Kyk ook: |
Die volgende artikel deur Ds Gideon Aggenbag is geskryf in reaksie op ’n artikel in die APK tydskrif, Boodskapper.
Dieselfde artikel, met ’n effens ander inleiding is ook ingestuur aan die NGK se taakspan oor homoseksualiteit 2015.
*************
Vir nog artikels deur Gideon Aggenbag, kyk Wie is Gideon Aggenbag?. |
Inleiding
Ek verwys na die artikel oor homoseksualiteit in die Boodskapper no. 273, Julie/Augustus 2014 – ’n vertaling na Afrikaans van Trevin Wax van Gospel Coalition se artikel (How I wish the homosexuality debate would go).
Ek stem hartlik saam met u opmerking in die kantnota, nl. dat homoseksuaiteit “’n onderwerp [is] wat in die kern staan van die pogings tot herdefiniering van die huwelik vandag.” Ons sal dus hierdie kernaspek terdeë moet aanspreek in ons stryd teen die verwringing van die huwelik. Om dit effektief te kan doen, sal ons hierdie kern goed moet verstaan. Onkunde daaroor kan tot grootskaalse teenproduktiwiteit lei en onbedoelde negatiewe resultate lewer.
Terwyl ek die artikel deur Trevin Wax gelees het, het ek weereens besef hoe verkeerde indrukke geskep kan word wanneer sake nie by die regte name genoem word nie. Laat my dus asseblief toe om sommige opmerkings te maak rondom die kwessie van homoseksualiteit.
A : Verstaan van homoseksualiteit
Ter wille van eenvoud beperk ek myself tot die manlike. Meeste begrippe is mutatis mutandis van toepassing op die vroulike.
Korrekte terminologie is belangrik, anders verval ons in verwarrende stellings en begrippe, en praat ons maklik op belangrike punte by mekaar verby.
Homoseksualiteit, net soos heteroseksualiteit, is ’n oriëntasie en beteken nie homoseks per se nie. Gerieflikheidshalwe noem ek dit hier SGA (Selfde-Geslag-Aangetrokkenheid). Insgelyks beteken heteroseksualiteit nie ’n seksdaad nie, maar ’n natuurlike oriëntering soos God dit gewil het.
SGA is ’n seksuele wanaanpassing, versteuring, afwyking of disoriëntering. Dit is nie aangebore nie, is veranderbaar en word veroorsaak deur ’n verskeidenheid van gebeure in die lewe en belewenisse van ’n kind – wat ’n wanbalans in sy verhouding tot dieselfde sowel as die teenoorgestelde geslag veroorsaak. Die homoseksuele persoon is dus ’n verwonde / seergemaakte kind in ’n volwasse liggaam.
Elke seun het ’n aangebore behoefte aan ’n vaderfiguur, sy dissipline, toegeneentheid, gesonde liefde en omarming, aanvaarding, erkenning en bevestiging van sy manlikheid. Die seun het ook behoefte aan ’n manlike objek aan wie hy verbonde en in ’n verhouding kan wees. As sy pa hom afskeep, minagtend behandel, emosioneel van hom vervreemd is en/of eenvoudig net “afwesig” bly, raak die seun onseker of selfs verward omtrent sy geslagsidentiteit. Sy pa se verwerping (op watter manier ookal) laat ’n leemte, ’n aangebore behoefte – soortgelyk aan dieseksuele drang – wat noodwendig deur mans aangevul moet word. Een van die moontlike uitvloeisels van hierdie pa-afwesigheid is dat die seun oor-geheg raak aan sy ma, haar goedkeuring op allerhande maniere soek en selfs haar vroulike maniere van doen, praat en gedrag begin na-aap – meestal onbewustelik.
Hierdie leemte – sy gesonde, natuurlike liefde en toegeneentheid wat hy vir sy pa moes belewe en ervaar het – stuur sy ontwikkeling in ’n ongesonde rigting en hy begin (onbewustelik) fokus op ander mans en selfs seuns. Die voorbeeld, geestelike leiding en invloed wat hy van sy (afwesige) pa moes gekry het, maak hom ontvanklik vir dié van ander mans. Mettertyd word húlle die (ongesonde) objekte van sy aangetrokkenheid / toegeneentheid waarvan sy pa die objek moes gewees het, en dit loop uit op ’n oriëntasie van toegeneentheid en aangetrokkenheid tot ander mans – tot dieselfde geslag, d.i. homoseksuele oriëntasie.
Gedurende sy emosionele en liggaamlike ontwikkeling beland hy natuurlik tussen ander mans wat ook soos hy voel – die homoseksuele gemeenskap. Hier word hy gebreinspoel om homself as “gay” te aanvaar, dat dít sy geslagsidentiteit is en dat dit aangebore en onveranderbaar is. Dit, in kort, is een van die moontlike omstandighede waardeur homoseksuele oriëntasie geskep kan word.
Die vraag is nou: Mag hierdie SGA domweg as sonde gebrandmerk word? Wanneer ’n heteroseksuele man meisies aantreklik vind of selfs verlief raak, beteken dit nie per se ’n seksdaad nie. Lg. is ’n keuse wat gemaak word – nie sy oriëntasie nie. En dieselfde is waar vir die homoseksuele man. En dit is hier waar die verwarring begin.
In Trevin Wax se gewenste debat laat hy die pastor vroeg in die onderhoud sê: “Inderdaad! Homoseksualiteit is sonde!” Die homoseksuele persoon wat dít lees en alreeds op Moedverloor se vlaktes sit maar nog steeds wil vashou aan God en sy genade, ervaar dit as ’n (onbedoelde) dwarsklap. Hy word hiermee kennis gegee dat sy (ongewensde, ongevraagde) oriëntasie wat sonder sy toedoen op hom asfgedwing is, ’n skeidsmuur tussen hom en God geword het.
In die homoseksuele gemeenskap ervaar hulle onderling sg. liefde en aanvaarding en voel dus daar tuis. Maar tog is daar sommige wat, desnieteenstaande, besef dat iets nie pluis is met sy oriëntasie nie en graag daarvan ontslae wil raak. Hy weet egter nie hoe nie, omdat hy die oorsake van sy probleem nie ken of verstaan nie.
Hierteenoor stel Trevin Wax dat hy hom daarvan moet bekeer, waarsonder hy nie ’n ware christen kan wees nie – ’n totale misverstaan van die probleem. Trevin impliseer daarmee dat hy salig onbewus is van die oorsake van SGA. In sy gewenste debat maak hy dan ook geen melding van oorsaaklikheid nie. Daarmee impliseer hy dat SGA aangebore is.
Trevin (se denkbeeldige pastor) weet ook nie of (enige) seksuele aangetrokkenheid aangebore is of nie. Natuurlik is dit aangebore! Die Bybel is vol daarvan dat God die mens só geskep het, maar dan ’n aangetrokkenheid tussen teenoorgestelde geslagte.
Dit is ’n groot fout om SGA te beskou as aangebore en onveranderbaar. Derduisende genesings van SGA is al gedokumenteer (kykVoorbeelde van mense wat genees is van homoseksualiteit). Dit kan egter nie nét eenvoudig weggebid word nie. Die SGA-kind (insluitend dié wat reeds ’n volwasse liggaam het) het die onvoorwaardelike liefde, begrip en hulp van sy pa (of ’n paslike plaasvervanger) nodig om van sy oriëntasie los te kom en te genees. Indien, in die afwesigheid van ’n pa, ’n normale man of mans hierdie taak sou onderneem, sal dit met dieselfde gesindheid as dié van ’n pa moet geskied, want dit is harde werk: dit vra ’n begrip en verstaan van die waarheid van SGA, die oorsake daarvan, die omstandighede van die spesifieke geval, volharding, geduld, gebed, onvoorwaardelike liefde en aanvaarding, sonder veroordeling en verwerping, maar óók sonder aanvaarding en goedkeuring van die SGA-oriëntasie – en praktyke wat daarmee gepaard gaan.
B: God se Woord oor homoseks
Daar kan beswaarlik meer oor homoseks (as in stryd met die Skrif) gesê word as wat dr. Peet Botha dit doen in sy boeke, “The Bible and Homosex” en “The Empty Testament”. Hierdie twee boeke het ek met die toestemming van dr. Botha en op versoek van en met die samewerking van André Bekker (sien asseblief meer omtrent hom hieronder) elektronies oorgeskryf en met mekaar geïntegreer. Die boek is nou gratis op die internet beskikbaar by learntolove.co.za of glodiebybel.co.za.
God se Woord is baie duidelik oor homoseks. Dit is sonde. Om diefstal as sonde te veroordeel, beteken nie per se dat die kleptomaan veroordeel en afgeskryf word nie. Dit is ’n sielkundige afwyking en hy het hulp nodig en kan gehelp word deur die regte soort hulp: die verstaan van die probleem, kennis, berading, ens. Soos dit geld vir kleptomanie en diefstal, so geld dit ook vir homoseksualiteit en homoseks onderskeidelik.
C : Die kerk en homoseks(ualiteit)
’n Homoseksuele (“gay”) persoon is (gewoonlik) ’n diep-ongelukkige wese met ’n versteurde geslagsidentiteit, ’n verwonde kind in ’n volwasse liggaam, en het hulp nodig – al ontken hy dit alles. Hy is gewoonlik heeltemal onbewus van die oorsake van sy probleem. Sy wonde moet genees word. En daar is maniere om dit te doen. Eenvoudig gestel: Mens kan nie iemand se voet in ’n slagyster laat vang en dan bid dat die slagyster vanself moet laat los en dat die wonde dan vanself moet genees nie. Die slagyster moet oopgemaak word en die wonde moet verpleeg word.
Ek beveel graag Richard Cohen se twee boeke aan (hy is ’n diep-gelowige sielkundige en self-gerehabiliteerde homoseksueel, gelukkig getroud en met ’n gesonde gesin.): “Coming out straight: Understanding and Healing Homosexuality” en “Gay Children, Straight Parents – A Plan for Family Healing”. (Sien peoplecanchange.com )
Dit is uiters noodsaaklik dat ons al hierdie aspekte van homoseksualiteit verstaan voordat ons dié probleem suksesvol kan aanpak.
Bo alles: Niks is vir God onmoontlik nie. Dit is allerbelangrik om elke geval aan Hom op te dra, Sy leiding en wysheid volhardend af te bid en die werking van Sy Gees in elke fase te vertrou. Elke geval vereis wysheid, onvoorwaardelike liefde, begrip en volgehoue, harde werk.
Hoe sou die kerk die eise van God se Woord in hierdie opsig kon laat gebeur? Ons sou kon navorsing doen, die nodige kennis versprei, die nodige literatuur bekend stel, ondersteuningsgroepe saamstel, kundige beraders wat nie pro-homoseksualiteit geöriënteerd is nie, se dienste kon aanwend en toesien dat hulle die nodige Skrifgefundeerde benadering volg. Die kerk sal ook anti-homo bedieninge soos dié wat André Bekker bedryf, aanmoedig, ondersteun en so ver moontlik finansier.
(André Bekker van Kemptonpark is ’n gerehabiliteerde homoseksueel met ’n gelukkige gesin en voer ’n eensame stryd om gerehabiliteerde homoseksueles, dié wat graag wil rehabiliteer, én hulle betrokke gesinslede, te ondersteun, te begelei en te help. Hy verduur baie verguising en selfs doodsdreigemente vanuit die homoseksuele kamp, maar bedryf sy besielde “New Living Way Ministries” baie bekwaam uit sy eie beperkte finansies. Dr. Peet Botha se bogemelde boek wat nou gratis op die internet beskikbaar is, is maar een van van sy baie resultate.)
Die kerk sou ook, in die kursusse en opleiding vir predikante, opleiding daarstel om bestaande en voornemende leraars toe te rus om die waarheid omtrent homoseksualiteit te verstaan en hoe om dit effektief te hanteer. Hulle kan dan self ook gemeentelede aan sodanige opleiding bekendstel en hulle so ver as moontlik toerus met kennis.
Die stryd teen die herdefiniëring van die huwelik sal ook behels dat hierdie probleem amptelik en professioneel getakel word.