.co.za/jean-oosthuizen en besluit maar self wat jy van Jean dink…

Ralph Barnard – Maart 10, 2013 om 10:05

Hanlie, dankie is vir hierdie noodsaaklike, lekkerlees artikel.

Jean, ek sê weer: Jou teologiese insig as nie-teoloog is van hoogstaande gehalte.

Ek treur oor die gebeure. Ek treur daaroor dat “die saak” en sake belangriker skyn te wees in die kerk as mense. Maar ek dank God vir mense soos Johann Symington, Ben du Toit en Nelus Niemandt, Ben du Toit, Johann Symington en baie ander wat nog steeds ’n sterk rol speel om te wys dat daar integriteit in die kerk (ook die NGK) is. Mag daar vir jou ’n poort oopgaan!

Hennie Mouton – Maart 10, 2013 om 10:30

Dat Jean Oosthuizen altyd objektief geskryf het, is onsin. Hy het die sogenaamde fundamentaliste, onder andere vir my, feitlik sonder uitsondering altyd beledig as hy na ons verwys het. Gaan soek “Jean Oosthuizen” op www.glodiebybel.co.za en talle aanhalings sal dit bevestig.

frans.pieterse3 – Maart 10, 2013 om 10:55

Hond byt vir hond!!!?

Annemarie Verster – Maart 10, 2013 om 10:59

Jean was voor hy by Kerkbode begin werk het ’n voorslag politieke joernalis. Sonder enige teologiese opleiding het hy van dag een af teoloe soos Ben du Toit, Johann Symmington, Gerhard Bothma en Julian Muller beskerm omdat hulle teologie met sy voorkeure saamgestem het. Jean glo nie Jesus is die einigste weg na God nie; hy glo nie dat die hel bestaan nie; God is nie meer ’n persoon nie. Teoloe wat van hierdie agenda verskil het was of geblok op Facebook; of uitgevloek (bv “k*k”), en uitgekryt as fundamentalis. Jean stap weg van Kerkbode met ’n goue handdruk. Die slegste vir my is dat Nelus Niemand nooit getwyfel het aan Jean se objektiewe joernalistiek nie, en ook Henk Gous en Johann Ernst wat op Faceboek aangetoon het dat hulle hom al beskerm het in die verlede … die persoon vir wie die jammerste in al hierdie dinge is Danie Mouton wat baie meer integriteit as Jean verdien. Jean se fanatiese agendas en gevloek het lang termyn skade aan die NG Kerk gerig … meer as 50 000 lidmate is in twee jaar weg … sterkte Jean, jy behoort in die politiek, nie die kerk nie vriend…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui