Herinneringe en Verlange – Louis Jonker

Kyk ook:

Ek het op ’n uittreksel afgekom van Louis Jonker se boek, Herinneringe en Verlange – Gesprekke oor mag, geskiedenis en die Bybel. Dit is slegs die voorwoord, erkennings en die eerste paragraaf van hoofstuk 1. Dit verklap baie oor die teologie wat hy (én andere, soos Ferdinand Deist) beoefen (alhoewel daar seker reeds genoeg artikels op hierdie webblad is wat wys waar Louis teologies staan). Hier is ’n lys van mense waarmee hy vereenselwig en selfs na opkyk:

Ek plaas die uittreksel van die boek net so hier met my kommentaar tussenin.

***************

Inhoud

  1. Voorwoord
  2. Erkennings
  3. ’n Bottel Rust-in-Vrede
  4. Verskillende Stemme oor Bybeluitleg in Suid-Afrika
  5. Die Biskop
  6. Literatuur van/oor Biskop John William Colenso
  7. Die Professor
  8. Literatuur van/oor Prof. Johannes du Plessis
  9. Ontworsteling
  10. Literatuur van/oor Prof. Ferdinand Deist
  11. Die Nuwe Suid-Afrika breek aan
  12. Literatuur vanuit die Nuwe Suid-Afrika
  13. Te vroeg gestorwenes … en langslewendes
  14. Verwysings

Voorwoord

Soms is daar verhale wat nooit vertel moet word nie. Ander kere is daar verhale wat uit ’n mens gepers word deur omstandighede. Nog ander kere is daar verhale wat uit ’n mens opstyg weens herinnering en verlange. Hierdie boek het ontstaan hoofsaaklik vanweë die laasgenoemde rede. Maar daar was ook heelwat ander dinge wat die verhaal in my na vore gedwing het; daar is selfs dinge en mense wat ek doelbewus in hierdie boek verswyg.

Herinnering en verlange bly die hoofmotivering en stimulus vir hierdie boek. Herinnering aan leermeesters wat nie meer met ons is nie, en wat my onherroeplik help vorm het; herinneringe aan my eie ontwaking as bybelwetenskaplike, aan my bediening in die NG Kerk van nou al byna drie dekades waarin ek as tussenganger tussen die kerklike gemeenskappe en die kritiese bybelwetenskappe wou optree; en ja, ook slegte herinneringe aan ’n klag teen my leer in die 90er-jare van die vorige eeu. Die verlange spruit veral voort uit laasgenoemde. Die gebeure loop soos volg:

In die middel van die 1990’s het my leermeester, vriend en gemeente-lidmaat, Hannes Olivier, siek geword aan kanker. In 1997, toe Hannes al baie siek was, loop ek Ferdinand Deist, ’n ander leermeester en vriend, op die trappe in die Letteregebou op Stellenbosch raak. Ferdinand wis dat ek Hannes tydens sy siekte ondersteun het, en hy vra met groot kommer uit oor hoe dit met Hannes gaan. Hy dui aan dat hy bekommerd is dat hy dalk ou Hannes nie weer gaan sien nie, want hy wat Ferdinand is, sou die volgende dag na Heidelberg in Duitsland vertrek waar hy tydens sy sabbatsverlof aan ’n boek oor die materiële kultuur van Ou Israel sou werk. In hierdie tyd was die leerstellige saak teen my Bybelinterpretasie ook steeds in ondersoek by die Ring van Stellenbosch. [Kommentaar: In 10 vrae aan Louis Jonker, vraag 6, vertel Louis meer hiervan.] Daarin het Ferdinand ook baie belanggestel. Hyself het in die 70er-jare soortgelyke ervarings in die Oos-Kaap gehad, en hy kon hom indink en inleef in wat ek op daardie stadium beleef het. Ek noem aan hom dat ek vertroue het dat die Ring met wysheid hieroor sal besluit, en dat die klagte nie suksesvol sal wees nie. Ek noem ook wat my op daardie stadium die meeste geraak het, naamlik dat my geloofsintegriteit betwyfel is op grond van die soort historiese hermeneutiek (uitlegkundige beginsels) wat ek gebruik het om die Bybel te interpreteer en uit te lê. Ferdinand het verstaan wat ek bedoel. [Kommentaar: Dus is dit baie duidelik dat Ferdinand dieselfde teologie as Louis gedeel het.] En toe kom die woorde van hom: “Al manier hoe ’n mens hierdie soort ervarings uit ’n mens se gestel kan kry, is om ’n bottel rooiwyn oop te maak saam met iemand wat dieselfde beleef het en wat verstaan. Wanneer ek terugkom van Duitsland af, moet ek en jy daardie bottel saam oopmaak,” belowe Ferdinand.

Maar Ferdinand het nooit teruggekom van Duitsland af nie. Hy sterf op 12 Julie 1997 aan ’n hartaanval in hul gastewoonstel nadat hulle die bult uitgestap het in Rombachweg in Heidelberg. Saam met Hannes het ek getreur oor Ferdinand. Hannes sterf in 1998 aan kanker.

In ’n boek van my wat in 2016 by ’n Duitse uitgewer gepubliseer is (en wat in 2018 die Andrew Murray-Desmond Tutuprys gewen het – ’n gebaar wat vir my ontsettend baie beteken het), dra ek die boek soos volg op: “This book is dedicated to the memory of two of my former teachers, the late Hannes Olivier and Ferdinand Deist. They were both not only role models in scholarship, but also friends and mentors. They were also the first to raise the ideal of inviting IOSOT to South Africa, an ideal that will come to fruition in September 2016 in Stellenbosch. Both these colleagues died too young!”

Tydens die kongres van die “International Organization for the Study of the Old Testament” in Stellenbosch wat ek die voorreg gehad het om te help organiseer, besef ek weer eens hoe nodig die stemme van Hannes en Ferdinand tans in die Suid-Afrikaanse bybelwetenskap, veral in ons veld – Ou Testament – is. Beide van hulle het – in navolging van hul leermeester Charles Fensham – ’n historiese hermeneutiek gevolg. Dit wil sê, ’n soort verstaansmodel wat daarmee rekening hou dat die Bybeltekste nie op een goeie dag uit die hemel geval het nie, maar in werklike vlees-en-bloed omstandighede in die geloofsgemeenskappe van Ou Israel en die Vroeë Kerk tot stand gekom het. Beide Ferdinand en Hannes het beklemtoon dat die Ou Testament oor eeue heen gegroei het, en dat dit daarom herinterpretasies van vorige tradisies bevat. Beide het die kwessie van kontekstualiteit beklemtoon, naamlik dat die Bybeltekste aanvanklik in werklike lewensomstandighede kontekstueel gefunksioneer het, en ’n boodskap vir daardie tyd probeer oorbring het. Maar dat die Bybel ook vandag, vir ons, relevant is. “In lewe en in sterwe,” soos Hannes soms tydens sy siekbed beklemtoon het.

Ek het al baie gewonder wat sou Ferdinand en Hannes se kommentaar gewees het op sommige interpretasies van die Ou Testament wat vandag so prominent is: interpretasies wat dikwels a-histories te werk gaan, asof die Bybeltekste eerstens en primêr vir ons en ons dag geskryf is. Interpretasies soos party feministiese en Afrika-interpretasies, wat met groot passie – ten regte – die rol van die lesersgemeenskap beklemtoon, maar wat dan onsensitief bly teenoor die kontekste waaruit die tekste kom en interpreteerders wat op ’n kapstok‑manier tekste uitkies om in vandag se konteks te spreek. Hoe sou Ferdinand en Hannes gereageer het op vandag se debatte oor Bybelinterpretasie in die NG Kerk en ander Afrikaanse kerke? Toegegee, hulle was albei wit mans, en ’n mens sou dalk vanuit daardie profiel kon verwag hoe hulle sou reageer. Maar gegewe dat beide van hulle sensitief was vir die hermeneutiese strategieë wat gebruik word in uitleg, hoe sou hul die hermeneutiese kwaliteit van sulke interpretasies beoordeel het?

My verlange spruit dus uit die herinnering aan hierdie leermeesters, en die onafgehandelde gesprekke met hulle. Maar dis nie nostalgies of verheerlikend nie. Ek besef terdeë dat hulle ook kontekstuele kinders van hul tyd was, en dat hulle ook – met hul gebreke – op die skouers van ander gestaan het. Op stuk van sake wil ek nie húlle verhaal vertel nie, maar die verhaal oor die geskiedenis van Bybelinterpretasie in Suid-Afrika. Ek doen dit onder die subtitel “Gesprekke oor Mag, Geskiedenis en die Bybel.” Myns insiens moet ’n mens besef dat magsverhoudings (binne die kerke en die politieke omgewing) meespeel – en dikwels bepalend is – oor hoe oor die geskiedenis gedink word en hoe die Bybel geïnterpreteer word.

Ek kies vier tydperke waarin daar telkens persone na vore gekom het om oor Bybelinterpretasie in die Suid-Afrikaanse konteks te praat. Hierdie tydperke is die era van kolonialisme onder die Britse juk in die 19de eeu; die opkoms van Afrikaner-nasionalisme en ekonomiese swaarkry in die tydperk tussen die wêreldoorloë; die tydperk van ontworsteling uit Afrikaner-nasionalisme en fundamentalisme in die kerke in die 70er- en 80er-jare van die vorige eeu; en die opkoms van die nuwe Suid-Afrika sedert die vroeë 90er-jare. Vier gespreksgenote neem deel aan hierdie vertelling, naamlik Biskop John William Colenso (Biskop van Natal van 1855-1883), prof. Johannes du Plessis (ook genoem John volgens sy Engelse naam, professor in die Sendingkunde en Nuwe Testament aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch van 1916‑1930), prof. Ferdinand Deist (Ou-Testamentikus, verbonde aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth, UNISA en in sy laaste jare aan die Stellenbosse Departement Semitiese Tale en Kulture), en ekself as verteenwoordigend van die tydperk ná die opkoms van die Nuwe Suid-Afrika (aangevul deur ’n groep bybelwetenskaplikes verbonde aan die Universiteite van Pretoria en UNISA wat soortgelyke ervarings as ek gehad het). Wat hierdie gespreksgenote met mekaar in gemeen het, is dat almal van hulle op een of ander manier ’n historiese interpretasiemodel probeer verwoord en verteenwoordig het in hul Bybelwetenskap, en daarvolgens aan kerklike gesprekke deelgeneem het. Hulle het ook met mekaar in gemeen dat hulle almal op een of ander stadium deur hul kerke of deur individuele lidmate van leerdwaling aangekla was – in alle gevalle onsuksesvol (hoewel in die geval van die eerste twee gespreksgenote eers na die ingryping van burgerlike howe).

Hoe skryf ’n mens hierdie verhaal? Wat waarskynlik die meeste akademiese erkenning (en navorsingsubsidie!) sou verdien, is om dit in ’n akademiese vorm te giet, dit wil sê, as historiografie met deeglike opweeg en aanhaal van verskillende argief- en akademiese bronne. Daar is egter al genoeg gedoen in hierdie verband (selfs ook deur Deist en ’n aantal ander kollegas), en sou in ieder geval nie noodwendig toeganklik gewees het vir die leserspubliek wat ek in die oog het nie. Myns insiens moet dit lig wees, toeganklik, tot beter selfverstaan lei en veral tot nadenke en gesprek stem. Maar dit moet ook die belangstelling prikkel om verder te gaan lees oor Bybelinterpretasie in Suid‑Afrika. Die vertellings – wat soms aan speelse fantasie grens – word daarom in die boek afgewissel met toegeligte uittreksels uit vakliteratuur deur en oor die gespreksgenote van hierdie boek. Om ’n Bybelse metafoor te gebruik: die melkkossies van die vertellende gedeeltes word afgewissel met die meer vaste kos van die aanhalings uit vakwetenskaplike literatuur. Die toeligting oor die outeurs van hierdie vakliteratuur en oor die uittreksels daaruit, sal hopelik die leser van hierdie boek help om die kloutjie van die verhalende hoofstukke by die oor van die akademiese beoefening van die Bybelwetenskap uit te bring. Die verhalende gedeeltes wil dit dus vir die leser makliker maak om toegang tot die vakliteratuur te kry. Maar omgekeerd wil die vakliteratuur ook die verhalende gedeeltes toelig.

Die genre van hierdie boek is dus ’n mengsel van historiese novelle, biografie, persoonlike memoires, en akademiese skryfsels; en natuurlik ook ’n goeie skeut gesonde verbeelding en humor. Die mengsel in die vertellings is fiksie, en die leser moet maar self onderskei wat is wat. Die vertellings laat uiteraard ook toe dat ’n mens tussen tydperke kan rondbeweeg, byna soos ’n mens se gedagtegang werk. Die leser moet dus nie ’n streng kronologiese aanbieding verwag nie.

Enigiemand wat hulself in hierdie boek herken, moet verseker weet dat die ooreenkomste toevallig is. En enigiemand wat hulself in hierdie boek soek en nie vind nie, moet ook verseker weet dat dit presies die bedoeling van die outeur was!

Ek het hierdie boek begin skryf tydens ’n periode van navorsingsverlof in Leipzig tydens 2017. Dit is klaargeskryf in Stellenbosch in 2018 na my terugkeer uit Duitsland. Nie ’n maklike periode in my eie akademiese lewe nie …! Tussen die lyne van hierdie boek sit persoonlike worsteling en kommer oor wat met die Bybelwetenskap in Suid-Afrika aan die gebeur is. Daardie worsteling het onder andere daarmee te make dat dit nie altyd welkom is nie (en soms hier en daar onmoontlik is) om in my eie tyd en tussen vakgenote op ’n akademiesverantwoordelike manier hieroor gesprek te voer. Om vanuit die saak (‘Sache’) oor Bybeluitleg te dink in die huidige tydsgewrig, kom nie altyd polities-korrek oor nie. Om in die polities-korrekte rigtings op te gaan, lei dikwels tot ’n versaking van verantwoordelike omgang met die Bybel. Die boek staan dus in die teken van die vraag: Quo vadis? Ook persoonlik.

Louis C. Jonker

November 2018

Erkennings

Ek gee graag erkenning aan die volgende persone en instansies wat ’n invloed op hierdie boek gehad het:

(i) My vrou, Anita, en my kinders Johannes en Cornelius, het deur die jare aanhou neul by my omdat ek nie sover kom om my insigte oor Bybelinterpretasie in toeganklik-populêre vorm aan ’n breër publiek beskikbaar te maak nie. Dankie julle, dat julle my sover gebring het om hierdie proses van heling te deurloop om hierdie boek te skryf. Dankie ook vir jul kritiese kommentaar op die voor‑finale weergawe.

(ii) Jurie van den Heever het deur die jare ’n inspirasie gebly met sy onuitblusbare energie om die fundamentaliste in die Kerk op hul neuse te laat kyk. Ek het by vele geleenthede teenoor Jurie erken dat hy eintlik die nodige werk met sy skryfsels en praatjies doen wat predikante behoort te doen, maar nie die lus of energie voor het nie. Hoewel ek by tye vriend Jurie oorkant die muur moet vermaan om nie ’n natuurwetenskaplike fundamentalis te wees nie, bly my interaksie met hom altyd ’n groot plesier en vreugde. Dankie Jurie, jy het die idee van hierdie boek in my kop help plant. Dankie ook vir jou (kritiese) lees vooraf van die manuskrip.

(iii) As daar een persoon was met wie ek hierdie boek wou deurpraat, dan was dit Henriëtte Deist. Om Ferdinand weer so te sê in die lewe te roep deur hierdie verhale, sou potensieel vir haar aanstootlik en selfs ontstellend kon wees. Ek het groot waardering daarvoor dat jy nie net toestemming gegee het dat ek met hierdie projek kon voortgaan nie, maar dat jy my ook met ’n hele klomp inligting gehelp het en die menslike kant van Ferdinand se bestaan met my gedeel het.

(iv) Vakgenote Jurie le Roux en Dirk Human, en geesgenoot Julian Müller, het my vertrou om iets van hulle stories en ervarings met my te deel. Dankie daarvoor julle! Die gesprekke en e-poswisselings met julle het my gehelp om jul ervarings beter te kon verstaan en verwoord. Dankie dat ons – na al die jare wat die ervarings laat vervaag – ’n spesiale band met mekaar kan hê.

(v) ’n Anonieme persoon het die keuring van die manuskrip vir die uitgewer gedoen. Ek is hierdie persoon ook innig dankbaar vir die opbouende kritiek wat uitgespreek is op die manuskrip en wat dit ’n beter boek help maak het.

(vi) Hoewel die gespreksgroep waarvan ek deel is op Stellenbosch geen direkte rol gespeel het in die totstandkoming van hierdie boek nie, wil ek graag erkenning gee vir die ruimte wat die groep bied om kritiese denke te ontwikkel en om “spectacularly” verkeerd te wees en van mekaar te verskil. Dis die soort intellektuele stimulasie wat ek mis onder my gilde van Ou-Testamentiese kollegas! Met enkele uitsonderings (soos goeie vriend Sias Meyer van die Universiteit van Pretoria), gaan kritiese gesprekke oor Bybelinterpretasie met kollegas gou oor in kleinserige ad hominem aanvalle waarin ’n mens verdink word van allerhande polities-onkorrekte motiewe. Die gespreksgroep – kom ons noem hulle vir die oomblik die ‘X Club’ – bied die ruimte om verryk te word en te kan floreer deur kritiese luister en reaksie op mekaar se standpunte en verhale. Ek drink graag ’n bottel Rust-in-Vrede 1997 saam met julle uit!

(vii) Laastens gee ek graag erkenning aan die Wes-Kaapse NG Kerk (deur middel van die Kuratorium en Taakspan vir Leer en Aktuele Sake) vir finansiële steun waarsonder hierdie publikasie nie sou kon verskyn nie. Ek het groot waardering vir hierdie hulp.

Een: ’n Bottel Rust-in-Vrede

Daar is niks wat so mooi klink soos die geluid van ’n kurkprop wat op ’n stil herfsaand uit ’n goeie bottel rooiwyn getrek word nie. Dis ’n bottel ‘Rust‑in‑Vrede’. Die landgoed-wyn van 1997. Agterop die bottel word die inhoud in gevleuelde woorde besing: “There is an old saying that adversity reminds one of religion. Let this wine remind us that adversity is of a passing nature, a good wine is an enriching experience, and religion the basis of it all.”[1]

Ferdinand ruik aan die kurk nadat hy dit met ’n dowwe-soet klank uitgetrek het. “Mmm, uitstekend. 1997 was ’n besondere jaar.” Maar dan begin hy – soos hy altyd maklik doen – oorgaan in ’n aansteeklike gelag: “Wag, laat ek nie die prop te hard laat opklink nie. Ek en Jurie anderkant die muur het ’n ooreenkoms aangegaan dat ons vir mekaar ’n teken sal kom gee as daar lewe anderkant die muur is. Ek hou hom nog ’n bietjie aan die raai. Hy moet nog ’n rukkie wonder of die plofgeluid wat hy hoor net ’n dowwe naklank van die oerknal is en of dit dalk ek is wat aan hom ’n teken stuur!” Die lagbui gaan oor in ’n hoesbui. Ferdinand stotter tussendeur: “Ek wens ek kon die verdomde sigarette los.” En dan hoes hy verder gedemp, sodat Jurie nie anderkant die muur moet hoor nie.

[1] Hierdie spreuk is geneem van die webblad www.wine.co.za (toegang op 17 Augustus 2017). Dit dien as inleiding tot die bespreking van die wyn van ’n Stellenbosse wynkelder, Rust en Vrede. Daar is egter geen verband tussen Rust en Vrede en Rust-in-Vrede nie.

2 thoughts on “Herinneringe en Verlange – Louis Jonker”

  1. Ek het ’n intense geloofsworsteling in die vroeë tagtigs beleef na die lees van Ferdinand Deist se boek “Die God van Jona”. Daarin het hy gesuggereer dat dit ’n mitiese verhaal is en twyfel by my gesaai deur suggesties soos dat daar tog nie ’n vis groot genoeg kan wees om ’n mens in te sluk nie en dat ’n plant nie oornag so groot kan groei dat ’n mens in die skadu daarvan kan sit nie. Ek dank die Here dat Hy my vir maande laat soek het na antwoorde in die Bybel self, en het ek vrede gevind nadat ek op ’n ander plek van “Jona, seun van Amittai” gelees het, en ek raakgelees het dat Jesus gese het dat Hy drie dae in buik van die aarde sal wees soos Jona drie dae in die buik van die vis was. Wanneer ’n mens Deist krities lees, duik daar soortgelyke voorbeelde op.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui