Kyk ook:
Is die NG Kerk naby aan ground zero al dan nie? | Kerkbode
15 Oktober 2021
Deur Hoffie Hofmeyr
Liberale en eensydige tendense in die NG Kerk is na my oortuiging wel ’n harde werklikheid, skryf Hoffie Hofmeyr.
In die afgelope weke is 11 September 2001 of soos die Amerikaners dit noem 9/11 op baie plekke in die wêreld gedenk, onder andere ook by “Ground Zero” in New York.
Presies 20 jaar gelede het die kapingsvliegtuie van terroriste in die tweeling-toringgeboue van die World Trade Centre van New York vasgevlieg. Ekself was ’n relatief nabye getuie daarvan omdat ek juis dié dag, ironies genoeg, op besoek was aan ’n groot Amerikaanse opelugmuseum, naamlik “Colonial Williamsburg” waar iets van die land se vroeë onafhanklikheidstrewe in herinnering geroep word. Dit is ’n klompie kilometer weg van Washington DC waar ook ’n ander vliegtuig die dag in die Pentagon vasgevlieg het. Ek was op daardie stadium onderweg na ’n agt weke lange studieverlof by die welbekende Princeton, geleë tussen Washington en New York.
Dit is juis nou in hierdie tye dat ons ook beleef dat daar ingrypende gebeure, soos hieronder sal blyk, in die NG Kerk plaasvind. Ek wonder na analogie van 9/11, as ’n kerkhistorikus wat deurgaans positief en toekomsgerig probeer dink, of sommiges in die NG Kerk waarteen ’n mens wel veg om hulle kapers te noem, dalk besig is om op die NG Kerk as een van die kritiese elemente in die Suid-Afrikaanse samelewing af te vlieg om hierdie instelling op die pad na ’n moontlike vorm van “Ground Zero” te plaas.
Die standpunte van eensydiges en liberales in die NG Kerk gedurende die afgelope twee dekades is jammer genoeg gevaarlik en moontlik selfs aftakelend vir ’n positiewe toekoms vir die NG Kerk. Ruimte ontbreek hier om ’n lang reeks van gegronde feite en bewyse hiervoor op tafel te plaas, maar hierdie perspektiewe en aanvoelings word beslis nie maar sommer net uit die duim gesuig nie. En miskien moet dit maar duidelik gesê word: Liberale en eensydige tendense in die NG Kerk is na my oortuiging wel ’n harde werklikheid.
Talryke uitsprake en geskrifte van prominente teoloë of predikante bombardeer en ontstel lidmate en predikante met verwarrende boodskappe. Dit is veral gedurende die afgelope 20 jaar aan die orde van die dag en dit behels uitsprake, boeke en artikels wat afkomstig is van verskeie teoloë en predikante. Selfs sommige kerklike vergaderings is nie bereid om duidelik genoeg leiding te gee nie. Intussen neem die leierskap van die NG Kerk ook nie oral genoegsame standpunt in om hierdie moontlike kapingspogings te probeer vermy nie. Te midde van al hierdie gebeure wonder ’n mens wel party dae of die NG Kerk nie miskien reeds bitter naby aan ’n breuklyn op pad na ingrypende aftakeling gekom het nie. En lesse uit die geskiedenis en ook uit huidige kontekste internasionaal soos Nederland en die VSA, leer vir ons dat wanneer die kerk van Christus nie meer op die wesenlike fokus nie, betree dit die pad van agteruitgang en die samehangende hartseer werklikheid van die toenemende verdwyning van getroue en verantwoordelike lidmate.
Jy vra moontlik as lojale predikant en lidmaat of die probleemkwessies in die NG Kerk diepgaande genoeg is en of dit nie alles maar net verdagmakery is nie. Jy vra miskien ook of dit so ernstig is dat jy standpunt daaroor behoort in te neem. Dat dit baie moeilike, onsekere en verwarrende tye vir die NG Kerk hier in 2021 is sal ’n mens beslis nie kan ontken nie. Dit is nie net jy nie maar ook ek wat my persoonlik soortgelyke vrae afvra: Moet ’n mens as ’n lojaal-kritiese en gebalanseerde mens wat jou hele lewe deel van, en grootliks in diens van die NG Kerk gestaan het, alles wat gebeur en die vernietigingsprosesse wat daarmee saamgaan maar net so aanvaar of as deel van tye van verandering beskou? Vervolgens ook of ’n mens moet oorweeg om jou bande met die NG Kerk te breek, of moet ’n mens miskien eerder sterk en duidelike standpunt inneem en die NG Kerk tot ewewig en reformasie terugroep en met die basiese en wesenlike konfronteer?
Na al my jare van betrokkenheid by die NG Kerk, kies ek tans uit die bogenoemde opsies daarvoor dat ’n mens nie maar net die huidige gevaarlike ontwikkelinge net so kan aanvaar nie, tweedens dat ’n mens nie maar net uit die NG Kerk moet loop of wegskeur nie, maar wel dat ’n mens as individu maar ook binne bepaalde positiewe groeperinge soos byvoorbeeld Kairos Netwerk sterk en duidelike standpunte binne die NG Kerk moet inneem.
Wat bedoel ek daarmee as ek sê dat sterk en duidelike standpunt ingeneem moet word? Omdat ek ’n mens is wat aan die een kant oor dinge wil nadink maar aan die ander kant dit ook prakties en konkreet wil maak, het ek die volgende in gedagte: Die NG Kerk moet weer baie duidelik en reguit hier in die 21e eeu stel dat hy nie bereid is om soos dit tans op baie plekke gebeur, die Woord van God tot ’n sekulêre geskrif af te takel en eenkant toe te skuif nie, hetsy deur disrespek of deur swak uitleg daarvan. Terloops, indien kritici moontlik teen hierdie standpunt van my kant af sal reageer, dit gaan hier beslis nie oor die emosionele saak van selfdegeslagverhoudinge nie, maar oor die vraag of die NG Kerk nie maar net die modespoor van ons tyd taamlik klakkeloos in die gees van individuele menseregte en humanisme navolg nie. Want laat ons dit baie eerlik sê, ’n goeie kerk en goeie teologie staan of val by die verantwoorde hantering van die Bybel.
En waar daar in 1986 baie pynlike ervaringe en ’n uiteindelike skeuring uit die NG Kerk oor sy nuut ingenome standpunte teen apartheid was, het die skeuring grootliks oor politieke kwessies gegaan. Tans handel die pynlike ervaringe in die NG Kerk en die moontlikheid van afsplitsing veel meer oor teologiese kwessies, wat ’n heel ander saak is. En as daar gevra word waar die NG Kerk in die laaste tyd liberaal geword het, dan is dit nie in 1986 met die bogenoemde besluite nie, of toe vroue sonder hoede in die kerk en die kindernagmaal toegelaat is nie, maar toe die Skrif se hantering en interpretasie begin verkeerd loop het.
Dit moet intussen hier duidelik aangemerk word dat die fundamentalistiese benadering tot die Skrif self ook geen uitkoms bied nie, want liberalisme en fundamentalisme is in wese ewe gevaarlik vir gebalanseerde kerkwees, en bloot maar spieëlbeelde van mekaar. Vervolgens meen ek dus dat die NG Kerk naas die wekroep om terug te keer na die Woord, ook erns moet maak hier in die 21e eeu om steeds as belydeniskerk (terwyl daar miskien ook ’n behoefte bestaan daaraan om ons gereformeerde belydenis opnuut eietyds te verwoord), ’n duidelike getuienis aan verwarde en onsekere lidmate en aan ’n wêreld daar buite uit te dra.
Ten slotte is ek van oortuiging dat die klaarblyklike wetteloosheid veral ook oor leerkwessies wat byvoorbeeld onder die dekmantel van die postmodernisme in die laaste tyd in die NG Kerk toegelaat is deur verskillende optredes en standpunte instemmend goed te praat, nie so kan voortgaan nie. Dit is egter ’n wêreldwye verskynsel dat dwaalleringe in die 21e eeu as gevolg van die gees van humanisme, ongebalanseerde diversiteit en oordrewe menseregte-erkenning, vroeg en laat deur kerklike strukture toegelaat word met weinig respek vir gesonde kerklike dissipline. Stel jouself voor watter chaos in die wêreld en ook in ons eie land sou intree indien daar geen respek meer vir landswette en veral ook vir die grondwet sou bestaan nie.
Daar is tans vier ernstige debatte wat in die NG Kerk gevoer word wat in my volgende artikel meer breedvoerig aangespreek sal word. Die diskoerse handel oor ingrypende reformasie, oor ’n moontlike eie streeksinode vir diegene wat gebalanseerde oortuigings deel, oor losmaking van die Algemene Sinode, oor alternatiewe teologiese opleiding, en mag God dit behoed ten slotte oor die moontlikheid van afsplitsing.
Ground Zero vir die NG Kerk is wel ’n moontlikheid, maar dit hoef nie te gebeur nie en kan dalk nog gekeer word. Tot tyd en wyl ons hierdie kort reeks verder voortsit, sal ons intussen baie ernstig en selfondersoekend na die huidige situasie moet kyk, na God se leiding moet vra, en biddend en afhanklik na vernuwende oplossings moet soek sodat ons weer kan droom oor ’n dinamiese NG Kerk wat werklik ’n verskil op pad na groter liefde, geregtigheid, versoening en hoop in ons deurmekaar wêreld kan maak. Behalwe ter wille van die behoud van die NG Kerk as deel van die wêreldwye gereformeerde tradisie met sy ryke geskiedenis, maar ook ter wille van die koninkryk van die hemele, behoort die NG Kerk nie tot ’n “Ground Zero” gekaap en vernietig te word deur diegene wat jammer genoeg allerlei ongegronde perspektiewe verkondig nie. Mag God dit dus behoed!
- Prof JW (Hoffie) Hofmeyr (emeritus) was verbonde aan UP en besoekende professor aan die Evangelische Theologische Faculteit, Leuven, België en Liverpool Hope University, Liverpool, Engeland.