Kyk ook: |
In die skitterende grys landskap
Deur: Wilhelm Jordaan
2011-05-04 07:58
In ’n brief (By, 30 April) skryf At van Wyk daar kan nie iets soos “ongelowige gelowiges” wees nie.
Dít na aanleiding van prof. Julian Müller se artikel (By, 23 April) waarin Müller onder meer sê hy skaar hom eerder by die “ongelowige gelowiges” as by die “kampioene van geloof”.
Van Wyk beroep hom op die Woordeboek van die Afrikaanse Taal, waarvolgens “gelowig” en “ongelowig” presies die omgekeerde van mekaar is. Dié begrippe wil maar net nie “paar” nie, sê Van Wyk.
Hy reken dit is om twee weersprekende woorde gelyk te wil maak – “om aldus “ongelowig(e) te verhef en “gelowig(e)” af te rem”.
Daarmee vereenselwig Van Wyk hom met die antieke, enigsins ouderwetse, Aristoteliaanse logika, byvoorbeeld die wet van geen weerspreking (non-kontradiksie): Niks kan tegelyk A en nie -A wees nie.
Anders gesê: Geloof en ongeloof kan nie tegelyk (in dieselfde mens) bestaan nie. Wat sê: ’n Mens is óf ongelowig, óf gelowig.
Wat Van Wyk egter verswyg, is die moderner dialektiese logika wat juis daarop gerig is om die middelterrein tussen opponerende posisies te verken in die lig van meer moontlikhede. Om met die oë van “én én” eerder as “óf óf” na die lewe te kyk.
Soos wat die fisikus Niels Bohr dit doen as hy sê: “I recognise a profound truth where the opposite is also true.”
Ook op die terrein van kritiese geloofsverantwoording word dié benadering verken. Soos in die werk van die Katolieke teoloog Hans Küng. Hy praat oor die mens wat gelyktydig ’n regverdige én ’n sondaar is (simul justus et peccator), en wat ook gelyktydig gelowig én ongelowig is (simul fidelis et incredulus).
Dit is juis dié vertrekpunt wat hedendaags deur Müller, vele ander teoloë én gewone mense verken word ter wille van ’n vervullende geloofslewe deur kritiese geloofsverantwoording.
Dít in teenstelling met die “kampioene van geloof” by wie onsekerheid, twyfel en bevraagtekening van tradisionele geloofsopvattings en -uitings ’n sondige ondeug is. Dit is juis húlle wat die Aristoteliaanse logika tot enigste denkbeginsel verhef.
Soos ’n mens dit teëkom in eenvoudige, ongenuanseerde stellings soos: Jesus het letterlik en fisiek uit die dood opgestaan (die graf was leeg), óf Hy het nie; Jy dien die Here óf jy dien hom nie; Dit is óf die hemel, óf die hel.
Dit word dan ook ’n manier van dink oor ongeveer alle lewensdinge; toegeklamp in die netjiese kategorieë van swart of wit – sonder ’n bewussyn van die skitterende grys landskap tussen-in.
Bewustheid van dié “grys landskap” beteken die aanvaarding van paradoksale geloofsmoontlikhede. Byvoorbeeld:
Die tradisionele Apostoliese Geloofsbelydenis (die Twaalf Artikels) is vir baie mense ’n struikelblok. Om dit met oortuiging na te sê, soos die gebruik in ’n erediens is, is vals. Daarom verwerp hulle dit.
Maar ’n paradoksale bewussyn kan ’n ander “lesing” van dié geloofsbelydenis toelaat: Enersyds: Dié belydenis roer my en roep die verlange na God in my wakker.
Dit is die geloofspad waarlangs die kerkvaders dit eeue gelede begryp het, en waarlangs ek ook gekom het van kindsdae af. Ek kan my hierin verbly as ’n kosbare geloofsvormende geskiedenis waarsonder ek nie wil wees nie.
Andersyds, en terselfdertyd: Ek glo die misterie van God en Christus is ontvouend en dit laat my toe om dit wat vir my vreemd en onaanvaarbaar geword het, in te klee en uit te brei met ’n nuwe en eerbiedige verwonderingstaal.
Waarmee die struikelende, twyfelende, spartelende, soekende gelowige mens wesenlik bely: “Here, ek glo. Help my in ongeloof.”