In grotte en gate

Kyk ook:

Die volgende nuusbrief is in November 2004 deur Jan Louw geskryf en gestuur aan sy wykslidmate.

**************

Ek wil julle vertel van my en Amor se reis na Turkye. Turkye is die ou Klein Asië, waar die apostels en veraf Paulus hulle sendingreise ondemeem het en waar die kerk aan die begin ender die heidene gevestig geraak het. Julle kan gerus in julle Bybels na kaarte van daardie omgewing kyk.

Ek het nuwe respek gekry vir die apostel Paulus se moed en deursettingsvermoe toe ons gesien het watter geweldige berge hy en sy helpers oorgesteek het en watter afstande hulle afgelê het om die Evangelie aan mense te bring.

Links is ’n foto van die stad Efese. Paulus het op ’n stadium sowat drie jaar daar deurgebring waar hy elke dag die mense onderrig het in die Woord van God. Efese was die tweede grootste stad in die Romeinse Ryk. Daar was ’n pragtige besigheidsentrum waar winkeliers hulle kosbaarhede van oor die hele wêreld ten toon gestel het. Die ryk mense van die stad het daar kom inkopies doen onder die geklank van water wat voortdurend uit fonteine gespuit het. Daar was ’n standbeeld van ’n ginekoloog met die naam Alexander. Hy het homself geadverteer as die beste vrouedokter in die stad. Daar was ’n onderdak teater, wat ’n odeum genoem is en ’n groot opelugteater waar 25 000 mense op ’n slag bymekaar kon kom vir vermaak en groot byeenkomste. Die tweede grootste biblioteek in die wêreld was in Efese en daar was ’n hawe waar skepe van oor die hele destydse wêreld aangedoen het. Die tempel van die godin Artemis was daar. Dit word vandag beskou as een van die 7 wonders van die destydse wêreld. Dit het 120 pilare gehad wat elkeen 19 meter hoog was (so hoog soos ons kerk se dak).

Dit is hierdie stad wat Paulus aangedurf het om die evangelie in te verkondig. Na drie jaar het daar só ’n verandering in die stad gekom dat die handelaaars in die heidense aandenkings ’n opstand begin het en vir mekaar gesê het: “Julle sien self dat hierdie Paulus daarin geslaag het om nie net in Efese vir hom ’n groot aanhang te kry nie, maar ook in byna die  hele provinsie Asië. Hy sê dat goed wat metn die hand gemaak is nie gode is nie.” (Handelinge 19:26) So het die Evangelie begin wortel skiet in die land wat vandag Turkye is.

Die foto links is van grotte wat die Christene deur die eeue vir hulle uitgekap het en vir hulle in wonings en kerke omskep het. Hulle het daar gebly om die vervolgings wat ontstaan het te ontvlug, maar dit was ook hulle manier om hulle van die “wêreld” af te sonder. Daar is duisende van hierdie grotte. Vandag is daar nie meer mense in nie, maar dit is ’n stille getuienis van gelowiges se getrouheid aan Jesus hulle Here.

Dit is miskien van hierdie mense waarvan ons lees in Hebreërs 11:38: “Die wêreld was hulle nie werd nie; hulle het rondgeswerf in woestyne en op berge en het in grotte en in gate in die grond gelewe.” Hulle het uiting gegee aan die lering van die apostel Johannes wat uiteindelik in Efese begrawe is. Hy het gesê in 1 Johannes 2:15: “Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie. As iemand die wêreld liefhet, is die Vader se liefde nie in hom nie. Die wêreldse dinge (alles wat die sondige mens begeer, alles wat sy oë sien en begeer, al sy gesteldheid op besit) kom nie van die Vader nie, maar uit die wêreld. En die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen bly ewig lewe.”

Deur die tye van vervolging het die Here die vroeë kerk in Klein Asië andermaal die woestyn ingelei soos dikwels in die verlede. Israel het vir 40 jaar in die woestyn gebly. So het Elia, Johannes die Doper, Jesus, Paulus en baie ander vir tydperke in afsondering in die woestyn gebly. Daar het hulle geleer dat mens nie van brood alleen lewe nie. God het vir hulle gesorg en hulle het geleer wat dit is om op Hom te vertrou.

Wat is die dinge wat die Here ons sou wou leer in ons tyd? Ek glo die· Here wil ons help om bevry te word van die mag wat geld en besittings oor ons het. Wie dit regkry word ingelei in ’n nuwe lewe met God. Dit is ’n lewe wat gekenmerk word deur eenvoud – eenvoudiger huise, eenvoudiger vervoer, eenvoudiger kos en klere. Dit is ’n lewe met minder bekommemisse en meer tyd. Ons het ’n groot behoefte aan tyd vir die dinge wat werklik belangrik is. Ek dink aan tyd vir jou lewensmaat, tyd vir jou kinders, vir jou vriende, vir nadenke, maar veral tyd vir God en sy Koninkryk.

Die Here wil ons lei in ’n lewe waarin ons die vreugde ontdek van te gee, van barmhartig te wees, van broederskap in Christus. Dit is ’n lewe van wysheid, innerlike krag, getrouheid, liefde en diensbaarheid. Mag die Here ons in hierdie dinge opvoed, tot sy verheerliking en ons beswil.

Jan Louw

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui