Johan Retief: ‘Wedergebore en verlos van geloof en die Bybel’

Kyk ook:

*******

Johan Retief: ‘Wedergebore en verlos van geloof en die Bybel’ | Netwerk24

Murray La Vita

09 Junie 2022

Johan Retief praat met Murray La Vita oor sy boek waarin hy aanvoer die hele Christelike geloof is “ ’n lugspieëling” en “die grootste bedrogspul in die geskiedenis van religie”.

Die onderhoud met Johan Retief vind op ’n sonnige Maandagoggend in Yzerfontein aan die Kaapse Weskus plaas. Ons sit teenoor mekaar by ’n tafel in die leefvertrek van hul woonstel wat verbind is met die huis van een van hul seuns en sy gesin. Die see is deurentyd hoorbaar op die agtergrond.

Johan se vrou, Betsie, sit langs hom. Hulle is al sedert hul hoërskooldae saam. Sy het in ’n vorige onderhoud gesê hulle is geesgenote en “op dieselfde pad wat hul soeke na antwoorde betref”.

Sy herhaal nou en dan iets wat Johan gesê het omdat sy stembande kronies in ’n spasma is – ’n toestand wat tien jaar gelede ontstaan het – en hy soms nie duidelik hoorbaar is nie.

Die hees fluistering verleen ’n intensiteit en dringendheid aan wat hy sê. Hy raak soms met een van sy groot hande aan sy keel asof hy sy woorde wil help om uit te kom.

Johan is ’n man wat maklik lag – ook vir homself – en het ’n goed ontwikkelde sin vir humor. Hy het vriendelike blou oë en is lank en bonkig soos iemand wat op sy dag ’n kranige losvoorspeler was.

Wat Betsie terloops met ons deel, is dat hy as kind die “Klein Mozart van Montagu” genoem is vanweë sy groot klaviertalent. Hy speel steeds klavier (daar staan een agter hulle) en klawerbord, maar het toe nooit ’n konsertpianis geword nie.

Hy was ’n dominee, het ’n doktorsgraad in teologie behaal en het later die mediabedryf betree as joernalis, akademikus en uiteindelik vir amper tien jaar as Persombudsman – ’n pos waaruit hy in 2019 getree het. Hy wys daarop dat dit nié om gesondheidsredes was soos onlangs berig is nie.

Die onderhoud begin by die vraag: Hoekom nou? Wat het hom laat besluit om juis nóú Die Slegte Nuus van die Evangelie: My reis na verlossing te skryf?

“Ek kón nie dié boek tien of 15 jaar gelede geskryf het nie. Dit is ’n proses. Ek het nou eers ryp gevoel. Ek kon dit nie vroeër doen nie, want ek was nog nie waar ek nou is nie.

“Ek gee nie voor ek het nou die waarheid beet nie; dat ek nou gearriveer het nie. Dit het egter wél ses maande gelede vir my gevoel dat ek nou genoeg insig het om te sê wat ek wil sê . . .

“Ek het nie ophou soek nie. Ek kry mense jammer wat ophou soek het.”

Johan sê hy weet hy het niks nuuts na die tafel gebring nie en dat sy argumente nie uniek is nie. Hy glo egter wel dat hy iets nuuts “na die Afrikaanse tafel” gebring het.

Goeie en slegte nuus

Ons praat oor die titel van die pas verskene boek wat hy binne ses maande geskryf het. Dit is ontleen aan hierdie passasie: “Die ‘goeie nuus’ van die evangelie was inderdaad slegte nuus vir die oorgrote meerderheid van die mensdom. Vir ver meer as 99% van die totale wêreldbevolking, oor die millennia heen: Julle gaan hel toe, boetas. Julle moes liewer nie gebore gewees het nie.”

Ja, dink daaroor, sê Johan. Jy kan gered word, maar die muntstuk het ’n ander kant ook.

“As jy nie jou hart vir Jesus gee nie, dan is jy vir ewig verlore. Dit is bad news!”

Hy skryf die Bybel beeld ’n God uit in wie hy nie langer kan glo nie; “ . . . ’n Christus-vertolking wat nie met die historiese Jesus ooreenstem nie en ’n teologie van ‘redding’ wat katastrofiese gevolge vir die mensdom inhou”.

Volgens hom is die hele Christelike geloof ’n fata morgana of lugspieëling en is die Bybel self “die grootste bedrogspul in die geskiedenis van religie”.

Betsie sê wat haar betref, is die belangrikste aspek van Johan se boek dat dit uitwys álle godsdiens, nie net die Christendom nie, is mensgemaak en kan as afgodery beskou word.

Verguising

Johan beskryf in sy boek die “ingrypende en omvangryke” gevolge wat sy teologiese verwerping van apartheid (hy het onder meer die NG Kerk verlaat en ’n leraar in die NG Sendingkerk geword) vir hom en sy gesin ingehou het.

“Daar het, in ’n mindere en meerdere mate, verwydering tussen my en die res van die familie (en vriendekring) gekom.”

Dié verwydering is mettertyd grootliks herstel. Maar met die skryf van Die Slegte Nuus van die Evangelie het hy hom nou weer aan verguising blootgestel.

“Die grootste deel van my familie wil nie met my hieroor praat nie en wil ook nie die boek lees nie. En dít kan ek nie verstaan nie. As iemand vir my sê hy of sy het ’n ateïs geword, sou ek gesê het: ‘Wow! Hoe het dit gebeur?’ Maar hulle wil nie weet hoe my kop werk nie en ek verstaan dit nie,” sê hy.

“Waarvoor is mense bang? Om uitgedaag te word? Om vir hulleself te dink? Ek verstaan dat hulle verslae is of kwaad . . . of teleurgesteld. Maar ek verstaan nie dat hulle nie wil weet hoe my kop werk nie. Ek verstaan nie dít nie. Ek verstaan hul emosies, maar nie dít nie.”

Betsie: “Selfs huweliksbevestigings wat hy gedoen het, word nou bevraagteken. ‘Wat word nou daarvan?’ word gevra.”

Johan: “En kinders wat ek gedoop het.”

Betsie: “En ook: ‘Dankie dat jy nie een van my mense begrawe het nie.’ Súlke tipe goed word vir ons gesê.”

Hy het nie daarop gereageer nie, sê Johan.

“Ek háát dit om myself te verdedig. Ek doen dit nóóit. Maar dit het díép seergemaak; dit kom van mense af wat na aan ons is.

“Al die negatiewe kommentaar wat ek kry, weeg egter vir my ligter as my gewete en integriteit. Mense kan dink wat hulle wil . . . my gewete is skoon. En terloops, aan die ander kant, die mense wat die boek gelees het, is tot dusver geweldig positief.”

Die waarheid

Hy het teologie gaan studeer omdat hy gesoek het na die waarheid.

“Dis dieselfde motivering wat my nou gebring het by ’n ander uitkoms. Elke keer dieselfde motivering: die soeke na die waarheid. Hoekom moet ek stilbly?”

Betsie: “Iemand het ook gesê dis orraait as ons nou glo soos ons glo, maar hoekom dit nou publiseer in ’n boek?”

Johan: “Ek het dié vraag in die boek beantwoord: Ek vra askies.”

Aan sy ou gemeente, familie en vriende omdat hy hulle jare lank “vals hoop” gegee het oor die evangelie. Hy wil “red wat daar nog te redde is” nadat hy mense “mislei” het om te glo dat Jesus vir hul sondes gesterf het.

“Ek wil my gewete skoon kry en ek wil mense help wat met dieselfde ervaring sit as waarmee ek sit. Dít is die drie redes. Ek het mense mislei, nie doelbewus nie – natúúrlik nie – maar ek het agterna uitgevind ek was verkeerd.”

Onverdraagsaam

Ben du Toit, ’n voormalige NG dominee en teoloog, en skrywer van God: Is daar ’n ander antwoord? ’n Bevrydende reis, skryf in die voorwoord tot Johan se boek: “Die ontmaskering van die bedenklike invloed van ’n geloof in ’n transendente, metafisiese (opper)wese, meestal God of Allah genoem, kom in hierdie boek meedoënloos aan die orde.”

Johan sluit hierby aan wanneer hy sê een van sy vriende het aan hom gesê sy boek “is darem baie kras”.

“Die antwoord is eenvoudig: Ek hou nie daarvan om doekies om te draai nie . . . Ek het heftige reaksie gekry op my stelling in ’n vorige onderhoud dat Christene van die mees onverdraagsame mense is wat ek ken. Maar ek het nooit gesê álle Christene is onverdraagsaam nie; ek ken báie Christene wat verdraagsaam is.”

Die aard van die reaksies op Rapport se onderhoud met hom is in sigself ’n bewys van die onverdraagsaamheid onder mense wat hulself Christene noem, sê Johan. Hulle gun hom nie sy mening nie.

‘Bestem vir die hel’

In die laaste kort hoofstuk van Die Slegte Nuus van die Evangelie “slaak [Johan] ’n sug van verligting”. Daarin beskryf hy hoe sy “wedergeboorte” hom bevry het van “die religieuse depressie wat my so knaend gery het”.

Wanneer ek hom pols oor hierdie depressie – (“omdat God kwaad was vir my”) – sê hy dit is iets wat van sy kinderdae af al daar was.

“Maar dit was in my onderbewussyn. Dit is eers later dat ek tot die besef gekom het van ek is in sonde gebore en ek is bestem vir die hel omdat ek sleg is.

“Dít skend jou selfbeeld. Ek beskryf in die boek twee voorbeelde uit my kinderdae. Die een is toe ek ses jaar oud was en ’n geloofsgeneser na wie my ma my geneem het omdat ek onophoudelik gehoes het, vir my gesê het daar is ’n duiwel in my wat my so laat hoes.

“Sés jaar oud! Ek wens ek kan daai ou in die hande kry! Weet jy wat het dit aan my gedoen? Wat het ek verkeerd gedoen? Dit het my waansinnig van vrees gemaak.”

Hy skryf: “Die ‘geloofsgeneser’ se ‘oplossing’ was gebed – die duiwel moes uitgedryf word. Natuurlik het sy gebed nie gehelp nie; inteendeel, dit het ontsettende vrees en onsekerheid by my ingeboesem. Ek het ’n duiwel in my . . . Hoe het die duiwel daar gekom? Was dit my skuld? Wat gaan met my gebeur? Kan dit weer gebeur?”

Die uiters seldsame toestand waaraan hy ly (sy stembande wat in ’n kroniese spasma is) en waarvoor daar in dié stadium geen behandeling is nie, is sý skuld, sê Johan.

“Iemand baie na aan my sê dít is hoe God my straf . . . Daar is gesê: ‘As Johan net na die Here wil terugkeer, sal sy stem genees word.’

“Watter soort God is dit wat mense straf? Dit is nou mý skuld; dit het nie ’n mediese oorsprong nie, dit het ’n religieuse oorsprong.”

Twee Bybels

Voordat ons vertrek, wys Johan en Betsie vir ons die res van hul woonstel: Die garage waar Johan se klawerbord (waarop hy volgens Betsie ses uur aanmekaar sonder onderbreking golden oldies kan speel) in ’n hoek staan en waar twee pare bokshandskoene teen ’n muur hang wat Johan se pa aan hom gegee het toe hy ’n kind was.

Ook hul slaapkamer, waar Johan se rekenaar op ’n tafeltjie staan en waar hy Die Slegte Nuus van die Evangelie geskryf het.

Op ’n antieke kassie oorkant hul bed lê twee Bybels – ’n ou een met ’n sagte leeromslag en bo-op dit ’n nuwer een. Dit is die twee Afrikaanse vertalings van die Bybel wat Johan volgens ’n mededeling in die “Vooraf”-afdeling van sy boek as bronne gebruik het: Die twaalfde druk van die Nuwe Vertaling, 1985, en die hersiene uitgawe van die 1964-vertaling.

Wanneer ek hom vra of hy nog die Bybel lees, sê hy “nee”, draai om en gaan wys vir ons die boonste deel van die huis van waar die uitgestrekte Atlantiese Oseaan sigbaar is wat in die son lê en blink onder ’n helder blou wolklose hemel.

1 thought on “Johan Retief: ‘Wedergebore en verlos van geloof en die Bybel’”

  1. Na aanleiding van wat Johan Retief in die Rapport oor sy boek en sieninge geskryf het, neem hy geensins in ag met sy religieuse reis dat menswees drie dimensioneel is, naamlik fisiologies, siel[kundig] en geestelik, want sy argumente en wroeginge is gefokus op die fisiologiese en sielkundige, soos die verwysing van lyding van mense, natuurrampe, die son wat stilstaan, Lot se vrou, donkie wat praat, opstanding van Jesus Christus en sy hemelvaart.ens. Die gebrek aan geestelike dimensie lees jy duidelik ook in sy opmerking dat die christelike geloof was, en is ’n “lugspieëling” terwyl die christelike geloof ’n verhouding is met die lewende God en dit is hier waar gebed ’n belangrike rol speel en dit is beslis nie ’n “gesprek met jouself” nie, maar met God. Eintlik erken hy dat jou geloof volgens hom net sielkundige en fisiologiesegronde het: “Jy glo net omdat jy wil glo en dit laat jou gemaklik en veilig voel”, terwyl die krag van jou geloof lê in die krag van die opstanding van Jesus Christus en nie in jouself nie, dit is ’n gawe van God. Tog weet ek nou al, dat dit egter ’n verlore stryd is om atïeste met skrifgedeeltes uit die Bybel te konfronteer, want as jy geestelike dood is, het die Bybel as verwysingsraamwerk ongelukkig vir jou geen betekenis nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui