Jan Lubbe: Tyd vir skeur én vir lap in lewe

*******

Jan Lubbe: Tyd vir skeur én vir lap in lewe | Netwerk24

Jan Lubbe

25 Oktober 2022

Hierdie tyd van die jaar onthou Lutherse Kerke en ander in die tradisie van die Reformasie, die datum 31 Oktober 1517 en Martin Luther se opspraakwekkende 95 stellinge teen die kerkdeur in Wittenberg, Duitsland. Het daarmee die tyd vir ’n ontsaglike skeuring in die grote Katolieke Kerk in Europa aangebreek?

In vyf vorige rubrieke vanjaar oor die bekende gedig in Prediker 3 – oor die onstuitbare kom en gaan van “tye”, die eb en vloed van seisoene – is beklemtoon hoe belangrik dit is om jou eie tyd en omstandighede eerlik te deurgrond.

Dít is wysheid: Om te onderskei waarop elke lewensfase en beslissende moment werklik neerkom; jou “lewensdae na waarde te skat” (Psalm 90); “die tyd uit te koop” (Efesiërs 5). Dán sal jy weet hoe om reg op te tree, “gepas” in elke tyd.

Só het Prediker geboorte en sterwe vergelyk met plant en uittrek wat jy geplant het; die veronderstelling dat daar groei en ’n oes in elke lewe lê (3:2). Die aanvaarding van my einde óf die aangryp van ’n tweede kans vergelyk met die sloping van my lewenshuis of die restourasie daarvan (3:3). ’n Jaar van groot verlies en daarna weer dae van uitbundige blydskap, sigbaar in die rituele van rou en dans (3:4)! ’n Seisoen vir die viering van liefde en verwekking van lewe en ander tye weer “ver weg van omhelsing”, soos éérs die voorbereiding van jou landery en dan die pak van ’n klipmuur buiteom ter beskerming; hou die jakkalsies weg wat die wingerd verniel (3:5)! Gereeld – soos huisskoonmaak in lentetyd – ’n uitpak van jou kaste en ondersoek van jou gewete om te bepaal wat is kleinnode om te behou en wat kan maar liewer weggegooi word, dis oud en verby (3:6)…

En dan: ’n “Tyd om te skeur en ’n tyd om toe te werk” (3:7). Koninkryke skeur, maar ook kerke. Aanhoudende konflik skeur lewensmaats uiteen én gesinne. Leiers en hul ego’s skeur politieke partye in allerlei faksies. Gebrokenheid. Of moet jy in liefde en ter wille van vrede maar probeer lap en wéér aanmekaarwerk? Die Prediker het dit hier oor iets heel konkreet: Die skeur van jou kledingstuk as ’n teken van onmeetlike droefheid, soos Jakob wanneer die tyding oor Josef kom of Dawid oor sy hartsvriend Jonathan se afsterwe.

’n Geliefde is vir altyd weg en dit stróóp my voorkoms; ek rou. Dán sê die Prediker, is dit tyd om te swyg (3:7). Soos Aäron wanneer sy twee seuns by die ingang van die tabernakel neergevel word; soos Job se vriende sewe dae stilbly omdat hulle sien dit gaan baie sleg. Wanneer die huis van Israel uiteenval, haar wonings geplunder en landerye vertrap, “is dit tyd dat die verstandige stilbly, want dis ’n donker tyd” (Amos 5:13). Verslae is ons en sonder maklike antwoorde. In skeuring is daar geen triomf.

Andersyds, sê Prediker, is “die tyd om toe te werk” – om die stukkende kledingstuk agter uit die kas te gaan haal en te herstel – ’n “tyd om te praat”; om stories van hoop en heling te vertel; gelouterde woorde. Ja, van God wat ons in sy genade en sorg bymekaarmaak; ’n tyd van blydskap en feesviering in Jerusalem; “die Here sal as ’n ewige lig daar wees” (Jesaja 60:19)!

En Luther en die Katolieke dan? Die Hervormer van Duitsland wóu nie skeur nie en was verbyster oor die geweld wat ná 1521 losgebars het. Soos sy jonger tydgenoot Johannes Calvyn sou wees oor die nimmereindigende versplintering van gereformeerde kerke in latere eeue. Skeuring vertel van verlies, verbygang en pyn; aanmekaarwerk van ’n nuwe tyd. Beide – skeur én lap – kom en gaan oor ons almal. Volmaak is hierdie lewe nie. Daarom dat mens moet bid vir onderskeidingsvermoë en wysheid in sulke tye.

* Ds. Lubbe is van die NG kerk Berg-en -Dal in Bloemfontein. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

1 thought on “Jan Lubbe: Tyd vir skeur én vir lap in lewe”

  1. Die brief klink soos n gedig.Dit verwys net na sekere verse,maar daar is geen werklike geestelike betekenis nie.Die brief hardloop sirkels rondom die waaragtigheid van die aanhoudende skeurings in die wêreld van die Drie eenheidsleer.

    DAAR IS DRIE EN DERTIG DUISEND DENOMINASIES VAN VAN DIE DRIEENHEIDSLEER.ALMAL VAN HULLE HET HULLE EIE OU STELLETJIE WAARHEID.

    DAAR IS GEEN EENHEID,VREDE OF WERKLIKE LIEFDE ONDER MEKAAR NIE.ELKE DOMINEE WIL DIE OU CHAMPION IN SY OF HAAR OU KERKIE WEES OP SY OF HAAR TERME.
    DIE N.G KERK HET NIE BROERS OF SUSTERS IN RUSLAND,CHINA,PALESTINA,TAIWAN,INDIA,VIETNAM ,KOREA EN 98 PERSENT VAN DIE WERELD NIE.
    GOD SE WARE ORGANISASIE IS ORAL OP DIE BEWOONDE AARDE VERTEENWOORDIG.WARE AANBIDDING IS GERESTOREER.DIT WAS GEPROFETEER DAT BABYLON DIE OU GROOT HOER LEDEMATE SOU VERLOOR IN DIE BOEK VAN OPENBARING.DIE DRIE ENIGE LEER KERKE SAL DIT NOOIT WAAG OM HULLE GEMEENTE VAN DIE OU GROOT HOER TE LEER NIE,WANT HULLE HET ALMAL OP EEN OF ANDER STADIUM MET DIE KONINGS VAN DIE AARDE HOEREER

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui