Kyk ook: |
Johannes du Plessis 1 (Ferdie Mulder, 8 April 2022)
Johannes du Plessis 2 (Ferdie Mulder, 24 April 2022)
Prof Johannes (John) du Plessis was ’n omstrede teoloog van die NG Kerk wat vanweë sy moderne beskouings ná ’n lang stryd uit sy pos aan die Stellenbosse Kweekskool onthef is.
Hy is in 1868 op Cradock gebore waar sy vader NG leraar was. In 1893 behaal hy sy BD (Baccalaureusgraad in Godgeleerdheid) in Edinburgh, Skotland.
Kort na die Tweede Vryheidsoorlog word hy die NG Kerk se eerste sendingsekretaris en in 1905 saakgelastigde, soos sy pa. Een van sy pligte was redakteur van die De Kerkbode. Ná ’n kort onderbreking word hy die eerste redakteur van die verenigde De Kerkbode en publiseer omstrede uitsprake in die blad. Dit het veroorsaak dat ’n leertugsaak van toe af geleidelik teen hom begin opbou het. Hy bedank in 1912 en onderneem ’n reuse-toer deur Afrika. Hieroor skryf hy ’n boek uit ’n sendingoogpunt. Hy het in 1911 ’n boek oor die lewe van ds. Michiel Christiaan Vos geredigeer, van aantekeninge voorsien en laat uitgee.
Kort ná sy terugkeer word hy hoogleraar aan die Stellenbosse Kweekskool (ten spyte van die vorige leertugsake teen hom). Hy bevraagteken onder meer:
- Moses se outeurskap van die eerste vyf boeke van die Ou Testament
- Jesus se kennis van die Ou Testament
Dit dompel hom weer in omstredenheid. Hy begin ’n blad, Het Zoeklicht, waarin hy baie kernwaarhede bevraagteken, byvoorbeeld:
- Die sesdagse skepping
- Die onfeilbaarheid van die Skrif. Om sy argument te staaf verwys hy onder andere na sogenaamde teenstrydighede tussen 1 Kronieke en 2 Samuel (kyk egter Verskil die resultate van die sensusopname in 2 Samuel 24 en 1 Kronieke 21?)
Tydgenote het Du Plessis daarvan beskuldig dat hy ’n modernis was en verskeie dwaalleringe aangehang het.
Tussen 1928 en 1930 bemoei verskeie ringe en sinodes hulle hiermee. In 1932 slaag Du Plessis se appèl na die Hooggeregshof teen die kerk se hantering van sy saak. Later in dieselfde jaar stem die sinode hom nietemin uit sy hoogleraarsamp, hoewel hy sy pensioen en ander voordele kon behou.
Hy sterf in 1935. Uit sy pen het onder meer ’n biografie oor dr Andrew Murray (1828-1917) asook The History of Christian Missions verskyn.
Ter nagedagtenis van hom maak van sy vriende ’n pienk marmer standbeeld van hom, genaamd Pienk Piet. Dit word in 1944 opgerig. Deur prof Louis Jonker se toedoen kry die standbeeld ’n prominente plek op die Universiteit Stellenbosch se teologiese fakulteit: Op 19 Junie 2006 word dit geskuif van die agtertuin van die Sasol Kunsmuseum na die voortuin van die Kweekskool.
Die volgende woorde is by die standbeeld aangebring:
Die Stellenbosse teologieprofessor Johannes du Plessis (1868-1935) was ‘n gevierde missioloog wat wyd in Afrika gereis het, ‘n Bybelkenner en ‘n toonaangewende figuur in die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk). Hy het ook ‘n aktiewe rol in die ontluikende ekumeniese beweging gespeel. Prof Du Plessis het ‘n kampvegter vir hoër kritiek geword op ‘n tydstip toe die NG Kerk oor die algemeen die histories-kritiese uitlegmetode as ‘n gruwel beskou het, en hy is mettertyd van kettery beskuldig. ‘n Uitgerekte stryd binne die kerk en voor die sekulêre regbank het gedurende die 1920’s en die 1930’s gevolg met die uiteinde dat hy belet is om by die Kweekskool klas te gee. Die inskripsie spreek die wens uit dat God prof Du Plessis se nalatenskap sal bewaar.
Artikels
- ‘Johnny du Plessis must fall’ (12 Apr 2022, Johann Ernst)
- Pienk Piet se verskuiwing het simboliek (8 Apr 2022, Henrietta Klaasing)
- Kerk se gewete staan in ’n tuin in Stellenbosch (6 Apr 2022, Wilhelm Jordaan)
- Hou vas aan dié 9 woorde (5 Apr 2022, Frits Gaum)
- Só kan NG Kerk by Pienk Piet leer (31 Mrt 2022, Lesie van Rooi)
Bronne
- Johannes du Plessis (eCKE)
- John du Plessis (Wikipedia)
- Pienk Piet (Wikipedia)