Kyk ook:
- Die rede vir NGKN se uittrede uit AS (Düring Cornelius, 24 Mrt 2025)
- Loedolff-saak
- Is die Algemene Sinode se rakleeftyd verby? (Johan van der Merwe, 10 Okt 2022)
- ’n Saak vir kerkskeuring
- Kerkeenheid
- Namibië se ultimatum aan die NG Kerk (20 Mrt 2022)
Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.
**********
Johan van der Merwe | Namibië: verleentheid of geleentheid? | Kerkbode
Deur Johan Van der Merwe
24 Maart 2025
Die besluit van die Sinode van Namibië om uit die verband van die Algemene Sinode te tree, het baie emosie losgemaak. Dit is veral die woorde “skeuring” en “verbreking van eenheid” wat links en regs gebruik word. By sommige is daar vreugde, by ander diepe teleurstelling en hartseer.
In ’n tyd soos hierdie, wanneer emosie hoog loop, is dit tyd vir boeke en help dit om terug te blaai deur die geskiedenis van die NGK – veral die geskiedenis van kerkverband in die NGK. Doen ’n mens dit, word dit gou duidelik dat die saak van onderlinge verband wat gemeentes aan mekaar bind, nog nooit ’n eenvoudige saak was nie.
LEES OOK | VIDEO: Reaksie onder afgevaardigdes ná NG Kerk in Nam bande losmaak met Algemene Sinode
In 1642 het die Sinode van Noord-Holland besluit dat bediening van buitelandse kerke aan die Klassis van Amsterdam oorgelaat word. Dit het ook vir die Kaap gegeld. Met die stigting van meer gemeentes aan die Kaap het die behoefte aan ’n eie kerkverband egter al groter geword. Dit het gelei tot die “Gecombineerde Kerckvergadering” wat vir die eerste keer op Maandag 17 Januarie 1746 vergader het. Hierdie vergadering wat die kerlike verband tussen gemeentes gereël het, is in 1759 afgeskaf. Dit sou tot in November 1824 duur voordat ’n eerste Algemene Kerkvergadering weer totstand sou kom. Hierdie eenheid sou ook nie lank duur nie.
In 1862 het die bekende Loedolff-saak veroorsaak dat die gemeentes in die Transgariep nie meer langer sittingsreg op die Kaapse sinode sou hê nie. Drie nuwe sinodes, naamlik Vrystaat 1864, Natal 1865 en Transvaal 1866 was die gevolg van die gebeure. Wat belangrik is, is die feit dat hierdie sinodes nie opgehou het om NGK te wees nie. Die verband is wel verbreek, maar die kerk het nie geskeur nie! Dit word bevestig deur die strewe om nouer eenheid wat gelei het tot die onstaan van die Raad van Kerke in 1905. Hierdie federale liggaam het tot met die onstaan van die Algemene Sinode in 1962 gedien as die sigbare konstituering van eenheid tussen die verskillende sinodes van die NGK.
Miskien is dit die deur wat die Sinode van Namibië weer oopgemaak het. Dalk het dit tyd geword dat die Algemene Sinode weer ’n Raad van Kerke word. Dit beteken nie noodwendig dat eenheid prysgegee word nie, bloot dat sinodes wat in verskillende kontekste in Suid- Afrika funksioneer en waar al die gemeentes van die sinodes betrokke is, groter seggenskap oor bediening in hulle eie gebiede verkry. Dit sou ook die deur oopmaak vir ander Gereformeerde kerke soos die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika om deel van so ’n vergadering te word sonder dat die kerk haar identiteit sou prysgee.
Skielik is die gebeure van 20 Maart in Windhoek dan nie ’n groot verleentheid vir die NGK nie, maar eerder dalk ’n geleentheid vir die kerke van Suid-Afrika.
Kommentaar
Daniel Louw
Dit is net ongelooflik hoe allergies beide kampe (die NG Kerk aan die een kant, en die Koinonia Sinode, wat behoudendes verteenwoordig, aan die ander kant).
Namibië het van die NGK geskei weens die groot teologiese verskille. Daar kan nie eenheid wees wanneer daar soveel teologiese verskille is nie. Kyk ook Kerkeenheid.