Die volgende is geneem uit Leer en Beleef, Vlak 1 – Leerboek vir katkisante van die Evangelies gereformeerde kerk van Suid-Afrika.
*******
Die boodskap van die Hebreër-brief is in die eerste plek aan Christen-Jode gerig om die volle implikasies van die nuwe verbond aan hulle te verduidelik. Die Ou Testamentiese offers en priesterskap is op verhewe en volkome wyse in Jesus Christus, die Middelaar er priester van die nuwe verbond, vervul.
Paulus die skrywer
Hebreërs is die enigste boek in die Nuwe Testament wat anoniem geskryf is. Die getuienis is egter oorweldigend dat Paulus die skrywer daarvan is, soos uit die volgende argumenie blyk:
- Die skrywer is ‘n gevangene (10:34).
- Hy verwag om weer vrygelaat te word (13:19). Die uitdrukking stem met Filippense 1:25-26 en Filemon v. 22 ooreen.
- Die gevangene skryf uit Italië, vermoedelik Rome (13:24)
- Die skrywer was baie goed met Timoteus en sy wedervaringe bekend (13:23). Behalwe Paulus verwys geen ander Nuwe Testamentiese skrywer na Timoteus nie.
- Aan die einde van sy tweede brief skryf Petrus die volgende: “…soos ons geliefde broeder Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het” (2 Pet. 3:15). Petrus het aan hulle wat uit die besnydenis is, die gelowige Hebreërs wat in die verstrooiing is, geskryf. Hy het gedoen wat Jesus hom beveel het om te doen, naamlik om sy broeders te versterk. In genoemde teks sê Petrus dat Paulus ook aan die Hebreërs in die verstrooiing geskryf het. Geen ander brief van Paulus beantwoord aan hierdie stelling nie, en op grond daarvan is daar ‘n sterk mening dat Paulus die Hebreër-brief geskryf het.
- Hy was by uitstek ‘n kenner van Judaïsme en al die wette wat daarmee in verband staan, en dus besonder geskik om hierdie brief oor die vervulling van die ou verbond te skryf.
- Paulus se twee boeke wat primêr vir Joodse Christene bedoel is, nl Galasiërs en Hebreërs, is oorspronklik in Hebreeus geskryf en daarna deur Lukas in Grieks vertaal. Dit is waarom die terme en begrippe in Hebreërs wél dié van Paulus is, maar die skryfstyl stem meer met Handelinge ooreen, wat deur Lukas geskryf is.
- Eusebius, die vader van kerkgeskiedenis, verduidelik dat Paulus hierdie sendbrief in Hebreeus gekryf en sy naam daaruit weggelaat het, omdat baie van die Jode hom as ‘n selfverklaarde apostel na die heidene gewantrou het en nie na hom wou luister nie. Hy was ook krities teen die Joodse Christene wat nog steeds sekere Ou-Testamentiese wette nagevolg het. Paulus wou graag die evangelie met sy volksgenote deel, en besluit toe om weens al die vooroordele teen hom, sy naam uit die brief weg te laat.
- Die outeurskap van hierdie boek word deur meer as 100 skrywers in Grieks en Latyn tussen die jare 70 en 730 nC aan Paulus toegeskryf. Daar was slegs ‘n paar Latynse kerke wat sy outeurskap betwyfel het omdat sy naam nie in die inleiding van die brief staan, soos wat die geval in al sy ander briewe is nie.
- Daar is ‘n lang lys van uitdrukkings en vermaninge in Hebreërs wat dieselfde is as dié wat in Paulus se ander briewe gebruik word. Sy afsluiting van die brief (13:18-25) stem ook met die in sy ander briewe ooreen.
- Paulus is die enigste Nuwe Testamentiese skrywer wat vir gelowiges gevra het om vir hom te bid (vgl. Heb 13:18-19 met Ef 6:18-19, 1 Thess 5:25 en 2 Thess 3:1).
Teikengroep
Daar moet altyd in gedagte gehou word dat hierdie brief aan Jode geskryf is wat die naam van die Here Jesus bely het. Verder kan ons aanvaar dat dit spesifiek aan die kerk in Jerusalem gerig is. Hierdie Jode was steeds baie ywerig wat die wet betref, hulle het die gereeld besoek en die ritusse daarvan eerbiedig.
Doel
Die doel van hierdie brief is om die lesers daarop bedag te maak dat daar nou ‘n nuwe en beter verbond is. Hulle word gewaarsku om hulleself nie weer onder die juk van die wet te plaas nie. ‘n Belangrike vermaning tot dié effek is aan die einde van die brief opgeteken: “Laat ons dan uitgaan na Hom toe buitekant die laer (van Judaisme en sy smaad dra” (13:13).
Diegene wat dit reeds gewaag het om alle Ou Testamentiese Joodse gebruike te staak, het sware vervolging ervaar. Sommige van hulle is selfs gestenig. Hierdie vervolgdes word in Hebreers 10:33-34 bemoedig. Daar moet onthou word dat dit vir die mense ‘n dure prys gekos het om Jesus teen die openbare mening van destyds te volg en te dien. Hulle is uit die tempel verban, deur families verag en verwerp en ook deur hulle eie volksgenote vervolg. Paulus versterk hulle geloof en verseker hulle dat die Here hulle ook in die donker ure van beproewing nie sal begewe of verlaat nie: “Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (13:6). Hulle moet ook deur die voorbeeld van die Ou Testamentiese geloofshelde moed skep om die stryd teen sonde, versoekinge en vervolging vasberade voort te sit (hfst 11)
Die belangrikste behoefte van die Joodse Christene was om Jesus in sy volheid te ken. Hierdie kennis sou as ‘n anker en troos dien om hulle staande te hou. Dit is ook ons behoefte, daarom hou die boek Hebreërs ook vir die nie-Joodse Christene ‘n toepaslike boodskap in.
Tema
In die Hebreër-brief word Jesus as die Seun van die mens, die Seun van God, én as die Hoëpriester en Middelaar van die nuwe verbond uitgebeeld. Hy is die Heerser oor en Erfgenaam van alle dinge. Ook word al die seëninge wat die gelowige in en deur Hom verkry, vir die leser uitgespel.
Die groot tema van die boek is Jesus se Hoëpriesterskap. Hy het ‘n eenmalige offer vir die sondes van alle mense gebring toe Hy met sy kruisdood ‘n weg deur die voorhangsel heen tot by die genadetroon gebaan het (10:19-22). Geen verdere offers is nodig nie, daarom gaan sy priesterskap nie op andere oor nie. Hy is vir ewig Priester volgens die orde van Melgisedek, en Hy leef net om vir ons in te tree (7:21-28).