Hy is ‘radikaal soos Jesus’ en ’n ‘aktivis vir geregtigheid’

In die onderhoud hieronder met Andries van Aarde wys dit duidelik hoe die Hervormde Kerk (net soos die NG Kerk) versuim het om ’n opperste dwaalleraar uit hulle midde te verwyder. Let daarop dat die kerklike tug een van die kenmerke van die ware kerk is.

Kyk ook die volgende video waarin Ferdie Mulder op hierdie artikel reageer:

Andries van Aarde (8 May 2022, Ferdie Mulder)

Let daarop dat Andries van Aarde steeds aan die teologiese fakulteit van die Universiteit van Pretoria verbonde is en dat hy op ’n stadium klas gegee het vir NG Kerk teologiese studente (soos Ferdie in die video vertel).

*******

Hy is ‘radikaal soos Jesus’ en ’n ‘aktivis vir geregtigheid’ | Netwerk24

Murray La Vita

06 Mei 2022

Sy siening van Jesus is van die begin af beskou as iets wat die volksidentiteit van Afrikaner-gelowiges sou aantas, sê prof. Andries van Aarde, “een van Suid-Afrika se grootste teoloë wat meer erkenning verdien”, aan Murray La Vita.

Die Zoom-onderhoud met prof. Andries van Aarde (71 ) vind plaas teen die agtergrond van die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys vir teologiese boeke in ’n amptelike taal van Suid-Afrika, wat onlangs aan hom toegeken is vir sy Jesus, Paul and Matthew.

Die twee “monumentale volumes” is ’n verwerking van Van Aarde se lewenswerk; sy “wetenskaplike en kritiese navorsing” oor die Bybel. Dit is in twee dele opgedeel naamlik Jesus, Paul and Matthew, Volume 1: Discontinuity in content, Continuity in substance en Jesus, Paul and Matthew, Volume 2: To and from Jerusalem.

Hy het op versoek van Cambridge Scholars Publishing “hierdie reusetaak aangepak waarin hy aantoon hoe sy siening van God, Jesus en die Bybel mekaar oor tyd heen beïnvloed het,” luidens die commendatio deur dr. Chris Jones, ’n teoloog verbonde aan die eenheid vir morele leierskap aan die Universiteit Stellenbosch.

Van Aarde gesels vanuit sy huis in ’n voorstad oos van Pretoria. Hy is ’n vriendelike man en val ook op as nederig. ’n Paar keer tydens die onderhoud praat hy byvoorbeeld van die “klein kring” van sy lewe; dít terwyl hy ’n internasionaal gerekende teoloog met drie doktorsgrade is wat onder meer belangrike bydraes gelewer het met navorsing oor die “historiese Jesus” in sy hoedanigheid as lid van die Jesus Seminaar.

Jones beskryf Van Aarde se werk as “uitstaande”.

“Andries van Aarde verdien om deur meer mense en instellings gerespekteer te word vir sy grootse bydrae tot teologiese navorsing nie net in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd. Die liefde, geregtigheid en wysheid wat ons by die historiese Jesus aantref, deurdring sy lewe. Hy is een van Suid-Afrika se grootste en nederigste teoloë wat meer erkenning verdien,” aldus Jones.

Stigmata in sy eie lewe

Die laaste hoofstuk van die tweede volume is van ’n “persoonlike, outobiografiese aard”.

“Dit blyk daaruit dat ons in hierdie twee boeke met deurleefde teologie te make het, en dat die stigmata van die kruis ook nie vreemd is in die lewe van die outeur nie,” het een van die beoordelaars van die prys gesê.

Van Aarde sê die outobiografiese deel verteenwoordig ’n baie persoonlike reis wat hy vooraf eers vir ’n klomp vriende gewys het om hul mening te toets “of ek publiek moet maak, vanweë my eie redelik introverte persoonlikheid”.

Die reis sluit nie ’n Damaskus-ervaring in nie.

“Dit was my lewe lank tweede natuur om die Bybel nie fundamentalisties te lees nie. As matriekseun het ek al by kerk-jeuggeleenthede waar ek voorsitter was, kritiese Bybelbeskouings voorgelees met ’n voorbarigheid,” sê hy laggend.

“My ervaring het op ’n ander vlak gelê en ek het besluit om daaroor te skryf. Ek wou regte studeer het. Ek skryf in die outobiografie ek het in ’n huis grootgeword wat grens aan baie uiterste wit armoede. My pa was ’n spoorwegwerker wat as ’n enkeling grootgeword het. Hy het soos Jan Smuts gelyk en het dieselfde name gehad – hulle het dieselfde ouma gehad.

“In die sestigerjare se Cottesloe-ervarings en die begin van die isolasie van kerke in die wêreld vanweë apartheid, was ons dominee Andries Oosthuizen – wat ook die moderator van die Hervormde Kerk was – baie aktief in die Broederbond betrokke. En saam met Hendrik Verwoerd en mense soos Koot Vorster van die NG Kerk, het hulle die Cottesloe-verklaring [waarin apartheid verwerp is] omver gewerp.”

Baie arm

Van Aarde het in die Pretoriase voorstad Wonderboom-Suid grootgeword.

“Ons was báie arm. Ek het in my lewe nie ’n fiets gehad totdat ek op universiteit my eerste geldjie kon verdien om een te koop nie.

“My pa was in ernstige en aanhoudende gesprekke en debat met Andries Oosthuizen gewikkel oor die keuse wat uitgeoefen is. En uit ons wêreld waar ek grootgeword het, het ek van die begin af ’n probleem gehad met die uitwasse van nasionalisme. Tot op hede is ek báie ongemaklik daarmee; veral oor die herlewing van nasionalismes in die wêreld.”

Toe hy in st. 9 besluit het om teologie te studeer was sy pa “baie, baie kwaad”.

“Dit het gelei tot ’n breuk wat eers baie jare later herstel het. Ek beskryf dit in my outobiografie. Ek kon dit nooit werklik met hom deurpraat nie.

“Hy was bekommerd gewees. Ek was in ’68 in matriek. Dit was die begin van die ellendige situasie van die wegbreek van Jaap Marais. En die professor in kerkgeskiedenis, Adriaan Pont, wat ’n stigter van die ou Herstigte Nasionale Party was, het ’n enórme invloed op die Hervormde Kerk gehad. Hy het daarin geslaag om ’n hele klomp mense in te trek in sy kring, ook deur die werwing van studente.

“My pa was daaroor bekommerd dat ek nie sterk genoeg sou wees om teen hierdie kragte te staan nie. Ek het selfs op ’n stadium toe ek ’n jong student was vir ’n wyle gedink om Andries Treurnicht te steun net omdat hy van Jaap Marais verskil het.”

Hy het egter besef hy kan hom nie vereenselwig met mense wat “so deur nasieskap gedrewe is” nie.

‘Deel van my heling’

Van Aarde sê hy het as jong student inderdaad amper sy “sosiale identiteit” verloor.

“Ek was te jonk gewees en is amper deur die konserwatiewe studenteportuurgroep meegesleur. Ek kon gelukkig gou weer my eie pad loop. Maar dit was baie traumaties. Daardie vorige boek wat ek geskryf het – Fatherless in Galilee : Jesus as child of God – wat enórme probleme in dié land veroorsaak het, maar baie wyd internasionaal aanvaar is, was eintlik ’n deel van my helingsproses . . .

“Ek moes in matriek die huis verlaat weens die spanning met my pa, juis oor my keuse om teologie te gaan studeer. Ek moes by vriende in ’n agterkamer naby die huis bly.

“En dié fatherless . . . Ek kan in my kritiese studie van die Nuwe Testament en van Jesus nie anders sien nie, want daar was nooit ’n Josef wat ’n rol in sy lewe gespeel het nie. In daardie tyd, en steeds vandag in die Mediterreense wêreld, as jy nie ’n vaderfiguur gehad het nie, het jy nie ’n ID-kaart nie . . . Maar Jesus was vaderloos en tog tegelyk kind van God.”

’n Spanning

Nadat hy dominee geword het, was daar in sy “hele lewe in my klein kring ’n spanning tussen hierdie verregse groep en dit wat verband hou met mense se menswees: Hul seksualiteit, hul persoonlikheid – die inklusiwiteit; die totaliteit van menswees”.

“Ook omdat my standpunt van die begin af een was wat ek nie anders kan beskryf as radikale inklusiwiteit nie. Ek sal byvoorbeeld nooit daardie + agter die akroniem [LGBQTI+] wil beperk nie.

“En daarom my bekendheid – saam met ander kollegas – om vir die Hervormde Kerk die stertjie weg te kry dat dit ’n volkskerk is. Aan die einde van my lewe is ek gelukkig dat dít wel verander het.

“Min mense gee erkenning daarvoor, maar die Hervormde Kerk het sinodaal besluit dat dit ’n algehele inklusiwiteit handhaaf en dat dit anti-homofobies is en dat daar geen verhindering is dat iemand van watter seksuele oriëntasie ook al kan aansoek doen om predikant te wees nie.” [Kommentaar: Kyk 2016 Hervormde Kerk homoseksuele besluit.]

Dít was ’n baie lang pad.

Ek sien vir Jesus as wat ek genoem het ’n oerbeeld van iemand wat in uíterste armoede volledig in staat was om volledig inklusief ook te wees. Hierdie siening van my is van die begin af gesien as dat dit die hart van die nasionale identiteit of die volksidentiteit van Afrikaner-gelowiges sou aantas.”

Die akademie

Dit het “spanning en trauma” in sy lewe veroorsaak.

“Ek wou predikant word. Dit het net gebéúr dat ek later in die akademie ingegaan het. Ek het geen begeerte gehad om ’n professor te word nie. Ek wou ’n dominee wees en toe het dinge maar gebeur, ek was toe nie ’n dominee nie; ek was ’n kort rukkie ’n studentedominee gewees toe ek al reeds klasgegee het.

Ek is – my studiejare ingesluit – vanjaar 53 jaar by die Universiteit Pretoria (UP). Maar ek het nooit my lewe as beperk tot die UP gesien nie. Ek was ook oor die land betrokke by feitlik alle ander universiteite en by die uitgewerswêreld.”

Van Aarde is professor emeritus en senior navorser in die fakulteit teologie en religie aan die UP en hy beklee ’n navorsingspos in die fokusarea gender-geregtigheid, gesondheid en menslike ontwikkeling aan die Durban Universiteit vir Tegnologie.

Daarby is hy ook hoofredakteur van die tydskrif HTS (Historical Thought and Scource Interpretation) Theological Studies en opdraggewende redakteur van die groot akademiese uitgewery AOSIS Scholarly Books.

‘Niemand kan dit wegneem nie’

Baie mense het al vir hom gevra hoe is dit moontlik dat hy steeds in die kerk is en preek?

Want daar was van 1992 af aanhóúdend pogings om my van my predikantskap te ontneem . . . of die aanklagte dat ek aan kettery skuldig is. Die geskiedenis van waar af ek kom en hoe ek besluit het om ’n dominee te word – hulle kan dit nie wegneem nie; niémand kan dit wegneem nie.

En my verstaan van Jesus wat inklusief is, radikaal inklusief – dít sluit ook in religieë, nie-religieë . . . Daar is nie ’n grens hierin nie. Vir my is die bewussyn van God . . . dit maak dat jy nie eers voorwaardes vra en vra aan watter denominasie jy behoort nie.

[Kommentaar: Hier het Van Aarde pas erken dat hy ’n universalis is. Is hy dan enigsins verbaas dat daar herhaalde pogings was om hom van sy predikantskap te ontneem?]

“En ek het die voorreg gehad my lewe lank om gereeld te preek. Waar ander mense gaan gholf speel, was dit vir my belangrik gewees om iets van wat ek glo en leef te probeer oordra – watter vreugde ek vind om te leef soos wat ek leef, terwyl dit nié maklik is nie.

“Daar is byvoorbeeld my eie siektelewe; ek het die siekte hidrokefalie; dit is ’n ongeneeslike siekte . . . Ek het my lewe lank hoofpyn, maar ná baie operasies is ek stabiel en leef ek daarmee saam.

“Nee, dit is nie ’n maklike lewe nie . . . Die lewe rondom verwerping, maar dan ook om vreugde te vind in ’n netwerk van vriendskap waar daar juis nie begrensing is nie.”

Kommer oor populisme

Sy stryd teen apartheid “lê op baie vlakke”. Hy sien homself nie as ’n “politieke aktivis” nie, maar as ’n “aktivis vir geregtigheid”.

“Ek is ontséttend bekommerd oor mense se blindelingse populisme en hierdie herlewing van nasionalisme waar ook al in die wêreld. Ons simpatie met mense in Oekraïne moet ons byvoorbeeld nie mislei om die Renaissance van nasionalisme na te streef nie, want nasionalisme het te doen met die nasiestaat en met biologie; biopolitiek – in my boek het ek baie daaroor geskryf.

“As jy eenmaal bo die grens van nasie, bo die grens van biopolitiek dink, kan die lewe vol word van goddelike wysheid, geregtigheid en liefde. My vriend die teoloog wyle Marcus Borg sê wat gebeur het, is die ‘politics of holiness’ – holiness is ’n tegniese term wat op hiërargie dui: heilig, minder heilig, tot verwerplikheid aan die einde – is vervang deur ’n ‘politics of compassion’.

“My stryd teen apartheid is omdat apartheid en énige ander diskriminasie teen een wat ánders is, is ’n stryd teen ’n politiek van deernis.”

Van Aarde sê hy sou nie wou sien dat hy in sy “traumatiese verhaal van spanning wat ek het met die kerk en ander powers that be” negatief is teen geloofsgemeenskappe nie.

“En daarom het ek in beide van my boeke dankie gesê vir dié groepie mense in die gemeente waar ek was in Wapadrant in Pretoria waar ek vir meer as 30 jaar tweeweekliks met hulle in ’n Bybelstudie kon gesels het en dat hulle ontvanklik was. Dit is in geloofsgemeenskappe.

“Ek wil dus erkenning gee aan mense wat God nie gelykstel aan die kerk nie, maar wat nie anders kan as om in ’n gemeenskap van gelowiges te wees nie.

“En die woord geloof, geloof het ’n etiese reikwydte. Die naaste waaraan ek kan kom, is getrouheid, ‘fidelity’. Dit is baie dinamies. As ek sê ’n geloofsgemeenskap dan is dit mense wat getrou is aan die boodskap van deernis. En mense wil dit graag deel.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui