Jesus se liefdevolle vertolking van die wet | Netwerk24
Deur André Bartlett
28 Desember 2020
Jesus vir almal – Die gay-gesprek in die kerk
Neels Jackson
LUX VERBI, R210
Van voor tot agter is Jesus vir almal ’n betekenisvolle bydrae tot die voortgaande gesprek oor die volle aanvaarding van gay mense as normale medemense, skryf André Bartlett.
Met party boeke is dit nogal ’n goeie idee om dit van agter af te lees. Nie om die geheim weg te gee, of om die verrassingselement te bederf nie, maar om vir ’n mens ’n helder beeld te gee van waarheen die skrywer met jou op pad is.
Een so ’n boek is Neels Jackson se Jesus vir almal met die subtitel Die gay-gesprek in die kerk.
In die “Nawoord” – letterlik die laaste twee bladsye – vat hy sy argument en die ryk inhoud van sy boek in ’n neutedop saam.
Oor Jesus sê hy: “In my hele lewe het ek niks aangrypender gelees as die verhaal van Jesus van Nasaret nie. In Hom en in sy verhaal het ek geleer dat God liefde is, dat God barmhartig is, dat God omgee vir mense.”
[Kommentaar: Solank mens nie vergeet van die strengheid van God nie. Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade. Want indien jy nie met al God se persoonlikheidseienskappe rekening hou nie, skep jy in werklikheid vir jou jou eie god.]
Oor die kerk: “Ek droom van ’n kerk wat volledig verlos is van die kil godsdiens van die Fariseërs en volledig gevul word met die helende godsdiens van Jesus.”
En dan droom hy verder “van ’n kerk waar gay mense God se verwelkomende liefde sal beleef, waar hulle volledig aanvaar en verwelkom sal word, waar hulle teenwoordigheid gevier sal word”, en “waar gay gelowiges hulle verhoudings in liefde en trou en respek vir mekaar kan uitleef”.
Wat Jackson se boek besonders maak, is dat dit nie in die eerste plek ’n gay-boek is wat Jesus vir die bevordering van een of ander agenda inspan nie, maar ’n boek oor Jesus wat eers vra: “Wie is Jesus?” en dan: “Wat is die betekenis van hierdie Jesus vir ons denke oor gay mense?”
In die eerste meer as honderd bladsye fokus hy volledig op Jesus en toon hy aan hoedat sy eie beeld van Jesus met verloop van tyd ook verskuif het na ’n dieper verstaan van wat dit beteken dat Jesus die Here is, en daarom volle gesag oor die lewe van gelowige mense het.
Veral belangwekkend in dié verband is die hoofstuk wat handel oor Jesus en die wet. Die gesag van Jesus is nie die onverbiddelike gesag van ’n wet wat blindelings gehoorsaam word nie, maar ’n wet waarvan die kern die liefde van God is. Hy toon oortuigend aan hoedat Jesus se liefdevolle vertolking van die wet ’n herwinning van die oorspronklike bedoeling daarvan is.
In die lig hiervan toon hy aan dat daar twee soorte godsdiens is, dié van Jesus en dié van die Fariseërs. En dan sê hy dat hy kopskuiwe moes maak sodat sy eie godsdiens meer soos dié van Jesus lyk, en by implikasie minder soos dié van die Fariseërs.
Van hierdie kopskuiwe is om te leer: “God is vriendelik” en: “Die Bybel is die verhaal van God se genade, nie ’n versameling godsdienstige reëls nie.”
In ’n tweede deel vra hy die vraag: “Wie is die gays?” en kom tot die slotsom: gay mense is mense, nie ’n verskynsel nie. En omdat hulle mense is, is dit belangrik om na hul verhale te luister om hulle te verstaan.
[Kommentaar: En veral om te luister na die verhale van voorheen gay mense.]
Van die belangrikste insigte waartoe hy self in sy luister na sulke verhale gekom het, is: gay mense kom agter hulle is gay en kies dit nie; pogings om gay mense se seksualiteit te verander werk nie, maar rig eerder skade aan; mense wat beweer dat hulle gay was en verander het, doen dit dikwels onder druk en erken later dat dit nie die geval was nie; en gay mense vind vrede wanneer hulle hulself aanvaar en deur ander mense aanvaar word.
[Kommentaar: Kyk Word jy gay gebore?.]
In die derde deel van die boek bring hy sy denke oor Jesus en sy insigte oor gay mense bymekaar uit. Vir hom is die uitgangspunt in hierdie verband die vraag van Martin Luther: “Waar vind ek ’n genadige God?” Die antwoord vind hy in Jesus se oproep om Hom te volg.
Om Jesus te volg beteken dan onder meer om gay mense se nood te hoor, na hulle te luister en dit ernstig op te neem. Maar dit beteken ook om die wet te hanteer soos Jesus dit gedoen het, nie as ’n stel reëls wat ten koste van mense afgedwing word nie, maar as iets waardeur mense in staat gestel word om ’n vol en gelukkige lewe te hê.
In die laaste deel van die boek handel hy kortliks met sake wat dikwels die debatte oor gay-wees oorheers, onder andere die enkele Bybeltekste wat oor en oor as grondslag vir ’n afwysende standpunt oor homoseksualiteit genoem word.
Hy wys daarop dat dit in nie een van hierdie tekste gaan oor liefdevolle en getroue verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie, maar in die meeste ge-valle oor perversiteite uit die kultuurwêreld van die Bybel.
[Kommentaar: Kyk Wat van liefdevolle, gay verhoudings?.]
Van voor tot agter is hierdie ’n betekenisvolle bydrae tot die voortgaande gesprek oor die volle aanvaarding van gay mense as normale medemense.
André Bartlett is verbonde aan die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling van die Universiteit van Pretoria.