Jesus was mens én Verlosser – maar ook soveel meer . . .

Frits Gaum vra wie was Jesus en dan begin hy baie objektief om te noem wat sekere groepe van Jesus gedink het. Hy eindig egter nie af met ’n baie sterk opinie oor Jesus nie. Hy noem Jesus se wonderwerke en opstanding amper terloops. In sy boek Bestaan daar net een pad na God? skryf hy:

“Ek het ’n baie goeie antwoord by hom gekry (Desmond Tutu) . . . hy het gesê dis nie die enigste pad nie, maar dis ’n unieke pad na God.”

As Frits Gaum dink dat hierdie ’n “baie goeie antwoord” is, dan kan ’n mens nie help om te wonder of hy in letterlike wonderwerke en die letterlike opstanding glo nie.

*******

Jesus was mens én Verlosser – maar ook soveel meer . . . | Netwerk24

Frits Gaum

19 Desember 2021

Wie wás Hy, vra Frits Gaum.

Dit is Kersfeestyd en gelowiges vier, selfs of juis in hierdie grendeltyd, die geboorte van Jesus Christus 2 000 plus jaar gelede.

Maar wie wás hierdie man wat mense al eeue lank in beroering het en wie se geboorte in Betlehem elke jaar die penne in beweging bring?

Jesus was nog altyd omstrede. Die tweede eeuse apokriewe Ebioniete-evangelie het ontken dat Jesus uit ’n maagd gebore is, terwyl sekere Joodse geskrifte beweer dat Jesus die buite-egtelike kind van Maria en ’n Romeinse soldaat was. Sy opstanding uit die dood is vroeg reeds ontken en daar is beweer dat die dissipels sy lyk gesteel het (Matt. 28:13).

Die afgelope twee, drie eeue het onder sommige akademici ’n intensiewe soektog na die “ware” Jesus ontstaan. Die vertrekpunt van hierdie wetenskaplike soektog na Jesus is die oortuiging by sommige dat die ware vlees-en-bloed-Jesus wat destyds in die stofpaaie van Palestina geloop het, aansienlik verskil van dié Jesus oor wie die Evangelies en Paulus berig.

Die “ware”, “oorspronklike” Jesus is, volgens die aanhangers van dié gedagte, steeds soek en moet deur wetenskaplike navorsing “gevind” word.

Daar kan drie sulke “soektogte” onderskei word. Die eerste soektog is in die laat 18de eeu aan die gang gesit na aanleiding van ’n geskrif deur Hermann Reimarus (1694-1768). Volgens hom wou Jesus ’n Joods-Messiaanse koninkryk vestig, maar die Evangelies het dit weggesteek.

Daarna volg, in die eerste soektog, ’n lang ry akademici. Paulus het geskryf dat ons Jesus se optrede met ons rede en logika moet kan verstaan. Hy het byvoorbeeld die wonderbaarlike kosgee van ’n skare mense daaraan toegeskryf dat Jesus se dissipels ’n groot voorraad kos in ’n grot opgeberg het.

D.F. Strauss en Rudolf Bultmann praat in die laat 19de en eerste deel van die 20ste eeu eerder van ’n “mitologiese” Jesus. Bruno Bauer is die groot voorstander van ’n skeptiese Jesus-beeld . . . volgens hom was daar nooit iemand soos Jesus nie.

William die Wrede het gemeen dat Markus, onder invloed van die geloofsoortuigings van die eerste Christen-gemeentes, die doodgewone mens Jesus in ’n Goddelike Messias omskep het.

Die tweede soektog na die “ware” Jesus dateer uit die 1950’s. Geleerdes soos Ernst Käsemann en Joachim Jeremias het baie aandag gegee aan wetenskaplike maatstawwe in hul soektog na Jesus. In die 1960’s, die tyd van die sogenaamde bevrydingsteologieë, het sommige geleerdes gemeen die “ware” Jesus was eintlik ’n revolusionêre opstoker.

Die derde soektog het in die 1980’s op dreef gekom en is deur Amerikaanse geleerdes oorheers. Die “Jesus Seminar” meen dat minder as 20% van Jesus se uitsprake wat in die Evangelies opgeteken is, aan Jesus self toegeskryf kan word. Hier in Suid-Afrika is ook spore van die “Jesus Seminar” te kry in die sogenaamde “Nuwe Hervorming” waarby ook enkele Afrikaanse teoloë betrokke was.

Die drie wetenskaplike “soektogte” na Jesus die afgelope paar honderd jaar het dikwels minder van die Gesoekte as van die soekers laat blyk. Subjektiwiteit speel ’n groot rol en die soekers probeer telkens ’n “beeld” wat hulself geskep het, as waar bewys. Die sekulêre tydsgees – waarin die bestaan van die boaardse, en dus van God, al meer ontken word – is ook ’n kernprobleem.

Baie van die geleerde soekers wil alles deur middel van die sigbare en rasioneel verklaarbare feite wetenskaplik uitlê en “bewys”. So loop hulle (sonder dat hulle dit sal wil erken) hulle vas teen die onverklaarbare en die misterieuse en die “wonder” van God. En van Jesus.

Intussen is dit steeds waar dat daar in ons tyd en wêreld nog dringend na Jesus “gesoek” word, en dat hierdie soektog dikwels in die openbare media opslae maak. Dit bewys ironies dat die verhaal van Jesus van Nasaret mense – ook moderne, sekulêre, postmoderne mense – steeds nie loslaat nie. En, wil ’n mens vrymoedig voorspel, sal hulle in hierdie bedeling nooit loslaat nie.

Die soekers na die historiese Jesus wil meestal niks daarvan weet dat Jesus van Nasaret ook God was nie. Sommige van hulle beklemtoon dat Jesus sélf nie eens gesê het, of geweet het Hy is die Messias, die Gesalfde van God, nie.

Die bekende Pretoriase Nuwe-Testamentikus wyle prof. Andrie du Toit het gesê dat Jesus se verwysing na homself as “Seun van die mens” (in byvoorbeeld Matt. 8:20) veelseggend is. Talle navorsers stem saam dat Jesus homself hierdeur vereenselwig het met “die Seun van die mens” van Daniël 7:13 – ’n magtige redder en oordeelsfiguur wat in die eindtyd sou verskyn. Jesus maak egter méér van hierdie benaming deur sy aardse optrede en lyding deel daarvan te laat word.

Du Toit wys ook daarop dat Jesus se uitsprake dui op ’n ongehoorde, unieke selfbewussyn, ’n wete van wie Hy is. Dit blyk uit die manier waarop Hy telkens met gesag gesê het: “Amen, Ek sê vir julle” (vergelyk byvoorbeeld Mark 10:29), sosiale gebruike verbreek het, die mag van die tradisie en die volksleiers onderstebo gekeer het en Ou-Testamentiese wette radikaal geïnterpreteer en soms selfs weerspreek het.

Het die seuntjie Jesus van sy kleuterdae af geweet wat sy geheim is, of eers toe Hy as 12-jarige die skrifgeleerdes in die tempel onderrig het, of dalk toe Hy begin het om vir mense sonderlinge stories te vertel, of toe Hy sy eerste wonderwerk gedoen en water wyn laat word het?

Of dalk was dit nog later toe Hy al duideliker sy pad voor hom sien doodloop het teen die kruis. Of was dit toe Hy die derde dag uit die dood wakker geword het? Het Hy dit op ’n dag eensklaps gewéét, of het die besef algaande by Hom posgevat?

Wie sal ooit weet? Nee, ons kan die misterie van Jesus se selfkennis nie peil nie. Dit is en bly Sy geheim

Geseënde Kersfees! Geseënde Christusfees!

* Dr. Frits Gaum is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui