Kyk ook: |
Die volgende artikel is van Beeld gekopieer.
************
(Im-)morele misleiding
2008-09-17
In die mediaverklaring wat die NG kerk Moreletapark in Pretoria op 9 September uitgereik het, word gesê die kerk het die reg “om te glo wat die Bybel sê” en is daarom oortuig dat “die beoefening van homoseksualiteit sonde is”.
Om dié rede dink die kerkraad nie dat daar teen mnr. Johan Strydom gediskrimineer is toe die gemeente sy dienste as musiekdosent beëindig het nie, want die verklaring sê voorts verskoning word aangebied “vir die feit dat ons, volgens die hóf . . . teenoor hom gediskrimineer het”.
Uit die bewoording is dit duidelik dat die gemeente se verskoning nie uit morele oortuiging kom nie en skep dit verder die indruk dat dit ’n keuse tussen gehoorsaamheid en ongehoorsaamheid aan die Bybel is.
Die voorstelling dat die Bybel die beoefening van homoseksualiteit veroordeel, is eensydig en in die konteks van die debat vals en immoreel.
’n Halwe waarheid is nie noodwendig ’n valsheid nie, maar in dié geval is dit so.
Hierdie oordeel kan op drie vlakke verdedig word: die etiek van lees; die etiek van interpretasie; en etiek in die gebruik van tekste.
Vier belangrike woorde
Eerstens,, die debat oor die Bybel en homoseksualiteit bestaan omdat daar verskillende interpretasies van presies dieselfde stel tekste moontlik is (drie Ou- en drie Nuwe-Testamentiese tekste is normaalweg ter sprake).
Teenoor diegene wat oortuig is dat hierdie tekste voorskrifte bevat oor homoseksuele gedrag, oordeel baie geleerdes anders.
Sieninge wissel van dat die tekste nie op moderne homoseksuele gedrag toegepas kan word nie, tot dat die tekste hoegenaamd nie oor homoseksualiteit handel nie.
Die grootste verskil tussen die interpretasies het te doen met die belang wat aan kulturele kontekste in die leesproses toegeken word.
Homoseksualiteit is nie in die Bybelse wêreld as oriëntasie beskou nie.
Verder plaas die Bybelskrywers selfde-geslag-dade binne antieke praktyke (soos afgodery en pederastie, wat niks met moderne homoseksuele gedrag te doen het nie).
Lees is die proses waar kolletjies en strepies op papier met behulp van ’n sosiale stelsel tot woorde en sinne gemaak en uiteindelik tot betekenis gebring word.
Die etiek van lees vra dus of genoeg moeite gedoen is om tekste in hul eie konteks reg te verstaan; of die eie aard van ’n teks, die kulturele en historiese konteks en ander relevante inligting in dié proses in ag geneem is.
Die groot verskil tussen bogenoemde interpretasies sien ’n mens juis daarin dat laasgenoemde groep tot versigtigheid maan om die betrokke Bybelse tekste sonder meer op vandag toe te pas, teenoor diegene wat met groot sekerheid verklaar “so sê die Bybel”.
Enige billike verklaring sou dus moes gesê het dat die Bybel soos ons dit verstaan teen die beoefening van homoseksualiteit gekant is. Hierdie vier woorde maak ’n wêreldse verskil, want dit erken dat daar ’n groot verskil is tussen “die Bybel sê” en “die Bybel soos ons dit wil verstaan”.
Dán kan geëvalueer word of ’n spesifieke interpretasie ook billik en eties is.
Kyk na die motiewe
Tweedens is daar die etiek van interpretasie om na te kyk. Die blote feit dat dieselfde teks verskillend gelees kan word, en inderdaad verskillend gelees word, is voldoende bewys dat meer faktore as slegs ’n teks ’n rol speel in interpretasie.
Niemand sal aanvoer dat ’n teks énige betekenis kan hê nie, maar dit is algemene kennis dat die leser se oogmerk in interpretasie ’n belangrike rol speel.
’n Eties verantwoordelike interpretasie kyk na die leser se motiewe (bewustelik of onbewustelik), die rol van vooroordele, en magsverhoudinge.
Byvoorbeeld: Word ’n teks gelees met die oog op bevryding of onderdrukking; staan ’n interpretasie in ’n tradisie van vooroordeel (soos homofobie en seksisme) of respek en openheid vir verskille?
Omdat die betekenis van tekste afhanklik is van die leser se leesstrategieë (soos om konteks ernstig te bejeën), asook die groter raamwerk waarbinne die interpretasie plaasvind, kan ’n mens nie anders as om te vra na die moraliteit van ’n spesifieke interpretasie nie.
Dit is dus nie bloot ’n geval van “wat staan daar geskrywe” nie, maar (1) hoe kom ons tot ons verstaan en interpretasie van wat daar geskryf staan, en (2) word bepaalde tekste nie juis gebruik om vooroordele te bevestig, mense uit te buit, te verneder, of te onderdruk nie.
Baie kerke het immers ’n lang geskiedenis van diskriminerende en vernederende praktyke (onder meer teen vroue) wat met Bybelteks-te geregverdig is.
En dié wette dan?
Derdens is daar ’n etiese element in die gebruik van tekste.
Hier word gevra na die manier hoe ’n gesaghebbende teks, soos die Bybel, gebruik word om etiese vraagstukke in die algemeen te hanteer. Is die Bybel ’n selektiewe rottang om te straf of ’n liefdevolle rigsnoer om te begelei?
Selfs al sou sommige Bybelse tekste ondubbelsinnig teen homoseksuele gedrag gekant wees (wat hulle nie is nie), beoefen die NG gemeente Moreletapark ’n selektiewe gebruik van Bybelse teks-te juis om sommige mense te veroordeel.
Daar is talle ander tekste in die Bybel wat nie deur die kerk op dieselfde letterlike manier verstaan word nie.
Dink maar aan die onreinheid van menstruerende vroue, die lot van ongehoorsame kinders, oor egskeiding en die leviraatshuwelik (dat die broer van ’n man wat kinderloos gesterf het, verplig is om met sy weduwee te trou) waaroor daar in die lig van Jesus se direkte woorde in Matteus 5:18 geen twyfel kan wees dat dit vandag nog van krag behoort te wees nie. (Jesus self sê dat “geen letter of lettergreep van die wet sal wegval” nie.)
Waarom hierdie seleksie en wat sit agter die keuse om homofobiese vooroordele te bevestig?
Dít is stiksienig
Dit bly ironies dat ’n hof, en nie die Moreletapark-kerkraad nie, die onbillike diskriminasie kan raaksien.
Dit is juis die aanspraak op die hoogste morele basis (die Bybel) wat die kerkraad stiksienig maak vir dié diskriminasie, want daar ís nie so iets soos “die Bybelse siening” van homoseksualiteit nie.
Die volgende verklaring sou meer moreel gewees het: “Die Bybel, soos óns dit interpreteer met óns interpretasiestrategieë tesame met óns (homofobiese) vooroordeel en die selektiewe gebruik van Bybelse tekste, bring ons by die punt om steeds homoseksuele dade (lees: homoseksuele mense) as sonde te veroordeel.”
Dít sou ten minste ’n korrekte weergawe van die interpretasieproses gewees het en ’n verdedigbare posisie ten opsigte van sekere uitgangspunte.
Die etiek van lees en interpretasie sny diep en niemand kan vandag meer skuil agter vroom aansprake dat geglo word slegs “dit wat die Bybel sê” nie. Hierdie soort misleiding van mense vra op sigself na morele beoordeling.
- Prof. Pieter Craffert is hoof van die departement Nuwe Testament en vroeg-Christelike studie aan Unisa.