Wat is die betekenis van “JOU IDENTITEIT” in ‘n geloofsbegrip?
As iemand jou moet vra waarin jy glo en jy moet verduidelik wat jy geleer het, asook jou verstaan van die Heilige Skrif, wat sal jy sê? Wel, dan sal jy jou ware Christelike identiteit moet voorhou, want ‘n mens se identiteit verklap jou ware self, dit wat jy onwrikbaar in glo. Kom ons kyk bietjie dieper:
Jou identiteit is daar om jou te laat besef dat jy in eenheid met jou oortuigings van onveranderlikheid is, met ander woorde, ‘n onwankelbare geloof in dit wat jy ondervind het in jou geestelike lewe tot dusver. Dus, om in jou geestelike menswees ‘n gees van sekerheid te kweek om, ondanks teenoorgestelde strominge wat dreig om jou geloofsoortuigings te ontspoor, dieselfde te glo in dit wat ooreenstem met jou aanvanklike oortuigings wat vervat word in die Skrif (2 Tim 1:6-14). Dit is kortliks: morele waardes en oortuigings gebaseer op die Skrif, wat jou identifiseer as ‘n kind gegiet in ware geloof (1 Tim 1:2). Ook moet jou Christelike identiteit vereenselwig word met jou karakter. Hier kan ons na Jesus se gesprek met Nikodemus kyk (Joh 3:3-6): Jesus verwys inderwaarheid na wedergebore met ‘n hemelse karakter, dus, jou karakter word verder versterk deur die doop met die Heilige Gees en Jesus as die Lewende Water. Jan van der Watt, stel dit pragtig in ‘n Eenvolume Kommentaar: “Jy word ‘n burger van die geestelike wêreld, jy is nie nou meer tot die aardse beperk nie, maar jy styg bo daardie beperking uit” Met ander woorde, ’n nuwe karaktervorming wat ‘n nuwe identiteit teweeg bring: ‘n Identiteit deur God bekragtig en verseël deur die Bloed en die Kruis, ‘n prys betaal deur ons Jesus die Opgestane Christus. Nou moet ons verstaan hoe ons identiteit in hierdie wêreld getoets gaan word.
Wat is die betekenis van “IDENTITEITSKRISIS” in ‘n geloofsbegrip?
Om in ‘n identiteitskrisis te verval beteken dat jy in ‘n toestand van verwarring verkeer. Dit sal veroorsaak dat ‘n persoon onseker raak vir dit wat vir hom normaalweg versekering en standvastigheid in die Skrif gebied het. Hierdie toestand word grootliks veroorsaak deur ander “verantwoordelike” persone, wat meestal, opsetlik verwarring saai. Hulle is gewoonlik in een of ander posisie van mag of outoriteit, byvoorbeeld ‘n predikant, pastoor, lektor, professor, ens (2 Tim 3:13). Met ander woorde, as ons onsself nie aanhoudend vergewis met die manier hoe om God te verstaan en dien nie, sal ons in die slaggate van allerdaagse strominge val, en kan lei tot verskeie vorms van identiteitskrisis, naamlik identiteitsverstooiing en identiteitsverhindering, wat hand aan hand met mekaar stap. Kom ons kyk na identiteitsverhindering.
Identiteitsverhindering
Identiteitsverhindering vind plaas wanneer jy nalaat om die nodige skriftuurlike navorsing te onderneem midde strominge van onverstaanbare uitsprake of stellings, met ander woorde, jy beperk jou kennis van die waarheid as jy nie verdagte uitsprake navors nie. Professor van Geen stel hierdie selfverhindering baie goed as hy na 1 Timoteus 4:3-5 verwys: ‘n gees van tweespalt of skynheiligheid sal binne jouself plaasvind as jy nie die waarheid soek nie. Maar die hoofsaaklike rede vir identiteitsverhindering is as gevolg van ander ongegronde idees of ideologieë wat op jou afgedwing word, deur “verantwoordelike” persone, gegrond op dwaalleer. Professor van Geen gebruik 1 Timoteus 4:1-3 om te verwys na onverantwoordelike kerkleiers wat bewustelik afvallige leer verkondig en beginselloos optree. Byvoorbeeld, kerkleiers laat toe dat hulle deur bose geeste verlei word en wil die geestelike en die fisiese lewe skei van mekaar, om ‘n gemakliker geloof teweeg te bring, ‘n geloof wat alles en almal insluit ongeag hul morele oortuigings. Die gevolg is dat jy verhinder word om een omvattende identiteit in Christus te hê, maar ‘n “gesplete persoonlikheid” (Christenskap) ontwikkel. Jy kan nou twee afsondelike lewens lei wat “aanvaarbaar” vir God is. Daarom is dit noodsaaklik dat ons eerder nikssegende versinsels moet vermy en by die Heilige Geskrewe Skrif bly (1 Tim 4:7-11), anders kan dit tot identiteitsverstrooing lei.
Identiteitsverstrooiing
Verwarrende uitsprake, hoofsaaklik deur geestelike leiers, kan verder lei tot identiteitsverstrooing. Die gevolge is ‘n gebrek om die waarheid te ondersoek, daarom kan jy jouself nie verbind met die waarheid nie en verhinder dit jou om jou aanvanklike oortuigings nie as geloofwaardig te ag nie, jy is nou vasgevan in ‘n gees van verstrooidheid! In 2 Timoteus 3:13 voorsien Paulus juis identiteitsverstrooing wat tweeledig van aard is: eerstens, sal daar misleidende leiers wees wat ook self mislei was (verstrooides); en tweedens, sal hulle gelowiges teiken om verstooiing te bewerkstellig om hul verskuilde agendas te bevorder. Met ander woorde, jou soeke na die waarheid word nou verswelg deur verstrooiing, en sukkel jy om jouself te vereenselwig met die waarheid wat jy geleer het (1 Tim 4:14-16). Soos byvoorbeeld, om te verklaar dat sekere morele sondes, soos homoseksualiteit, nie werklik ‘n sonde is nie maar eerder ‘n gawe van God is; dat Satan en die hel nie ‘n werlikheid is nie; die skeppingsverhaal in Genesis nie moontlik was nie en evolusie nader aan die waarheid is, om net sommiges te noem, en kan dus lei tot strominge van verwarring.
Strominge van verwarring
Daar is soveel strominge van verwarring wat in kerkgeledere vloei en aan die broei is, maar ook soos uitgebroeide drake, mense links en regs met valse lering verskeur. Hulle is doelgerig, arrogant en kom voor asof hulle alleen die waarheid ken en verkondig (1 Tim 4:1-2). Hulle teer gewoonlik op die onskuldiges, byvoorbeeld, die ouer garde en kinders, die eensames, geskeide persone en diegene wat verwerp voel. ‘n Groot hartseer is dat teologiese studente, wat afhanklik is van inrigting sodat hulle eendag kan bevestig word in ‘n gemeente, word nou geteiken om ‘n ander leer te verkondig as dit wat in die Skrif opgeteken is as die waarheid. Hulle word somtyds onderig deur persone wat nie in die Bybel of dele daarvan glo nie of ander geloofoortuigings het. In baie gevalle gebeur dit ook in kerkrade of bestuursrade wat oordonder word deur magsbehepte leraars en leiersfigure, gewoonlik met verskuilde agendas sodat wanvoorstellings van die Skrif voorgestel word as die waarheid. Hulle is die dwaalleraars na wie Jesus verwys in Matteus 24:23-27, en Paulus in 2 Korintiërs 11:14-15; Galasiërs 1:7,9, dus, dwaalleraars wat met misleidende, misplaaste, verwarrende, en soetsappige boodskappe vorendag kom wat nie getrou aan die suiwer Leer se duidelike boodskap is nie. Kyle Ideleman (2013, gods at war) stel hierdie dwaalleraars as volg voor:
“The gods are at war, and their strength is not to be underestimated. These gods clash for the throne of your heart, and much is at stake”; “What if they take identities that are so ordinary that we don’t recognize them as gods at all”.
Hierdie mense veroorsaak nie net ‘n identiteitskrisis in lidmate van ‘n kerk en in jou en in my nie, maar plaas ‘n hele geloof in ‘n staat van ‘n identiteitskrisis. Hierdie strominge wat ek vroeër genoem het, is die uitvloeisel van postmodernisme, liberalisme en humanisme as die hoofstroom wat deur dwaling die kerk meesleur. Kom ons kyk kortliks wat hierdie drie strominge in kerkverband beteken en hul nagevolge, met ander woorde, hoe kan hulle jou identiteit versteur of verwar. [Let op dat ek hierdie begrippe nie in hul ontstaan volgorde (historiese) plaas nie, want somtyds gebeur dit dat die een aanleiding gee tot die ander, en anders om].
Postmodernisme: Kortliks is postmodernisme ‘n nuwe tendens of begrip van godsdiens wat om en by 1980’s sy ontstaan gehad het, en gekenmerk was deur werke soos die van Marion (1982), God Without Being, en andere. Dit is ‘n nuwe godsdiens waarby persone hulle los maak van enige vorm van godsdiens wat hul bind aan tradisies of geloofsvorming wat hul vrye denke verhinder of aan bande lê. Met ander woorde, hulle wil nie deur “’n ou historiese boek”, die Bybel, voorgesê word hoe om die skepping en die voortbestaan van die aarde te verstaan nie, en ook hul morele sisteme en waardes aangaande mens, te beperk nie, dus ‘n goeie voorbeeld van identiteitsverhindering. Van Zyl (2010) stel postmodernisme so, maar let net op hoe dit in een vloei met humanisme en liberalisme:
“Die grootste gevaar is nie die duidelike valsheid nie, maar eerder die halwe waarheid. Die duidelike valsheid kan raakgesien en direk beveg word, maar die halwe waarheid lyk en voel dikwels instinktief reg. Die kern van die gevaar lê in die invloed wat postmodernisme op die denke van die allerdaagse mens het”.
Humanisme: Humanisme vind sterk aanklank by postmodernisme en teer op ons huidige geloofskrisis, sodoende kan dit as selfverlossingsleer beskryf word. Selfverlossingsleer (Sinkretisme) word deur Robert Schreiter (1999) gedefinieer as die vermenging van verskillende gelowe of oortuigings waartydens een, of almal, hulle basiese struktuur of identiteit verloor. Aanhangers van ‘n humanistiese kultuur, of wetenskap, wil hulle, net soos postmodernisme, vry maak van enige vorm van “gevangeskap” deur die Bybel. Met ander woorde, humaniste wil hulle eie wêreld skep waar die mens in beheer is en sonder beperkings of voorskrifte leef, dus, God moet ‘n “agterstoel” inneem. Hulle doel is om ‘n stigma aan mense te laat kleef wat hul Godsdiensnorme in twyfel trek, ‘n vorm van identiteitsverstrooiing. Ihab Hassan (in G.E. Veith) skryf dat hierdie tendens ‘n kulturele gebaseerde tendens is waar die werklikheid as ‘n sosiale herkonstruksie gesien moet word, en dat dit ‘n erge vorm van oppervlakigheid (wêrelds) demonstreer. Hoe kan ons die vloei van humanisme in liberalism volg?
Liberalisme of Liberale Teologie: Liberaliste, of verligtes, soos sommige van hulle na hulself verwys, bevat heelwat eienskappe van postmodernisme en humanisme. Hierdie “hervormers” wil die Heilige Skrif, of Bybel, verlaag tot ‘n vlak van hul denke en redenasie. Daarom stel hulle die Bybel voor as ‘n boek vol teenstrydighede of ‘n boek wat histories van aard is, ‘n boek wat baie fabels bevat, en ‘n boek met veranderlikes. Verandelikes in die sin van dit wat in die Bybel se tyd geskryf is nie meer van toepassing op ons is nie, maar net relatief is tot die oorspronklike gehoor. Met ander woorde, die Bybel vertel nie ‘n volle verhaal nie want meeste van die Bybel was net van toepassing vir daardie tyd; maar ‘n halwe waarheid omdat nie alles in die Bybel vir ons kontemporêre geslag geldig is nie. Daarom stel hulle dit voorop dat huidige ondervinding, kennis, die wetenskap en etiek, die norm moet wees van redenering, bo dit wat die Bybel stel as absolutes (absolutes: wat vir die oorspronklike gehoor en vir ons vandag dieselfde betekenis en waarde het). Vern Poythress, ‘n bekende Amerikaanse teoloog en filosoof, beskryf liberalime as ‘n neiging of beginsel wat die Bybel fundamenteel gelykvormig met all ander menslike gebeure sien. Met ander woorde, die mens het die reg om ‘n sekulêre spiritualiteitswêreld te skep waarin hulle nie gebind is tot ‘n spesifieke godsdiens of dele daarvan nie. Hierdie verstaan is lynreg in teenstelling met dit wat die Kruis vir ons gedoen het of nog beteken: om alles te verander en om hemel en aarde bymekaar te bring. Dus, kan die voorafgaande strominge Christene in ‘n staat van beskuldiging voor God plaas?
In ‘n staat van beskuldiging
Ten laaste, postmodernisme, humanisme en liberalisme se ideologie sal jou identiteit tot die uiterste beproef, dit sal verwarring saai, en nog erger, dit sal jou hele menswees in ‘n staat van beskuldiging plaas, waarvan Satan die hoofaanklaer gaan wees (Op 12:10). Hulle sal alles in hulle vermoë doen om die volle kerk en die Heilige Skrif, wat deur God geïnspireerd is, in ‘n vakuum van vraagtekens plaas en sodoende ook jou identiteit. Ja, hulle is revolusioniste wat ‘n revolusie teen God en sy gesag voer. Kom ons neem 2 Johannes 1:7-11 ernstig op en identifiseer die wat in die duister wandel, want hulle oë is reeds verblind deur hul verkeerde dade, en rus onsself toe met God se wapenrusting (Efesiërs 6:11-18). Ons moet onthou, deur die Heilige Skrif, stel God bepaalde identiteitsgrense vir baie goeie redes wat ons moet respekteer, waarvan die belangrikste is: ‘n Identiteit, deur God bekragtig en verseël deur die Bloed en die Kruis, ‘n prys betaal deur ons Jesus die opgestane Christus, waarvolgens en waarin ons God moet dien verheerlik en verstaan. Drs. Cloud en Townsend, in hulle boek Bounderies, stel grense soos volg:
We have personal boundaries, personal property lines, in our relationship with God. God has designed the world so that boundaries are to be respected. He respects ours, and we need to respect his. He wants us to change for our own good and his glory. It hurts him deeply if we don’t.
Nie “People Pleasers”
Daarom moet ons nie aanhangers van mense met verwarde, verwronge en verderflike identiteite wees nie, want dit kan ‘n identiteitskrisis in jou lewe teweeg bring wat jou sal verwoes, gevolglik sal jy nie die EINDPUNT, “die NUWE JERUSALEM”, bereik nie (1 Joh 2:24-26; Op 21:2-4). Jim Daly, in Aanhangers of Volgelinge, stel dit dat ons eerder volgelinge van ‘n God moet wees deur Jesus sodat ons reeds gevormde kultuur en geloof (identiteit) God tevrede sal stel, en nie eerder die van mense nie, dus nie “people pleasers” moet wees nie. Laat toe dat die Heilige Gees, dit wat kosbaar en eie aan jouself is, jou Christus-Identiteit beskerm. AMEN
Philip Coetzee