Jaaroorsig: Die kerk soek ’n sterk stem na Covid-19

*******

Jaaroorsig: Die kerk soek ’n sterk stem na Covid-19 | Netwerk24

Christina Landman

27 Desember 2022

Christina Landman gee ’n oorsig oor die jaar se kerksake, met ’n spesifieke fokus op kerke vir Afrikaanssprekendes.

Dis moeilik om ’n oorsig oor kerke en hul bedrywighede te gee. Niemand weet hoeveel kerke daar in Suid-Afrika is nie. Dalk 30 000 of 40 000?

Anders as Josef en Maria, laat kerke hulle nie tel nie. En dis verstaanbaar. Want hulle is bang as hulle registreer by die staat, sal die staat hulle voorsê.

Ek dog toe al die tyd die staat kan sy maatskaplike dienste deur betroubare, geregistreerde kerke doen. Soos kospakkies uitdeel. En MIV-medisyne verskaf aan mense wat ver van hospitale en klinieke is. Maar toe hoor ek dat kerke wat wel geld van die staat kry vir hul diakonale dienste, hierdie jaar hul geld láát – of glad nie – gekry het. Kinderhuise, ouetehuise en nog veel meer, bly in die slag. Aan die ander kant was daar aantygings dat die Christelik Maatskaplike Raad- (CMR) Noord kinders afgerig het om in howe teen hul pa’s te getuig. Die hof het intussen CMR-Noord se finansies voorlopig herstel.

Kerke en wetgewing

Daar is nou inderdaad ’n wysigingswetsontwerp op die tafel wat daarop gemik is om geldwassery te bekamp, wat kerke sal dwing om te registreer by ’n beheerliggaam wat hul finansies sal reguleer.

Dit is om Suid-Afrika daarvan te red om gryslys-status te kry, beweer die wetsontwerp. Maar dit word erg deur die genoemde kerke gekritiseer. Sal net hul finansies gereguleer word – of ook hul leerstellinge?

Dit is nie die enigste wetsontwerp wat hierdie jaar deur die kerke bevraagteken is nie. So het die NG kerk byvoorbeeld homself sterk uitgespreek teen die Bela-wysigingswetsontwerp wat skole se taal- en toelatingsvereistes by beheerrade wegvat en dit vir die staat, oftewel provinsiale politici, gee.

Die NG Kerk is ook gekant teen die voorgestelde wysiging van die Kieswet, en het duidelik gesê dat dié kerk ’n stelsel voorstel waar mense vir ’n spesifieke kandidaat stem wat aan hulle verantwoording moet doen.

Afrikaanse kerke stil?

Ek beperk myself in hierdie oorsig tot die hoofstroom- Afrikaanssprekende kerke. En dan moet ek dadelik sê dat g’n mens meer weet wat die kerk se rol ten opsigte van die staat en die gemeenskap is nie.

Want pas nadat kerke hulle uitgespreek het teen die staat en sekere wetsontwerpe, word die kerke self gekritiseer omdat hulle op belangrike tye stilbly.

Hulle is stil wanneer KwaZulu-Natal oorstroom. Hulle is stil wanneer Rusland vir Oekraïne binneval. Hulle is stil wanneer ’n student op ’n ander se skootrekenaar urineer. Hulle is stil wanneer die res van die land saamstaan teen geweld teen vroue en kinders. Is die kritiek geregverdig dat hierdie kerke Afrikaner-belange vooropstel, soos wanneer dit kom by moedertaalonderwys? En selde ’n gesamentlike stem met ander kerke in Suid-Afrika uitbring?

Afrikaanssprekende kerke is wel vanjaar verteenwoordig op die Wêreldraad van Kerke (WRK) se 11de Algemene Vergadering in Karlsruhe in Duitsland. Dit het plaasgevind van 30 Augustus tot 6 September. Die vraag is maar net of hierdie kerke se stem, wat hulle aan ander kerke bind, duidelik genoeg hier in Suid-Afrika uitkom.

Tussen hakies, ’n Suid-Afrikaner, Jerry Pillay, is tot algemene sekretaris van die WRK verkies. Hy is ’n lid van die Presbiteriaanse kerk.

Kerke en die jeug

Die kerke in Suid-Afrika het wel saam getreur oor die Enyobeni-taverne-voorval in Oos-Londen op 26 Junie vanjaar toe 21 jong mense – ’n groot getal minderjariges – dood is.

Op (ook Christelike) geselsprogramme is gevra: Wie se skuld is dit? Wie moet kinders grootmaak en beheer? Ouers? Die skool? Die kerk? Die staat se wetgewing? Of moet kinders – ten minste van 18 af – verantwoordelikheid vir hulself aanvaar? Te midde van die tragedie, is dit ’n goeie voorbeeld van kerke – al was dit meestal nieamptelik – wat saamgepraat het oor dinge wat die samelewing diep raak.

Jong mense bly vir die kerke ’n uitdaging. Baie gemeenskappe word deur jong mense op dwelms beheer. En die kerke het nie raad nie. Of hulle het te min jong mense in die kerk oor om na te luister. Ook hierdie jaar is daar min bewyse dat kerke en jong mense mekaar gevind en ondersteun het.

Sinodes en doringsake

Maatskaplike probleme het ook nie sterk op die agendas van kerklike sinodes gedien hierdie jaar nie. Nadat hul sinodes gedurende Covid-19 uitgestel is, het kerke meerendeels na binne gekyk, hoe hulle gegroei en ontgroei het.

Die Hervormde Kerk (NHK) het sy algemene sinode hierdie jaar gehou en veral gekyk hoe die Bybel gelees moet word. Die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGKSA) het ook ’n algemene sinode gehou om sy innerlike sterktes te vernuwe.

Ná Covid-19 het die kerk probeer grondvat tussen sy lidmate. En doringsake, soos homoseksualiteit en die aftreeouderdom van dominees, moes na taakspanne verwys word. Die NHK het vir die eerste keer in sy geskiedenis twee vroue op sy moderatuur van vier lede verkies. Die VGK het lank die voortou geneem met vroue in die hoë gestoeltes – met Mary-Anne Plaatjies wat eens die moderator was. Maar met hierdie sinode het geen vrou die moderatuur gehaal nie.

Dit was interessant dat daar nie verteenwoordigers van die media was op enige van hierdie sinodes nie. Het die wêreld belangstelling in die kerk verloor?

Volgende jaar sal die NG Kerk en die Gereformeerde kerke hul algemene sinodes hou. Sal hulle na binne vernuwe, of die kerk na buite ’n sterk stem gee waarvan kennis geneem moet word?

Miskien is die media self verward oor watter stem van “die kerk” hulle na moet luister. Nie net is daar duisende kerke nie, maar ’n kerk kan nie meer aandui hoeveel lidmate hy verteenwoordig nie. Navorsing het getoon dat ten minste 30% van Christene in Suid-Afrika aan meer as een kerk behoort. Lidmate se name op ’n kerk se boeke beteken nie meer dat daardie kerk sterk in getalle is en ’n invloed in die samelewing uitoefen nie.

Belangrike teoloë sterf

So, watter soort stem verwag die media van die kerk? Waaroor berig kan word omdat dit belangrik vir die samelewing is? Eers het kerke ’n stem vir of teen apartheid gehad. En toe was dit belangrik om oor te berig. Toe het die kerke hul stem oor moraliteit verloor. Oftewel, hulle het dit self weggegee.

So, waaroor praat kerke nou nog in die openbaar? Kerkleiers is nie meer openbare figure nie. Adrio König is op 20 Julie vanjaar dood. Hy was ’n behoudende teoloog in hoe hy die Bybel gelees het. Maar hy het hom ook baie in die openbaar uitgespreek teen rassisme en seksisme. ’n Openbare figuur. Toe hy dood is, berig net Die Kerkbode aanvanklik iets oor hom.

Klaus Nürnberger is ook hierdie jaar dood, op 27 Junie. ’n Groot plaaslike teoloog. Die publiek weet waarskynlik nie eens van hom nie.

’n Hele geslag belangrike teoloë is besig om uit te sterf. Hulle word nie onthou nie. En wie gaan hulle opvolg? En watter openbare stem gaan hulle hê, sou ’n mens kon vra.

Twee groot gesprekke

Daar was twee groot gesprekke hierdie jaar op die tafel. Die een was oor God. Wie is God? Waar is God? Bestaan God? Hoeveel mense draai sekulêr die rug op die kerk? Hoeveel mense is ontnugter oor God ná Covid-19 en die verval van die samelewing?

Johan Retief se boek Die slegte nuus van die Evangelie (Naledi) oor sy afskeid van geloof, het openbare aandag getrek. Ander artikels, soos dié van Ernst Conradie en ander teoloë, het ongesiens verbygegaan, maar moet by die gesprek ingetrek word.

Die tweede gesprek het oor Andrew Murray gegaan wat vanjaar 200 jaar oud sou wees. Wat was sy nalatenskap? Is sy mistieke, evangeliese entoesiasme nog genoeg om mense in die kerk te hou?

Wat ís die hoofkomponent van Afrikaanssprekende kerke vandag? Is dit ’n sekularisasie en musiekery om by mense aan te pas wat in elk geval die kerk verlaat het? Of is dit ’n 200 jaar oue gewydheid wat selfs die mense wat nog kom, verveel?

Of is dit dalk ’n plek waar dominees ’n streng Calvinisme preek met ’n God wat sy plek ken, terwyl die mense daaronder eerder wil glo in wonderwerke, gebede wat verhoor sal word, en in alles tekens wil sien van God se betrokkenheid?

2023 kan anders wees

Opgesom, het die kerk sy stem te sag laat hoor hierdie jaar. Hy moes eers sy voete vind ná Covid-19. Maar 2023 kan gerus anders wees. Want die kerk onderskat sy stem, met 80% van mense in Suid-Afrika wat Christene is. In Engeland, byvoorbeeld, is dit minder as 30%. Noudat die koningin dood is, en die koninklikes hulself begin verlaag, is dit nog minder! Maar met ’n 80%-ledetal hier kan die kerk sy stem laat hoor.

Hoe die kerk sy stem nog harder kan laat hoor met samewerking van ander godsdienste . . . dit is ’n skrywe vir ’n ander keer.

Geseënde 2023!

Landman is ’n professor in teologie verbonde aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui