Kyk ook: |
Innerlike waarheid meer bepalend as godsdiens
2011-10-15 12:47
Abel Pienaar
Op die nuusblaaie van verlede week se Rapport lees ek dat beswaarde NG kerklidmate meen dat die kerk “toenemend ’n ‘sosiale teologie’ predik wat meer humanisties as Bybelgetrou is”.
Die kritiek kom boonop saam met die NG Kerk se kritiek teen die Belhar-belydenis as ’n “humanistiese eensydigheid”.
Soos almal weet, plaas humanisme die fokus op die mens en nie op God nie. En die kerk glo juis dat dit die morele verval bevorder. Gelowiges glo dat indien daar nie teruggekeer word na God nie, sal die mensdom wat “in sonde gebore-” en verlore siele is, hulle die straf van God op die hals haal.
Agter hierdie aanname van godsdienstiges – dat slegs godsdiens die mens waardes en deugde kan gee – die eeue oue filosofiese vraag: Is die mens sonder godsdiens (in dié geval tradisionele Christene) totaal barbaars en sonder enige waardes? As iemand byvoorbeeld sy geloof verloor, word hy dan ook ewe skielik oneerlik in sy verhoudings en werk, of begin hy mense besteel, verkrag of vermoor? Want dit is wat die kerk se kritiek teen humanisme impliseer.
Die feit dat ek my geloof verlaat en as predikant en lidmaat uit die kerk bedank het, het tog nie gemaak dat ek my integriteit verloor het nie. So, moreel gesproke het godsdiens eintlik net mooi niks verander aan my waardestelsel nie.
Ek ken baie mense wat tot geen godsdiens of geloof behoort nie, en wat van die edelste waardes in hul lewe handhaaf. Net so is daar aan die ander kant baie godsdienstige mense wie se waardestelsel so onbeduidend is dat dit nie eens in hul lewe sigbaar is nie.
Dit is daarom ’n geldige vraag om te vra: Speel godsdiens enige rol in mense se waardes en norme? ’n Vraag wat hopelik ook tydens die NG Kerk se sinodesitting die afgelope week herdink is.
Daar is tog baie faktore wat ’n rol speel in die vorming van ’n mens se waardestelsel. Dink maar net aan ’n paar voorbeelde soos DNS, kultuur, omstandighede, beïnvloeding deur rolspelers: ouerhuis, die skool, die samelewing waaruit jy kom. En ja, vir seker speel godsdienstige indoktrinasie ook ’n rol daarbinne, maar vir seker nie die enigste nie.
En aan die ander kant, as ’n mens goed doen en voorbeeldig leef, net omdat jy eendag met die hemel beloon wil word, doen so ’n mens eintlik ook geen goed nie, want sy of haar optrede word gedryf vanuit eiebelang en nie uit morele oortuiging nie. Of dat as ’n mens iemand, byvoorbeeld, nie doodmaak nie bloot omdat hy/sy bang is vir die straf van hul God, het so ’n optrede eintlik niks met morele waardes te doen nie, maar word so ’n besluit deur vrees beheer.
Godsdiens kon ons dalk in die verlede gehelp het om deugde en waardes beter te verstaan omdat dit in die kerk so aan ons verduidelik is, maar dit was nooit die kerk se alleenreg of skepping nie. Die byvoeglike naamwoord “Christelike” of “Moslem”, as voorbeeld, saam met die begrip “waardes” sê eintlik ook mooi niks, want nie een morele waarde is eie of uniek aan enige spesifieke godsdiens nie. Alle waardes bestaan buite godsdienste ook. En hierdie waardes is veel ouer as byvoorbeeld die Christendom. Die Christendom het dit bloot oorgeneem; het dit “vertaal” en dit deel van sy geïnstitusionaliseerde stelsel gemaak.
So, of jy nou tot ’n spesifieke godsdiens behoort of nie, dit kan jou nie keer om respek te hê vir ander mense of vir die lewe nie. Dis nie godsdiens wat maak dat jy liefde hoër ag as haat, of dat nederigheid vir jou ’n beter deug is as hoogmoed nie, of dat geregtigheid vir jou belangriker is as onregverdigheid nie.
Selfs jou spirituele groei vind nie net binne jou godsdiens plaas nie, maar is soos moraliteit eintlik in jouself gesetel. Uiterlike wette, reëls, belonings en strawwe is dus eintlik net ’n verwysingsraamwerk, rigtingwyser, metafoor en simbool na jou eie innerlike waarheid.
En as jy dan die formele godsdiens agterlaat, soos ek gedoen het, verander dit eintlik min aan wie jy is en hoe jy leef. Want wie ek is, is veel meer my innerlike kern as wat dit gaan oor in watter godsdiens ek my bevind.
’n Goeie en sinvolle samelewing is daarom volgens my ’n samelewing waarin die innerlike werklikheid uitvloei in uiterlike deugde en waardes soos: liefde, deernis, medemenslikheid, verdraagsaamheid, oopheid, vertroue, kreatiwiteit, die skepping van welvaart, vriendelikheid, regverdigheid en ander klassieke menseregte wat die ideaal is van ’n vreedsame demokrasie.
’n Morele lewe kan dus opgesom word as ’n lewe wat strook met jou innerlike waarheid. Moraliteit is ’n eerlike en innerlike oortuiging wat eerlik en openlik geleef word. En elkeen moet self die keuse doen. Niemand kan vir jou instaan of dit namens jou doen nie, selfs nie enige offers van sogenaamde gode nie. Jy moet kies. Jy moet dit leef. Die fokus is op jou (humanisme)!
* Dr. Abel Pienaar is direkteur van die Sentrum vir Eietydse Spiritualiteit.
– Rapport
Kommentaar
Manie Loubser
Ek verwys na dr. Abel Pienaar se artikel in 16 Oktober se “Weekliks”-bylae van Rapport. Ek kan nogal met baie dinge saamstem wat hy sê, maar daar is sleutelkwessies wat hy blykbaar verkeerd verstaan. Ek kry die indruk dat hy ’n bepaalde beeld het van Christene, wat in ’n groot mate waar sou kon wees binne die gemeentes waar hy ’n predikant was.
Ek is self ’n Christelike gelowige, en sy siening dat godsdienstiges aanneem dat “slegs godsdiens die mens waardes en deugde kan gee”, is vir seker nie op my van toepassing nie. Ek weet egter wel dat die Christelike geloof ’n belangrike rol gespeel het in die vestiging van waardes in Europa, en hoewel die meeste Europeërs nie meer Christene is nie, het hulle baie van daardie waardes behou. Die Christelike waarde van respek vir mense wat anders as jy is of dink, het juis gelei tot demokrasie.
Hy vra of godsdiens enige rol speel in mense se waardes en norme. In my geval is dit vir seker so. Dit kan ook bewys word deur talle mense wat tot bekering gekom het, en wie se waardesisteem radikaal verander het. Dit het niks met “godsdienstige indoktrinasie” te doen nie, maar alles met die werking van die Heilige Gees. Hy het ook die indruk dat mense goed doen of voorbeeldig leef om met die hemel beloon te word. Maar dit is dan juis waartéén Jesus en Paulus se bedienings gerig was. Die meeste van hul prediking het daaroor gegaan dat jy niks kan verdien nie, maar slegs moet glo, en vertrou op God se genade. Jy doen die regte dinge uit dankbaarheid en omdat die Heilige Gees jou daartoe dring; nie omdat jy bang is vir God se oordeel nie.
Dr. Pienaar sê ook dat die Christelike geloof bloot bestaande waardes “vertaal” en dit deel van sy geïnstitusionaliseerde stelsel gemaak het. Maar Jesus het dan self daardie waardes gepredik, wat lynreg in stryd was met die waardes wat op daardie stadium gegeld het. Die apostels het dit bloot net verder uitgeleef en mense daarin onderrig. Watter ander waardesisteem in die verlede én vandag sê vir jou om diegene te seën wat jou vervloek, en as jy die meeste wil wees, moet jy bereid wees om te dien? Hierdie waardes is in enkele gevalle deur die wêreld by die Christendom oorgeneem, en nie andersom nie. Gaan lees gerus weet Mat. 5-7 om te sien watter unieke waardes Jesus vir die Kerk neergelê het. Die Christelike geloof gaan oor ’n versoende verhouding tussen die individu en God en met sy medemens, en ook oor die internalisering van goddelike waardes – beslis nie die institusionalisering van vertaalde geleende waardes nie.
Ek hoop nie dr. Pienaar se siening van Christene word ernstig opgeneem deur Rapport se lesers nie.