Hoe oorleef die Christelike kerk in ons kontrei?

In die artikel hieronder, spreek Wilhelm Jordaan sy waardering uit vir Klaas Hendrikse wat ’n ateïstiese predikant in Nederland is. Dit gee ’n idee van mense se opinies.

************

Hoe oorleef die Christelike kerk in ons kontrei? | Netwerk24

Deur Wilhelm Jordaan

22 Mei 2019

Hoe meer ek wonder oor die oorlewing van die Christelike kerk in ons kontrei, hoe meer oortuig raak ek dat oorlewing net moontlik is as die kerk kritiese gedagtegange aktief bevorder en minder asem mors op beuselagtigheid soos selfdegeslagverhoudings.

Die kerk is, veral aan jongmense, dit verskuldig om oor ten minste vier sake ernstig gesprek te voer: Dat die Bybel ’n versameling mensewoorde is, geïnspireer deur gelowiges se verstaan van dit wat hulle “God” noem. Wat weggelaat en bygevoeg word in kerklike belydenisse en in die prediking is niks anders as dít nie.

Verder dat die Judaïes-Christelike godsdiens sterk beïnvloed (én verryk) is deur destydse godestories. Dit is oor sake soos God se eienskappe, en die herkoms van idees oor die “seun van god”; die “son van geregtigheid”; “opstanding uit die dood” enso(talryk)voort.

Ook dat dit steeds sinvol is om jou geloof in ’n God te behou, en om byvoorbeeld Jesus se storiematige leerstellings as rigsnoer vir jou lewe te aanvaar omdat stories, as lewende mites, rigtinggewende krag het. Dit is juis wat die Nederlandse predikant Nico ter Linden regkry in sy veelseggende reeks Het verhaal gaat . . . wat sê die ou verhale gaan immer ontdekkend voort.

Dit beteken jongmense moet bekend gestel word aan nuwe, selfs omstrede, denke in kerklike geledere, byvoorbeeld die Nederlander ds. Klaas Hendrikse se paradoksale boeke Geloven in een God die niet bestaat en God bestaat niet en Jezus is zijn zoon.

Dan word geloof klein, flitsende oomblikke van ontroering wat uit die verbeelding vloei; verbeelding wat jou verlos van dogmatiese laste.

Laastens moet die kerk jongmense help om te verstaan dat die inherente ooreenkomste tussen godsdienste tot godsdiensverdraagsaamheid kan lei, gedra deur dié insig: Mý godsdiens se kosbaarheid bevestig die kosbaarheid van ’n ander s’n.

Is só ’n vierledige “kategese” in die kerk haalbaar, veral in die Afrikaanse wêreld? Die NG Kerk, byvoorbeeld, het sinodaal besluit “om die weg van openhartige kritiese debat oor geloofsake te volg”. Luister ’n mens egter na die rusietjies in kerklike kringe, die geskinder, beswaddering en praatjies oor “afstigting”, roep, nee, smeek, dié besluit om waar gemaak te word.

Te midde van rigtingloosheid neem spanning en tweedrag in die kerklike lewe toe en dra tot kerklosheid, kerkloosheid en geloofsverlies onder jongmense by. Daarmee saam kom ’n soeke na buitekerklike spirituele vervulling waar die liefdesopdrag en dienende omgee vir mense die middelpunt is eerder as “korrekte” geloofstaal.

Dan word mense se lewens gerig deur iets soos die filosoof C.S. Lewis se “morele wet” van Godverlange eerder as Godsekerheid.

Kommer oor die kerk se voortbestaan vra vir diepstrekkende gesprek tussen gelowiges oor vernuwende denke. Én om langs mekaar, en nie teenoor mekaar nie, voor die misterie van ’n onsienlike Godheid te kniel.

************

Vernuwende gesprekke noodsaaklik

Deur John Zaaijman, Boggomsbaai

29 Mei 2019 00:00

Ek stem saam met Wilhelm Jordaan as hy sê dit het tyd geword dat die Christelike Kerke hulleself moet oopstel vir “radikaal-vernuwende gesprekke”. Baie gewone lidmate , maar ook baie predikante, asook senior ampsdraers in die kerk, het maar vrae oor die soms omverstaanbare grondbeginsels waarop die Christelike Geloof gebou is.

Almal weet dat almal wonder oor die goed, maar almal is lyk my te bang om te praat daaroor. Daar is ewe baie vraagtekens oor die nimmereindige kleinlike binne-gevegte oor nietighede binne die kerkistiese stoeikryt.

Ek het in Nederland gewoon en gewerk toe die “ateïstiese dominee”, wyle ds. Klaas Hendrikse, sy opspraakwekkende boeke gepubliseer het oor bv. “Geloven in een god die nie bestaat”, ens. Hy had dit onder meere oor die personifisering van die godheid, “de man in de wolken”, ens. Tog het hy en sy kerkowerhede na ’n oop gesprek, mekaar wel gevind.

Dit het vir hom meer gegaan oor gesindheid, as oor “akademies-korrekte” geloofsbegrippe. Ds. Hendriks het later maar weer die preekstoele van sy Protestantse Kerk bestyg en die lewe het voortgegaan soos tevore. Daar was wel ’n soort “radikaal-vernuwende Oop Gesprek”, waar ruimte toegelaat is vir Intellektuele grense, die plek van die mitologie, die neuro-fisiologie van die begrip “geloof”, ens. Dit is deel van ’n natuurlike evolusieproses wat in enige kerkgroep seker ook maar onafwendbaar en lewensnoodsaaklik is.

Waardering aan Wilhelm Jordaan dat hy hierdie moeilike onderwerp weer aangedurf het.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui