Kyk ook:
*******
Kairos: Kenners sê daar moet plek wees vir eietydse teologie | Netwerk24
Arisa Schamrel
23 Julie 2022
Ons moet streef na ’n eietydse teologie wat konteks, perspektief en diversiteit omarm.
Dit is kenners se mening oor van die uitlatings van lede van die Kairos Netwerk (KN), ’n behoudende groep van die NG Kerk, die afgelope week.
Sowat 200 eensgesinde behoudendes het Donderdag en Vrydag by die AfriForum-teater in Pretoria bymekaar gekom om die KN se toekoms te bespreek.
Die organisasie hou vol die algemene sinode (AS) van die NG Kerk se besluite is nie meer getrou aan die Skrif nie en dat reformasie in die NG Kerk noodsaaklik is.
Die KN het dit op die byeenkoms duidelik gemaak dat hy steeds deel van die NG Kerk wil wees en die kerk van binne wil help om terug te keer na die Skrif.
Die groep het ontstaan nadat die NG Kerk in 2019 besluit het om ruimte te skep vir selfdegeslagverbintenisse in die kerk.
Die organisasie het dit Donderdag duidelik gemaak dat hy nie “homofobies” of ’n “skeurmaker” is nie.
Hy het Vrydag wel gesê sou daar uiteindelik nie gehoor gegee word aan enige van sy besware nie, sal hy wel uit die NG Kerk wegbreek.
“Ons sal reformeer solank as wat die Here vir ons ’n oop deur gee. As die deure gesluit is, kan ons daaraan begin dink om weg te breek. Dit is egter nie ons keuse nie, maar dan word ons verplig om dit te doen,” sê ds. Theo Danzfuss, ’n lid van die KN se bestuur.
Hulle het ook gesê dat hulle die “kerklike sanksionering van seksuele verhoudings tussen mense van dieselfde geslag en dus ook enige kerklike seën en bevestiging van ’n verbintenis tussen mense van dieselfde geslag” verwerp.
Dr. Frits Gaum, emeritus predikant en voormalige skriba van die AS, sê daar moet ’n eietydse teologie wees wat konteks en perspektief in ag neem.
“Die kerngedagtes soos Jesus se opstanding sal altyd bly, maar ons moet ander menings in ag neem en ook daaruit leer. Jy moet die groter boodskap uitlig en van toepassing maak op vandag. Skrifgesag is nie net die tekste nie. Dit is die groter boodskap,” sê Gaum.
Hy meen ook, in teenstelling met die KN, dat daar ruimte moet wees vir verskillende perspektiewe.
Wat homoseksualiteit betref, benadruk Gaum die liefde waarvan God in die Bybel leer.
“Jy moet jou naaste liefhê soos jouself en God bo alles. As jy dinge van sekere mense ontneem, is dit nie liefde nie,” sê Gaum.
Die KN het ook gekap na die “liberale en queer teologie” wat tans by die kweekskole van die NG Kerk geleer word.
Hulle het die kweekskole van dwaalleer beskuldig en sê dat daar ook nie meer Skrifgetroue teologiese opleiding plaasvind nie.
Prop. Hennie Pienaar van Queers without Borders sê hy gee nie om as die behoudendes die etikette van “liberaal en queer” aan hom hang nie.
“Jesus was ook queer en liberaal,” sê Pienaar, en verduidelik die beskrywing verwys na “anders”, dus mense wat teen die norm is.
Hy glo ook die KN sien alles wat anders is as die duiwel, en beskryf dit as moedswillig.
Dr. André Bartlett, wat ook lid van die AS-moderamen was, sê die teologiese opleiding staan onder die toesig van vier kuratoria, asook die algemene kuratorium.
“Al tien sinodes van die NG Kerk word in dié kuratoria verteenwoordig. Dit is die regte kanaal om te gebruik om enige besorgdheid of klagtes oor teologiese opleiding aan die orde te stel,” verduidelik Bartlett.
Hy sê enigeen is vry om kritiek daaroor uit te spreek, maar dit moet deur feite onderskryf word.
“Die feit van die saak is dat daar in die NG Kerk, soos in alle ander kerke, verskillende standpunte oor verskeie sake is. Groter eenstemmigheid kan alleen deur voortgesette gesprek verkry word, nie deur wedersydse verdagmakery nie. Die KN en sy lede is volledig deel van gesprekke en debatte in die NG Kerk,” sê Barlett.
Die NG Kerk sê hy sal eers kommentaar lewer as Kairos ’n verklaring uitreik.
Die Afrikaner Selfbeskikking Party het in ’n verklaring sy waardering vir Kairos en dié se werk uitgespreek.
In die debat oor selfdegeslag-verhoudings (SGV) speel die liefde ’n sentrale rol wanneer daaroor gedebatteer word. Dit word telkens opgehaal, soos dr Gaum weereens hierbo doen: Ons moet ons naaste liefhê soos onsself, maar voeg hy by “… As jy dinge van sekere mense ontneem, is dit nie liefde nie”.
Miskien moet dr Gaum ea vir ons definieer wat “liefde” vir hulle beteken? Daar kan baie definisies wees, maar in Bybelse konteks beteken dit om reg of goed teenoor andere te doen. Op grond waarvan kan dan gesê word dat die toepassing van Bybelse riglyne liefdeloos teenoor SGV is?