*******
Hanlie Retief | NG Kerk-moderator: ‘Wroeg is in ons DNS’ | Rapport
Hanlie Retief
11 Februarie 2024
Ds Jan Lubbe, die nuwe moderator van die NG Kerk, vertel aan Hanlie Retief hoekom hy homself ‘n “accidental moderator” noem.
Op die sendinggrond naby Kuruman waar David Livingstone op sy vrou verlief geraak het, waar Robert Moffat in 1857 die Bybel in Tswana vertaal en gedruk het – die eerste Bybel ooit in ’n Afrikataal – dáár het Jan Lubbe se pad na predikantskap begin.
Meer as 150 jaar ná Moffat het Jan Kuruman, soos sy uitgebreide familie hom as kind genoem het, dikwels ure lank alleen op die werf van dié geskiedkundige sendingstasie rondgestap.
“Die stilte van die plek, dat dit met God te doen het hier . . . hoe naïef kan ’n kind nie wees nie! Vandag is stilte in die veld steeds vir my gebed, ’n oopte om God in te kan ontmoet.
“My ouers was onderwysers, my ma die kerk-orrelis en my pa ’n ouderling. Ek het gewoon in die kerk grootgeword.”
Vir ’n man met ’n hartstog vir geskiedenis lyk Jan Lubbe se geloofspad van Moffat se sendingstasie tot die moderatorskap van die NG Kerk byna bedoeld.
En al noem hy homself ’n “accidental moderator” omdat hy homself eerder aanvoel as ’n “randfiguur” in die kerk, is sy verkiesing tot nuwe moderator allesbehalwe toeval.
Ds. Maartje van der Westhuizen, die NG Kerk se assessor, noem Jan die “perfekte moderator vir ons tyd”, een wat die middelgrond kan versterk.
Ds. Nelis Janse van Rensburg, Jan se voorganger, sê Jan is diep gewortel in die NG Kerk se tradisie, maar hy dink ook ruim oor ons eietydse situasie. Wat hy doen, doen hy binne die verruiming van ons kerktradisie. “Dis die kernding van Jan, verruiming en openheid.”
In Desember, toe dinge ’n bietjie stil raak en daar kans is vir nadenke, het Jan nagedink oor die groot name wat voorheen moderators was – Johan Heyns, Pieter Potgieter, Freek Swanepoel, Coenie Burger . . . “En ek kon myself hoegenaamd nie in daardie geselskap sien nie.”
Hy is sedert 1997 predikant by die Berg-en-Dal-gemeente in Bloemfontein, die bekende A-lynkerkgebou by die sirkel teen ’n bult.
Gemeentelede sê ds. Jan is ’n man by wie jy jou hart wil oopmaak.
Hy en sy vrou, Hanneke, en haar 18-jarige dogter, Greta, woon op ’n kleinhoewe teenaan Bloemfontein. Hier kry hy sy stilte sommer pasella. En ook, soms, in die hoenderhok.
Hy gaan wys ons sy hoenders en jy hoor so in die verbygaan dat hoenders jou baie kan leer, hulle’t hom selfs eendag ’n skoolpraatjie “gegee”.
“Die eerste klompie kom van ons familieplaas Ruimte by Kuruman, ander van ’n plaasvrou op Zeekoegat met die naam Pretty. Party hoenders hol hoek toe as ek inkom. Maar Pretty se hennetjies is mak grootgemaak, hulle kloek om jou.”
Volg Pretty se henne as voorbeeld, was dominee Jan se boodskap aan die ouers. Sag praat met ’n ferm hand is beter as om jou kinders doof te skree, want dit gaan hulle vir altyd aan die skarrel hou.
Hul huis is modern en rustig, in pas met die Vrystaatse landskap. Vol kuns en veldgoed, die klank van water uit die binnehof. Kalmte in sy oë, kalmte in haar oë. Energie.
Hulle vertel hoe die hele uitgebreide familie, álmal, elke Donderdagaand saamkuier by Hanneke se 90-jarige pa.
Hanneke is ’n berader met ’n meestersgraad in palliatiewe sorg. Sy is een van die stigterslede en uitvoerende hoof van die Bloemfontein Hospice. Dis ’n hospies wat mense se finale reis holisties en deernisvol benader, vertel sy. Jan sê sy vrou is wys.
Toe die roeringe begin dat hy voorgestel gaan word as moderator, het hy haar raad gevra. Sy antwoord toe met ’n teenvraag: Is daar ’n rede om nee te sê?
“Ek um en a toe, en sy sê: ‘Hoekom vertrou jy nie die proses nie?’
“Dis presies wat my sielkundige al jare lank vir my sê – jy glo mos, so vertrou die proses.”
Hy lag.
“Maar toe ek hóm vra oor die moderatorskap, was sy antwoord: ‘Is jy gek?’ Ek sê toe ja, jy weet ek is gek, maar gee darem goeie raad hierso!”
Daar word vertel net twee mense in Suid-Afrika het moeiliker werke as die moderator van die NG Kerk – die president en Rassie Erasmus.
“Ek het eerlikwaar nie ’n begeerte gehad om moderator te wees nie, ek het maar alte goed geweet wat voorlê.”
Hanneke: “Ek dink Jan het ja gesê omdat hy in die eerste plek ’n mens is, en dan ’n Christen. Baie mense wat sê hulle is Christene wys vinger na ander mense en sluit hulle uit. Jan laat ander toe om mens te wees by hom.”
Wat hom van die afgelope sinode verras het, is die drang na vrede en om bymekaar te bly.
“Ek is ook verras deur die goedgesindheid van die media en die publiek. Dis amper asof almal sê: Kom ons gee die kerk nog ’n kans.
“Dis so ’n bietjie van ’n vensterperiode, ons het nog ’n geleentheid om met integriteit voort te gaan.”
Wat hom bekommer, is toenemende polarisasie in die manier hoe kerkmense met mekaar praat. En dat dit só verdiep dat dit ’n punt bereik soos Willie Esterhuyse se boektitel: Broers buite hoorafstand! (1989).
“Meer nog, dat nie net kerkmense buite mekaar se hoorafstand beland nie, maar ook in die groter SuidAfrikaanse gemeenskap. Jy sien dit klaar op globale skaal soos die oorlogsgeraas in Gasa. Dis wanneer jy op ’n ramp afstuur.”
Maar is dit nie beter dat die groep behoudendes in die kerk maar liewer afstig sodat die NG Kerk kleiner, maar makliker, kan voortgaan nie?
Hy knik. “Dis nie beter nie, maar dit gaan waarskynlik gebeur dat sommige mense aan die einde van hul pad met die NG Kerk kom . . .
“Die dieper probleem eintlik is eerder die onsekerheid, die bestáánsonsekerheid, in ons wit Afrikaanse gemeenskap, iets wat ook breër in ons land aangevoel word.”
Mense is nie meer seker van hul eie veiligheid nie, sê hy. In sulke tye van politieke en wêreldwye onsekerheid soek mense na iets om aan vas te hou.
“Dis hoekom die selfdegeslagdebat vir baie mense so ontstellend is, hulle beleef dat ’n ankerpunt daarmee heen is. Dit maak dat mense sterker aandring op duidelikheid, dat hulle dinge in wit en swart wil sien.
“Ek sien dit so baie in moeilike vergaderings: As daar deernis en begrip is vir hoekom jy so besorgd of kwaad is, raak die verskille nie meer so onoorkomelik nie. Dan besef almal weer ons is gewoon mense, ons kan ’n pad saamloop. Ek is so bly om dit nou al hoe meer in die kerk te sien gebeur.”
Hy verstaan maar alte goed dat die bakleiery en dwarstrekkery in die NG Kerk mense weggestoot en gemeentes laat leegloop het.
“In ons geskiedenis van drie en ’n halwe eeue is groot foute gemaak, mense oor geslagte heen het seergekry.
“Kry steeds seer. Dit maak dat daar mense is wat prontuit sê hulle wil niks meer met die NG Kerk te doen hê nie. Ek kan dit verstaan.”
Rassisme, chauvinisme, al daai -ismes – dis moeilik om jou daaruit te ontworstel, sê hy. Prof. Jonathan Jansen praat van rassisme as kennis in die bloed. In Suid-Afrika kan ’n klein insident ’n vonk word wat ’n rassismevuur weer laat opvlam. Dit ruk al die ou wonde weer oop.
“Mens kan met reg vra: Het ons al werklik in hierdie land met mekaar vrede gemaak?”
Gaan krap maar rond in die geskiedenis van die NG Kerk se algemene sinodes. Moeilik en strydend, álmal van hulle: Cottesloe, Beyers Naudé se pad uit die NG Kerk, Soweto 16 Junie.
“Worsteling met die diep vrae is in die DNS van die NG Kerk. Dit was nog nooit ’n sonskynteologie van gee jou hart vir Jesus en dan gaan jy hemel toe en dis dít nie.
“Ons teologie is een van betrokkenheid. Ons sien armoede, mense se nood, werkloosheid. Dis dalk ook hoekom ons in die slaggat van ’n noue assosiasie met ’n volksideologie getrap het.
“In Jesus se eerste preek sê hy: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom. Mens kan maar daai woorde letterlik opneem, die koninkryk is nie iets ver verwyder, eendag, nie. Dit kan hiér met mense beter gaan, mense kan hier leef.”
Dit beteken om nie die rug te keer op die Johannesburgse middestad, waar ’n gebou verlede jaar afgebrand het of waar ’n vragmotor, weens verweerde padtekens, onder ’n brug vassit en uitbrand, nie.
“Dan word ons ’n Kerk vir hiér, ’n land met armoede, geweld, met klimaatsverandering se erger wordende brande, vloede en droogtes. Dis wat die NG Kerk se wye barmhartigheidsnetwerk doen, soos om fondse te bewillig om 250 brandbestryders, boere en werkers, by die Gariepdam te laat oplei.
“Daar is sistemiese goed in ons land wat moet verander. Dis hoekom ek sterk voel oor die komende verkiesing.”
Die NG Kerk moedig predikante aan om as monitors by verkiesingslokale te dien, om te help toesien dat die verkiesing vry en regverdig verloop.
“Dis nie inmeng in die politiek nie, dis om vryheid en vrede vir almal in die land te help verseker. Dit gaan oor mense se nood.”
Daardie tien sinne in Eksodus 20, sê hy, is lewensomvattend. Dis die resep vir ’n gelukkige lewe vir alle mense en diere en die landskap waarin ons woon. In harmonie. In vrede. Dan kan jy ook nie wegkyk van die diep verdelings in die res van die wêreld nie.
Soos met die hele gewroeg oor selfdegeslagverbintenisse, is die huidige Afrikaanse gemeenskap laatkommers in die godsdiens-versus-wetenskap-debat, sê Jan.
Johan Retief, George Claassen en ander het min nuwe argumente. Die debat kom al van Kopernicus en Galileo Galilei se tyd. Van hierdie argumente is in 1860 in die Kaap in die tydskrif De Onderzoeker beredeneer. Niks nuuts hier nie, sê hy.
“En, word weer en weer gevra: As God ’n God van liefde is, waarom die ontsaglike lyding soos nou in Gasa?”
Hoekom glo hy?
“Toe dit vir Carl Jung gevra is, was sy antwoord: Ek glo nie, ek weet.
“Vir my is geloof ’n wete en ’n vertroue. In my eie lewe het goed gebeur wat ek nie kan verklaar nie, wat ek net weet: Hier was meer as net ek. Geloof is ’n verhouding. Wat ook al gebeur, en die ‘wat ook al gebeur’ bedoel ek régtig ernstig, is dat ’n mens in jou donkerste tye weet: ek is nie alleen nie, ek vertrou God vir hierdie pad.”
Só was dit vir Jan tien jaar gelede tydens sy egskeiding. Hy het in dié tyd bedank as moderator van die Vrystaat-sinode. In 2022 is hy weer in dié rol verkies.
Dit is vir hom moeilik om oor sy egskeiding te praat. “Toe ek met die gemeente hieroor praat, het ek gesê enige egskeiding gebeur van twee kante af. Daar is baie goed van jouself wat jy eerlik in die oë moet kyk, waarvoor jy eintlik net moet sê: Ek is jammer.”
Van alle dinge was dit die dood wat hom en Hanneke bymekaar gebring het.
Hanneke: “Voor Jan het ek 17 jaar in Europa gebly, en daarna in die Kaap. Ek was getroud met ’n Duitser en ons het in Hamburg gebly. Kort ná ons dogter, Greta, se geboorte is ons driejarige seuntjie, Henri, aan kanker oorlede. Ek is toe geskei en ek en Greta het in die Kaap gaan bly. Ek moes begin leer wat ’n mens nodig het om ná ’n verlies weer die pad terug te vind.”
Ses jaar later, by haar ma se sterfbed in ’n hospitaal in Bloemfontein, raak Hanneke eendag bewus van iemand wat in die agtergrond wag. Jan. “Dit was my eerste indruk van hom. Hy het die ruimte by my ma se bed gerespekteer.”
Twee van Hanneke se broers is die joernalis Charles en skrywer Francois Smith. “Kyk, ons Smiths is almal maar skepties oor predikante. My broers het gesê Jan is ma-hulle se dominee, maar hy is ’n goeie ou . . .”
En dié was ook nie toeval nie.
Sy besef nou die ontmoeting met Jan was eintlik haar ma se laaste wens.
Ná die begrafnis het Hanneke besluit sy moet terug huis toe, Bloemfontein toe, na haar mense. ’n Jaar later is sy en Jan getroud. “Mense het ons grootoog dopgehou oor dit so vinnig was, maar dit was net absoluut ’n diep wete.”
Jan se seun het verlede Junie sy doktorsgraad in ingenieurswese aan die Universiteit van Leuven in België verwerf en brand om terug te keer Suid-Afrika toe. Sy dogter is getroud en is ’n mediese verteenwoordiger in Kaapstad. Greta is in matriek aan die Eunice Girls’ School.
En nou is hul stil, sterk pa ’n “toevallige moderator”. “Van my vriende sê ek moet ’n dikker vel groei en leer om nee te sê. Ek oefen nog ’n bietjie daaraan.”
En hy gee daardie Jan Lubbe-glimlag. So effens van onder af. Van iemand wat genade verstaan.