Kyk ook: |
Hofbesluit: “Back to the future” of “Back to the drawing board”
30 April 2019
Floris Knouwds
Hierdie is ’n lesersbrief.
Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.
Floris Knouwds skryf per e-pos:
André Bartlett sê in sy skrywe (so tussen die lyne): “Die hof het die finale woord oor selfdegeslagverhoudings in die kerk gespreek! Ons moet nou net koers kies vorentoe.” Louis Jonker sluit hierby aan en sê: “Die demokratiese proses het nou (nes met die verkiesing van die eerste koning van Israel?) gewys wat God se wil vir sy volk is.”
Maar beide is grondig verkeerd.
In die hof se uitspraak het die regter die eerste helfte van sy uitspraak gebruik om te sê dat hy nie aan die kerk kan voorskryf oor hulle geloofsake nie. Daarna het hy uitdruklik gesê dat die kerk sy eie reëls PLUS die reëls van algemene reg oortree het deur nie die besluit van 2015 te herroep voordat ’n nuwe besluit geneem is nie. In die laaste deel sê hy dat die kerk dit vir hom uiters moeilik gemaak het om ’n beslissing te maak, omdat hulle intern verdeeld is oor wat hulle geloofstandpunt oor hierdie saak is en die saak inkonsekwent hanteer. In die lig van hierdie werklikhede het hy dan die besluit van 2016 nietig verklaar.
Hiermee het hy alleenlik beslis dat die 2016-besluit ongeldig is … en wel op grond van foute in die tegniese proses van hantering van besluite. Sy beslissing het gehandel oor die besluit as sodanig en nie oor die inhoudelike aard daarvan nie. Per implikasie het dit dan beteken dat die 2015-besluit bly staan as die huidig geldende besluit vir die kerk. Vir nou. En sonder om daarmee te beslis dat die 2015-besluit inhoudelik die korrekte besluit vir die kerk is.
Hy het nie beslis dat sy uitspraak (soos Bartlett en Jonker suggereer) die saak (en al die beswaarskrifte wat by 2016 ingedien is) finaal vir die kerk uitsorteer en afhandel nie. Ook nie dat hy die demokratiese proses wil gebruik om aan die kerk voor te sê hoe God se wil vir hulle lewe werk nie. Myns insiens, omdat hy dan die grondwet (wat godsdiensvryheid erken en bevorder) sou ontken of “override”.
Ek kry die idee dat Bartlett probeer sê dat die hof se besluit ’n “back to the future” besluit is. Ook vir die inhoud van ons geloof. En dat ons nou net maniere moet vind om op pad te gaan na hierdie hof-bepaalde toekoms vir die kerk. Terwyl dit in werklikheid ’n “back to the drawing board” besluit is. Sodat ons in die toekoms deegliker moet besin oor wat ons glo, meer uit een mond moet praat oor wat ons glo en seker moet maak dat ons nie onnodige prosedurele foute in kontensieuse sake maak nie.
Indien dit hanteer word soos Bartlett suggereer (naamlik dat al die gepaardgaande beswaarskrifte nou saam met die afwysing van die 2016-besluit ook afgewys en afgehandel is) lê daar op die pad vorentoe vir die NG Kerk nog groter probleme en wag.