Kyk ook: |
In Hermie van Zyl: Die gay-besluit en sola Scriptura (kyk hieronder) skryf Hermie van Zyl onder andere die volgende:
Hy verduidelik dat Sola Scriptura die siening is dat die Bybel as hoogste gesag gesien word.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Dan sê hy dat gesonde uitlegbeginsels van die Bybel egter nog altyd gesê het dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid.
Om hierdie stelling te staaf gebruik hy die plat-aarde voorbeeld volgens 1 Sam. 2:8 en Ps. 93:1.
Daarom bepleit hy dat daar met nuwe oë na homoseksualiteit gekyk word.
Kommentaar:
Eerstens, die Bybel verkondig nie ’n plat aarde nie. Kyk Verkondig die Bybel dat die aarde plat is?.
Tweedens, het hy duidelik wegbeweeg van Sola Scriptura. As ’n mens so met die Bybel omgaan, kan ’n mens enigiets bevraagteken. Sommige teoloë bevraagteken Jona en die vis, Jesus se maagdelike geboorte, wonderwerke en opstanding uit die dood oor presies dieselfde rede.
Ander kommentaar
(Hierdie brief het in Volksblad verskyn.)
Prof Hermie van Zyl het van sy vroëere teologiese opinie verander en steun nou die kerk se gay-besluit (Volksblad 2015/11/10).
In sy beredenering verwys prof van Zyl na Hanna se danklied in 1 Sam. 2:8: “Aan die Here behoort die pilare van die aarde; Hy het die aarde daarop gegrondves”.
Prof van Zyl wil hierdie teks in verband bring met wêreldbeeld en ons uitleg van die Bybel oor homoseksualiteit.
Elke gewone Bybelleser kan darem seker insien dat ons in 1 Samuel met ’n lied te doen het. Nataniël het ’n lied geskryf oor Moeder aarde: “Sy vryf haar moeë bene; Sy’t ’n lang pad geloop”. Nataniël wil tog nie sê dat die aarde bene het nie. Dit is digterlike taal, net soos Ps 93 en Job wat sê: “God sprei die hemel uit oor die leë ruimte, Hy laat die aarde hang waar niks is nie” (Job 26:7).
As Paulus egter oor homoseksualiteit skryf is dit nie ’n lied nie. Hy skryf briewe aan die kerk waarin hy onderrig gee en vermaan. Hy sê in 1 Kor 6:11: “Mense wat homoseksualiteit beoefen … sal nie deel kry aan die koninkryk van God nie”. Dit is lering wat ons ter harte moet neem.
Prof van Zyl het in die verlede as volg oor hierdie skrifgedeeltes geskryf:
“Dit dien nie die saak om in ’n mens se pastorale bewoënheid oor die onbenydenswaardige posisie van veral Christen-homoseksuele, met allerlei kunsgrepe die Skrif te maak sê wat hy kennelik nie sê nie…. Die homoseksueel word nie regtig gehelp deur te sê dat homoseksualiteit reg is en beoefen mag word nie”.
Dit is die gesonde leer waaraan die kerk ’n groot behoefte het. Jammer dat prof van Zyl daarvan afgewyk het en nou self besig is met die “kunsgrepe” waarteen hy gewaarsku het.
Jan Louw
Reitz
(Hierdie brief het in Volksblad verskyn.)
Besluit nie volgens Bybel Die huidige debat oor die algemene sinode se gay-besluit verwys.
Die willekeur waarmee korrespondente oor die Skrif en homoseksualiteit skryf, wil ’n mens laat huil.
Die skrywe van kollega Hermie van Zyl is egter ’n ander saak. Sy vorige bydrae het my genoop om kommentaar ter wille van kollegialiteit te weerhou. Die jongste bydrae in Woord en Perspektief (10/11) laat my geen ander keuse as om te reageer nie.
Dit is al ’n bietjie uitgedien om die Kopernikaanse omwenteling (korrektief op die Bybelse beeld van ’n aarde wat plat is) as bewys aan te voer dat die kerk ook vroeë wetenskaplike navorsing verwerp het.
Daar is ’n groot verskil. Copernicus se navorsing was op wetenskaplike feite gegrond. Geen wetenskaplike sal vandag daarvan verskil nie.
Maar met die Skrifinterpretasie oor homoseksualiteit is dit eenvoudig anders. Die nuwe wetenskaplike ontwikkeling wat na bewering ’n ander betekenis aan die sogenaamde anti-gaytekste gee, is op teorieë gegrond wat nie deur alle wetenskaplikes gesteun word nie.
As die hermeneutiek wat prof. Hermie en die sinode voorstaan, so wetenskaplik is, waarom is daar ander wetenskaplikes soos prof. Jan du Randt (SA) en William Lane Craig (VSA), om net twee van ’n hele rits gesiene eksegete te noem, wat nie hierdie sogenaamde nuwe wetenskaplike insigte onderskryf nie? Wêreldwyd is daar wetenskaplikes wat nie met die Skrifverklaring van die sinode saamstem nie.
Prof. Hermie voer aan dat die sinode net soveel op die sola Scriptura-beginsel (die Skrif alleen) aanspraak kan maak. Gegrond op die ervaring van talle wat daar teenwoordig was, blyk dit dat die Skrif nie die enigste norm was nie, maar dat buite-Bybelse getuienis en emosionele manipulasie ’n groot rol gespeel het.
Die taakspan se verslag aan die sinode het ’n hele afdeling oor buite-Bybelse motivering vir die aanvaarding van selfde-geslagverhoudings.
Trouens, Hermie se betoog steun ook op buite-Bybelse argumente.
Hermie verwys na “onomkeerbare kern-homoseksualiteit”, bedoelende dié wat só gebore is. Dit word dan ’n soort natuurlike teologie wat Bybelse beginsels kan korrigeer.
Die waarheid is egter dat ’n gay-geen nog nie gevind is nie en nie deur navorsing bevestig kon word nie. Ook hier ly die beweerde wetenskaplike insigte aan gebrekkige integriteit.
Die poging om die nuwe interpretasie van die Skrif wetenskaplik te regverdig, slaag eenvoudig nie.
Prof. Johan Janse van Rensburg
*********
Hermie van Zyl: Die gay-besluit en sola Scriptura
Deur Hermie van Zyl 10 November 2015 00:00
Die besluit van die NG Kerk om praktiserende homoseksuele toe te laat tot die kansel en die kerklike bevestiging van verbintenisse van liefde en trou, het ’n hewige polemiek ontketen. In hierdie debat word die slagspreuk sola Scriptura telkens gebruik, veral deur hulle wat die besluit teenstaan.
Sola Scriptura beteken “(deur) die Skrif alleen” en dateer uit die tyd van die kerklike reformasie in die 16de eeu. Die hervormers het dit gebruik in hul stryd teen die Roomse Kerk om te sê dat die pous en die tradisies van die kerk ondergeskik is aan die Woord van God. Die Skrif alleen – nie die pous of tradisie nie – bepaal wat gesagvol is vir leer en lewe.
Hieruit vloei ook verdere oortuigings voort, soos dat die Bybel onfeilbaar is in sy uitsprake oor sake van geloof en lewe, dat dit duidelik en genoegsaam is in sy heilsbedoeling, dat dit homself interpreteer wanneer Skrif met Skrif vergelyk word, en dat elke gelowige, gelei deur die innerlike verligting van die Heilige Gees, direkte toegang tot die Woord van God het.
Hulle benodig nie geleerdes of die kerk se verduideliking om dit te verstaan nie.
Toegepas op die gay-debat beteken dit dat die Skrif se uitsprake teen homoseksualiteit helder en duidelik is. Ons het geen verduidelikings nodig nie. Enige poging om iets anders te sê as wat daar staan, ondergrawe die gesag van die Skrif.
Gesonde uitlegbeginsels van die Bybel, soos oor tyd heen ontwikkel, het egter nog altyd gesê dat die sola Scriptura-beginsel nie op ’n klakkelose manier aangewend kan word nie, veral nie wanneer daar ’n klaarblyklike spanning tussen die Bybelse en hedendaagse wêreldbeeld ontstaan nie. Anders bevind die kerk hom later op ’n eiland van ongeloofwaardigheid.
’n Voorbeeld: Om vandag daarop te staan dat die aarde plat, stewig op sy pilare gegrondves en onwankelbaar is, net omdat die Bybel dit duidelik sê (1 Sam. 2:8; Ps. 93:1), maak jouself nie net belaglik nie, maar ondergrawe juis so die Bybel se gesag.
Dié voorbeeld is nie so onskuldig nie. Vandag aanvaar ons ’n ronde aarde en ’n heliosentriese sonnestelsel as vanselfsprekend, maar toe die moderne wetenskap nog in sy kinderskoene gestaan het, het die kerk dié nuwe insigte hewig teengestaan – op grond van die Bybel!
Gelowiges moet dus naas die Skrif as bron van gesag, ook die getoetste insigte van die natuurwetenskap as gesagsbron vir leer en lewe erken. Skrif en natuur staan nie prinsipieel teenoor mekaar nie, want die God van die Bybel is ook die God van die natuur. Hy is immers die Skepper van alles. Die vraag is net hoe ons die gegewens van albei met mekaar in verband moet bring. Dis nie altyd ’n maklike taak nie, soos nou blyk in die gay-debat.
Van tyd tot tyd kom daar nuwe insigte op die tafel wat die kerk dwing om weer met nuwe oë na die werklikheid te kyk.
En dis al lank dat die kerk gekonfronteer word met die verskynsel van onomkeerbare kern-homoseksualiteit, en dat daar gelowiges met so ’n oriëntasie is wat ’n tuiste in die kerk soek. Hulle wil nie losbandig en buite die kerk lewe nie, maar as belydende Christene en volle mense hul plek in kerk en samelewing inneem.
Wat verder vir die kerk duidelik geword het, is dat die tekste wat oënskynlik anti-gay is, eintlik nie veel hiermee te doen het nie, maar wel degraderende en afbrekende homoseksuele praktyke afwys. Hierbenewens dring die Skrif ons daartoe om insluitend te werk te gaan, ook ten opsigte van hulle wat na ons mening “teen-natuurlik” is.
Die sola Scriptura-beginsel stel dus nie erkende uitlegbeginsels buite werking nie, maar sluit dit in. Die punt is: Sola Scriptura is nie net die prerogatief van téénstanders van die NG Kerk se besluit nie, maar ook van die vóórstanders daarvan.