Hemelvaart is ’n belangrike Christus-fees

Die volgende berig is geskryf deur Nico Koopman. Tans is hy die visierektor van die Universiteit Stellenbosch. Voorheen was hy die dekaan van die teologiese fakulteit van US.

Let daarop dat hy ’n artikel oor hemelvaart wou skryf, wat op Donderdag 13 Mei 2021 gevier sou word, maar toe maak hy gebruik van die geleentheid om ’n paar ander teologiese kwessie te opper:

1. Universalisme

Alhoewel die Moslems se tradisies en gelowe niks met die Christelike geloof te doen het nie, voel hy dit nodig om ook melding van hulle te maak. Let daarop dat hy na die Moslems verwys as “geliefdes in die Islamitiese tradisie“. Die woord “geliefdes” is ’n Bybelse woord wat gebruik word om na medegelowiges te verwys. Hy gebruik ook die woorde “Islamitiese tradisie.” So asof die verskil tussen Christene en Moslems bloot op tradisie neerkom. Dit is om die belangrikheid van geloof in Jesus Christus as verlosser te marginaliseer.

Indien hierdie in dieselfde konteks beskou word, wonder ’n mens wat presies sy bedoeling is met die woorde “om plek vir almal voor te berei” en “dis ’n woonplek vir almal“. Sluit dit Moslems en ander gelowe in? En wie is uitgesluit?

‘n Mens kry die idee dat daar ’n universalistiese gees in die Universiteit van Stellenbosch en Weskaap heers. Kyk ook die volgende voorbeelde van ander teoloë in dieselfde omgewing:

2. God as vrou

Koopman gebruik die woorde “Hemelse Ouer” in plaas van “Hemelse Vader”. Dit is hoogs waarskynlik vanweë die baie debatte en gesprekke in die media die afgelope tyd oor die gebruik om God as vroulik aan te spreek. Kyk Opsomming: God is vrou, “Heilige prisma” tydens legitimasiediens op 29 Maart 2021.

3. Apartheid en Belhar

En dan is dit uiters interessant dat hy dit nodig ag om apartheid en Belhar ook in te trek by sy artikel oor hemelvaart. Vir meer daaroor, kyk:

Kyk ook die volgende kommentare op hierdie artikel:

*********

Hemelvaart is ’n belangrike Christus-fees | Netwerk24

Deur Nico Koopman

12 Mei 2021

Vandeesweek vier die Christelike tradisie Hemelvaart. Ons geliefdes in die Islamitiese tradisie vier Eid al-Fitr, die fees van die breek van die vas.

Dit geskied te midde van bedreiginge soos Covid-19, korrupsie, ongelykheid, armoede, werkloosheid en die viering van middelmatigheid.

Vir Christene beteken Hemelvaartsgeloof Jesus het opgevaar om plek vir almal voor te berei. Johannes 14 sê daar is baie woonplek in die huis van ons Hemelse Ouerdis ’n woonplek vir almal, ’n ruimte waar lewe geborge is en waar lewe blom. Niemand leef daar uiteindelik, en reeds nou, meer onversorg, ongeborge of dakloos nie.

Hemelvaartsgeloof bely ook dat die gekruisigde Here en die opgestane Here die magtigste posisie denkbaar beklee, naamlik plek op die hemelse troon. Vanaf die troon regeer ’n weerlose, gekruisigde en opgestane Een.

Te midde van apartheid, toe dit gelyk het asof die apartheidsheersers onoorwinlik is, het die destydse NG Sendingkerk, deesdae die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Belydenis van Belhar in 1986 opgestel.

Daardie belydenis bereik sy hoogtepunt in die formulering dat Jesus Christus die Here is. Jesus regeer, en nie die apartheidsmagte nie. Die Belydenis van Belhar verwoord Hemelvaartsgeloof.

Hemelvaartsgeloof, Belhar-geloof, beteken geen reus kan ons oorwin nie. Seerkry, swaarkry en sukkel, sonde en skuld, skaamte en smet, lyding en leed, siekte en sterfte, droefheid en duisternis, verlies en verwerping het nie die laaste sê nie. Omdat Jesus regeer, stuur die heelal en elke mens se verhaal uiteindelik af op ’n lewe waar alle trane afgedroog word; waar gekerm en gekreun bedaar; donkerte plek maak vir lig; ’n leedlied ’n loflied word en lyding verander in lag. Die Here wat regeer, is tegelyk die Herder wat versorg, soos Psalm 23 dit helder verwoord.

Hemelvaartsgeloof laat ons ja sê vir ware getrouheid aan die aarde, aan mens en planeet, aan plant, dier en natuur. Hemelvaartsgeloof laat ons alles in die stryd werp om iets van die hemel op aarde te vergestalt – ’n lewe van geregtigheid, vrede en vreugde vir almal en alles.

Ons fokus op meer as die voor die hand liggende; ons sien meer as die sigbare. Ons sien die hemelse; ons word geken in hoë plekke, op die hoogste plek in die heelal, op die troon in die hemel, sodat ons omvormende diens op aarde kan lewer.

En Hemelvaartsgeloof beteken die Een wat vertrek het, die skynbaar Afwesige, is nou deur Gods Gees meer as ooit die Teenwoordige, Immanuel – God by ons teenwoordig; God met ons onderweg; God in ons; God nooit teen ons nie, maar altyd God vír ons.

Hemelvaart word straks tot ons nadeel die aspoestertjie onder die Christelike feesdae genoem.

  • Prof. Koopman is ’n teoloog en viserektor aan die Universiteit Stellenbosch.

Kommentaar

Is Nico Koopman se artikel ‘n oortreding van artikel 7 van die NGB?

Cliff van Vuren

Miskien is Nico Koopman se artikel van vanoggend ‘n oortreding van artikel 7 van die NGB asook ‘n verkragting van die Gereformeerde Skrif beginsel wat bestaan uit sola scriptura en tota scriptura?  Hoe bring hy sy “geliefde Moslems by die Bybel, hemelvaart en die “Belhar gode”?

Johan Heyns het die volgende in 1991 geskryf:

“Teenoor beskouinge wat nie net die Bybel met ander boeke gelykstel nie, maar ook die Christendom in beginsel met ander godsdienste gelykstel. So behandel die Switserse filosoof Karl Jasper, byvoorbeeld Socrates, Boeddha, Confucius en Jesus, nie om te probeer aantoon wie van hierdie vier grotes nagevolg moet word nie, maar wat uit elkeen se lewe en leer vir ons kan dien tot orientasie en lering. Met ander woorde, elkeen het vir ons ’n eie unieke boodskap. Die geloof wat Jaspers bepleit, noem hy dan wysgerige geloof, waarvan die rede ’n onontbeerlike bestanddeel uitmaak. Deur mid-del van die wysgerige geloof word die waarheid, soos dit in alle godsdien­ste tot uitdrukking kom, raakgevat en as reisgids vir die mens deurgegee. Konkreet beteken dit dat God in alle godsdienste aanwesig is en in alle godsdienste gedien kan word. Dit wil nie noodwendig se dat alle godsdien­ste in alles gelyk is nie, maar dat die verskille tussen die godsdienste nie absoluut is nie, maar slegs betreklik en relatief. Veral in die Ooste is die voorstelling dat alle godsdienste gelyk is, populer. Elke godsdiens is ’n weg of ’n instrument tot verwerkliking van “God in die mens”. Die leer dat alle godsdienste in wese gelyk is, word sinkretisme genoem. Dit kom in wese daarop neer dat alle godsdienste gesien moet word as manifestasies van die een Oerbron en Oerbestaan; as golwe uit die een groot Oseaan. Teenoor al hierdie en derglike soort spekulasies, kan die kerk voortdurend maar net herhaal wat Petrus eenmaal van Jesus Christus gese het en waarmee hy ook die diepste definisie gegee het van die verhouding van die Christen­dom tot al die wereldgodsdienste: “Daar is geen ander naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos moet word nie” (Hand. 4:12). En van hierdie naam word slegs in die Bybel gehoor”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui