Jean Oosthuizen: NG Kerk wil op twee preekstoele sit oor satanis

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Jean Oosthuizen: NG Kerk wil op twee preekstoele sit oor satanis | Rapport

Jean Oosthuizen

Sondag, 13 April 2025

Die palawer oor die woord “satanis” in ’n Rapport-opskrif versluier ’n veel belangriker kwessie, skryf Jean Oosthuizen.

Die duiwel is behoorlik los in die Universiteit van Pretoria (UP) se godsdiensdepartement. Die NG Kerk sowel as die universiteit slaan vure dood so al wat hulle kan nadat dit rugbaar geword het daar is ’n navorsingsgenoot by die departement van godsdiensstudie wat homself as ’n satanis bestempel.

Dit het begin met ’n koerantopskrif: “Satanis by Tuks kap Ernst Roets oor ‘giftige rasteorie’  (Rapport, 30 Maart 2025). Die berig het onmiddellik opslae gemaak. Tristan Kapp, ’n self-geïdentifiseerde satanis, het die regse aktivis Ernst Roets gekritiseer, en in die proses ook die UP se fakulteit teologie en religie in die kruisvuur laat beland.

Sonder dat dit sy bedoeling was, het Kapp se argument met Roets slegs ’n voetnota in ’n veel groter verhaal geword.

Wat begin het as ’n storie oor ’n ideologiese botsing, het ontaard in ’n warboel van beskuldigings oor sensasie, wanvoorstelling en, interessanter, ’n veel dieper vraag: Wat beteken akademiese vryheid in ’n teologiese fakulteit, en hoe navigeer die NG Kerk sy rol daarin?

Dat daar ’n satanis in die engeltjiefabriek se gange rondloop, was vir vele mense een te veel. Dat Kapp nie die duiwel aanbid nie en sy definisie van satanisme veel komplekser is, maak vir gewone lesers nie saak nie.

Gou het die hele tema van die gesprek weggeskuif van die politieke verskil tussen Kapp en Roets na die duiwel wat soos ’n brullende leeu tussen die tokkelokke op die UP se kampus rondloop.

Kapp, die dagbestuur van die kuratorium van UP, sowel as die hoof van die universiteit se departement praktiese teologie, Christo Lombaard, het as’t ware met mekaar meegeding om die boodskapper te skiet, pleks daarvan om die geleentheid te gebruik om ’n breër gesprek te voer oor akademiese vryheid aan ’n universiteit en wat dit behels.

In twee afsonderlike skrywes (een in verlede week se Rapport en een in die NG Kerk se mondstuk, Kerkbode) kom Lombaard Rapport by sonder om regtig agter die kap van die byl te kom.

Sy toon is ambivalent. Aan die een kant verdedig hy die akademiese konteks: Kapp is ’n navorsingsmedewerker omdat hy ’n doktorale student was, en dit is normaal dat godsdiensstudie allerlei oortuigings bestudeer.

Aan die ander kant gaan hy uit sy pad om afstand te skep tussen Kapp en die instelling, amper asof hy die gelowige lesers van Kerkbode en Rapport wil gerusstel dat die UP nie regtig met hierdie “satanis” geassosieer wil word nie.

Sy herhaalde “nee”-antwoorde op die vrae oor Kapp se rol voel soos ’n verdedigingsmeganisme, eerder as ’n trotse verduideliking van akademiese vryheid.

Lombaard se hele relaas leun swaar op skadebeheer. Dit versterk die vermoede dat daar, soos dikwels, agter die skerms druk van die kerk se leiersfigure was om wal te gooi, veral met inagneming van die historiese agtergrond van die verhouding tussen kerk en universiteit.

Dit is verstaanbaar dat Lombaard hom in ’n delikate posisie bevind wanneer hy op Rapport se berig reageer. In fundamentalistiese kringe, wat al lank probeer om universiteite se teologiese fakulteite verdag te maak, is daar ’n gevestigde patroon van kritiek teen wat hulle as “liberale” of “afwykende” teologie beskou.

Sy poging om die situasie te kalmeer, terwyl hy Kapp as ’n “amper-doktor” beskryf, is egter niks anders as woordgimnastiek om afstand tussen Kapp en sy departement te probeer skep nie, sonder om afbreuk te doen aan die universiteit se akademiese vryheid.

Deur Kapp se status te onderspeel, probeer Lombaard die persepsie neutraliseer dat die UP Kapp as volwaardige akademikus beskou wat reeds sy doktorsgraad voltooi het.

Sy erkenning dat ’n universiteit verskillende geloofsoortuigings behoort te bestudeer, is ’n goeie beginsel, maar dan verwater hy dit self met ’n aanbeveling van ’n boek deur Stephan Joubert en Jan van der Watt met die titel Satan Ontbloot, wat geen wetenskaplike onderbou het nie.

Dít terwyl die NG Kerk se amptelike standpunt oor die duiwel so helder soos modderwater is. Lombaard se aanbeveling voel meer soos ’n PR-oefening as ’n konsekwente akademiese standpunt, veral omdat die kerk self nie eens duidelikheid daaroor het nie en dit aan lidmate oorlaat om self te besluit of daar ’n duiwel is.

Lombaard se poging tot skadebeheer is niks anders nie as ’n toegewingsgebaar aan ’n spesifieke Christelike gehoor, amper asof hy sê: “Ons bestudeer dit wel, maar hier’s iets om jou gerus te stel oor wie die duiwel ‘regtig’ is.”

Daarmee verspeel hy ’n gulde geleentheid om ’n sterker akademiese beginsel te verdedig, naamlik dat ’n teologiese fakulteit juis daar is om komplekse en selfs kontroversiële idees soos satanisme te ondersoek.

Dit kon ’n teenverhaal gewees het teen die fundamentaliste se verdagmakery, maar hy kies eerder die veilige roete en maak van die koerant die sondebok.

Dit versterk my vermoede dat die druk van die kerk se leiersfigure, gekombineer met die aanvalle op teologiese fakulteite op langer termyn, hom waarskynlik in ’n hoek gedwing het waar hy eerder pleisters plak en die koerant kritiseer as om ’n duidelike standpunt in te neem.

Hy kon duideliker gesê het: “ ’n Departement van godsdiensstudie se taak is om alle geloofsoortuigings, satanisme inkluis, objektief te bestudeer; dis akademiese vryheid.”

Dit sou die debat op ’n hoër vlak gehou het en die fokus weggelei het van die sensasionele na die werklikheid van wat so ’n departement doen.

Die kuratorium se dagbestuur se reaksie beklemtoon die spanning tussen die kerk en akademiese instellings verder. Hierdie spanning is diepgewortel in die kerk se geskiedenis en sal waarskynlik nie gou verdwyn nie. Die kuratorium is verantwoordelik vir die NG Kerk se studente en dosente aan die UP.

Hoewel die kuratorium toegee godsdiensstudie se akademiese mandaat sluit die bestudering van ’n groot verskeidenheid geloofsoortuigings in, en dat dit deel is van die breër navorsings- en onderrigpraktyk by ’n universiteit, fokus hulle daarop om Rapport te beskuldig van sensasionele en misleidende beriggewing.

Hulle erken stilswyend dat Kapp se eie identifisering as satanis ’n faktor is, maar stel dit voor as irrelevant in die konteks van sy beperkte rol. Dit is ’n fyn lyn, want hulle wil nie sy oortuigings ontken nie, maar ook nie toelaat dat dit die UP se beeld skaad nie.

Hierdie spanning tussen kerk en universiteite se kweekskole is nie nuut nie. Dit kan teruggevoer word na die kerk se historiese botsing met wetenskap en progressiewe teologie soos dié van prof. Johannes du Plessis in die 1920’s en 1930’s, en tot vandag nog.

In die Du Plessis-saak het die kerk destyds gesag bo openheid gekies, en nou, al is die konteks totaal anders, bly dit die ingesteldheid om die media verdag te maak eerder as om oop gesprek te voer.

Waar die kerk destyds duidelike strepe getrek het (en mense soos Du Plessis geskors het), is sy moderne benadering vaag. Oor kwessies soos selfdegeslagverhoudings of die duiwel se bestaan bly die NG Kerk op twee stoele sit.

Die ironie is dat juis hierdie middelpad-benadering die NG Kerk al hoe minder geloofwaardig maak. As hulle nie ’n duidelike standpunt wil inneem oor kwessies soos die duiwel of selfdegeslagverhoudings nie, en dan nog die UP se navorsing in ’n verweerposisie druk oor iemand soos Kapp, verloor hulle die respek van sowel die progressiewe as fundamentalistiese kant.

Dit is ’n klassieke geval van korttermyn-oorlewing bo langtermyn-visie. Deur nie te kies nie, hou hulle dalk nou die vrede (of ’n skyn daarvan), maar dit erodeer hul gesag en geloofwaardigheid oor tyd. Mense wat hierdie patroon opmerk, sien die kerk se swakheid raak. Dit maak dit moeilik om die kerk ernstig op te neem as ’n morele of intellektuele gespreksgenoot.

Die resultaat is ’n geloofwaardigheidsprobleem vir die kerk én die universiteit. Deur alle kante te probeer paai, verloor die NG Kerk sy morele en intellektuele gesag. As hy nie kan sê wie die duiwel is nie, maar tog die UP se akademiese werk in ’n verweerposisie druk, wat bly dan oor?

Die kerk is te bang om beginselbesluite te neem uit vrees vir verlies van lidmate of interne verdeeldheid. Die UP, aan die ander kant, is steeds te verweef met die NG Kerk om onafhanklik te staan. Hierdie strategie kan egter net vir so lank werk. Elke keer as die kerk of universiteit wegdraai van ’n duidelike standpunt, erodeer hul relevansie. Die Kapp-Roets-debat was maar ’n vonk; die werklike vuur brand in die vraag of akademiese vryheid en kerkbeheer ooit kan saamleef.

Intussen bly die UP en die NG Kerk vasgevang in ’n dans van kompromie waar akademiese vryheid en kerkbeheer mekaar eerder versmoor as verryk. Die satanis-opskrif was maar ’n weerligafleier; die ware verhaal lê in wat dit onthul het.

Jean Oosthuizen is ’n vryskutjoernalis en voormalige nuusredakteur van Kerkbode.

briewe@rapport.co.za

Kommentaar

Daniel Louw

Jean sê: “Daarmee verspeel hy ’n gulde geleentheid om ’n sterker akademiese beginsel te verdedig, naamlik dat ’n teologiese fakulteit juis daar is om komplekse en selfs kontroversiële idees soos satanisme te ondersoek. Dit kon ’n teenverhaal gewees het teen die fundamentaliste se verdagmakery, maar hy kies eerder die veilige roete en maak van die koerant die sondebok.”

Dit kon nie regtig ‘n teenverhaal wees nie. Almal is dit eens dat teologiese studente aan alle gelowe blootgestel moet word, maar teologiese studente moet opgelei word om die Christelike geloof te kan verdedig en ander gelowe te weerlê. Die amptelike term daarvoor is apologetiek.

As dit waar is dat: ” ’n Departement van godsdiensstudie se taak is om alle geloofsoortuigings, satanisme inkluis, objektief te bestudeer; dis akademiese vryheid.” dan is dit nie ‘n plek waar predikante opgelei behoort te word nie.

Daar is een ding waaroor ‘n mens wel met Jean Oosthuizen kan saamstem: Die boodskapper word geskiet instede daarvan dat daar gesprek gevoer word. En die gesprek wat gevoer word is of teologiese studente steeds opgelei kan word aan ‘n universiteit wat aan elke geloof gelyke status (wil) gee.

Die antwoord is eintlik maklik: dit kan nie, ten spyte daarvan dat die NG Kerk se kuratorium so dink:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui