Kyk ook: |
Met hierdie artikel speel prof Hermie van Zyl baie naby aan die afgrond van universalisme (indien hy nie alreeds van die afgrond afgeval het nie…).
Dit blyk dat hy dink dat die enigste waarde van die Christendom die morele waardes is wat daarmee gepaard gaan en die liefde vir mekaar, mits Christendom oor sy uitdaging kan kom om homoseksueles in te sluit.
Ek hoef niks verder te sê nie.
***********
Hermie van Zyl: Wat dan as alle gelowe gelyk is?
20 September 2016
Die oop en pluriforme Suid-Afrika waarin ons vandag leef, het ook godsdienstige implikasies, waarop ek graag wil ingaan. Voor 1994 het Christene geweet van verskillende godsdienste, maar eintlik net in teorie. Vir alle praktiese doeleindes het ons in ’n land gewoon waar die Christendom die dominante konteks gevorm het. Vandag is dit ietwat anders: Nie net waarborg die Grondwet godsdiensvryheid nie, maar toenemend kom ons in ’n oop mark in aanraking met ander gesigspunte as net dié van die Christendom. Die vraag dring homself ál meer na vore: Indien alle godsdienste gelyke status en regte geniet, wat word van die absolute aanspraak van die Christendom dat daar net een weg na God is – Jesus Christus? Lei alle godsdienste na die lewende God?
Dis eintlik net God wat hierdie vraag kan beantwoord, want geen mens kan buite sy of haar eie ervaring om die totale godsdienstige prentjie objektief in oënskou neem nie. [En God hét besluit en dit baie duidelik in Sy Woord bekend gemaak vir ons. Kyk Die Nuwe Testament oor redding.] Jy kan maar net die situasie uit jou eie perspektief beoordeel. Maar dit beteken nie dat ’n mens nie antwoorde kan gee wat ten minste vrede in jou eie gemoed bring en die sekerheid gee dat jy nie op ’n totale dwaalspoor is wat op ’n ewige ramp afstuur nie.
Eerstens, alle godsdienste is historiese soekontwerpe na God, ook dié wat aanspraak maak op openbarings, soos die Christendom. Dit beteken dat in bepaalde historiese omstandighede mense deur die Transendente – God – aangeraak is, waarop hulle geantwoord het met die begripapparaat en insigte van die betrokke tyd tot hul beskikking. Van die insigte is op skrif gestel, deur geloofsgemeenskappe as kanon aanvaar en oor geslagte heen as gesaghebbende woorde van God oorgelewer.
Tweedens, in die Christendom staan die Christusfiguur sentraal. Hy word bely as God wat mens geword het, as die finale en gesaghebbende openbaring van God aan die mens. Sonder Christus is daar nie ’n Christendom nie, maar sonder die Christendom is daar ook nie ’n Christus nie. Laasgenoemde hou in dat Christus telkens deur sy volgelinge in bepaalde tye en omstandighede geïnterpreteer word vir die wêreld. Dit het ’n goeie en slegte kant. Goed: Christus word telkens in nuwe omstandighede as ’t ware weer aktueel God-Mens vir daardie tyd. Sleg: die Christendom kan Christus so oorlewer dat die kern van sy lewe en boodskap verraai word en die Christelike geloof ’n slegte naam kry. Dis nie net ’n teoretiese moontlikheid nie, maar het al gebeur. Ons eie apartheidsverlede is ’n pynlike herinnering hieraan.
Derdens, alle godsdienste sit as historiese soekontwerpe met die kenmerke van egtheid, voorlopigheid en verraad. Hulle ding met mekaar mee om die hart van God. Elkeen moet bewys dat hulle die stem van die lewende God betroubaar gehoor het. Islam beleef ’n enorme krisis – om die wêreld te oortuig dat die Islam nie gelyk aan die kalifaat van Isis is nie. Die Christendom – veral in die Weste – moet opnuut sy eienskappe van onbegrensde liefde, inklusiwiteit en diensbaarheid ontdek en uitleef.
Presies dít is wat die Christene in die eerste drie eeue sy unieke karakter bo ander godsdienste gegee het. Mense kon sien hoe lief Christene mekaar en die wêreld het.
Christene hoef nie weg te skram van die uniekheid van die openbaring in Christus nie. Ons kan die liefde van Christus prakties uitleef om aan die wêreld te wys dat dit sin maak om God te dien. Die lewensveranderende krag van die evangelie lewer sy eie getuienis omtrent Christus as die universele Heer.