Is die kerk volgens kerkregtelike beginsels ‘n universitas of ‘n societas?

Is die kerk volgens kerkregtelike beginsels ‘n universitas of ‘n societas?

JJP Müller

HTS Theological Studies 37 (3) (1981)

Kerkreg het te maak met die organisasie van die kerk. Die kerklike lewe moet op ‘n gepaste en ordelike wyse (1 Korintiers 14:40) ingeklee en ingerig word sodat duidelik sal blyk dat Jesus Christus die ewige Here en Koning van die kerk is. Jesus Christus is en bly die ewige Hoof van die kerk. Die kerk kan eers dan in die wêreld krag uitoefen en aan sy bestemming beantwoord, as hy homself as georganiseerde liggaam van Christus openbaar[1]. In hierdie georganiseerde kerk is daar vier elemente wat onontbeerlik is vir die onderhouding van die goeie orde en die bevordering van die welsyn van die gelowiges, naamlik

  • die ampte,
  • die vergaderings,
  • die bewaking van die suiwere leer, sakramente en ander seremonies en
  • die tug of Christelike straf.

Die kerk is ‘n eiesoortige organisasie wat in sy wese en grondbeginsels nie berus op menslike goeddunke of menslike oordeel nie. Jesus Christus het self ‘n organisasie vir die kerk verorden soos dit Hom behaag. Die grondbeginsels vir sy organisasie ontleen die kerk aan die Woord van God waar sy wil in die verband ook blootgelê word.

Lidmaatskap van die kerk is soos die kerk self ook iets eiesoortigs. Die sondaar word lidmaat van die kerk omdat Jesus Christus hom deur sy Gees en Woord daartoe bring. Ja, die sondaar word lidmaat omdat hy deur God uitverkies is, wedergebore is en ‘n nuwe skepsel geword het wat in Christus ingelyf is. Hy staan nou in gemeenskap met Jesus Christus, sy Verlosser, en deur Hom in gemeenskap met die drie-enige God. Maar deur Jesus Christus staan hy ook in gemeenskap met alle ander kinders van God, wat solank hulle op aarde is, deur Jesus Christus byeengebring en georganiseer word in ‘n sigbare kerk wat op baie plekke dwarsoor die wêreld byeenkom. Die kerkvorm of kerkorganisasie is ‘n onafskeidelike deel van die aardse verskyning van die kerk[2].

Lidmaatskap van die kerk veronderstel geloof in die lewende en drie-enige God soos Hy Hom geopenbaar het. Geloof veronderstel weer vergewing van sondes om Christus se ontwil, uitverkiesing, roeping en inlywing in Jesus Christus. Dit alles is en bly die genadewerk van God in Jesus Christus wat geen mens kan beveel of afdwing of op besluit nie. Uit sy eie kan die mens dit nie verkry nie, ook nie eers met ‘n ander se aanmoediging of hulp nie. Dit alles berus by God. Dit is ‘n daad van sy liefde wat hy voltrek deur sy Gees en Woord. Dit wat sigbaar rondom lidmaatskap van die kerk gebeur en so na die gewone doen en late van die wêreld lyk, is eintlik maar net teken van wat God reeds gedoen het en op sy wyse tot voleinding sal voer.

Die kerk is na die bedoeling van God nie net ‘n vergadering van gelowiges in ‘n bepaalde organisasie nie, maar is ook die moeder van die gelowiges[3]. Jesus Christus maak gebruik van mense – ampsdraers wat Hy self roep en toerus – om ander mense wat in Hom ingelyf is, te versamel en hulle geestelik soos ‘n moeder te versorg deur Woordverkondiging, sakramentsbediening en tugoefening. Dit bly egter ‘n voldwonge feit dat hierdie gelowiges wat so versamel is in ‘n organisasie met ‘n neergelegde orde eintlik deur Jesus Christus self beskerm en onderhou word op die besondere wyse. Dit gaan daarom in die kerk om Christus se gemeenskap met sy kinders en hulle gemeenskap deur die Heilige Gees se werking met Hom en daarom dan ook om hulle gemeenskap met mekaar.

Uit wat reeds gesê is, is dit eintlik vanselfsprekend dat slegs God die kerk kan stig. “As selfstandige liggaam met ‘n eie organisasie het die kerk op Pinksterdag ‘n aanvang geneem”[4]. Die pinkstergebeure was ‘n daad van God waarby die mens betrek is. Die mens ontvang daar ‘n taak en opdrag van God wat hy nie gevra het of uit sy eie begeer het nie. Die mens ontvang sy krag en toerusting vir sy taak van God die Heilige Gees en die waarheid is vir hom in die Bybel gegee. Die kerk is deur Jesus Christus gestig en is op God gerig, is daar om God te bedien en te eer. Die kerk bestaan nie vanweë of ter wille van menslike begeertes, oorwegings of strewes nie. Alles en almal moet op God gerig wees. Tog is dit ook so dat die gelowiges in hulle gerigtheid op God tegelyk gereedgemaak word om God in sy koninkryk te ontmoet in heerlikheid en onverganklikheid as sy kinders en erfgename. Deur Gees en Woord word die gelowiges al meer gevorm tot gehoorsaamheid en diens aan God.

‘n Verdere feit wat in die oog gehou moet word, is dat slegs God die kerk in stand kan hou. Sonder God en sonder sy Woord is daar geen kerk nie – hoe vlytig en ywerig mense ook al mag werk en organiseer. Die drie-enige God moet die gelowiges voed en versterk om sinvol en opbouend in die kerk te kan werk. Afhanklikheid van God en lewe uit sy genade is die onontbeerlike voorwaarde.

Beëindiging van lidmaatskap van die kerk is ook nie ‘n saak wat by die willekeur van die mens berus nie. Dit is waar dat dit in die vermoë van die mens lê om na ‘n ruk die liefde van God te verwerp, hom teen God te verset en sy roeping te versaak. As dit sou gebeur, laat God dit egter nie daarby nie. Die Here, Jesus Christus, het opdrag gegee dat die tug – die barmhartigheidsmiddel in die hand van die ampsdraers wat tot genesing moet lei – dan in werking moet tree. By volharding en volgehoue verset, loop die tug onvermydelik uit op die ban wat die sterkste vermaning is wat aan en deur ‘n mens in die kerk gegee kan word. Eers met die ban is lidmaatskap beëindig. As die tug in ooreenstemming met die Bybelse voorskrifte gehanteer is, is dit Jesus Christus self wat die lidmaatskap weer ophef – want wat so ontbind is, handhaaf Hy as ontbonde. Al sou ‘n lidmaat uit moedswilligheid of vermakerigheid self sy lidmaatskap probeer beëindig, deur ‘n bedanking in te dien, kan en mag ‘n kerkraad dit nie aanvaar en so sy taak en verantwoordelikheid versaak en ontduik nie. Lidmaatskap kan jy nie self beëindig nie maar Christus doen dit deur sy ampsdraers.

Dit is vanselfsprekend dat die beëindiging van lidmaatskap van die een kerk of gemeente om by ‘n ander aan te sluit, nie hier ter sprake is nie. Dit moet egter net nie gaan om ontduiking van die tug of kwade gevoelens nie.

Die taak en roeping van die kerk word vir hom uitgespel in die Bybel. Mense het nie daarop besluit uit eie oorweging nie. Saam met die uitverkiesing en roeping is ook die taak aan elkeen afsonderlik en almal gesamentlik gegee. Die mens kan alleen besluit met hoeveel toewyding hy sy taak tot eer van God gaan verrig. Of miskien beter gesê – die mens het ‘n keuse tot hoeveel dankbaarheid hy hom deur die Gees van God sal laat lei.

Nog ‘n opmerking oor die roeping van die kerk moet hier gemaak word. Die kerk het die roeping om na buite te openbaar wat hy in wese reeds is. Van die menslike kant gesien, is die kerk onvolmaak en sondig, maar in Christus is hy volmaak (Kol 2:20) en die gelowiges is die kinders en erfgename van God wat sy koninkryk sal beërwe[5]. In sy organisasie, lewe en werk moet hierdie werklikheid geopenbaar word, al is dit dan op onvolkome en gebrekkige wyse.

Dit is nodig om in die verband iets te se oor kerk en koninkryk. Daar is ‘n baie duidelike verband tussen die koninkryk van God en die kerk. Beide het een Heer en een Koning, Jesus Christus; beide het dieselfde onderdane maar is nie met mekaar gelyk te skakel of te vereenselwig nie. Tussen die tyd van die kerk en die koms van die koninkryk van God in sy volle heerlikheid, lê die laaste oordeel wanneer die Koning – Jesus Christus – self die skape van die bokke sal skei en dan mond die gesuiwerde kerk uit in die koninkryk. Daar kan dan ook gesê word dat die kerk as ‘n vergadering van gelowiges, as ‘n gemeenskap van heiliges aan wie die koninkryk van God belowe is, die strydende leer is, waardeur die Here sy koninkryk in hierdie wêreld laat kom (Openbaring 12:10)[6]. Die koninkryk van God het die kerk met sy ampte en bedieninge tot orgaan waardeur God sy koninkryk wil laat kom – om Bouwman se woorde te gebruik[7].

Hoewel die kerk ‘n vergadering van gelowiges is, neem hy allerlei van die aarde en die sonde in hom op. Gelowiges is en bly sondaars en die kerk kan hom ook nie bevry van die hipokrite wat veins dat hulle kinders van God is nie[8]. Gevolglik gaan die kerk gebuk onder struwelinge, verdeeldheid en onmin, in so ‘n mate dat dit al nodig was om na die wêreldlike hof te gaan vir ‘n beslissing in geskille. Die geestelike gemeenskap word so aangetas deur sy eie tekortkominge dat die hulp en oordeel van die wêreldlike regter ingeroep moet word en dan ontstaan die probleme soos met die Trichardtsfonteinsaak in 1893. Daar moes beslis word of die kerk ‘n universitas of ‘n societas is.

Die woord societas beteken ‘n bondgenootskap, ‘n verbond tussen twee state of vorste, ‘n handelsmaatskappy, ‘n vennootskap, ‘n sindikaat of n vereniging. Die menslike doen en late is op die voorgrond en die mens se wil, strewes en begeertes is die oorheersende en deurslaggewende faktor. ‘n Societas word staande gehou deur sy lede of vennote en by meerderheidstem of bedanking en onttrekking van die meerderheid verval dit eintlik. Die kerk kan daarom nooit as ‘n societas in hierdie sin gesien word nie.

Is die kerk dan ‘n universitas? Die woord beteken die geheel, die totaal, die wêreld of die heelal. Dit gaan dus daarom dat as al die lidmate van ‘n gemeente of kerk tot iets instem, is dit reg en aanvaarbaar vir die wêreldlike hof soos in 1893 uitspraak gegee is. Hier is dit weer die geval dat die menslike oordeel deurslaggewend is, solank dit net die totale aantal lidmate behels.

Die kerk kan in sy wese nooit ‘n universitas wees nie, want dit gaan immers in die kerk om wat die Woord van God sê en wat God, se wil is. Die waarheid word nie bepaal deurdat die totale aantal lidmate dit besluit nie. Die waarheid word bepaal deurdat diegene wat God daartoe geroep het onder leiding van die Heilige Gees die Bybel reg verstaan, so uitlê en daarvolgens lewe.

Wat stoflike sake aangaan, waaroor die Bybel nie uitsprake gee nie, gebeur dit wel dat die kerk soos ‘n societas of miskien ‘n universitas funksioneer. Dit is egter op die terrein waar God vir sy kinders vryheid gelaat het om in verantwoordelikheid teenoor Hom, met die oog op wat nuttig en nodig is, ‘n oordeel te fel. Dit is egter bykomstig en van mindere belang in vergelyking met die wesenlike sake wat vasstaan.

Die kerk is in wese nie ‘n societas of ‘n universitas nie, maar ‘n geestelike gemeenskap, weergebore om te staan en te val by die wil van God en die waarheid van sy Woord.

Voetnotas

  1. H Bouwman, Gereformeerd Kerkrecht, Kok Kampen 1928, Eerste deel, bl 65.
  2. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 65-66.
  3. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 66.
  4. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 66.
  5. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 63.
  6. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 57.
  7. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 58.
  8. H Bouwman, aw, eerste deel, bl 58.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui