Hoe word die Bybel gelees en verstaan?

Die volgende artikel word gepubliseer ter wille van inligting.

*******************

Hoe word die Bybel gelees en verstaan? | Netwerk24

Deur Tobie Wiese

6 September 2020

In ‘Kerk oor die muur of oor die rubicon?’, sy ontleding van die NG Kerk se moeisame reis langs die gay-weg, stel Frits Gaum gespreksvriende én -opponente aan die woord om sy vinger op die breuklyn in die kerk te lê: hoe die Bybel gelees en verstaan word, skryf Tobie Wiese.

Kerk oor die muur of oor die rubicon? Oor geloof, onreg en ’n hofsaak deur Frits Gaum. Uitgewer: Naledi. Prys: R240

Frits Gaum – gesiene kerkman, kultuurman, mediaman – begin sy jongste boek oor die kerk met ses betekenisvolle stemme wat almal ontnugter is deur die NG Kerk. Dit strek van Antjie Krog met haar versreël “liewe here hoor hierdie kerk dan nie” tot by die joernalis Jean Oosthuizen wat weer eens dié kerk se ondergang voorspel.

Dit kan ’n mens laat dink dat jy hier te doen het met ’n suur en gegriefde skrywer wat oor die volgende 240 bladsye ’n persoonlike byltjie met sy geestelike moeder gaan slyp. Allermins.

Gaum, op sy dag redakteur van Kerkbode, volg sy joernalistieke instink deur gespreksvriende én -opponente aan die woord te stel. Die uitgangspunt is duidelik: Deur ’n doelbewuste botsing van idees en standpunte het ’n mens – en hopelik ook die kerk – die beste kans om by “die waarheid” uit te kom.

Die boek se hooftemas is die kerk se “Geloofsverklaring 2000” en die sogenaamde gay-hofsaak van 2019. Die inleidende hoofstuk skets die wêreldwye kerklike toneel en denkklimaat en wys op ’n duidelike verskuiwing weg van die Gereformeerde kerke en ’n “ontluikende paradigma” wat die Bybel nie meer sien as ’n boek van goddelike oorsprong en gesag nie, maar eerder as ’n produk van die mens se reaksie op God se handelinge.

Die aanloop tot 12 lidmate se regstryd teen die NG Kerk strek terug tot 1986 toe die algemene sinode besluit het homoseksualiteit is ’n afwyking en sulke verhoudings is in stryd met die wil van God.

Die “gay-kwessie” het egter op die kerk se agenda (en gewete?) gebly en die sinodes van 1995, 1999, 2002, 2004, 2007 en 2013 het dit telkens ondersoek en daaroor beslis. In 2015 volg ’n groot sprong vorentoe met ’n stel progressiewe besluite wat feitlik alle diskriminasie teen LGBTQIA+-lidmate uit die weg sou ruim, gevolg deur ’n beroering wat die kerklike Richterskaal laat bewe. (“LGBTQIA . . . en ’n plus! Wat’s dit?” Toon vir ’n oomblik mededoë met ds. Dooyeweerd.)

’n Buitengewone algemene sinode, die eerste in die kerk se 355-jarige geskiedenis, herroep dié besluit in 2016 – op wederregtelike wyse. Oplaas, ná verskeie mislukte pogings tot dialoog met die kerkleiding, wend die 12 hulle tot die hof om die onreg reg te stel wat LGBTQIA+-mense aangedoen is. In Maart 2019 beslis die hof in die 12 se guns.

’n Bonus van Gaum se verslag, benewens die geheelbeeld wat hy skets, is besonderhede van wat agter die skerms gebeur het. Hy haal André Bartlett, destyds ’n lid van die moderamen, aan wat skryf dat gebeure vóór en tydens die 2015-sinode die indruk gewek het van ’n fyn uitgewerkte strategie om sinodebesluite oor die gay-geskil te manipuleer. Eerstens moes verhinder word dat enige aanbeveling van die taakspan wat die saak ondersoek het, voorgelê word. “Tweedens: Maak seker dat daar ’n voorstel ter tafel is om te volstaan met die vorige besluite van die algemene sinode” en indien dit nie slaag nie, dat “opdrag gegee word vir verdere studie en gesprek”.

Het Gaum en sy geesgenote hier midde-in die maneuvers van ’n “vertroulike” Afrikaner-organisasie beland waarvan hy self lank ’n lid was? In Praat verby grense: Uit die e-pos van Laurie Gaum en Frits Gaum (2010) sê hy dat die Broederbond “ ’n klomp slegte goed op sy kerfstok (het), en ’n paar goeies”. Onder eersgenoemde tel dat die bond “groot verdeeldheid en geregverdigde bitterheid” onder Afrikaanse mense veroorsaak het, en dat die organisasie dikwels arrogant in sy optrede was “asof hy vir almal moes dink en voorsê”.

EK WENS ’n mens kon, toe én nou, met ’n skoon oog kyk na die “Geloofsverklaring 2000”, ’n destydse inisiatief van Gaum wat deur die kerklike kanale versprei is. Vir sy nuwe boek het hy dié dokument oor kernsake van die Gereformeerde geloof afgestof, met die hulp van ’n paar kundiges effens aangepas en dit hier opgeneem as “Geloofsverklaring 2020”.

Alles goed en wel – dit bevat immers heelwat pitkos – maar wat van die Prediker se goeie raad: dat daar ’n tyd is om stil te bly en ’n tyd om te praat?

Toe verteenwoordigers van ’n aantal Gereformeerde kerke vroeg in 1998 op uitnodiging van Kerkbode ’n moontlike geloofsverklaring bespreek, het prof. Dirkie Smit, hoofopsteller van die Belhar-belydenis, bedenkinge geopper. Hy het daarop gewys dat geloofsverklarings en -belydenisse altyd die gevolg is van ’n krisis oor die verstaan van die evangelie sodat ’n oomblik van waarheid én belydenis aanbreek. Nogtans het 26 medewerkers van ses kerke aan die werk gespring om lidmate iets te gee wat hul geloof vars verwoord “en hulle aan die hart gryp”.

Intussen, aan die oorkant van die spoor, was die Verenigende Gereformeerde Kerk waarlik aan die hart gegryp deur die Belydenis van Belhar (1986). Nogtans is in “Vuurhoutjie”, ’n rubriek in Kerkbode, opgemerk dat die geloofsverklaring dalk “die eerste tree is in die rigting van ’n belydenisskrif vir Gereformeerde Christene van die 21ste eeu”.

Geen geringe droom nie! En waarskynlik geen geringe bydrae nie tot die wantroue oor die NG Kerk se ware verbintenis tot Belhar. Ironies genoeg is Gaum ’n openlike voorstander van dié belydenis.

Hoeveel kopskuiwe word ’n mens in ’n leeftyd gegun? Gaum doen moeite om te verduidelik dat apartheid, onderhewig aan sekere voorwaardes, tog billik en regverdig kon wees, hoewel dit “sommige mense op grond van ras en kleur geminag en benadeel het”. Net sommige? Nee. Driekwart van die bevolking!

In sy ontleding van die kerk se moeisame reis langs die gay-weg lê Gaum sy vinger op die breuklyn in die NG Kerk: hoe die Bybel gelees en verstaan word. Hoewel hy nie eerste met dié insig is nie, bewys hy met die toepassing daarvan in hierdie boek – deeglik gedokumenteer, knap geskryf, onthullend én ontstellend – die kerk en die geskiedenis ’n aansienlike guns. Uiteraard ook met die optekening van die gay-gemeenskap se (helaas onvoltooide) lydensweg.

Is die NG Kerk nou in die oë van lidmate en die publiek ’n gay-vriendelike kerk? Hierop sal vele met ’n wedervraag antwoord: Hoe ernstig kan ’n mens ’n kerk opneem wat deur die hof gedwing moet word om ’n Bybelse kernwaarde – die menswaardigheid van alle mense – te aanvaar? Hoe jy hieroor oordeel, sal grootliks bepaal hoe jy antwoord op die vraag wat die boek in sy titel stel.

  • Bestel Naledi-publikasies direk van die uitgewer: Stuur ’n e-pos na tertiaswart@naledi.online of bel haar by 078 648 8616.
  • Tobie Wiese is ’n skrywer en oudjoernalis.

1 thought on “Hoe word die Bybel gelees en verstaan?”

  1. “Hoe word die Bybel gelees en verstaan?” Die titel van hierdie resensie vat inderdaad mooi saam wat die kern is waaroor die gay-debat in wese gaan.

    “Die inleidende hoofstuk skets die wêreldwye kerklike toneel en denkklimaat en wys op ’n duidelike verskuiwing weg van die Gereformeerde kerke en ’n “ontluikende paradigma” wat die Bybel nie meer sien as ’n boek van goddelike oorsprong en gesag nie, maar eerder as ’n produk van die mens se reaksie op God se handelinge,” word geskryf in hierdie artikel. Sakkie Spangenberg was een van die eerstes wat verklaar het dat die Bybel nie die Woord van God is nie, maar “mensewoorde oor God”. Dit gaan in die gay-debat dus ook oor die gesag van die Bybel.

    Dit gaan verder ook soos in die aangehaalde deel hierbo gestel, oor ’n wegbeweeg van die Gereformeerde kerke. Die Algemene Sinode van 2019 het met die aanvaarding van die Besluit aangaande Selfdegeslagverhoudings die NG kerk buite geplaas, nie net buite die Suid-Afrikaanse familie van gereformeerde kerke nie, maar wêreldwyd.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui