Kyk ook:
(Daar word baie sterk aanbeveel om ook Verstandstande en evolusie te lees, wat hierdie kwessie ook baie goed verduidelik.)
Volgens die evolusieteorie het mens en dier ontwikkel deur ’n proses van mutasies en natuurlike seleksie: mutasies het die lewende wese verander (bv van ’n vis na ’n landdier) en natuurlike seleksie het veroorsaak dat die nuwe dier meer word deur oorlewing van die sterkste of die geskikste in ’n spesifieke omgewing.
Om dit beter te verstaan moet the terme genetiese inligting, mutasies, natuurlike seleksie (mikro-evolusie) en dieresoorte verduidelik word:
Inhoudsopgawe
- 1 Wat is genetiese inligting?
- 2 Wat is mutasies?
- 3 Wat is natuurlike seleksie (mikro-evolusie)?
- 4 Diersoorte
- 5 Probleme met (makro)evolusie
- 5.1 Beide mutasies en natuurlike seleksie lei tot ’n vermindering van genetiese inligting
- 5.2 Verandering slegs in dieselfde soort
- 5.3 Onvereenvoudigbare kompleksiteit
- 5.4 Geen voordeel van tussenstap
- 6 Is hierdie kwessie belangrik vir Christene?
1 Wat is genetiese inligting?
Dit is basies die DNS-inligting van ’n organisme. Visse het die genetiese inligting vir vinne en skubbe, maar nie vir hande, vingers en longe nie. Voëls het die genetiese inligting vir vlerke, spesiale longe, vere, snawels, lê van eiers ens, maar mense het nie daardie genetiese inligting in hulle DNS nie.
Vir evolusie om plaas te kon vind, moes ’n eensellige organisme (met relatief min genetiese inligting) genetiese inligting bygekry het om na ’n mens te evolueer met baie meer of ander genetiese inligting.
2 Wat is mutasies?
Mutasies is DNS-kopieerfoute wat soms voorkom. Hierdie mutasies veroorsaak dat diere ander eienskappe bykry, sou evolusie waar wees. Dus is dit die proses in evolusie wat veronderstel is om ’n dier te verander van een soort dier na ’n ander soort dier: mutasies het bv na bewering skubbe stelselmatig in vere verander. Natuurlike seleksie kan dit nie doen nie.
Nadelige mutasies sluit byvoorbeeld die volgende in: Slange met twee koppe, siamese tweelinge, beeste met 5 pote en blinde visse. LW, nie een van hierdie mutasies het genetiese inligting bygevoeg nie – dit is alles reeds bestaande inligting. ’n Slang met twee koppe het reeds die inligting gehad vir ’n kop. ’n Ekstra kop voeg nie genetiese inligting by nie.
Voordelige mutasies, sluit byvoorbeeld die volgende:
- Beeste met meer vleis: Sommige beeste het ’n mutasie ondergaan wat veroorsaak dat hulle meer vleis gee (kyk Mutations, selection and the quest for meatier livestock).
- Vlerklose besies: Daar is besies op sommige klein eilande wat hulle vlerke verloor het agv ’n mutasie en wat daarom nie deur die wind weggewaai word die see in nie (kyk Beetle bloopers).
- H-Pylori is ’n bakterie wat weerstand teen antibiotika het (kyk Superbugs not super afterall en Pesticide resistance is not evidence of evolution).
Alhoewel bogenoemde mutasies voordelig is, het dit ook nie die genetiese inligting van die dier vermeerder nie, maar verminder.
3 Wat is natuurlike seleksie (mikro-evolusie)?
Natuurlike seleksie word soms ook mikro-evolusie genoem en kan mbv ’n voorbeeld verduidelik word:
Gestel daar is honde met lang hare en sommige met kort hare. As daar ’n baie koue front kom, sal die honde met die kort hare doodgaan van die koue en die honde met die lang hare sal oorleef (oorlewing van die geskikstes vir die omgewing). ’n Reun en teef met lang hare, sal heel moontlik kleintjies hê wat ook lang hare het. Dus sterf die korthaar honde natuurlik uit. Dit is duidelik dat genetiese inligting verlore geraak het (honde met kort hare het verlore geraak).
Dit is heel moontlik hoe byvoorbeeld die verskillende olifante (Indiese, Afrika en mammoete) van een oorspronklike olifantsoort ontstaan het. Kyk ook baraminologie.
Die beginsel van seleksie word ook gebruik in teling van diere (geforseerde seleksie): Daar word met twee (of meer) vinnige perde geteel om vinnige vulletjies te kry. Maar gewoonlik is hierdie vinnige perde baie vatbaarder vir siektes omdat hulle genetiese inligting verloor het in die proses.
Skeppingsleerders het geen probleem met natuurlike seleksie (of mikro-evolusie) nie. Inteendeel, Edward Blyth het al 25 jaar voor Darwin sy boek The origin of species geskryf het, verklaar dat diere verander dmv natuurlike seleksie. Dit bring egter slegs veranderinge mee in dieselfde dieresoort en laat nie ’n volgende soort ontstaan nie.
Agv hierdie veranderinge is mense soms geneig om te sê dat diere by hulle omgewing kan aanpas. Dit is egter ’n baie misleidende stelling: Dit skep die indruk dat omgewingsfaktore diere se DNS kan verander. Bv, ’n hond wat in koue woon, sal later die koue gewoond raak en sy nasate sal van kleins af so gebore word dat hulle makliker koue kan hanteer. Dit is egter nie waar nie. Wat wel waar is, is dat diere wat nie geskik is vir ’n sekere omgewing uitsterf (soos die honde met die kort hare hierbo) en dat die hele bevolking wel “aanpas”, maar een dier kan nie op sy eie aanpas nie. (Kyk Verstandstande en evolusie vir meer hieroor.)
4 Diersoorte
Alle olifantspesies is van dieselfde soort (olifantfamilie).
Wolwe en honde is almal diere van verskillende spesies, maar van dieselfde soort (wolffamilie).
Leeus, tiere, luiperds en huiskatte is almal verskillende spesies, maar van dieselde soort (katfamilie).
Dolfyne en moodvisse is verskillende spesies in dieselfde soort.
Perde, donkies en sebras is verskillende spesies van dieselfde perdsoort. Hulle almal is almal verskillende spesies van die Equus-genus (kyk Wetenskaplike klassifikasie.)
(Kyk Ligers and wholphins? What next?)
Daar was slegs twee diere (en veertien van die rein diere) van elke soort op Noag se ark (twee van die wolf-, kat-, olifant- (ens) soort). Uit daardie diere het al die diere van vandag gekom deur natuurlike seleksie. Geen genetiese inligting het egter bygekom nie.
5 Probleme met (makro)evolusie
5.1 Beide mutasies en natuurlike seleksie lei tot ’n vermindering van genetiese inligting
Daar is nog nooit ’n natuurlike proses (mutasies of seleksie) waargeneem waar genetiese inligting vermeerder het nie (bv ’n vis wat pote kry). Hierdie vraag is al aan Richard Dawkins gevra, maar na 18 sekondes van stilte het hy gevra dat die kameras afgesit word. Daarna het hy ’n antwoord gegee, maar wat glad nie van toepassing op die vraag was nie (kyk gerus die videotjie op www.youtube.com – “Richard Dawkins stumped” en kyk die artikel Was Dawkins Stumped? wat daaroor handel.)
Lita Cosner skryf in die artikel Communicating truth with grace die volgende: Een van die sentrale argumente teen die opbou van mutasies wat evolusie dryf is dat mutasies die biologiese ekwivalent van roes en klingel/klop in ’n motor is, of tikfoute in ’n manuskrip. Dit is waarna verwys word as genetiese entropie en dit is ’n kragtige weerlegging van die “mutasie + seleksie = Darwinistiese evolusie” stelling. Net soos roes en klingels nie ’n Beetle in ’n Porsche kan verander, of selfs ’n beter weergawe van ’n Beetle kan veroorsaak nie, kan mutasies baie dinge afbreek, maar ons het nie enige voorbeelde waar mutasies dinge byvoeg op die vlak van om ’n seedier longe en bene te gee, of enige bewyse dat dit is wat gebeur het in die verlede nie (kyk Can mutations create new information?).
5.2 Verandering slegs in dieselfde soort
Daar is baie voorbeelde waar verandering in dieselfde diersoort plaasgevind het deur mutasies en/of natuurlike seleksie en elke keer het genetiese inligting verminder. Daar is egter geen voorbeelde waar een diersoort in ’n ander diersoort verander het nie.
5.3 Onvereenvoudigbare kompleksiteit
Michael Behe het die voorbeeld van ’n muisval gebruik om onvereenvoudigbare kompleksiteit (Engels = “Irreducible complexity”) te illustreer: ’n muisval het 5 komponente nodig om te werk. Indien slegs een van daardie komponente nie werk nie, dan werk die hele ding nie. Daar is vreeslik baie voorbeelde in die natuur waar baie meer dinge gelyktydig in plek moet wees as net vyf, soos bv die eerste lewe op aarde, bakteriese flagellum (’n elektriese motortjie wat bakterieë aandryf), die oog, bloedstolling en trane. ’n Eenvoudige voorbeeld is voëls: as een ding (vlerkvere, vlerkmeganisme, ligte beenstruktuur, spesiale longe, ens) nie in plek is nie, kan ’n voël nie (behoorlik) vlieg nie en dan het die tussenstap geen voordeel nie en sal dus uitsterf volgens oorlewing van die sterkstes.
5.4 Geen voordeel van tussenstap
Daar word geglo dat voëls uit dinosourusse geëvolueer het. Dit moes in ’n hele paar klein verskillende stappe gebeur. Die probleem is egter, veronderstel dat ’n dinosourus ’n mutasie ondergaan het waar sy voorste pote vlerke word, maar dit kan nog nie vlieg nie, dan is dit nog nie voordelig nie en sal dit vinnig weer uitsterf omdat ’n dinosourus met pote (ipv vlerke) baie meer prakties is.
6 Is hierdie kwessie belangrik vir Christene?
Ja, dit is. Daar word voorgegee dat evolusie wetenskaplik bewys is, dus impliseer dit dat die Bybel verkeerd is in Genesis 1. Dit laat baie mense hulle geloof verloor of beïnvloed hulle geloof negatief. Richard Dawkins sê byvoorbeeld dat evolusie veroorsaak het dat hy ’n intellektueel vervulde ateïs kan wees. Kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed of soek vir die woorde “testimony”, “testimonies” of “side issue” op www.creation.com vir nog baie voorbeelde.