Jesus volgens Sy tydgenote

Hierdie artikel lig die verskillende sieninge uit oor Jesus tydens sy lewe op aarde.

Jesus self

Alhoewel Jesus dit nie altyd pertinent gesê het nie, is dit baie duidelik dat Hy nie probeer het om te ontken dat hy die Messias, die Seun van God was nie. Trouens, Hy het dit selfs ‘n paar keer erken:

  • Matteus 11:3-6; Lukas 7:18-35
  • Matteus 14:33
  • Matteus 16:13-17; Markus 8:27-30; Lukas 9:18-21
  • Matteus 26:63-64; Markus 14:61-62; Lukas 22:70
  • Lukas 4:21
  • Johannes 1:49-51
  • Johannes 4:25-26
  • Johannes 10:33-38

Kyk Die Bybel oor Jesus se Godheid vir nog meer voorbeelde.

Herodes

Toe Herodes gehoor het van Jesus se wonderwerke het hy geglo dat Jesus, Johannes die Doper was wat uit die dood opgewek is. (Mrk 6:14-16; Mat 14:1-2)

Mense in Nasaret

Die mense in Nasaret, die dorp waar Jesus grootgeword het, wou hom nie erken nie en het gevra: “Is hy dan nie ‘n timmerman, ‘n seun van Maria en die broer van Jakobus, Joses, Judas en Simon nie? En is dit dan nie sy susters wat hier by ons woon nie?”

Daarop het Jesus gesê: “’n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

(Mat 13:53-58; Mrk 6:1-6; Luk 4:16-30)

Jode

Onder die Jode was daar waarskynlik baie verskillende sieninge oor Jesus.

Toe Jesus die dissipels gevra het wie die mense dink Hy was het hulle gesê: Johannes die Doper, Elia, Jeremia of een van die profete (Mat 16:14; Mrk 8:27-30; Luk 9:18-21)

Dit is waarskynlik akkuraat om te sê dat die meerderheid Jode geglo het dat Jesus meer as net ‘n mens was, maar baie wou nie openlik standpunt inneem nie omdat hulle bang was vir die Joodse leiers (Joh 9:22).

Besetenes

Volgens Markus 3: (11)As mense wat van onrein geeste besete was, Hom sien, het hulle voor Hom neergeslaan en geskreeu: “U is die Seun van God!”

Daar word egter ook spesifieke voorvalle genoem:

Besetene in Gadara

Toe die besetene in Gadara Jesus gesien het, het hy vir Jesus gesê: “Wat het U met my te doen, Jesus, Seun van God die Allerhoogste? Ek smeek U: In Gods Naam, moet my nie pynig nie!” Die bose gees het homself geïdentifiseer as Legio, want hulle was baie. Jesus het toe die bose geeste in ‘n trop varke ingestuur nadat hulle Hom gesoebat het om dit te doen.

(Mat 8:29; Mrk 5:7; Luk 8:28)

Die besetene in Kapernaum

Toe die besetene van Kapernaum Jesus gesien het, het hy gesê: “Wat het ons met U te doen, Jesus van Nasaret? Het U gekom om ons te verdelg? Ek weet goed wie U is; U is die Heilige van God!”

(Mrk 1:24; Luk 4:34)

Slavin met waarsêersgees

Toe Paulus en Silas in Filippi was, was daar ‘n slavin met ‘n waarsêersgees. Sy het agter Paulus en Silas aangeloop en aanhoudend geskreeu: “Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word.”

Nadat Paulus die gees uitgedryf het en die slavin se eienaar besef het dat sy nie meer geld uit haar kon maak nie, is hulle in die tronk gegooi.

(Hand 16:16-18)

Familie

Jesus se broers en susters was aanvanklik skepties oor Hom:

Na Sy opstanding en hemelvaart lees ons egter dat hulle volgelinge van Hom geword het:

  • Handelinge 15:13 – Jakobus, die broer van Jesus, verwys na die ander apostels en ouderlinge as “broers”
  • 1 Korintiërs 9:5 – Paulus verwys na Jesus se broers as apostels
  • Galasiërs 1:19 – Paulus verwys na Jakobus as iemand met wie hy kontak gehad het.

Fariseërs

‘n Mens lei af dat die meerderheid Fariseërs nie in Jesus geglo het nie; trouens, hulle het hom gesien as ‘n vals profeet en wou verhoed dat hy die Jode “mislei”.

Johannes 7: (48)Het een van die lede van die Joodse Raad miskien in hom geglo, of een van die Fariseërs? (49)Nee, dit is net hierdie vervloekte klomp mense wat nie ons wet ken nie!”

Dit is daarom dat Jesus soms harde woorde vir hulle gehad het:

Tog was daar Joodse leiers wat tot bekering gekom het, maar meestal in die geheim. Volgens Joh 12:42 het baie van die lede van die Joodse Raad tot geloof in Hom gekom, maar uit vrees vir die Fariseërs het hulle dit nie openlik bely nie, sodat hulle nie uit die sinagoge geban sou word nie

Daar word wel individue genoem wat in Jesus geglo het, soos Nikodemus en Josef van Arimatea, maar beide van hulle was nie openlik dissipels van Jesus nie.

Jaïrus, raadslid van die sinagoge

Jaïrus was ‘n raadslid van die sinagoge. Hy het na Jesus gekom, want sy enigste dogter het op sterwe gelê. Sy was omtrent twaalf jaar oud. Toe Jesus daar aankom het sy reeds gesterf, maar Hy het haar uit die dood opgewek.

(Mrk 5:22; Luk 8:41)

Nikodemus

Nikodemus het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. Hy het Jesus as Messias erken:

  • Nikodemus het Jesus een aand besoek en die volgende gesê: “Rabbi, ons weet dat u ‘n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.” (Joh 3)
  • Nikodemus het Jesus versigtig voor die Sanhedrin verdedig deur te sê dat hulle Hom nie moet veroordeel sonder ‘n regverdige verhoor nie (Joh 7).
  • Nikodemus het ‘n bydra gemaak om Jesus se liggaam te balsem na sy dood (Joh 19:39-40).

Josef van Arimatea

Josef van Arimatea was ‘n vooraanstaande lid van die Joodse Raad (Mrk 15:43).

Hy het nie met die besluit en optrede van die Joodse Raad saamgestem nie (Luk 23:49).

Daar word na hom verwys as ‘n volgeling (Mat 27:57) en ‘n dissipel van Jesus (Joh 19:38), maar in die geheim.

Hy het vir Pilatus gevra of hy Jesus se liggaam kon kry en het dit gebalsem en begrawe in sy eie nuwe graf (Mat 27:59-60; Mrk 15:43-46; Luk 23:52-53; Joh 19:38)

Gamaliël

Gamaliël was ‘n Fariseër wat by die hele volk in hoë aansien was. Die feit dat hy Paulus en die ander apostels verdedig het toe die Joodse Raad hulle wou doodmaak beteken dat hy ruimte gemaak het vir die moontlikheid van goddelike betrokkenheid by Jesus se sending (Hand 5:34-39).

Paulus was ‘n leerling van Gamaliël voor sy bekering (Hand 22:3). Indien Gamaliël gedink het dat Jesus ‘n vals profeet was, sou ‘n mens kon redeneer dat hy sy teleurstelling sou uitspreek oor sy oudstudent wat Jesus aangehang het en dat hy hom nie sou verdedig nie.

Dissipels

‘n Mens kry die idee dat die dissipels se opinie oor Jesus gewissel het.

Kort nadat Andreas, die broer van Simon Petrus, Jesus begin volg het, het hy sy broer gaan opsoek en vir hom gesê: “Ons het die Messias gekry!” (Joh 1:41)

Toe Natanael Jesus die eerste keer ontmoet het, het hy gesê: “Rabbi, U is die Seun van God; U is die Koning van Israel!” (Joh 1:49)

Nadat Jesus die storm stil gemaak het, is hulle met groot ontsag vervul en het hulle vir mekaar gesê: “Wie kan Hy tog wees dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam?” (Mrk 4:41) Dus, ten spyte van al die wonderwerke wat hulle tot op hierdie punt gesien het, was hulle steeds verwonder oor Jesus se mag.

In Joh 6:69 word gesê: En ons [die dissipels] glo vas en ons weet dat U die Heilige van God is.

Toe die vroue die Sondag-oggend van Jesus se graf gekom het en vir die dissipels vertel het dat Hy uit die dood opgestaan het, wou die dissipels dit nie glo nie.

Die Emmausgangers het gedink dat Jesus Israel sou verlos van die Romeine (Luk 24:21). Die dissipels het waarskynlik dieselfde gedink.

Dit is eers na die opstanding en hemelvaart dat al die dissipel in Jesus geglo het as die Seun van God en die rede vir sy koms verstaan het. Toe Thomas Jesus gesien het na die opstanding het hy bely: “My Here en my God!” (Joh 20:28). Petrus het ook met vrymoedigheid getuig van Jesus in ‘n toespraak (Hand 2:32-36).

Al die dissipels, met uitsondering van Johannes, het selfs gesterf vir hulle geloof in Hom (kyk Hoe is die 12 dissipels dood?).

Nie-Jode

Daar is heelwat nie-Jode wat in Jesus geglo het.

Romeinse offisier in Kapernaum

Hierdie offisier was lief vir die Jode en het op eie onkoste die sinagoge gebou. Toe die offisier van Jesus gehoor het, stuur hy ‘n paar familiehoofde van die Jode na Jesus toe om te vra dat Hy moet kom om sy slaaf gesond te maak. Toe Jesus nie meer ver van die huis af was nie, stuur die offisier ‘n paar van sy vriende om vir Jesus te sê om nie moeite te doen om te kom nie. Jesus kon maar net ‘n woord sê en sy slaaf sou gesond word. Dit het toe ook so gebeur.

(Mat 8:5-13; Luk 7:1-10)

Koninklike amptenaar in Kapernaum

In Kapernaum was daar ‘n koninklike-/regeringsamptenaar wie se seun siek was. Hy het Jesus gevra om te kom om sy seun gesond te maak, want hy het op sterwe gelê. Jesus het egter vir hom gesê dat hy maar huis toe kan gaan, want sy seun lewe. Die amptenaar het dit so aanvaar en toe hy by die huis kom het hy besef dat sy seun gesond geword het op dieselfde tyd wat Jesus gesê het sy seun is gesond.

(Joh 4:43-54)

Samaritane

Nadat Jesus met die Samaritaanse vrou gepraat het, het baie ander Samaritane ook tot geloof gekom.

(Joh 4:39-42)

Rower aan die kruis

Een van die rowers langs Jesus aan die kruis het aan die ander rower gesê: “… hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” Aan Jesus het hy gesê: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

(Luk 23:40-43)

Romeinse offisier by die kruis

Toe die offisier en die soldate wat saam met hom vir Jesus bewaak het, die aardbewing sien en die dinge wat gebeur, het hulle baie bang geword en gesê: “Hierdie man was werklik die Seun van God.”

(Mat 27:54; Mrk 15:39; Luk 23:47)

Kornelius

Kornelius was ‘n gerespekteerde leier in die Romeinse leër. Hy het ‘n vision gesien van ‘n engel wat vir hom gesê het dat hy Petrus na hom toe moes laat kom. Intussen het Petrus ‘n visioen gehad van ‘n groot doek met onrein diere daarin. God het vir hom gesê dat hy daarvan moes eet, maar hy wou nie. Petrus het besef dat die visioen beteken dat God nie onderskeid maak tussen volke nie en daarom het hy in Kornelius se huis ingegaan.

(Hand 10)

Sergius Paulus

Toe Barnabas en Paulus in Pafos was, het die goewerneur, Sergius Paulus, hulle laat roep omdat hy die woord van God wou hoor. Die towenaar, Elimas het probeer om dit te verhoed, maar Paulus het hom skerp aangespreek en vir hom gesê dat hy vir ‘n tyd lank blind sou word. Die goewerneur was diep onder die indruk van die leer van die Here, en toe hy sien wat gebeur het, het hy gelowig geword.

(Hand 13:6-12)

Tronkbewaarder van Filippi

Toe Paulus en Silas in die tronk in Filippi was, het hulle teen middernag lofliedere gesing. ‘n Aardbewing het al die deure van die tronk laat oopgaan. Die tronkbewaarder wou selfmoord pleeg omdat hy gedink het die gevangenes gaan ontsnap, maar Paulus het hom gekeer. Hy het tot geloof gekom en sy hele gesin is gedoop.

(Hand 16:25-34)

Julius

Oppad na Rome het die skip waarop Paulus was gestrand. Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. Maar Julius, offisier van die keiserlike regiment, wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem.

(Hand 27:1-44)

Onbekendes verbonde aan die keiser se huis

In sy brief aan die gemeente in Filippi, skryf Paulus in sy groeteboodskap: “Groete aan almal wat aan God behoort … Ook al die gelowiges en veral dié wat aan die huis van die keiser verbonde is, stuur vir julle groete.”

(Filippense 4:22)

Paulus

Paulus was ‘n Fariseër en het hom beywer om die Christelike kerk uit te roei. Oppad na Damaskus het Jesus egter in ‘n lig aan hom verskyn. Hy het tot bekering gekom en een van die grootste sendelinge geword van sy tyd.

(Hand 9)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui