Kyk ook: |
Doelstelling
Hierdie artikel is geskryf met die oog op gelowiges wat alreeds oortuig is dat die verbondsdoop ’n Bybelse gegewene is, en dat dit die besnydenis as teken van die Ou Verbond vervang het. Daarom is daar geen poging om dit te probeer “bewys” nie. Die oogmerk is om sekere elemente te ondersoek, en dan spesiaal die nuutste vertaling (NAV 1983) se vertolking van sekere uitsprake, te wete Rom 6:4 en Kol 2:12 onder die loep te neem. Ek kan nie vrede maak met vertolkende vertaling van die NAV 1983 (Rom 6:4 en Kol 2:12) nie, aangesien dit sekere elemente foutiewelik aan die sakrament van die doop toedig.
Dit is my behoefte om so ver as moontlik die suiwer verstaan van die verskillende elemente van die evangelie van Jesus Christus te bevorder. Die praktyk leer dat net een elementêre denkfout die res van die struktuur van ons verstaan en waardering van die evangelie kan beïnvloed – tot so ’n mate dat dit dan al meer wanopvattings kan voortbring. In die proses verloor ons iets van die wonder van, en waardering vir, die ongelooflike en wonderlike pad wat God met die mens geloop het en nog steeds loop.
Tensy anders aangedui, word die teks van die OAV 1953 as basis gebruik.
Die inneem van standpunte
Wanneer ons ’n standpunt inneem, is dit op grond van ons kennis en verstaan van die feite wat op daardie stadium tot ons beskikking is. Met voortdurende, objektiewe en eerlike beoordeling mag ons sover kom om ons standpunte aanpas. Wanneer ons ’n bepaalde siening oor sekere kwessies het, kleur dit ons vertolking van objektiewe feite – soveel so dat twee persone ten opsigte van sekere gegewens, heeltemal teenoorgestelde gevolgtrekkings daaruit kan maak. Daarom behoef dit ons om, wanneer ons met die Woord van God besig is, versigtig te wees met ons eie vooropgesette sienings (2 Pet 1:20), en die Skrif self onduidelikhede te laat verklaar. Daarom die gesegde: “Skrif verklaar Skrif”. En dit is wat ek in hierdie werkie wil probeer toepas.
Ongelukkig gebeur dit dikwels dat ’n vooropgestelde siening ten alle koste in stand gehou wil word. Die gevolg is dat al hoe meer Skrifgedeeltes ge-“herinterpreteer” word en ander geïgnoreer word, net om daardie siening te akkommodeer. Die resultaat is ’n oneerlike en/of onhoudbare omgang met die Woord van God, sodat wanopvattings al hoe meer floreer en die werklike wonder van dít wat die Bybel vir ons oor God en Sy raadsplan wil leer, verduister raak of heeltemal verlore gaan.
Die Sakrament van die Heilige Doop
Vanweë bogemelde redes het die doop as sakrament een van die mees omstrede onderwerpe in die Bybel geword. Hierdie blink ster van God se verlossingsplan en Sy verbondstrou word dikwels van sy skittering beroof. Ek moet ruiterlik erken dat die doop vir my geword het soos die bruidegom se trouring aan die bruid se vinger en ek daarin ’n ewige waarborg van Sy troubeloftes sien.
Die mees basiese feite omtrent die doopsakrament (sowel as die Nagmaal) is dat dit ’n onontwykbare opdrag van Jesus is, as ’n teken, ’n bevestiging en waarborg van God se verbondsbeloftes en -trou. Dit bewerk op sigself geen redding, saligheid of vergifnis van sonde nie. Dit is ’n teken van God aan die gelowige, en nie van die gelowige aan God nie. Laasgemelde het God nooit van die mens vereis of gevra nie. God wil ons deur die doop verseker en waarborg dat Hy getrou sal bly en Sy verbondsbeloftes sal nakom, en so ons geloof daardeur versterk.
Ek wil die bespreking van Rom 6:4 en Kol 2:12 begin met ’n maklike voorbeeld: Die besnydenis onder die Ou Verbond het nie op sigself óók ’n besnydenis van die hart bewerk nie. God het dikwels die verbondsvolk wat almal fisies besny was maar tog dikwels ontrou was, gemaan dat die hart óók besny moet word (Deut 10:16; 30:6; Jer 4:4). Gemelde gedeeltes toon aan dat daar in die betekenis van die besnydenis ook ’n dieper, geestelike element verskuil was, naamlik toewyding aan God. Hierdie (geestelike) verstaan van die besnydenis word dan ook verder uitgebrei en soms metafories gebruik in die Nuwe Testament, soos in Rom 2:25-29; 4:12; Filip 3:3 ens.
Net soos die besnydenis, het die doop óók dieper geestelike betekenis. Daar is egter gedeeltes in die Bybel waar die term “doop” gebruik word wat NIE ’n fisiese of sakramentele doop is nie. So sê Jesus onder andere, kort voor Sy kruisiging en ongeveer 3 jaar nadat Hy deur Johannes gedoop is (Luk 12:50: “Maar Ek het ’n doop om mee gedoop te word, en hoe benoud word Ek totdat dit volbring is!” Uit die Skrif self weet ons dat Jesus, ná hierdie uitspraak, geen dooprite ondergaan het nie. Uit die konteks lei ons af dat Jesus die term (“baptidzo”) in een van sy etimologiese betekenisse gebruik het, wat insluit “sink (soos ’n skip); verdrink; ondergaan; vergaan”. Verder lei ons af dat Hy daardie term van “doop” gebruik het om Sy lyding en kruisdood te voorspel.
Dit bring ons by 1 Kor 10:2. Deeglike verstaan van hierdie gedeelte is belangrik vir die korrekte verstaan van bogenoemde Skrifgedeeltes. Paulus skryf hier: “…en [ons vaders almal] in Moses gedoop is in die wolk en in die see,…”. (Die Griekse grammatika (woordgebruik) beteken hier “in (Moses) in” (“eis” + akkusatief)). Nou weet ons uit die res van die Skrif dat hier geen fisiese doop gebeur het nie. Wat beteken hierdie “doop” (“in Moses in”) dan? Die NAV 1983 vertaal dit “Omdat hulle almal vir Moses gevolg het…” Dit beteken dat ons vir Paulus kan verstaan dat hy bedoel het dat hulle hulleself met Moses geïdentifiseer het, hom erken het as die leier en hom toe gevolg het agter die wolk aan en deur die see. Dít is die doop “in Moses in”. Ons sou dus kon aflei dat Paulus net sowel kon geskryf het (sonder om afbreuk te doen aan sy bedoeling: “…en [ons vaders almal] in Moses [in]gedoop is in [die gebeurtenis van] die wolk en die see,…”. Ons kan dus met sekerheid sê dat Paulus geen fisiese doop hier in gedagte gehad het nie, maar identifisering (een van hart?) met Moses geword het in die feit dat hulle hom agter die wolk aan en deur die see gevolg het.
Daarom kan ek nie daarmee vrede maak dat die NAV 1983 verder gaan met die vertaling en sê: “… hulle almal [is] in die wolk en in die see gedoop.” Ook dít kan nie op ’n fisiese doop dui nie, want dit het eenvoudig nie gebeur nie. Die volk is nié in die wolk en in die see gedoop nie, maar “in Moses in”. Hou asb dít in gedagte.
Laat ons nou in die lig hiervan na Paulus se beskrywing in Rom 6 kyk. Die rolspelers in sy beskrywing het egter hier verander. Dit is nou nie meer die volk wat “in Moses in” gedoop is nie, maar die gelowiges is gedoop “in Jesus Christus in”(wéér “eis” + akkusatief) – in Sy dood in, en ’n opstanding tot ’n nuwe lewe.
Verder is Paulus se hele grammatikale konstruksie feitlik dieselfde as wat hy in 1 Kor 10:1-3 gebruik. Hier sê hy “… dat julle nie sou weet nie dat…”, en in Rom 6:3 sê hy “…of weet julle nie dat…?” En dan gaan hy aan en sê (soos hy van die volk gesê het wat in Moses ingedoop is) dat ons (gelowiges) ook “in Jesus Christus ingedoop” is. Die NAV sou hier óók (soos in 1 Kor 10) kon vertaal dat ons “vir Jesus gevolg” het. In watter opsig? Deurdat ons Hom “in die dood in” gevolg het en saam met Hom gesterf het, en (v4) saam Hom begrawe is, saam met hom opgewek is en in ’n nuwe lewe kan wandel. In vv4-9 brei Paulus uit oor wat hierdie “doop in Jesus Christus in” behels. Ek wil graag by die leser aandring om hierdie gedeelte eers aandagtig te gaan deurlees (Ou óf Nuwe Vertaling) om te sien wat die NAV alles toeskryf as die werking en resultate van die doopsakrament.
Wat onteenseglik duidelik is, is dat Paulus NIE hier van die doopsakrament praat nie: Die sakrament kan hoogstens ’n teken wees van wat hier gebeur het en as teken en seël daarvan dien, maar dit kan nie dít wat in vv4-9 beskryf word, op sigself bewerk nie. Dit kan alleenlik bewerk word deur die wedergeboorte – die volg van, en identifisering met, Jesus Christus in Sy dood, begrafnis, opwekking en nuwe lewe. Hier sou die inlees van die doopsakrament neerkom op dieselfde as die Roomse sakramentalisme waarin die doop (soos ook die Nagmaal) die heilsbewerker is. Ingevolge daarvan sou ’n ongedoopte persoon dan ook verlore wees.
Die (geestelike) sterwe, begrafnis en opstanding saam met Jesus Christus word verskraal / verloor deur die vertaling van die NAV in v4: “Deur die doop is ons immers saam met Hom in Sy dood begrawe, sodat… ons ook so [soos Christus] ’n nuwe kan lei” – en verder tot v9.
In die lig van bostaande bespreking, kan ons nou gaan kyk na Kol 2:11,12:
v12 lui: “… omdat julle saam met Hom begrawe is [kyk Rom 6:4] in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Van watter “doop” praat Paulus hier? Watter doop kan my besny “met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus” (v11), saam met Christus laat sterwe, saam met Hom begrawe en my tot ’n nuwe lewe saam met Christus opwek? (Dít is beslis nie die funksie van ’n sakrament nie!) Paulus praat van dié doop van Rom 6:3 waarin ek met Jesus geïdentifiseer het en Hom “gevolg” het (Vgl NAV 1 Kor 10:2) in (die gebeurtenis van) Sy dood, begrafnis en opwekking in ’n nuwe lewe. Paulus beskryf hierdie “volg” van Jesus in Kol 2:11 as “… ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie… die besnydenis van Christus.”
Paulus beskryf dus hier die gebeurtenis van wedergeboorte, waar die (ou) mens aan homself sterwe, begrawe word en in ’n nuwe lewe opgewek word – alles saam met Christus. Andersins beskryf hy dieselfde wedergeboorte óók as die “besnydenis van Christus”, wat nie met hande verrig word nie en gepaard gaan met die aflegging van die sondige vlees. Om hierdie gebeurtenis eenvoudig aan die deur van die sakrament te lê, is misleidend, sakramentalisties, en ’n verskraling van die wonderlike gebeure van wedergeboorte.
Ter afsluiting: Laat my asb toe om een verdere voorbeeld ter verheldering te gebruik: As ek, as ’n volwasse heiden, Woensdag-aand tot bekering kom en my Sondag laat doop, dan sterf ek nie Sondag by die doop saam met Christus en staan daar op in ’n nuwe lewe nie. Ek word nie eers op Sondag Jesus se volgeling nie, ondergaan ook nie daar die “besnydenis van Christus” “wat nie met hande verrig word nie”. Dit alles het Woensdag-aand gebeur toe ek (saam met pastor Paulus?) voor God gekniel het en myself in Jesus verloor het – toe die ou ek “in Jesus Christus in” gedoop is – in Hom in “gesink (soos ’n skip), verdrink, ondergegaan, vergaan het en tot niet gegaan het. En Sondag gee God genadiglik Sy teken, Sy trouring aan my vinger, Sy doop in Sy Naam, om my, as Sy bruid, te verseker dat Hy al Sy troubeloftes sal hou.
Die sakrament van die doop het dus nie die “huwelik” van Woensdag-aand laat gebeur nie, maar die Heilige Gees van God het my daardie aand gewederbaar, my in Jesus Christus, my Verlosser, Saligmaker en Bruidegom ingedoop en my gelei om aan myself te sterwe soos Hy gesterf het, en my ter selfdertyd opgewek in ’n nuwe lewe vir Hom wat ek liefhet.
As ek hierdie wonderwerk toeskryf aan die sakrament, dan ontsê ek die Heilige Gees die eer van die wedergeboorte. Daarom is dit só tragies wanneer die NAV 1983 van die wonder van Woensdag-aand sê: “Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is”.
– Ds. Gideon Aggenbag het opgegroei in die AGS. Op 40-jarige leeftyd het hy ’n intensiewe studie van die doop onderneem. Op 42 het hy op Stellenbosch gaan studeer as NG Kerk predikant, waar hy ook sy skripsie oor die doop geskryf het. Hy is nou ’n emeritus (afgetrede predikant) en nog baie aktief. Hy beskou die Bybelse inhoud as die onfeilbare, betroubare, geïnspireerde en heilige Woord van God, en die suiwer verkondiging van die evangelie bly nog steeds sy eerste prioriteit. Hy verwerp ten sterkste die beginsels van historiese kritiek en die meegaande herinterpretasie van die Bybel.