Kyk ook:
*******
Johann Rossouw: Ander weë nodig vir teologiese opleiding | Netwerk24
Rapport, 16 April 2023
In die vorige aflewering van hierdie rubriek is verwys na Afrikaners se idealisme. Dit is toegelig met die stelling dat ons idealisme deurdrenk is van Christelike motiewe wat ons geslag op geslag laat met ’n soort geskiedkundige heilsverwagting dat dinge uiteindelik beter sal gaan.
Uit hierdie idealisme is die heel beste en ook die heel slegste in ons geskiedenis gebore – dieselfde idealisme waaruit byvoorbeeld die twee Boererepublieke ’n Vryheidsoorlog teen die Britse Ryk gevoer het, is ook dieselfde idealisme waarmee die apartheidsideaal aangepak is.
Dat idealisme soms slaag en soms misluk, weet ons baie goed uit ons geskiedenis. Maar sonder daardie idealisme kan ons kwalik voortgaan. As dit korrek is dat daardie idealisme uit ons Christelike erfenis gevoed word, bring dit ook die vraag na vore hoe dit in stand gehou kan word, want sonder versorging verdwyn ’n erfenis baie gou.
Die vraag is nog belangriker omdat die breër Westerse wêreld waarby die Afrikaners naas Afrika aansluiting vind vandag onderworpe is aan die botsing van verskillende werklikheidsbeskouings.
Hierdie botsing is hoofsaaklik die gevolg van sekularisasie en die verswakking van ’n Christelike werklikheidsbeskouing waaruit die Westerse idealisme die afgelope 2 000 jaar gevoed is.
Om hierdie botsing beter te verstaan, is dit nuttig om die verhouding tussen die filosofie en die teologie te bespreek.
As ’n mens terugkyk na die Westerse geskiedenis van die filosofie sedert Christus, kan breedweg twee standpunte oor dié verhouding onderskei word.
Volgens die eerste standpunt hang die denke oor die aard van die werklikheid (filosofie) ten nouste saam met die denke oor die goddelike (teologie). Vir die Christelike denke van die tweede eeu tot met Thomas Aquinas in die 13de eeu is God die bron van die werklikheid, en daarom word dit wat ons oor die goddelike dink en dit wat ons oor die werklike dink in noue samehang verstaan – hoewel dit nie beteken die een is ’n sinoniem van die ander nie, omdat God en die werklikheid ook nie sinonieme van mekaar is nie.
Ruweg van die 13de eeu af, namate die denke van die Franciskaanse monnik Willem van Ockham (1290–1348) al hoe meer invloedryk word, ontwikkel die siening dat die teologie en die filosofie liefs van mekaar geskei moet word.
Hierdie siening berus op Ockham se aanname dat elke enkele ding wat bestaan volledig uniek en volledig afhanklik van God is met die gevolg dat ons geen algemene stellings oor dinge of oor die werklikheid kan maak nie. Anders as vir Aquinas, wat dink dat ons God gedeeltelik kan ken deur die werklikheid wat Hy geskape het na sy beeld, voer Ockham aan dat ons God nié deur die werklikheid kan ken nie, maar slegs deur geloof.
Dit is ironies dat eietydse Afrikaanse ateïstiese voorstanders van die streng skeiding tussen die teologie en die filosofie ’n standpunt aanhang wat ten diepste berus op die teologie van ’n Katolieke monnik uit die 14de eeu, en wat ons bewus maak daarvan dat géén filosofie nie implisiet al reeds op aannames oor die goddelike en die werklikheid berus nie. Wat ons oor die een dink, hang saam met wat ons oor die ander dink.
Dit kan gedemonstreer word met verwysing na by verre die twee invloedrykste moderne filosowe van die sekulêre Westerse werklikheidsbeskouing, naamlik Friedrich Nietzsche (1844–1900) en Martin Heidegger (1889–1976).
Nietzsche kom vroeg reeds in opstand teen die benoude Lutherse piëtisme van die huis waarin hy grootgeword het, sien dit verkeerdelik aan as verteenwoordigend van die Christelike tradisie, en verbind hom tot die herlewing van die Griekse paganisme en werklikheidsbeskouing.
Dit lei hom tot ’n verheerliking van mag, soms positief in die sin van die edele ideaal van die Oppermens wat na die aristokratiese streef, maar veral negatief in sy vergoeiliking van geweld, die offer van die onskuldige, en oorlog as middel om die samelewing te vernuwe.
Op sy beurt flankeer Heidegger met die Griekse paganisme en werklikheidsbeskouing. Op sy positiefste kweek hy ’n poëtiese, luisterende lewenshouding, maar heel noodlottig kan dit skynbaar nie losgemaak word van sy steun vir die Nazisme, minstens van die vroeë 1930’s tot met sy dood. Oor laasgenoemde kan daar geen twyfel bestaan nie ná die publikasie van sy dagboeke, waarin die gruwelikste anti-Joodse uitsprake voorkom.
Wat uit die gevalle van Nietzsche en Heidegger blyk, is dat dit wensdenkery is om te dink die teologiese en die filosofiese kan volkome apart van mekaar bedryf word. Trouens, in albei gevalle kan aangevoer word dat dié aanname in hul denke tot van die donkerste oomblikke in die geskiedenis van die Westerse filosofie gelei het.
Die Afrikaanse ateïste van ons tyd, wat soos Nietzsche teen die verworde kerkverbande van hul jeug reageer, mag dink dat hulle ons gaan verras met ’n godsdienstig “onbevlekte” filosofie vir ’n beter toekoms (wat sigself ’n Christelike ideaal is), maar die alternatief lyk wyser, naamlik om te vra hoe dit wat in die Christelike tradisie vanaf Ockham skeefloop vanuit die Christelike tradisie se beste bronne verwerk kan word ten einde Afrikaners se idealisme te bly voed.
Anders gestel, hierdie alternatief beteken om die swak teologie wat onder meer apartheid en die eietydse liewe Jesus-kultus en ooremosionele manipulasiepraktyke van sommige kerkverbande onderlê, reguit in die oë te kyk, dit te verwerp met die minagting wat dit verdien, en te vra wat uit hierdie skone tradisie ons in staat stel om alles wat waar is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is te bedink en na te jaag.
Dit is iets wat nie losgemaak kan word van ’n kwessie waaroor die Afrikaanse wêreld skynbaar nie veel nadink nie, maar wat deurslaggewend vir ons toekoms sal wees, naamlik die agteruitgang van ons teologiese opleiding. Hierdie agteruitgang het met minstens twee sake te doen. Enersyds skei die weë tussen historiese Afrikaanse universiteite en Afrikaanse kerke rondom teologiese opleiding toenemend. In beginsel is dit nie noodwendig ’n slegte ding nie, want die sekulêre ideale waartoe hierdie universiteite toenemend verbind is, maak dit vir die teologie toenemend onhoudbaar.
Tweedens was daar skynbaar in Afrikaanse kerklike kringe weens ’n skuldbesef oor die aandeel van swak teologie in die apartheidsprojek ’n reaksie waarvolgens teologiese opleiding veral op maatskaplike en etiese sake moet vestig, pleks van op die teologiese, die filosofiese en die liturgiese – en dit terwyl hierdie dinge alles ten nouste saamhang.
Bowendien geskied hierdie problematiese teologiese opleiding toenemend in Engels, wat hul alumni nie juis toerus om in Afrikaans te bedien nie, en hulle ook afsny van ’n unieke Afrikaanse filosofies-teologiese woordeskat wat hier in Afrika ontwikkel het, en waarsonder ons idealisme moeilik denkbaar is.
Afrikaanse kerkleiers van ’n sekere geslag is om verstaanbare redes gevoelig om nie weer in ’n volkskerkmodel soos tydens apartheid terug te gly nie, maar die werk wat die NG Kerk tussen 1850 en 1950 gedoen het deur die medium van Afrikaans vir maatskaplike opheffing, onderwys en Bybelvertaling om die gemeenskap op voetsoolvlak te bolwerk teen ’n koloniale, vyandige staat, kan gerus vandag weer in herinnering geroep word.
Dit is bowendien ook die weg om te gaan om die noodlottige liturgiese bron van apartheid te oorkom, naamlik die sinodale besluit van 1857 om “ter wille van die swakheid van sommiges” op rassegronde die skeiding van die nagmaal en later van kerkverbande toe te laat.
As die Afrikaanse kerke hierdie uitdaging wil aanpak – en tegelykertyd ’n stelling wil inneem in die onontkombare stryd oor werklikheidsbeskouings wat vandag beslis word – is daar eintlik net een pad vir hulle uitgelê wat goeie Afrikaanse teologiese opleiding betref.
Doen dit privaat, en doen dit aan die hand van die heel beste van die Christelike tradisie, waarvan soveel al vergete was toe die Afrikaanse wêreld gebore is.
- Prof. Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat.
Ek kan onthou dat die tema ‘Heidegger en Nasionaalsosialisme’ in ons filosofieklas bespreek was. Ek moes die voorbereiding doen. Ek het verskeie groot probleme ervaar gedurende dit.
Die eerste probleem is dat mense geen benul het oor wat Nasionaalsosialisme was. As iemand van “Nazisme” praat moet jy weet, hy het geen benul nie en waarskynlik besef hy dit nie eers nie.
Dit is egter so dat Martin Heidegger lid van die NSDAP was. Hy het Nasionaalsosialisme as ‘n kans gesien vir ‘n kulturele oplewing in Duitsland. Was egter bietjie teleurgesteld op ‘n later stadium. Let wel, Heidegger het die werklike Nasionaalsosialisme ervaar en nie die drogbeeld wat later gekonstrueer was. Heidegger het ook Notas oor Jode gemaak. Wat daaraan “gruwelikste anti-Joodse uitsprake” was, kon Rossouw egter nie verduidelik nie. Ek persoonlik dink dat Heidegger reg was oor die Jode daarin. Heidegger was blykbaar bewus van die rol wat hulle gespeel het in die Weimar periode maar ook van hulle eie uitsprake (oor Nie-Jode spesifiek Christene). Rossouw weet nie daarvan nie of ignoreer dit, anders kan mens sy oordeel nie verklaar nie. Ek vermoed hy staan ook on ‘n ander wanindruk wat maar tipies was vir die periode waarin hy groot geword het. Hy’s korrek oor Nietzsche se redes vir uitsprake oor die Christendom.
Vir Nietzsche het dit oor die ‘slawementaliteit’ gegaan en ook oor die gasbeligting waar sommige christene met probeer hers.
Heidegger is egter interessant, aangesien hy die kulturele verval dokumenteer wat al ‘n lank pad geloop het. Die vervreemding van die “Sein”, die wese van dinge. Die agteruitgang van taal, ens. ‘n Oplossing kan hy egter ook nie aanbied. Maar tydens ‘n onderhoud wat na sy dood deur “Die Spiegel” gepubliseer is, stel hy dit duidelik:”Net ‘n God kan ons nog red”. Toe is die evangelie blykbaar nie so verkeerd nie soos wat talle wysgeriges ons desdae wil wysmaak.