Kyk ook:
*******
Is daar ’n ‘ware’ kerk? Die grammatika van gasvryheid | Netwerk24
Cas Wepener
18 Maart 2024
Sommige kerke moet pasop vir een té harde basstem in ’n liturgiese kantorei tussen ’n polifonie soprane en alte en tenore en baritons. So byvoorbeeld is die NG Kerk ‘’n kerk’ – een tussen baie ander, skryf Cas Wepener.
Ek is ’n NG dominee. Proudly so. Is my kerk die ware kerk? Nee. Dan dus die valse kerk? Volgens my, ook nie. Maar my NG Kerk is wel ’n kerk. ’n Kerk tussen baie ander. En saam met baie ander, in ’n meervoudige veelkleurigheid, vorm ons ’n polifonie, ’n veelheid stemme wat saam soek en droom en doen. En droogmaak.
Die NG Kerk is “ ’n kerk”. Wanneer ek verneem van “die kerk”, dan raak ek katvoet. Hoekom? Want “die” is, nie as aanwysende voornaamwoord vir dié wat weet nie, maar as bepaalde lidwoord vir die man wat wél weet, so ongasvry soos die enkelvoud.
Die twee soorte mense na wie die “dies” in “die wat sê die weet nie/en die wat weet die sê nie” in N.P. van Wyk Louw se “Groot Ode” verwys, het ook onderskeidelik ’n voorkeur vir die bepaalde lidwoord en die enkelvoud teenoor die onbepaalde lidwoord en die meervoud.
My vakgebied illustreer klinkklaar hoe “die” as bepaalde lidwoord in kombinasie met die enkelvoud mooi klink, maar eintlik in sy oënskynlike drieletter-onskuld gelade is met waarde-oordele en agendas. Een van die bekendste en gewildste boeke in my veld in die 20ste eeu was Gregory Dix se The Shape of the Liturgy. Hierdie dik Britse boek herinner bykans aan die Britse post-punk-musiekgroep met die naam The The aangesien albei sommer twee keer “die” in ’n naam gebruik.
Een té harde basstem
Daar is volgens boeke wat van die bepaalde lidwoord hou een liturgie (lees manier van erediens vier), oftewel, daar was en daarom is daar eintlik ook nou een manier – dié manier: lees, die eintlike en regte manier, die eintlike regte en ware kerk. En daardie een erediens het een vorm gehad. Watter vorm? Hoe kan jy nog vra?! Dié vorm.
En dié vorm is uiteraard die vorm wat die skrywers van dieselfde soort werke voorstaan en wil bevorder met hulle skrywes.
Daar is nie as sodanig fout met die vorm wat deur die Dix’e van my veld gepropageer word nie, maar dit wat daardie “dies” voorgee, is gewoon nie waar nie. Moenie ’n fout maak nie – Dix se boek is ’n briljante boek, soos baie briljante “Die-boeke” wat in die loop van die 20ste eeu verskyn het.
Hoe dit ook al sy, later in die 20ste eeu het mense sensitief geraak vir daardie “dies”. Hoekom, want daardie “dies” was gewoon ongasvry; hulle het gedink hulle weet en het gesê, maar helaas was hulle waarheid alleen maar een té harde basstem in ’n liturgiese kantorei tussen ’n polifonie soprane en alte en tenore en baritons. Hulle het net uit hulle pad gegaan om harder as die res te sing.
Mite-makers
Dis egter nie net die teoloë en liturgiste wat ’n voorliefde vir die bepaalde lidwoord gehad het en soms nog het nie. Enkele jare gelede was daar, tot die ontsteltenis van baie restaurant-eienaars in Kaapstad, ’n restaurant met die naam The Restaurant. Dink ook aan al die verskillende weergawes van boeke met titels soos Die geskiedenis van Suid-Afrika wat deur historici op die hele ideologiese spektrum van ver links tot ver regs gepleeg is. Historiografie is van groot belang vir teologie, maar so ook kulturele antropologie, want die kulturele antropoloë bestudeer rituele. En die kerk boer met rituele. Die baie bekende konsep oorgangsritueel (rite of passage ) kan hier as voorbeeld dien, want ook hier is in die loop van die 20ste eeu groot gewag gemaak van een vorm en dit is verhef tot “dié” vorm.
Die Kanadese akademikus Ronald Grimes wys daarop dat wanneer wetenskaplikes prosesse aantoon, hulle dikwels tot ’n handige drieslag kom. ’n Klinkklare voorbeeld hier is die drie fases in oorgangsrituele, wat in literatuur altyd bestaan uit skeiding, oorgang en inkorporasie. Grimes wys tereg dat so ’n skema eerder berus op veralgemening en ’n afdruk is van ’n uitgedinkte skema, as die ontdekking van hierdie patrone in die rituele self.
Daarom is Grimes van mening dat baie antropoloë eerder mite-makers as verklaarders of ontdekkers van mites was.
’n Vorm tussen baie vorme
Arnold van Gennep se baie bekende skema en drieslag in oorgangsrituele is weer afgelei van manlike inisiasie-rituele. Die drie fases wat hy daar waargeneem het, het hy daarna as prototipe vir alle ander oorgangsrituele gebruik. Van Gennep se skema het egter ’n oortuigende driepunt-preek geword en die drieslag is ingelees in rituele, eerder as dat dit ontdek is, en later afgedruk op alle oorgangsrituele as die norm van hoe dit moet lyk. Dit het dus “dié” vorm geword.
Hierdie vaste vorm word uiteindelik afgedruk op rituele tradisies waarbinne hierdie denkwyse nie pas nie. “In short, invented patterns, treated as if they were discovered, came to be prescribed as if they were laws determining how rites should be structured,” skryf Van Gennep.
Grimes kyk in sy eie werk net ’n raps verder, na rituele wat nie spesifiek dié van mans is nie en nie spesifiek deur mans waargeneem, opgeskryf en dan geanaliseer is nie. Hy sien dat die drie fases en die sogenaamde vaste vorm geensins die norm is nie. Nee, dit was maar “ ’n” vorm tussen baie vorme.
As jy jou doodslaap gedurende ’n erediens
En dan is daar al vir dekades diegene wat, uiteraard beïnvloed deur die postmodernisme en met ’n skeptiese beskouing van groot verhale wat al die ander verhale verdring, ’n voorkeur ontwikkel het vir die onbepaalde lidwoord en die meervoud. So is daar in die meeste velde wat in die eerste eeue van die Christendom belangstel, konsensus dat die benoeming “Die Vroeë Kerk” handig is om na ’n periode in die geskiedenis van die kerk te verwys.
Dit is egter ’n denkfout dat daar inderdaad ’n verskynsel bestaan wat met die bepaalde lidwoord en enkelvoud as “Die Vroeë Kerk” beskryf kan word.
Martin Stringer wys in sy A sociological history of Christian worship dat daar in die eerste dekades en eeue van die Christelike jaartelling ’n verskeidenheid vorme van erediens bestaan het – Charismatiese eredienste, tafeldienste en preekdienste, laasgenoemde soms so vervelig en lank dat erediensgangers wat in die venster sit en luister het, aan die slaap geraak en na hul dood geval het. Daar was nie “die vorm” nie, daar was baie vorme, meervoud.
Hierdie waarheid van die onbepaalde lidwoord en die meervoud geld insgelyks vir soveel ander terreine in die teologie, die kerk en die lewe as sodanig. En in my NG Kerk op die oomblik is dit noodsaaklik om wanneer “die ware kerk” teenoor ons as “die valse kerk” opgestel word, te onthou ons is maar “ ’n kerk” – een tussen baie ander.
Wanneer ek nuusberigte lees oor my kerk, dan vermoed ek telkens dat die wat “dié”, die weet nie. En dié wat “ ’n”, erken ten minste hulle weet ook nie. Maar “ ’n” en die “meervoud” is deel van die grammatika van gasvryheid.
• Wepener is ’n hoogleraar in die teologiefakulteit van die Universiteit Stellenbosch. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.