Hou vas aan dié 9 woorde

In die artikel hieronder sluit Frits Gaum by Lesie van Rooi aan (Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer) en verdedig die teologiese fakulteite wat die afgelope tyd onder sterk kritiek deurgeloop het toe Kairos Netwerk besluit het om alternatiewe teologiese opleiding te ondersoek (kyk Persverklaring: Kairos Netwerk vergadering 7-8 Februarie 2022) en toe die Namibiese sinode besluit het om artikel 37 te oorweeg onder andere weens die “bestuur van teologiese opleiding aan die Universiteite se Teologiese fakulteite waarmee die Algemene Sinode geassosieër is” (kyk Persverklaring: Namibiese Sinode oor Artikel 37).

Johannes du Plessis (Ferdie Mulder, 8 April 2022)

Kyk ook Du Plessis het verwoesting gesaai (13 Apr 2022) waarin Bernhard Ficker reageer op hierdie brief.

*******

Hou vas aan dié 9 woorde | Netwerk24

Frits Gaum

5 April 2022

Daar is dikwels ’n mate van spanning tussen die amptelike kerk en die teologiese fakulteite waar die predikante van die kerk opgelei word, skryf Frits Gaum.

In sy rubriek “Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer” (02.04) wys dr. Leslie van Rooi tereg op die ooreenkomste tussen die kerkstryde van prof. Johannes du Plessis amper 100 jaar gelede, en dié van vandag . . . en watter lesse uit die geskiedenis geleer kan word.

Terloops, hy maak ’n fout as hy skryf dat Du Plessis ook bekend is as Pienk Piet. Dit was nooit sy bynaam nie, wel sy monument s’n wat deur studente só genoem is vanweë die rooskleurige marmer waaruit dit gemaak is. Die studente het dit so genoem sonder ’n benul van wie Du Plessis was toe die monument van die een plek op Stellenbosch na die ander geswerf het voordat dit op die kweekskool-terrein tot rus gekom het.

Maar die ooreenkomste tussen die destydse kerktwis en dié van vandag is opvallend.

Du Plessis is as ketter gebrandmerk – soos dit in sommige gevalle vandag weer gebeur. Hy het die Bybel so probeer uitlê dat daardie dae se jong generasie dit kon verstaan en aanvaarbaar vind – soos ook vandag.

Hy het die outeurskap van Moses van die eerste boeke in die Bybel bevraagteken, en sy moses in die kerk teëgekom. Dieselfde gebeur vandag as die Bybel krities-histories benader word. Fundamentaliste en ander goeie gelowiges meen dat die baba nou sonder meer saam met die badwater uitgegooi word.

Van Rooi lê klem op die taak van die universiteit se teologiese fakulteit om tokkelokke toe te rus met die vaardighede om krities-wetenskaplik te kan omgaan met teks en konteks. “Dit moet jou (as predikant) in staat stel om die regte vrae te vra, primêre bronne te gebruik as deel van jou ondersoek, om selfondersoek te doen en om ander te help om die Skrif te interpreteer,” skryf hy.

Goed gesê. Ek voeg by: Jy moet ook weet wie jy is en waarvandaan jy kom, want dit is die “bril” waardeur jy die Bybel lees (ons almal lees die Bybel met ons brille op en moet dit erken).

Jy moet ook insig hê oor hoe mense die Skrif deur die eeue verstaan het en hoekom hulle dit so verstaan het. Jy moet, in die geval van jong NG Kerk- en VGK-aspirant-predikante, geskool wees in eietydse gereformeerde teologie en nie bloot in ’n soort ekumeniese teologie wat kant nog wal raak nie.

Jy moet kan onderskei tussen “kernsake” in die Skrif – waarsonder die boom onder jou teologie en geloof uitval – en randsake waaroor daar meningsverskil kan wees. En jy moet self glo, al is twyfel ’n gedurige metgesel.

En, ja, jy moet oop wees vir vernuwing en nie vasgeroes sit in ’n selfgemaakte hoek nie.

Veral moet jy jou verantwoordelikheid teenoor die gemeente aan wie jy die Woord moet verkondig, verstaan. Jy behoort vir hulle positiewe leiding te gee, nie bloot met ’n klomp verwarrende inligting en perspektiewe te los nie.

Teoloë se verantwoordelikheid

Daar is dikwels ’n mate van spanning tussen die amptelike kerk en die teologiese fakulteite waar die predikante van die kerk opgelei word. Dit is nie noodwendig sleg nie.

Die teoloë is dikwels voorlopers in hul vakgebiede en die kerk kom ’n entjie agterna en gee nie denkbeelde en dogmas wat van ver af kom, maklik prys nie.

Maar die teoloë het ’n verantwoordelikheid om die kerk – en dus die gemeentes en die lidmate – wat hulle by implikasie in daardie vertrouensposisie as mentors vir aspirant-predikante geplaas het, in gedagte te hou en te respekteer.

En die kerk het die verantwoordelikheid om na die teoloë te luister en ag te slaan op hul sienings, al kan die kerk dit nie altyd huidjie en muidjie aanvaar nie.

Daar behoort dus voortdurende kommunikasie te wees en teoloog en kerk moet met mekaar praat in verstaanbare taal, nie gehul in wetenskaplike jargon of kerklike mirakeltaal nie.

Die teologiese kweekskool op Stellenbosch het juis tot stand gekom vanweë die gevoel dat die opleiding wat hulle van teoloë in Nederland gekry het, alte liberaal was.

Daar was in die 1920’s en 1930’s die botsing tussen die kerk en Du Plessis, later was daar spanning oor apartheid, deesdae oor selfdegeslagverhoudings.

Jan Louw van Reitz skryf ’n ruk gelede in Kerkbode: “Daar is ’n groeiende gewaarwording dat die teologiese fakulteite ’n ongelowige en onbybelse teologie bedryf. Daar is kort-kort berigte van jong leraars wat gemeentes verwar met hul teologie. Ons vermoedens word telkens bevestig oor wat in die verborge ruimtes van die teologiese klasse geleer word.”

[Kommentaar: Kyk Belowende jonges tot struikeling gebring.]

In ’n gesprek met my het prof. Louis Jonker, Ou-Testamentikus van Stellenbosch en medeskrywer van Die Bybel in fokus, gesê: “Sedert 2000 vind die opleiding van die VGK se aspirant-predikante ook (naas die opleiding van die NG Kerk-tokkelokke) by die fakulteit teologie plaas. Dit was ’n absolute skeidingspunt in die bestaan van die instelling.

[Kommentaar: Lesers word aangemoedig om te gaan kyk wat Louis Jonker se teologiese standpunte is – kyk Louis Jonker.]

“Daarsonder sou ons steeds dominees opgelei het wat nie blootgestel word aan ’n diversiteit van standpunte en perspektiewe nie, en sou ons nie ’n ekumeniese fakulteit gewees het nie.

[Kommentaar: Gepraat van “diversiteit van standpunte”: Hoekom is dit so dat daar hoegenaamd geen apologetiek by die teologiese fakulteite geleer word nie? Kyk byvoorbeeld UP Teologiese Fakulteit – Claassen in, Harwood uit. Dit is net liberale teologie wat by die fakulteite onderrig word.]

“Sedertdien het nog ander kerklike vennote by ons aangesluit, en elkeen van hulle help ons om ons perspektiewe te verbreed . . .”

Dit is ook Jonker wat elders geskryf het dat daar ’n groot gaping tussen Bybelwetenskaplikes en “gewone” lidmate is. [Kommentaar: Kyk Teoloë moenie te ver wegdryf van die kerk (3 Jan 2021).]

“Hierdie gaping is veroorsaak deur die indruk by lidmate dat professionele Bybelwetenskaplikes die Bybel wegneem van gelowige gemeenskappe en dit vasvang in ’n klein wêreld met sy eie eksegeties-hermeneutiese reëls. Vir my, as ’n NG dominee wat gereeld kontak het met lidmate, en as ’n Bybelwetenskaplike, is dit noodsaaklik om die gaping tussen hierdie twee wêrelde te oorbrug.”

Dit het Jonker ook probeer doen deur saam met sy medeskrywers van Die Bybel in fokus, proff. Jan Botha en Ernst Conradie, Bybelstudiegroepe op te lei in ’n beter verstaan van die Bybel. Hulle het die historiese konteks van die Bybel in perspektief geplaas, aangedui watter probleme daar met Bybelverklaring is en hoe moeilik dit soms is om dit wat die Bybel sê, na ons tyd oor te dra . . . maar ook duidelik laat verstaan dat, hoewel hulle krities na die Bybel kyk, dit nie beteken dat hulle die Bybel wil afskryf nie – hulle lees dit gelowig én denkend.

[Kommentaar: Is dit dalk Oor geloof en die wetenskap (2012) waarvan Gaum praat? Hierdie dokument is deur die Algemene Sinode van 2013 as ’n gespreksdokument goedgekeur. Dit is een van die skokkende NG Kerk-besluite.]

En hulle onthou steeds dat ons nie in die Bybel glo nie, maar in die God van die Bybel.

Hierdie gedagtes vind neerslag in hul baie waardevolle boek wat juis bedoel is om vir lidmate “vastrapplekke” te gee waar hulle opnuut God se stem uit die Bybel kan hoor.

Du Plessis se lesse

Vir my is die “lesse” uit Du Plessis se geskiedenis, en die kerk se stryd van toe en nou, dat ons baie meer verdraagsaam teenoor mekaar moet wees.

Dat ons moet weet dat die Bybel oor sommige sake klinkklaar duidelik is en oor ander nié en dat ons moet weet dat nie een van ons die volle waarheid in pag het nie.

En dat ons goed na mekaar moet luister voordat ons mekaar verketter.

En moet bou aan ’n noodsaaklike vertrouensverhouding tussen teoloog en kerk, erken dat die kerk in die verlede groot foute gemaak het in haar verstaan van die Bybel – oor slawerny, apartheid, homoseksualiteit.

Maar ook dat die kerk se grootste boodskap die afgelope 2 000 jaar onveranderd gebly het: Daar is ’n God en Jesus is die Here!

As teologie dié nege woorde sou versaak, het dit niks meer vir die kerk en haar lidmate te sê nie. Maar daar is geen rede om te vermoed dat dit gebeur nie.

  • Dr. Gaum is ’n gewese voorsitter van die kuratorium (kerklike beheerliggaam) van die teologiese fakulteit, Stellenbosch. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Kommentaar

Frits Gaum maak groot gewag van die volgende nege woorde:

Daar is ’n God en Jesus is die Here!

En dan sê hy: “As teologie dié nege woorde sou versaak, het dit niks meer vir die kerk en haar lidmate te sê nie.”

Die vraag is of hy dit nie self versaak nie. Toe daar aan Gaum gevra is of net die Christelike geloof reg, toe was sy antwoord soos volg:

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry (Desmond Tutu) . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”

As Jesus dan werklik die Here (God) is en Hy het self gesê dat hy die enigste weg is (Johannes 14:6 en Die Nuwe Testament oor redding), dan versaak Gaum mos self hierdie nege woorde.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui